Reviews

Bundel onthul opnuut belangrike breuklyn

Kô lat ons sing - ’n Keur uit die gedigte van Adam Small, Kwela 2011

Om die werk van Adam Small te lees, is om opnuut bewus te raak van ’n belangrike breuklyn wat deur die Afrikaanse taal en letterkunde loop. Gedurende die eerste helfte van die twintigste eeu was daar ’n sterk poging van die kant van Afrikaners om die onafhanklikheid van die taal en die letterkunde van koloniale voorbeelde soos Nederlands en Engels te bewys.  In die proses is die bydrae van bruin sprekers tot die ontwikkeling van Afrikaans en die teenwoordigheid van bruin skrywers binne die Afrikaanse letterkunde meestal onderspeel, indien nie geïgnoreer nie. Alhoewel die Afrikaanse letterkunde vanaf die sestigerjare begin verander het van ’n nasionalistiese na ’n opstandige en anti-hegemoniese letterkunde, het die insluiting van bruin skrywers binne die kanon van die Afrikaanse letterkunde slegs langsamerhand gebeur – in so ’n mate dat Hein Willemse se boek oor die letterkunde geproduseer deur hierdie skrywers die veelseggende titel Aan die ander kant het.

Kô lat ons sing, ’n keur uit die gedigte van Adam Small wat onlangs deur Kwela Boeke gepubliseer is, gee vir ’n mens ’n kort begrip van sy ontwikkeling as digter en open ook ’n venster op die geskiedenis van Suid-Afrika in die jare vyftig tot sewentig toe sy poësie gepubliseer is. Die keur is versorg deur een van die belangrikste kenners van Small se werk, Steward van Wyk, wat ’n kundige keuse gemaak het en daarby ’n insiggewende voorwoord verskaf.

Daar is slegs enkele gedigte gekies uit Small se eerste twee bundels Verse van die liefde van 1957 en Klein simbool van 1958. Die gedigte in Verse van die liefde is geskryf in die styl en idioom van die Afrikaanse poësie-tradisie wat teen die vyftigerjare reeds sterk gestaan het.  Feitlik elke gedig bestaan uit netjies-rymende koeplette in ’n keurige Afrikaans met beelde wat die leser herinner aan die werk van voorgangers soos Van Wyk Louw en Opperman.

Die gedigte reflekteer Small se skoling as filosoof terwyl sy sterk Christelike oortuiging spreek uit dié gedigte wat klem lê op die liefde se vermoë om verbittering te bowe te kom. Teenoor die konvensionele inslag van sy eerste bundel, is daar wel in die kort prosa-tekste uit Klein simbool (wat herinner aan Jan Rabie se 21) ’n suggestie van die inhoudelike en vormlike verandering wat die Afrikaanse letterkunde veral in die sestigerjare sou ondergaan.

Hulle opname in hierdie keur van gedigte suggereer dat ’n mens hulle ook as prosa-gedigte kan lees met ’n verhalende of aforistise aard. Die mees onthoubare van hierdie tekste is nommer 20 met die dikwels aangehaalde slotsin: “As daar nou swart en bruin en wit bly, is die grootste hiervan vir my die liefde.” Ook Klein simbool is dus geskryf in die Christelike hoop en die verwagting dat die liefde sal triomfeer oor die veronregting van apartheid.

Small het egter die grootste impak gemaak met sy volgende twee bundels Kitaar my kruis van 1962 en Sê Sjibbolet van 1963. Tereg word byna al die gedigte uit hierdie twee bundels in die keur opgeneem. Hier keer Small hom grootliks weg van die verliteratuurde Afrikaans van sy vorige twee bundels en maak hy gebruik van die spreektaal van bruin werkersklasmense wat hy Kaaps noem.

Sy gebruik van Kaaps was nie vir almal onproblematies nie. Richard Rive het byvoorbeeld gevoel dat dit bruinmense stereotipeer en karikaturiseer. Small slaag egter daarin om van Kaaps ’n oortuigende poëtiese instrument te maak waarmee hy deur ’n vernuftige vermenging van humor, satire en patos ’n bepaalde groep se ervaring van rasse-diskriminasie verwoord.

Hy stel onder andere predikers, vrugteverkopers, skollies en krotbewoners aan die woord om uitdrukking te gee aan hulle gevoelens van woede, vertwyfeling en soms ook hoop. Deur hulle gesprekke met God word daar ook indirek gepraat met die politieke planmakers van die tyd en word wit Afrikaanse lesers van die sestigerjare gesensitiseer vir die politieke onderdrukking. Small gebruik ook Kaaps om sy eie waarnemings te verwoord in gedigte soos “What abou’ de lô” en “O oppas oppas…” wat handel oor die Ontugwet en die Groepsgebiedewet onderskeidelik.

Die gedigte uit Kitaar my kruis wat hier opgeneem word, is so trefseker wat betref liriese aanvoeling, ritme, woordkeuse en inhoud dat dit die leser nie verbaas dat talle van hulle ’n ikoniese waarde binne die Afrikaanse letterkunde en Small se politieke gemeenskap gekry het nie. Hulle is geskryf in ’n eenvoudige spreektaal en maak gebruik van ’n herkenbare Bybelse verwysingsraamwerk wat tot ’n breë gehoor spreek. Small gebruik ook bekende Bybelse motiewe soos dié van Moses as leier wat sy mense uit onderdrukking moet lei.

