Reviews

As ervaring oorgly in taal

Kry My by Die Gewone Plek Aguur

Kry my by die gewone plek aguur deur Loftus Marais, NB Publishers, 2012.

Vier jaar gelede het Loftus Marais die Afrikaanse literêre toneel stormenderhand verower met die bundel Staan in die algemeen nader aan vensters wat nie minder nie as vyf literêre pryse verower het. Daar was dus groot afwagting vir sy tweede bundel Kry my by die gewone plek aguur met die subtitel Kaapstadse gedigte wat vroeër vanjaar verskyn het.

Die subtitel van die bundel gee erkenning aan Wilma Stockenström se 1994 bundel Aan die Kaap geskrywe as voorganger, terwyl meerdere gedigte daarin ook Opperman in herinnering roep. Marais het in onderhoude laat blyk dat hy met die skryf van die bundel geprikkel is deur skrywers soos Lorca, Walter Benjamin en die stadsdigters van Nederland en Vlaandere se besinnings oor stede. Laasgenoemde tradisie vorm ’n interessante agtergrond vir hierdie bundel: in Nederland en Vlaandere word digters soms deur stedelike owerhede aangestel om gedigte te skryf wat kommentaar lewer op gebeure in ’n stad en desnoods by amptelike geleenthede voorgedra kan word. Dié gedigte verskyn by geleentheid in stadspublikasies, maar soms ook op geboue, stadspleine en vuilgoedlorries. Of ons ooit ’n gedig – in watter taal ookal – op die buitekant van ’n Kaapse Citibus of Metrorail-wa, die mure van N1 City of in die amptelike ruimtes van Kaapstad gaan aantref, is ’n ope vraag. Maar hieraan steur Marais hom kennelik nie wanneer hy oor Kaapstad wil skryf nie.

Sonder dat dit geforseerd voorkom, word byna die ganse Kaapstad in dié bundel aan bod gestel. Daar word verwys na die belangrikste fisiese attribute van die stad (die berge, die kus “skurf van storms”, die mistigheid, die wind, die seisoene), maar ook die mens-gemaakte elemente in die landskap: Kloofstraat, Thibaultplein, Clifton, Khayelitsha, die Heerengracht-fontein, Roelandstraat, De Waalpark, De Waal Drive, die Parade, die Book Lounge, die V&A Waterfront, die Bronx Bar.

Besinnings oor die lewe, ewigheid en mense-verhoudings word geknoop aan dinge wat tipies is van die topografie van stede: hawens, lughawens, kragpale, oorbrûe, parke, kantoorgeboue, oop erwe, verlate stegies en verkeer. Hiernaas word die sosiale struktuur van die stad in ’n hele aantal van die gedigte aangeroer: die mense wat in die plakkersbuurte van die stad woon (“Twaalf maniere om vanuit jou motor op die N2 na Khayelitsha te kyk”) en die daaglikse roetine van werkers wat per taxi en trein moet reis na hulle werkplekke in die stad (“Dit is 6.00 en ek probeer dink”) word byvoorbeeld gestel teenoor die rykes van die stad wat met luukse motors rondry (“Verkeerswaarneming”) en sjiek dinees hou vir mekaar (“Binnehuisversiering vir beginners”).

In meer as een gedig word die interaksie met haweloses (“Oorbrug”) en bedelaars (“Gedagtegang oor kombuisgerei”, “Halflig”) ook geteken. Sosiale spanninge blyk ook uit ’n gedig soos “Met die uitklim van Leeukop” waarin dit onder andere gaan oor die kwessie wie hierdie landskap besit en wie reg het daarop. Die gedig vertel van die ongemaklikheid wanneer ’n groep wit bergklimmers op soek na “kalmte” teen Leeukop gekonfronteer word met die boom box en hip-hopklanke van ’n groep swart klimmers. Die bundel bied dus geen afstandelike of toeristiese blik op Kaapstad nie. Elkeen van die waarnemings van Kaapstad word ingebed in ’n geleefde ervaring en getuig van deurdagte waarneming, maar veral ook van die omvorming daarvan in taal.

Die bundel staan ook nie ongevoelig teenoor die vrees vir geweld wat binne ’n stedelike omgewing soos Kaapstad teenwoordig is nie. Die anekdotes oor geweld en misdaad in die gedig “Vertelling” maak staat op suggestie eerder as eksplisiete beskrywing, terwyl die klein infleksies van gedrag en houding binne ’n geweldskultuur opgevang word in ’n gedig soos “Gesien, naby die Parade” waarin die blik tussen ’n sekuriteitsman en verdagte “die etiket van agterdog” reflekteer wat in Kaapstad al “tweede natuur” geword het. Die stad is ook die agtergrond waarteen intieme geskiedenisse geleef word. Daar word dus ook vertel van erotiese begeerte (“Blaai”), vryery (“Ode aan die V& A Waterfront”) en die liefde (“’n Liefdesvers”). In sommige van die gedigte word die strak raster van die stadskaart, die reguit lyne van die stad se kantoorgeboue en “afgemete” werksdae gekontrasteer met die kurwes, holtes en rondinge van die menslike liggaam (“Oggend en jou lyf (twee oomblikke)”,”Werk”).

Die bundel met sy veelheid van indrukke van Kaapstad word netjies bymekaar gehou deur ’n narratiewe struktuur. Eerder as wat die gedigte tematies gegroepeer is, word hulle by wyse van spreke chronologies gerangskik. Die bundel begin met gedigte wat die vroegoggend beskryf (onder andere die inleidingsgedig “Begin” waarin die tyd net voor dagbreek subtiel verbind word met die moment waarop waarneming en ervaring “oorgly in taal”). Hierna verloop die bundel stapsgewys tot by die nanag-ure, onder andere gemarkeer deur gedigtitels soos “Dit is 06.00 en ek probeer dink”, “Twaalfuurkanon” “17.15”, “1.58” en “Bronx & vroegoggend”. Hierdie byna nougesette aftel van die ure word gestel teenoor die nosie van oneindigheid wat sigself aanmeld in die idee van ’n herhalende roetine waardeur die bundel se einde terugkeer na sy begin.

