Reviews

Gestroop, met ingeboude bullshit detector

grond/Santekraam, deur Ronelda S. Kamfer, Kwela 2011.


Ronelda Kamfer, medewenner van die Eugène Maraisprys vir Noudat slapende honde (2008), se tweede digbundel het onlangs by Kwela verskyn.

grond/Santekraam is ’n eenheidsbundel wat grotendeels handel oor die mense van die vissersdorp Skipskop wat in die tagtigs deur PW Botha se bouncers uit hul dorp gesmyt is, sodat die Bewaarders van die Vrede missiele by De Hoop kon toets.

Kamfer self is ’n afstammeling van die Skipskoppers en die bundel sluit omdigtings van haar navorsing en gesprekke met familielede in.

Meeste mense ken Skipskop as ’n liriek, nie as ’n heimat nie, en as jy gelukkig is, hoor jy in jou geestesoor David Kramer se stem, anders laat die naam Skipskop jou seker dink aan die geteem van Sonja Herholdt of selfs die designer aksent van Theuns Jordaan. Wel, me Kamfer dink nie dis ’n cute ou, ou liedjie van lewenswel en -weë nie, sy en haar karakters is moerig:

daai fokken Kramer-jong het mos
daai song gesing so long Skipskop
met ’n Kaapse aksent nogals pure
djasgeit wit mens se sad en onse sad
is different hulle huil oor die plek
oor dit mooi was
onse mense huil oor hulle
net moes maak soos gesê was (16)

Oom Vis Visser onthou via Kamfer daardie dag effe anders as ’n populêre liedjie:

ek kan onthou van vashou
vashou aan die dag die lig
die mooi ek kan onthou hoe
my ma haar breekgoed moes
breek omdat daar net nie plek
was daarvoor nie ek onthou
hoe Oupa in die agterjaart
inmekaargesak en gesnik
het soos ’n kind
ek onthou my hond ek onthou
die oggend die wit-en-blou bakkie
die pers geel en rooi skynsels
op die seepborrels
toe ek die waskom uitgooi
al wat ek nie onthou
nie is of enigeiemand tot siens gesê
het nie nee niemand het ge-so long nie (21)

Maar grond/Santekraam gaan ook oor meer, nie net oor grond nie, maar ook die res, die hele boel, soos die HAT “santekraam” verduidelik. Die 42 gedigte handel eerstens oor die mense van Skipskop, maar die tema van ontheemding word wyer getrek – terug na Autshumau (Herrie die Strandloper vir die minder postkoloniales), en vorentoe na vriend Shaun en mede taxi-insittende Jeppe, siele tussen die krake van die 21ste eeu. Hoor net hoe beskryf sy byvoorbeeld vir Shaun:

my vriend Shaun glo niks
meer wat mense sê nie
hy sê as iemand eendag na hom toe kom
en vir hom vertel hoe dit voel om 6 jaar
oud te wees en onder die subway op Wyn-
bergstasie te slaap sal hy maybe luiste
Shaun sê as iemand vir hom kom vertel
van hoe hulle voor Kentucky gelê en slaap
het om net kinda
naby kos te wies sal hy moontlik luiste (33)

“Katie het kinders gehad”, ’n roerende gedig oor haar tante, is ’n ander goeie voorbeeld. Die motto, uit Koos Kombuis se liedjie “Kytie”, maak onmiddelik Kamfer se opinie oor daardie en soortgelyke tekste duidelik. Ek haal die hele gedig aan; kyk hoe skets sy ’n hele lewe, ’n hele bestel, in 12 reëls:

my auntie Katie was sestien toe sy in service begin
werk het sy het net tot standerd 5 skoolgegaan
my ouma auntie Katie se ma was ook ’n huishulp
my auntie Katie was ’n baie glamorous vrou haar
hare het altyd blonde streaks in gehad sy het net
goue jewellery gedra en het nêrens sonder haar musky
perfume en rouge lipstiffie gegaan nie
behalwe
werk toe ’n mens moet altyd jou werk met pride doen
het my ouma haar gesê maar sy kon nie het sy geantwoord
sy wou lyk soos
sy voel het sy gesê soos die meid (38)

