Reviews

Die nuwe generasie van Medea

Medeamateriaal

Medeamateriaal, versTHOMmend mini-fees, HB Thom Teater, Stellenbosch, 24 Februarie – 1 Maart

Medeamateriaal deur Heiner Müller, vertaal na Afrikaans en verwerk deur Marina Albertyn, het ʼn tweede speelvlak by die HB Thom Teater se #versTHOMend fees op 25, 27 en 28 Februarie 2014. Die regie en ontwerp is behartig onder leiding van die bekwame teater regisseur Marthinus Basson, wat tans doseer aan die Universiteit Stellenbosch Drama Departement (USDD). In die besonderlike rolverdeling is Marina Albertyn, Milan Struwig en Kika Smit.

“…in die eeu van Orestes en Elektra wat op ons is, sal Oedipus gesien word as ʼn komedie”
– Heiner Müller

Euripides se Medea word gereken as die mees moderne, bestaande Griekse teks; dus dien dit as ʼn goeie wegspringplek vir Heiner Müller se post-modernistiese Medeas in Heartpiece en Medeamaterial. In die oorspronklike weergawe word Medea uit die Griekse oogpunt as die barbaar beskou, en die stuk eindig met sy wat haar kinders vermoor om haar man, Jason, dieselfde pyn wat hy haar aangedoen het te laat ervaar. Haar wraak teenoor Jason word gedryf deur die feit dat sy ter wille van hom haar pa en tuisland verraai het, haar broer vermoor het en kinders vir hom gebaar het, waarna hy haar vir ʼn ander vrou in Korinthe gelos het. Medea noem self dat sy drie maal in die voorste ry sal veg in ʼn oorlog, eerder as om die pyn van geboorte weer te ervaar. Hoewel Medeamaterial ʼn verwerking van Euripides se teks is, is dit nie nodig om die volledige geskiedenis van die Medea mite onder die knie te hê om die produksie te geniet nie, aangesien Müller die mite uitmekaar ruk, en daarna fragment vir fragment versigtig weer aanmekaar weef.

Müller se teks is ʼn kritiese meditasie op verskeie episodes van die Medea mite (veral soos vertel in die alombekende Euripides teks) in drie dele, naamlik: Despoiled Shore, Medeamaterial en Landscape with Argonauts. Die verwerking sluit ook een van Müller se vroeëre werke, Heartpiece, in. Die verwerking benader die verskeie probleme van moderniteit, by name vervreemding, die uitwerking van die mens op die natuur, verbruikerskapitalisme, massa-produksie, tegnologiese oorontwikkeling, die ironie van die verhouding tussen gevorderde kapitalisme en liberale demokrasie, en so meer. Die aanbieding hou grotendeels by Müller se spesifieke benadering tot die dramaturgie siende dat dit ʼn toonbeeld van “die teater van beelde” is.

Die teks ondersoek wat die mens is. Die mens is beide die produk én byproduk van moderniteit, en in Medeamateriaal vervaag die skeidingslyn tussen mens as produk en mens as oorskot. Die mens word die simbool van die moderne tye, en menslike uitskeiding die besoedeling en kontaminasie van onsself en die natuur. Medeamateriaal verbind besoedeling en moderniteit aan Medea, met die doel dat die een nie van die ander onderskeibaar is nie. Die toneelstuk buit die kollektiewe bewussyn uit in die oproep van beelde van mensgemaakte gruweldade, wat daarop dui dat tegnologiese oorontwikkeling die mensdom uiteindelik sal vernietig.

Marina Albertyn navigeer die rol van Medea tree vir tree sonder om te struikel. Haar hantering van die teks is omvattend in haar begrip van die hoofkarakter en haar motivering. Haar spel is delikaat en subtiel ten tye van stiltes, en byna dierlik en barbaars ten ander tye. Die rol van Jason word vertolk deur Milan Struwig, en sy spanning lê tussen Medea en die ander Vrou, vertolk deur Kika Smit. Struwig speel ʼn onsimpatieke Jason teenoor Medea, terwyl hy die ander Vrou verlei. Op Medea se aandrang dat Jason haar nog ʼn broer skuld, antwoord hy kil: “Ek het jou twee seuns in ruil vir ʼn broer gegee.” Struwig se progressie deur die toneelstuk is ʼn progressie van verkleining: vanaf ʼn man na ʼn artefak van moderniteit. Smit gee haarself oor aan die rol van die ander Vrou, en sy beweeg slinks oor die verhoog; haar spel sleep jou saam met Jason na sy ondergang. Hoewel die akteurs in die rolverdeling nog jonk is, is dit nie ʼn terugslag vir die produksie nie, maar eerder ʼn aanwins. Hier het ons te make met die huidige generasie van Medea – die generasie wat staar na die bom met geen benul van sy uitwerking op die mensdom nie, die generasie wat die reverberasies van die verlede nog kan hoor en voel, en die akteurs staan hul rolle vol.

Die landskap, geskep deur ontwerper/regisseur Marthinus Basson, is ʼn gestroopte skrootwerf bestrooi met rommelpapier. Verder word daar gebruik gemaak van film wat aanhoudend speel met beelde van geboortes, sel mitose, oorlog en so meer, wat onderbreek word deur ’n videokamera wat die gebeure op die verhoog waarneem. Hierdie beelde word oor die hele agtermuur geprojekteer en vorm ʼn digitale agterdoek vir die stuk. Daar is verskeie artefakte van moderniteit, byvoorbeeld ʼn TV wat statiese geraas vertoon, ʼn model van ʼn houtboot en ʼn vistenk met ʼn goudvissie. Die verhoogmaskering en gordyne is almal uitgevlieg, wat die aksie op die verhoog isoleer en verklein. Die regie keuses en die beelde wat geskep word, is eenvoudig, alledaags en probeer nie bombasties wees nie, maar laat eerder die kyker oor die betekenis van spesifieke besonderhede nadink. Die styl is soms naturalisties, soms stilisties, en daarom oop tot verskeie lae van interpretasie.

Medeamateriaal is die soort produksie wat meer gesien moet word. Dit is teater wat uitdaag en vrae aan die gehoor stel, maar onsimpatiek weier om antwoorde te verskaf. Dit is nie bubblegum teater nie – dit is ʼn stuk wat waarsku teen die toekoms van die mensdom; dit is ʼn meditasie oor die ondergang van die mens. Soos Müller noem, leef ons in die tyd van Orestes en Elektra. Is dit nie daarom tyd om die teater in te span om die mensdom teen homself te beskerm nie? Ons lewe ook reeds in die tyd waar Oedipus as ʼn komedie gesien kan word – ons kyk na gruweldade op die nuus sonder ʼn sweempie empatie. Medeamateriaal is nie net bewus van hierdie naderende einde nie, maar dien ook as spreekbuis vir die elemente wat daartoe sal lei. Nes Jason eers vir Medea en toe vir die ander Vrou geval het, sal die mensdom ook eindelik vir homself ʼn strik trek.

Twitter: @dsbenade

Facebook: facebook.com/danielstefanusbenade

Tagged , , , , ,

Comments