Reviews

Van Niekerk verbyster weereens

Die Sneeuslaper, deur Marlene van Niekerk. Kaapstad: Human & Rousseau, 2010.

Marlene van Niekerk het ’n kompakte oeuvre waarin elke werk ’n kragtige impak maak, vanaf die digbundels Sprokkelster (1977) en Groenstaar (1983), die kortverhaalbundel Die vrou wat haar verkyker vergeet het (1992), die veel-vertaalde romans Triomf (1994) en Agaat (2004) en die kort roman Memorandum (2006) saam met die skilderye van Adriaan van Zyl. Haar mees resente werk Die sneeuslaper dra dieselfde waarmerk van gehalte en innovering wat die vorige tekste gekenmerk het.

Die bundel bevat vier verhale wat elk sy eie spel met werklikheid en fiksie speel en daarby ook ander vorme inkorporeer. Die vier tekste in die bundel word onderskeidelik as ’n “intreerede”, “’n grafrede”, “’n veldwerkverslag” en “’n lesing” beskryf in die subtitels. Alhoewel daar in elkeen ’n sterk narratief aanwesig is, word die tekste ook ’n ruimte waarin kunsteoretiese en lewensbeskoulike kwessies met ’n byna meedoënlose volledigheid uitgewerk word. Betreffende tegniek en die fokus op skrywerlike kwessies in van Niekerk se teks, is J.M. Coetzee se The Lives of Animals en Elizabeth Costello die mees opsigtelike voorgangers. Die fokus op verlies en bevreemding daarenteen, herinner aan die werk van W.G. Sebald (byvoorbeeld die lang verhale in The Emigrants).

Die eerste verhaal “Die swanefluisteraar” is die intreerede wat Van Niekerk as professor in die Kreatiewe Skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch gelewer het. Binne daardie konteks was dit ’n waagmoedige eksperiment om ’n verhaal as intreerede aan te bied; binne die konteks van die verhalebundel is dit weer ’n waagstuk om ’n verhaal op te saal met die retoriese konvensies van so ’n akademiese rede. Hierin vertel die skryfkunde-professor die verhaal van haar student Kasper Ollewagen wat uit Nederland vir haar skryf van sy ervaring met ’n hawelose man wat die vermoë het om met swane te praat. Hierna volg “Die slagwerker” wat ’n “begrafnisrede” genoem word, omdat ’n Amsterdamse klokkemaker Jacob Kippelstein daarin by die begrafnis van sy skrywersvriend Willem Oldemarkt met die begrafnisgangers en later Willem se suster Helena praat oor Willem se obsessie met ’n jong tromspeler. “Die sneeuslaper” is ’n veldwerkverslag wat bestaan uit die transkripsies van onderhoude wat Helena Oldemarkt voer met ’n hawelose man wat sy ’n sneeuslaper noem as deel van haar proefskrifstudie oor hawelose mense in groot stede. Die laaste verhaal in die bundel is aangebied as die Albert Verwey-gedenklesing by die Universiteit van Leiden en vertel die verhaal van die vriendskap tussen die outobiografiese verteller en die fotograaf Peter Schreuder wat uiteindelik na ’n traumatiese ondervinding met ’n hawelose man in Amsterdam sy sinne kwyt raak.

Reeds uit hierdie karige besonderhede kan ’n mens aflei dat die verhale inmekaar haak soos wat dit deesdae heel algemeen is in verhale-bundels. Dit gaan oënskynlik om afsonderlike verhale, maar karakters uit die een verhaal duik op in ’n ander terwyl sekere temas en motiewe deurgevoer word.  Die skakeling tussen die verhale is in hierdie geval egter meer as net ’n tegniese toertjie. Dit het die effek dat die verskillende kunstenaarsfigure verdubbelings van mekaar word, maar ook die meer radikale funksie om feitlik elkeen van die standpunte wat ingeneem word te ondergrawe of relativeer.  Die inlewing van die leser in die gegewe word telkens verbreek wanneer die epifanie of emosionele hoogtepunt van die een verhaal deur ’n ander verhaal ondermyn word. Feitlik elke stellinginname, elke weerloosstelling van die self deur ’n bepaalde karakter word geïroniseer, bespot en beskimp deur een van die ander karakters (Jacob se belydenis van sy liefde vir Willem Oldemarkt word byvoorbeeld in ’n volgende verhaal verkleineer deur Helena Oldemarkt; die student Kasper Ollewagen en die fotograaf Peter Schreuder se ervarings word belaglik gemaak deur die sneeuslaper). Niemand, ook nie die leser nie, word toegelaat om blywend en selftevrede te identifiseer met ’n bepaalde uitgangspunt nie. Ook op die punt wat die leser dink dat die ‘boodskap’ van die teks dalk is dat die kunstenaar hom of haar moet keer na die mistieke en die politieke agterlaat, word ook dié insig gerelativeer deur sommige van die karakters se uitsprake.