Die bundel is digbevolk met karakters wat hul stories vertel en wat vertel word, karakters verbind met Skipskop, verbind aan die verskuiwing, karakters soos Sara Slimvrou en haar man Kêns Terrence wat

vyf dae lank op Vler-
kies sy erfstukbootjie alleen die siek
swart see ingedryf het (11),

“kêns” teruggekom het en daarna deur Sara versorg moes word; Mooi Mitchy Mitchell die crossdresser, wat later in die bundel, onder die see, as “Mislukte Mitchy manmin” bid:

ag liewe vader wat kan
ek doen om een ding heeltemal te wees (51-52) –

Ja, van die gedigte speel ook onder die see af: ontmoet die familie haaie Groot de Wit met Pretoria-aksente (“nee mô nie nou nie ek’s online ek check my profile”) en ’n paar bekkige meerminne. Dan is daar ook Mal Maria met die sleutel om haar nek, Klippie Klipkop en die lieflike oom Grootvis Visser met die “stemme in sy are”, wat die bundel deur voor hom uit sit staar en

dink aan sy mense
die mense en die santekraam (12).

Laas met Gert Vlok Nel se Om te lewe is onnatuurlik het ek ’n Afrikaanse digbundel gelees wat familie en gemeenskap so ’n geloofwaardige, byna tasbare stem gee.

Jan van Riebeeck (alias God) en Herrie (alias Herrij, alias Autshumao) skryf (bitter) snaakse briewe aan mekaar – Jan in Amptelike Afrikaans, Herrie in eietydse kaaps. Ook snaaks die volgende uit “Ons Klyntji spreek”:

Autshumao woon vanaand om
18:00 ’n gemeenskapsverga-
dering by waar onder meer
drankmisbruik onder die jeug
ernstig bespreek sal word (29)

En agter die humor die wrange besef van hoe min in Suid-Afrika verander het sedert daai eerste groentetuin.

Die bundel lees soos een lang gedig. ’n Mens lees dit vinnig deur en dan kom jy terug en lees dit weer. Veral party verse. En dan sommige hardop. Soos dit hoort. Dit lees bedrieglik eenvoudig maar dae later karring sommige reëls en gedigte steeds rond in jou harsings, in jou derms.

Die probleem met ’n eenheidsbundel is dat daar baie maklik swakker verse inglip, in diens van die groter eenheid en motiewe, maar wat miskien nie opgewasse is om alleen as gedigte te funksioneer nie. Gedigte soos “die minuut uur dag nag en jaar wat vir Terence kêns gemaak het” (wonderlike titel) en “oorvertel 5” sou dalk, as aparte tekste gelees, meer om die lyf kon hê.

Die “onder water”- en “gaan”-reekse is van die swakker gedigte. In die “onder water”-reeks is die speelse verbeeldingsvlugte (haaifamilies, meerminne en afkopskepe) en sydelingse aanhaal van bekende Afrikaanse deuntjies, van die Leeuloop tot die Stem, snaaks. Maar die gedigte sou kon wen aan meer konkreethede van die ondersese wat dan in verband met die afkopstories/-skepe van die grondbewoners gebring sou kon word. Meestal is hulle ook te lank om die bedoelde humor te hou.

Die “gaan”-reeks is meestal gebou om woordspeling wat miskien nie altyd sterk of skerp genoeg is om die gedigte te dra nie. Verder is woordspelings soos:

sovêr
so vêr (13)

nie sterk genoeg om alleen as laaste strofe van ’n gedig te kan staan nie. Ook nie die volgende afloop nie:

verby
verby
voorbij
verby
de diep
die diep
de diep
blou see (19);

ook die woordspelings tussen Nederlands en Afrikaans in “onderblijven” is miskien effe fassiel. Kamfer is op haar beste waar sy stories vertel.