Die bundel se titel (vasgelê in die oneindigheidsteken op die voorblad) bevestig die spanning tussen die spesifiek-tydelike en die oneindige. Behalwe vir die feit dat die titel klem lê op plek en dus lokaliteit, bevestig die frase Kry my by die gewone plek aguur die idee van ’n spesifieke en unieke moment in die tyd (“Kry my aguur”) tesame met die suggestie van herhaling en roetine (“by die gewone plek”). Verwysings na die oneindigheid duik oral in die bundel op: in die fraktaal-agtige struktuur van ’n vetplant en die spieëls in ’n haarsalon (“Twee klein ampergelowe”), in die lusse van die skoenveter wat ’n jong seun knoop (“Op ’n sypaadjie”) en in die klein “möbiusstrokie” van ’n oorbelstopper wat in ’n nagklub opgetel word (“Bronx & vroegoggend”). Ligweg en altyd met ’n element van ironiese self-ondermyning word die verskillende elemente in die bundel dus met mekaar geknoop om ’n hegte weefwerk te vorm.

Een van die vondste in die bundel is Fabulisha de la Queillerie, ’n drag queen wat nie net die stad bewandel asof dit haar teater is nie, maar ook beeld word van die stad. Haar voornaam maak ons attent op die feit dat sy “fabulous” is (tegelyk fabel én fabelagtig) en haar agternaam is ’n humoristiese herinnering aan Jan van Riebeeck se eggenoot Maria de la Quiellerie. Fabulisha het nie heeltemal uit die niet opgeduik nie; sy het verskillende voorgangers. Breyten Breytenbach het reeds in “Totsiens Kaapstad” uit Kouevuur van 1968 vir Kaapstad beskryf as ’n “lieflike oerhoer / slet flerrie sloerie feeks”. Wilma Stockenström het in Aan die Kaap geskrywe die stad beskryf as ’n vrou wat “’n gepoetste vyfpuntige / antieke borsspeld” dra “daar onder by haar lieste waar dit so bietjie / stink”. Marais het ook self in sy vorige bundel verwys na “Lady Cape Town” as ’n “prossie-transvestiet”.

Fabulisha ontwikkel egter ’n eie persona in die vier gedigte waarin sy verskyn. Met haar openlike kunsmatigheid (vals wimpers, oorpoeierde profiel, French tips, fop-borste) ondermyn sy dit wat oënskynlik outentiek, betekenisvol, standvastig en (self-)belangrik is. Sy het geen erg aan al die kommer oor identiteit nie (sy “weet die stad is té vol … identiteit”), is opgetoë met die opsigtelikheid van haar eie kunsmatigheid of artifice (daar word gepraat van “die eerlik valse gekierts van haar tiete”), is uitdagend teenoor die geskiedenis wat sigself gewigtig probeer voordoen in die gewels van die stad (“die teenoorgestelde van geskiedenis / is gorgeousness, en skattebol / just take / a look / at me”) en ongesteurd deur die verloop van tyd (sy “breek die minuutwyser af, gebruik dit / as haar cocktail / se mengstokkie”). Hierdie gedigte is ook ’n goeie voorbeeld van die heilsame invloed wat die versnyding van speelse humor met weemoed en erns kan hê.

Dit is nie net die inhoud van die bundel wat die leser prikkel en uitdaag nie; daar is ook die spel met taal en digterlike vorm. Daar word veral gewerk met die vrye versvorm wat op kundige wyse gebind word deur klank, beeld en woordherhaling. Daar is egter ook verse waarin ingewikkelde versstrukture gebou word (soos “Hysbak”) en daar gespeel word met enjambemente, die plasing van refreinreëls en die voorkoms van die bladspieël. Daar word ook getorring met die mees basiese konvensies van die poësie wanneer die gedig neig in die rigting van ’n prosateks, maar skuinsstrepe nog steeds die suggestie van versreëls behou. Dié strategie is op sy mees effektiewe in die gedig “Die trekklavier” waarin die meesleurende klanke van hierdie instrument (vloeiend, maar tog ook gemarkeer) nageboots word deur die vorm. Die gedig is ook betekenisvol omdat dit iets wil sê oor die soort stem wat die digter vir homself wil toeëien. Teenoor die digterlike “lier” verkies hy die meer volkse trekklavier, ’n onpretensieuse instrument waarvan die byna liggaamlike materialiteit (of fisieke eienskappe) hoorbaar is in die klank daarvan. Dit is ook ’n instrument wat in Kaapstad anders klink as op enige ander plek (“dis ’n stukkie suidoos wat jy daar bevat / as jy speel in my stad”) sodat dit die gepaste soort klank is vir hierdie bundel “Kaapstadse gedigte”.

Daar word dikwels gesê dat ’n digter se tweede bundel die eintlike toets is vir sy digterskap. Hierdie tweede bundel is in alle opsigte die gelyke van Marais se eerste bundel en meer: hier is dieselfde vormbeheersing sonder om spontaneïteit te verloor, ’n hegter eenheid sonder om verskeidenheid prys te gee en ’n selfs groter waardering vir die speelse en artifisiële naas ’n gevoeligheid vir die tekstuur van sosiale onreg en ongelykheid. Met Kry my by die gewone plek aguur bewys Loftus Marais in alle opsigte dat sy eerste bundel nie ’n eendagsvlieg was nie.

Comments