Hierdie onderlinge skakels hou verband met ’n basiese patroon wat ’n mens bý al die verskeidenheid kan uitwys in die bundel. Die narratiewe konstruksie in elkeen van die verhale is soortgelyk aan dié van ’n dramatiese monoloog waarin die verteller praat met ’n gehoor of iemand wat nie reageer nie.  Terwyl hierdie vertellers praat oor iemand anders en ook groot gedeeltes van hulle teks of spraak aanhaal, onthul hulle veel van hulleself en gaan hulle deur grondige prosesse van selfontdekking.  Die vertellers in die verhale is dikwels self-versekerde en skeptiese figure wie se opvattings oor kuns en die lewe mettertyd ondergrawe word deur die persoon oor wie hulle besig is om, soms ergerlik, te vertel. Die vertellers is dikwels ook die verantwoordelike ingeburgerdes van die samelewing (die skryfkunde-professor, die horlosiemaker, die studerende mevrou, die suksesvolle skrywer) wat in so ’n mate deur die losgeslaande, verdwaasde en ontwortelde karakters oor wie hulle vertel (die skryfstudent, die gestorwe skrywer, die hawelose sneeuslaper, die fotograaf) ontsenu word dat hulle oorgehaal word om hulle sekerhede te laat vaar. In die proses word dit ’n uitdagende en self-ondermynende besinning oor die aard van kuns, die verantwoordelikheid van die kunstenaar en die limiete van representasie. Ook die kwessie van transkripsie en vertaling, die weergee van ’n ander se woorde, kom ter sprake in die verskillende figure se weergawes van mekaar.

Juis omdat waarneming en representasie so belangrik is in die bundel verwys die titel na die sneeuslaper en nie een van die ander figure in die teks nie.  Hy is naamlik die persoon wat deur die verskillende kunstenaars in die bundel (Kasper, Willem, Helena, Peter) waargeneem, beskryf, bestudeer of gefotografeer word.  Hy is egter ’n gekykte wat aggressief terugkyk en in opstand kom teen sy objektivering deur wraak te neem op sy objektiveerders:  hy tormenteer die skrywer Kasper wanneer hy hom in sy huis neem om hom te versorg; hy tart en beledig die navorser Helena; hy misbruik die fotograaf Peter en vernietig sy woonstel. Daarby is hy gevaarlik subversief en verleidelik:  sy gedrag is buite alle perke en sy mond so vuil soos ’n afvalpyp (“Don’t fuck with hobos”, waarsku hy).

Die kwessie van waarneming word ook opgevang in die verwysings na vensters, loergate, vergrootglase en verkykers (’n belangrike skakel met Van Niekerk se vroeëre verhaal “Die vrou wat haar verkyker vergeet het”), asook spieëls. Een van die interessantste gegewens in hierdie verband is dié van die lewerikspieël waarvan die skrywer die fotograaf Peter vertel in “Die vriend” wanneer sy hom ná die kritiek op sy foto- uitstalling van misdadigers aanraai om voëls te gaan afneem. Die lewerikspieël (in Engels ’n “larking-mirror” of “larking-glass”) is ’n instrument vol spieëltjies wat gedraai word om lewerikke te hipnotiseer sodat hulle uit die lug val om geskiet te word. Dat hierdie instrument ’n uiters potente metafoor vir die kunstenaar se situasie kan wees, het ook Breytenbach ingesien toe hy in sy tronkpoësie die alter ego Don Espejuelo geskep het; “espejuelo” is naamlik die Spaanse woord vir ’n lewerikspieël. Die verwysing daarna in Die sneeuslaper suggereer die wyse waarop die kunstenaar gehipnotiseer en selfs lamgeslaan kan word deur die veelvuldige fasette van die werklikheid. Van Niekerk se kunstenaarsfigure worstel telkens met die vraag wat die kunstenaar te doen staan in die aangesig van ’n oorweldigende en verbysterende werklikheid (hiervan was die verhoogstuk Die kortstondige raklewe van Anastasia W. ook getuie).  Die beeld van die lewerikspieël sinspeel egter ook op die gewetenlose wyse waarop die kunstenaar kan omgaan met dit wat hom kan inspireer (die lewerik is immers ’n sangvoël). Ander objekte wat deel uitmaak van die instrumentarium waarmee die maak van kuns in hierdie verhale opgeroep word, is uurwerke (die horlosies, waterklokke, telluriums) en musiekinstrumente (die tromstel, simbale, mondharmonika, ghong).  Hierby kom ’n digte takelwerk van ander verwysings na skrywers, musiek, kultuurfilosofie, geskiedenis, kontemporêre verskynsels, ensomeer.

