Reviews

Johann de Lange se beenwit woorde

Vaarwel, my effens bevlekte held deur Johann de Lange, NB Uitgewers, 2012

Vaarwel, my effens bevlekte held deur Johann de Lange

Na ’n digterlike stilte van 14 jaar publiseer Johann de Lange in snelle opeenvolging drie digbundels: in 2009 Die algebra van nood (waarvoor hy die Hertzogprys wen), in 2011 ’n bundel kwatryne Weerlig van die ongeloof en in die begin van 2012 Vaarwel, my effens bevlekte held. Hiernaas verskyn daar in 2010 ook ’n keur uit sy werk getitel Judasoog.

Kyk ’n mens terug oor die dertig jaar van De Lange se loopbaan, is dit duidelik dat hy ’n digter is wat deurgaans getrou gebly het aan die uitgangspunt dat sy eerste en enigste lojaliteit die poësie is. Toe hy in die oproerige tagtigerjare verwyt is dat sy werk nie betrokke genoeg is by die werklikheid nie, het hy hom in die gedig “Oor blomme en bomme” in Snel grys fantoom verweer met die reël: “Poësie is ’n bloeiwyse, meneer.” Dienooreenkomstig begin sy jongste bundel met die gedig “Woorde” waarin hy verklaar: “Woorde is my kontinent, / & poësie is my republiek”. Hieruit blyk dit nogmaals dat hy geen ander gesag as dié van die poësie erken nie. Hy skryf ook in die daaropvolgende gedig dat die worsteling om taal onder beheer te kry die vernaamste van al sy obsessies is: “Van alles wat my ry / is jý die een wat in die saal blý”. Uit hierdie lojaliteit teenoor die poësie en die gedrewenheid om taal te beheers, vloei voort die sorgvuldige komposisie van elke gedig in die bundel, die deurdagtheid van die metafore en die noukeurige aandag vir die klankwaardes, resonansies en betekenismoontlikhede van woorde.

Die bundel se titel wys vooruit na die teenwoordigheid van temas wat nie onbekend is in De Lange se oeuvre nie, naamlik die elegiese, die identifkasie met ikone en ’n gefassineerdheid met die onvolmaakte. Die gedig “Stillewe met tulp” verwoord op indirekte wyse die aangetrokkenheid tot “bevlekte helde”. Dit verwys na ’n Rembrandt-skildery waarin die dieprooi blare van ’n tulp gevlek is met “kwasterige wit” as gevolg van ’n fout in die blombol se DNS. Juis daarin lê die insig: “Eweseer het jy & ek / mekaar koorsig lief om ’n gebrek”. Later in die bundel word die “effens bevlekte held” geïdentifiseer as die digter John Berryman wat selfmoord gepleeg het deur van ’n brug af te spring. Sy held-wees lê vir die digter juis daarin dat hy met sy warse persoonlikheid die dekorum versteur het en met sy self-gekose dood ’n vlek gelaat het wat nie misgekyk kan word nie:

Art Hitman, skryn-
werker op die kampus het jou op die brugreling sien sit,
met ’n streep weg & teen die grein,
voor jy sonder terugkyk vooroor gekantel het
om buite sig skipbreuk te ly, die grys beton te vlek.
Uitgeken net aan jou bril & ’n blanko tjek.

Die bundel fokus ook op ander “bevlekte helde” waaronder figure soos Konstantinos Kavafis, Marilyn Monroe, Uys Krige, Oscar Wilde, Niccolo Paganini en Ingrid Jonker. Die elegiese toon van die bundel hou nie net verband met hulle afwesigheid nie, maar ook met hulle onweerstaanbare onafheid.

Volgens ’n bundelmotto geleen by Robert Hass is die elegiese kwaliteit ook ingebou in die woorde waarmee ’n digter werk: “A word is elegy to what it signifies”, lui dit. Elke woord is dus ’n aanduiding van dit wat nié in daardie woord vasgevang kan word nie, ook van die verganklikheid van dit wat deur die woord benoem word. Tegelykertyd is daar die suggestie – net soos in Die algebra van nood – dat die poësie menslike ervaring sou kon vasvang met die suiwerheid en klaarheid van ’n wiskundige formule. In “Cirque du soleil” word daar byvoorbeeld gesê die bewegings van die akrobate, gimnaste en koorddansers “tol binne die ligte / & ligte sirkels van die algebra”. Hier sien ’n mens toevallig ook watter winste De Lange se eiesinnige gebruik van die ampersand kan hê deurdat die visuele effek daarvan die idee van ’n wiskundige formule ondersteun.