In die bundel se aanvangsgedig, “Kô lat ons sing”, word die idee van leierskap geprojekteer op die kunstenaar wat sy kuns as bevrydingsinstrument moet gebruik (die kitaar in die hand van die prediker in die gedig wat ook sy kruis kan word). Hierdie idee word verder uitgewerk in Small se drama Kanna hy kô hystoe van 1965. Daar is al dikwels gewys op die feit dat Small se werk aansluit by ’n lang tradisie van strydliteratuur wat strek vanaf Israelitiese klaagpsalms tot by Negro spirituals en dat sy gebruik van die Moses-motief aansluit by die werk van Afro-Amerikaanse skrywers soos Zora Neale Hurston. Hiermee verruim hy op betekenisvolle wyse die grense van die Afrikaanse literatuur van sy tyd.

Die impak van Kitaar my kruis is nie net te wyte aan die liriese en inkanterende kwaliteit van die gedigte nie, maar ook aan die knap manier waarop Small die verhalende element in sommige gedigte inbou. Hier dink ’n mens aan die “Second Coming”-gedigte, maar veral aan ’n gedig soos “Vyfde evangelie” wat in verskillende stemme geskryf word en ’n blik gee op wat sou gebeur indien Christus na die aarde sou kom in Suid-Afrika in die vroeg sestigerjare.  Daar is trouens ’n hele aantal gedigte in die bundel wat nié in Kaaps geskryf is nie en waarin ander soorte stemme ook aan die orde gestel word. Die keur van gedigte uit Kitaar my kruis gee dus ’n goeie aanduiding van Small se digterlike vermoë.

Sê Sjibbolet (1963) sit die styl en temas van Kitaar my kruis voort, maar ontwikkel veral die idee van die sjibbolet, die woord waarvan die korrekte uitspraak vir jou toegang gee of uitsluit van ’n bepaalde gebied. Ook hierdie motief uit die Bybel word aangewend om kommentaar te lewer op die apartheidsamelewing en om veral Afrikaners direk te konfronteer met hulle aandeel in diskriminasie.

Steward van Wyk het in ’n onlangse artikel getoon hoedat Small met die hantering van hierdie motief deel is van ’n groter globale diskoers (waarvan die digter Paul Celan en die visuele kunstenaar Doris Salcedo deel uitmaak) waarin daar gepraat word oor uitsluiting en marginalisering, maar ook oor die moontlikheid van heling. In die geheel voel ’n mens egter dat hierdie bundel minder soepel en onthoubaar is as Kitaar my kruis wat die onbetwiste hoogtepunt in Small se oeuvre is. Die gedigte uit Oos wes tuis bes, Distrik Ses (1973) lewer in Kaaps kommentaar op die vernietiging van Distrik Ses en is gepubliseer saam met foto’s van Chris Jansen wat die gedwonge verskuiwing van bruinmense dokumenteer.

Hierna draai Small hom – in sy poësie ten minste – weg van die Afrikaanse letterkunde. Met sy toenadering tot die Swart Bewussyn-beweging publiseer hy in 1975 die Engelse bundel Black Bronze Beautiful (1975). Die kwatryne in hierdie bundel herinner sterk aan die Hooglied en fokus aanvanklik op die erotiese begeerlikheid van ’n swart vrou. Sy word egter mettertyd verteenwoordiger van die swart vrou wat ’n geskiedenis van onderdrukking ken en uiteindelik van die kontinent Afrika. Die beste verse uit hierdie bundel, wat hier opgeneem is, het dieselfde liriese soepelheid as wat die verse in Kitaar my kruis gehad het en verdien myns insiens meer aandag as wat hulle tot dusver gekry het.

Alhoewel Small se poësie vroeg reeds gekanoniseer is deur sy opname in bloemlesings, is sy bydrae tot die literêre omwenteling van die sestigerjare nog nie heeltemal na waarde geskat nie. Dit het dalk iets te doen met die feit dat Small self ’n hekel gehad het aan die feit dat hy soms die “swart Sestiger” genoem is, ’n term wat volgens hom die land se rasse-skeiding beklemtoon het. Syne was egter een van die belangrike vernuwings van die tyd omdat die aanwending van ’n nuwe vorm (die gebruik van ’n vroeër geminagte spreektaal in ’n los, liriese vorm) gegroei het uit die politieke en sosiale problematiek van die tyd. Hy het ook as ’n soort kritiese gewete gefunksioneer vir die ander Sestigers deurdat hy voortdurend in publieke uitsprake gewys het op die gevare van selfgenoegsaamheid en die blik gerig het op die dringendheid daarvan om die politieke probleme van die land aan te spreek.

Die verskyning van hierdie keur is ’n belangrike hulpmiddel by die bekendstelling van Small se werk aan ’n nuwe geslag skoliere en studente omdat sy bundels nie meer verkrygbaar is nie. Dit is egter ook ’n tydige herinnering aan die belangrike bydrae wat Small met sy relatief klein oeuvre tot die Afrikaanse letterkunde gemaak het.

Comments