Die verhale sê ook heelwat oor die aard van intimiteit wat in sommige gevalle deur ontreddering afgedwing word op die karakters in die verhale. ’n Voorbeeld hiervan kry ’n mens in Kasper Ollewagen se omgang met die verwaarloosde liggaam van die swerwer in “Die swanefluisteraar”.  Daar is ook die intieme waarnemings van die geërotiseerde liggaam in “Die slagwerker” wat onder andere perkussie gebruik as metafoor vir seks. Daar word gesuggereer dat die moeite waarmee sommige karakters liggaamlike nabyheid aanvaar, verband hou met die inspanning wat dit die kunstenaar kos om volkome eerlik met hom- of haarself om te gaan. Louis MacNeice se gedig “Conversation” (deur Helena Oldemarkt vertaal as inleiding tot haar veldwerkverslag) verwys na “die keerwal van verstandigheid / om nabyheid mee te stelp”. In elkeen van hierdie verhale word die keerwalle van verstandigheid deur die een of ander aanraking deurbreek om die karakters te staan te bring voor die afgrond in hulleself.

’n Mens sou ook kon beweer dat dit in Die sneeuslaper ten diepste gaan om taal, oftewel die medium waarin die kunswerk ‘gebring’ word (om een van die boek se uitdrukkings te gebruik). Hoe gebruik jy as kunstenaar jou medium? Verdig jy die taal tot op die punt dat dit uit sy eie nate wil bars (soos in die onbeskofte én liriese diskoers van die sneeuslaper), dryf jy dit tot op die punt van onsin deur volledig op te gaan in klank of die materialiteit van taal (soos in die mededelings van Kasper Ollewagen) of maak jy dit heeltemal leeg tot op die punt van niks (soos in die laaste foto’s van Peter Schreuder)?  Terwyl die bundel besin oor hierdie kwessies, word dit ’n indrukwekkende vertoning van wat alles met die taal gedoen kan word: dit doen enigiets van stamel, struikel, stotter en skel tot hardloop en vlieg.

Van Niekerk se posisie as ’n transnasionale skrywer word ge-opper deur die wyse waarop die tale Afrikaans en Nederlands naas mekaar lê in hierdie teks. Op grond van die vertalings van haar werk geniet sy internasionale aansien as skrywer, maar veral so in Nederland. Alhoewel Die sneeuslaper eers in Afrikaans geskryf en daarna deur Riet de Jong-Goossens in Nederlands vertaal is, het die Nederlandse weergawe voor die Afrikaanse een verskyn. Dele van die teks is ook geskryf in opdrag van ’n Nederlandse instansie. Die verhouding met Nederland as inspirasiebron en selfs ontvlugtingsoord vir Afrikaanse skrywers is dus nog een van die sake wat in hierdie bundel aangeraak word (’n mens dink hier onwillekeurig ook aan Elisabeth Eybers). Daar is al gesê dat die aanwesigheid van Neerlandismes in die teks ’n teken van pretensie is. Myns insiens hou die Nederlandse sfeer van die teks en die Nederlandse elemente in die Afrikaans verband met die ruimtelike plasing van sommige van die verhale in Nederlandse omgewings. Verder is die naasmekaarbestaan van die twee tale ’n manifestasie van die transnasionaliteit van talle hedendaagse skrywers. Daar is nie sonder meer sprake van ’n skrywer wat ondubbelsinnig ingebed is binne sekere nasionale en taalgrense nie omdat skrywers deur middel van vertaling, nuwe politieke rangskikkings en allerlei tegnologieë steeds gemakliker in ’n groter globale ruimte beweeg. Deur hierdie soort bewegings kan die lewe aan beide kante van die grens en na alle kante toe grondig ontwrig word. Dikwels moet skrywers wat in ander tale skryf aanpas by die invloedsfeer van Engels as internasionale taal en die magtige kulturele ruimte wat daarmee saamgaan, maar slaag hulle ook daarin om dit te verander en verruim. In die geval van hierdie teks gaan dit om die verhouding tussen Nederlands en Afrikaans wat ’n heel unieke verwantskap met mekaar het en mekaar op besondere maniere wedersyds beïnvloed.

Daar is min skrywers in Suid-Afrika wat so intens en so gedrewe besig is met die vraag oor wat dit beteken om ’n kunstenaar te wees in Suid-Afrika en die groter wêreld soos Marlene van Niekerk. Die sneeuslaper is nogeens ’n manifestasie van haar uitsonderlike vermoëns en inlewing as skrywer.

 

Comments