Oor die algemeen word daar in hierdie bundel met ’n ligte hand omgegaan met verse oor die aard van poësie. Die onderwerp word nie oorwerk nie en dit kom veral beeldend aan bod in gedigte soos “Narwal”, “Die sweefstokkunstenaar soos die nar” en “Die leeuvis”. In laasgenoemde word daar verwys na die leeuvis wat “lid vir lid” die water terugdruk met “sy soortlike gewig”. Net so verplaas die gedig met sy eie soortlikheid, dié van ’n struktuur gebou uit woorde, die wit van die papier waarop dit geskryf word (“Die gedig woord vir woord / verplaas presies net sóveel / veerlig wit”). Die beeld van die leeuvis wat “agter glas” hang soos “’n oosterse masker” of “hologram” het ook ander implikasies vir die dink oor poësie en is ’n goeie voorbeeld van die manier waarop die bundel se metafore die leser se verbeelding op loop kan sit.

De Lange is ook bekend vir die direkte en indringende wyse waarop hy skryf oor seksualiteit. Die uitbundige lyflikheid, die gedrewe soeke na seksuele epifanie en die verheerliking van vlugtige seksuele kontak word hier toenemend getemper deur die besef van aflegging. Alhoewel daar in die afdeling “Hunkering se grein” ’n ruim aantal gedigte staan wat liefde, begeerte, voyeuristiese plesier en die fetisjering van die Boerseun beskryf (“Sonbaaier”, “My minnaar”, “Nóg die heuning nóg die by”, “Dieux du Stande 2007”, “The loneliness of the long distance shooter”), moet hulle gelees word teen die agtergrond van die afdeling se inleidende gedig “Alleenspraak by donkermaan”. Hier sê die spreker (met duidelike toespelings op Van Wyk Louw) dat hy nou afstand doen van “die leegtes van lywe” en die “brons beloftes” van die bloed: “julle laat ek een-een gaan / want my woorde lê beenwit / waar die lug te dun is vir liefde”. Die implikasie is dat die poësie mag ontstaan uit die liefde en wellus, maar dat dit uiteindelik bestaan in ’n atmosfeer waar die vlees van ervaring gestroop is van die beendere van poësie.

Ten spyte hiervan bly die spreker in hierdie gedigte bewus van “hunkering se grein”, soms te vind in iets so konkreet soos die kreukels in ’n jong rugbyspeler se kakiebroek (“Gedig wat eindig met ’n reël van Cussons”). Verknoop hiermee is ’n geskiedenis van seksuele ontluiking, inisiasie en verlies wat blyk uit die gedigte oor jeugervarings. “Oom Niek” teken ’n oom wat die ondersteunende vader is van drie wilde seuns (“rofstoeiers, boksers, drie reuns / baldadig op & om die werf”) maar sy jong nefie betas. “Vye” assosieer ontluikende seksualiteit met die bewuswording van woorde wat op sy beurt verbind word met die moederlike skoot van die ouma. Die gedig “Hand-held” teken ’n jeug-ervaring waarin die spreker bewus word van sy eie uitgelewerdheid aan die voyeurisme van ’n kamera (nog ’n tema wat De Lange herhaaldelik ondersoek).

Net soos in  Weerlig van die ongeloof, eksploreer hierdie bundel met kenmerkende dubbelsinnigheid die temas van mistiek en religie. In gedigte soos “Armageddon” en “Tzimtzum” word daar met ’n mate van verbasing en ironie gekyk na mistieke sienings oor die ontstaan en doel van die heelal. In laasgenoemde word daar verwys na die Kabbalistiese skeppingsmoment waarin die volledige verloop van die heelal se geskiedenis (ook dié van die spreker) reeds vervat is. Die gedig eindig met ’n wrang verwysing na Jesus as die “eerste Jack-in-the-box” van hierdie “kosmiese grap”. Wat die religieuse betref, word daar in “Google Golgotha” kommentaar gelewer word op die profanering en kommersialisering van geloof in die era van Google, Facebook en e-Bay. Hierteenoor kyk ’n gedig soos “Die diensbaarheid van bome” met die inlewing van ’n vroom gelowige na die lydensweg van Christus. Hiernaas is daar ook gedigte wat ’n mens bewus maak van die geweld wat deel was van die wêreldgeskiedenis (Hirosjima, Auschwitz) en die kragte wat ’n einde kan maak aan die planeet (Tsjernobil).

