Verraaiers, Regisseur: Paul Eilers, Draaiboek: Salmon de Jager, Met: Gys de Villiers, Vilje Maritz, Neil Bennet, Andrew Thompson, Jacques Bessenger
Verraaiers is die produk van ’n tweede spanpoging tussen draaiboekskrywer Salmon de Jager, uitvoerende vervaardiger (en Salmon se pa) Piet de Jager en regisseur Paul Eilers. Hul gesamentlike debuut as filmskrywer en regisseur was die 2011 verwerking van Jan van Tonder se roman, Roepman, ’n drama wat diep gedelf het in die psige van die werkersklas Afrikaner van die 1960’s. Nes Roepman is Verraaiers nie ’n maklike kyk-ervaring nie. Diegene wat verwag van die film om ’n 21ste eeuse weergawe van die aksiedrama reeks Arende te wees, mag dalk ernstig deur die gebrek aan aksie-tonele teleurgestel word. Tog, hoewel Verraaiers dalk in sommige se oë tekort skiet aan aksie, bied dit aan die gehoor ’n ver meer gesofistikeerde en filosofiese blik op die lewens van Boere soldate en hul families. Soos wat die geval is met die meeste uitmuntende Amerikaanse oorlogsfilms, is Verraaiers ook in werklikheid ’n anti-oorlog film en ’n ondersoek na wat dit beteken om ’n eerbare soldaat en familieman te wees.
Salmon, alias Sallas, is meer algemeen bekend as ’n stigterslid van die Afrikaanse rock-groep, Klopjag, terwyl Paul Eilers sy naam gemaak het as ’n hoogs gewilde akteur in die Suid-Afrikaanse film- en televisiebedryf tydens die 70’s, 80’s en 90’s. Dit is op die oog af reeds duidelik dat hierdie ’n uiters verdienstelike kreatiewe span is en met die toevoeging van die vervaardiger, Themba Sibeko (voormalige stigter en CEO van die Gauteng Film Office) se knap sakevernuf, blyk daar geen keer aan hierdie filmspan se golf van sukses te wees nie.
Verraaiers handel oor die fiktiewe Van Aswegen gesin – ’n tipiese boerfamilie wat hulself in alle aspekte toegewy het aan hul plig as burghers. Ons ontmoet die Van Aswegens op die voornag van hul dogter Martha (Beate Olwagen) en ’n sagmoedige Skotse kleinhandelaar, Robert Maclachlan (Jacques Bessenger), se huweliksbevestiging. Martha se pa, Kommandant van Aswegen (Gys de Villiers), is pas meegedeel dat die gerugte van Lord Kitchener se Geskroeide Aarde beleid inderdaad waar is en dat geen burgher-vrou of -kind meer veilig is nie. Dié gevaar dat sy vrou, Gerda (Rika Sennet), en dogters (Olwagen en Hannah Borthwick) weggeraap sal word terwyl hy en sy seuns iewers in ’n loopgraaf is motiveer Van Aswegen om sy wapens neer te lê en huiswaarts te keer, eerder as om die stryd teen die Engelse tot die bitter einde te voer.
Aanvanklik ervaar Van Aswegen sterk teenstand vanaf sy seun CJ (Viljee Maritz) en skoonseun, Henry Ahrens (Andrew Thompson). Die jonger garde se vrees dat die keuse om op te hou veg as verraad beskou sal word val op dowe ore. Kommandant van Aswegen is ’n gesoute soldaat wat sy onwrikbare lojaliteit in twee oorloë bewys het en hy is vas oortuig daarvan dat sy mede-offisiere en die burgherleiers die logika van sy besluit sal insien. Helaas is hierdie geloof in sy mede-boere se sin vir reg en geregtigheid Van Aswegen se fatale blinde kol. Die massa onttrekking van soldate vanaf die slagveld wakker wraaksugtige emosies aan in diegene wat bly veg of reeds geliefdes verloor het in die oorlog. Die gevolg hiervan is die opstel van ’n spesiale krygshof en die sistematiese inhegtenisneming van elke burgher en neutrale nie-boer, insluitende Kommandant van Aswegen, sy seun en sy skoonseuns. Die mans word in haglike selle gegooi en een vir een vir hul hoogverraad verhoor.
“In sy eenvoudigste vorm bly hierdie verhaal die storie van ’n pa wat die verkeerde besluit op die verkeerde tyd vir die regte redes neem,” merk De Jager. “Dit is ’n universele verskynsel wat vandag nog gebeur. Ek dink ook dat dit ... illustreer hoe maklik ons as mense en as ’n gemeenskap mense in boksies plaas en dan uitskuif as ons nie met hul oortuigings of motiverings saamstem nie. Miskien is dit uit my eie persoonlike hoek gesien – ’n pleidooi vir die oorweging of erkening van grys areas. Die wêreld is nie net swart of wit nie.”
De Jager se navorsing het hom diep in die annale van Boere-geskiedenis in geneem. Hy gee veral erkenning aan Albert Blake se skokkende historiese boek oor teregstellings tydens die Anglo-Boere oorlog getiteld Boereverraaier (2010). Hy het ook heelwat opgelees oor Generaal de la Rey (wat prominent as ’n karakter in die film vertoon) en gaan aanklop by museums en historici vir raad en kennis. Wanneer De Jager gesels oor sy proses as skrywer, is dit duidelik dat hy die verantwoordelikheid om hierdie donker sy van ons land (en die Afrikaner) se geskiedenis met respek uit te beeld baie ernstig opgeneem het:
Die grootste uitdaging [was] om jouself deurentyd te herinner dat jy op heilige grond loop. Elke woord en elke toneel en elke insident wat die gehoor uiteindelik gaan sien moes presies reg wees. Daar was geen ruimte vir compromises nie.
Die feit dat De Jager en die res van die Verraaiers span in 2012 steeds die nodigheid vir historiese en kulturele korrektheid nie net as ’n vereiste nie, maar ook ’n formidabele plig beskou, is aanduidend van die Afrikaner se voorthoudende versugting na ’n geskiedenis en identiteit wat eg en waar is. Dis veral wanneer mens in ag neem dat die onomseilbare hoë karakter van die Apartheid-era Afrikaner ongeldig verklaar is met die val van die regime, dat die historiese egtheid van die eerbare Anglo-Boere Oorlog “burgher” en sy moraliteit soveel te meer vir vandag se Afrikaner van ideologiese belang is. Verraaiers is inderdaad ’n baie brawe film. Om nie net die mite van die onfeilbare burgher uit te daag nie, maar ook die kyker ’n blik te gee op die morele grys areas van hul mees “eerbare” oorlog, bied die film die hedendaagse Afrikaner ’n blik op sy eie feilbaarheid en inderdaad op die universalitiet van menslike feilbaarheid. Maar dit is nie net die opspraakwekkendheid van die film se temas wat dit as ’n grootse werk in die Afrikaanse film lexicon laat uitstaan nie. De Jager se noukeurige navorsing en Eilers se instinktiewe regie sorg vir ’n film wat beide histories en emosioneel eg smaak. Ander filmmakers mag dalk verkies het om die kykproses te vergemaklik deur die meer histories korrekte taal te vervang of gedeeltelik te vervang met meer moderne Afrikaans, maar nie De Jager nie:
Die tydperk tussen 1895 en 1930 was die vormingsjare van Afrikaans as ’n formele taal. Dus was die Afrikaans in die tydperk nader aan Nederlands en alhoewel dit op die moderne Afrikaner se oor as baie formeel oorkom was dit volgens die bronne en briewe wat ek my hande op kon lê, die spreektaal van die tyd. Dis uit die aard van die saak belangrik dat die karakters moes praat soos hul tydgenote: dit dra by tot die geloofwaardigheid van die storie as geheel.
Eilers se proses as regisseur blyk net so noukeurig en doelbewus as De Jager se proses as skrywer te wees. Voor daar met die verfilming begin is het Eilers seker gemaak dat hy kwaliteit voorbereidingstyd met al sy hoofakteurs spandeer. Sy empatieke werkswyse het ook gelei tot die spotnaam, “actor whisperer”:
Ek gee vir die akteur my siening van die karakter, ons bespreek dit en dan besluit ons in watter rigting ons dit gaan neem. Daarna is dit my taak om vir die akteur ’n stil, veilige, rustige atmosfeer te skep waarbinne hy of sy dan die karakter tot wasdom kan bring. Ek praat nie hard of skreeu op spelers nie. Ek bly naby hulle en luister na hulle probleme en vrese. As akteur ken ek die vrees van ‘alleen’ wees.
Hierdie noukeurige aandag is duidelik opmerkbaar in die eindproduk. Eilers se akteurs lewer weldeurdagte, drie-dimensionele uitvoerings, sonder om ooit in die tipiese strikke van Afrikaanse melodrama te val. Gys de Villiers bewys weereens waarom hy al dekades lank as een van ons bestes beskou word en Deon Lotz oortuig sterk as die inkennige Generaal de la Rey. Wat egter mees opmerklik (en ook bemoedigend vir die filmindustrie se toekoms) is omtrent Verraaiers is die kwaliteit van die jonger akteurs se toneelspel. Jacques Bessenger se saggeaarde Maclachlan is uiters roerend. So ook Andrew Thompson se Ahrens en Viljee Maritz se CJ. (Dit is veral moeilik om Thompson se uitbeelding van Ahrens se diep innerlike stryd te aanskou, wetende dat die akteur kort ná die verfilming sy eie lewe geneem het.) Rika Sennet se Gerda grens hier en daar aan melodrama, maar dit kan toegeskryf word aan die feit dat die vroulike karakters helaas effens een-dimensioneel daaruitsien. Ek sou dus wel die uitbeelding van die vrouens as een van die film se min swakpunte wil uitwys. Hul gebrek aan selfbehoud en inisiatief mag weliswaar histories akkuraat wees, maar dit lees ongelukkig op die skerm as onderontwikkeld en in een of twee tonele as blote histerie.
Met Verraaiers (en Roepman) het De Jager en kie ’n nuwe era van intellektueel indringende Afrikaanse films van stapel gestuur. Die hoftonele herinner mens sterk aan Emil Nofal en Jans Rautenbach se 1968 meesterstuk Die Kandidaat en bied vir die kyker ’n soortgelyke ondersoek na egte Afrikaner identiteit en historiese betekenis. Hierdie is ’n stroom van nuwe Afrikaanse filmmakers wat nie net in die belofte van kommersiële sukses belangstel nie, maar eerder daarop fokus om kwaliteit films (wat moeiliker en ongewilder vrae vra) te vervaardig. In die woorde van die vervaardiger, Themba Sibeko: “Verraaiers is ’n boeiende storie wat kykers inlig en opvoed oor die verskillende geskiedkundige gebeurtenisse wat gelei het tot die skepping van Apartheid.” En dit is nie altemit nie.