In ander gedigte soos “Mausoleum”, “Die gat in die grond” en “Rust-mijn-ziel, ’n droom” is daar sprake van ’n soort persoonlike mistiek waarin visioene en drome toegelaat word om uit die onbewuste voort te kom sonder dat hulle teruggehou word deur rasionele bevraagtekening. Daar is ook momente van verstilde ervaring en meditatiewe waarneming in die bundel (onder andere opgevang in die spel met die verskil tussen ’n “stillewe” en ’n “stil lewe”). In “Stil lewe by donkermaan” ervaar die spreker homself in ’n sonderlinge moment van vrede as veilig gestut binne die evolusionêre gang van die heelal:

Roerloos onder ’n donkermaan
in ’n roeiboot op die naat van my rug
wieg ek in die middel van ’n dam
die smal pupil van ’n kat se oog.
Bo my tussen Niet & Al die melkweg
soos ’n motgevrete hangmat wat knus
die boot, die dam, & my sonnevleg
saam met droom-oog visse sus.

Soos deurgaans in sy oeuvre vind De Lange ook in hierdie bundel aansluiting by ’n groter digterlike gemeenskap. Waar nie-Afrikaanse digters meestal opduik in motto’s en as die onderwerp vir gedigte, is die Afrikaanse poësietradisie deel van die grein van sy werk. Sy kennis van digters in Afrikaans blyk telkens uit die wyse waarop hy tematiese elemente uit hulle werk opvang en weerkaats (daar is byvoorbeeld raakpunte met Van Wyk Louw se sirkusartieste en narwal, Johan Lodewyk Marais se voël- en diergedigte, Lina Spies se gedigte oor Anne Frank, Ina Rousseau se “filigraan” van voëlgeluide en Joan Hambidge se digterlike verwysings na die vallende man by die terroriste-aanval op die Twin Towers).

De Lange sluit ook ’n vertaling van Auden se gedig “The Platonic Blow” in sy bundel in. Omdat Auden nooit outeurskap van die gedig erken het nie, kan dit skynbaar sonder toestemming deur bloemlesers en vertalers gebruik word. Harold Bloom het ons egter geleer dat digters se verhouding met hulle voorgangers nooit eenvoudig is nie. As ’n uitdrukking van suiwer vleeslikheid (“’n dag om te suig of gesuig te word”) gee Auden se gedig sig op die tradisie waaruit De Lange se eie homoërotiese gedigte spruit. ’n Mens vra jou egter ook af of die insluiting daarvan in hierdie bundel ’n vorm van kritiek op Auden is omdat hy dit nie wou eien as deel van sy digterlike repertorium nie.

Ten spyte van die deurlopende aksent op afskeid, verlies en leegheid wil die bundel se slotafdeling tog die idee van stroping rym met dié van wording, in gedigte soos “Sunday morning coming down” en “Aandlied”. Laasgenoemde gedig spreek die slotwoord in die bundel: hier besef die spreker dat sy liggaam ten slotte ineen sal stort en dat die vermoë om te skryf, wat vir hom so ’n obsessie was, tot niet sal gaan. Die gedig se slotwoorde demonstreer dat ’n begrip van die paradoksale saambestaan van die sterfte en geboorte weinig troos bied en die spreker eintlik verhinder om versoen te raak met die finaliteit van die dood:

Dis amper middernag
Wanneer daag die dag
waar ek áls verloor wat ek bemin?
Hoe ontheg ’n hart hom van ’n heelal
wat aanhou sê: Begin, begin, begin!

Die eindresultaat van die digter se verbete lojaliteit aan die poësie is verse wat so goed afgewerk is dat hulle haas moeiteloos voorkom. By die lees en herlees word dit egter duidelik daar onder die oppervlakke van hierdie soepel en klankryke gedigte boeiende netwerke van assosiasie en suggestie skuil. Vaarwel, my effens bevlekte held is weer eens ’n geslypte en evokatiewe bundel uit Johann de Lange se pen.

Comments