Behalwe hierdie enkele voorbeelde wat ’n bietjie soos filler lees, is daar hier en daar ’n te direkte noem van emosie wat wegneem van die grotendeelse fyn en soms verpletterende suggesties in die gedigte. Kamfer se sterkte lê juis in haar vermoë om vreeslik baie te kan sê in die wyse wat sy klein spesifieke oomblikke of gesprekke beskryf. In sommige gedigte word daar digterlike moontlikhede gemis wat betref vormgewing en gedrongenheid, miskien as gevolg van ’n oorkompensasie om weg te skram van mooiskrywery en verfraaiing. Kamfer hoef nie bekommerd te wees nie, ek dink nie sy sal sommer cute of pretensieus raak nie.

Kamfer span die woord “grond” so styf en wyd deur die bundel dat dit oral begin vibreer en resoneer. Die HAT gee vele betekenisse vir “grond”, en Kamfer speel en treur met almal. Grond is die oppervlak van die aarde, die vlak waarop ’n mens staan of beweeg, dis ’n stuk land, ’n stuk land soos die Kaapse Vlakte of Skipskop, veral Skipskop:

dié spesifieke
stuk
grond [kon] nie sy bewoners
[...] behou nie
hy het nie daai ding wat
grond moet hê vir mense nie (10).

Grond is dít waarop iets gevestig is, steun:

vir die mens wat nie ’n boek ken nie ’n mens
wat so na aan godswonder bestaan
vir ’n mens wat lief is sonder rede
is grond alles (23).

Grond is die grondslag; om te grond is om te vestig:

grond is ’n vuilheid as jy eers lief is vir ’n plek kan watte kak maar
daar gebeur jy hou maar vas (18).

Grond is die begrensde gedeelte van die aardoppervlak wat nie met water bedek is nie, dit is die onderste vlak, die boom, die diepste wese – en dan klim Kamfer se gedigte onder die water in, om grond van die ander kant af te bekyk. En dis van hierdie alles-grond waarvan haar mense moes af:

die kort trek
net-om-die-draai-trek
die klipgooi-trek het mense se lewens vernietig
iewers het iemand gaan sit en die besigheid
bedink nie ’n mens nie net ’n iemand (23)

Nasate van hierdie iemand kuier deesdae tog te lekker weer in oom Grootvis se geweste:

“hulle” wat dink national heritage beteken iets “hulle”
wat vis in die restrant eet en nooit sal sien hoe sy ma gehuil het nie (56).

“Dit kon enige plek gewees het waar mense vandaan kom,” sê Kamfer in ’n onderhoud met Willemien Brümmer. Skipskop word metafoor vir ontheemding weens politiek, groot vergruisende magstrukture wat mense onder burokratiese army boots vertrap. Maar Skipskop is ’n regte plek waarvan haar regte oupa Thomas Daniel Granfield op ’n regte dag moes padgee Grabouw toe. “Hulle het ’n geskiedenis, hulle kom iewers vandaan,” sê Kamfer in die onderhoud. Maar dit is ook haar geskiedenis: “Dis vir my ’n manier om te weet waar ek vandaan kom.”

Sy skryf ’n bundel oor grondkwessies wat al die kompleksiteite daarvan uitwys en altyd digby die mense bly, en wat nie alleen ’n sterk politiese uiting is nie, maar ook ’n poëtiese een. Haar enigste wapen is die vertel van haar storie en die oorvertel van ander se stories:

al wat jy het is die
oorvertel (17),

stories wat die Skipskoppers moeilik vertel:

’n mens vergeet maar net omdat onthou jou opvreet,

sê een karakter:

jy wil nie weet hoe ek voel nie ek’s 84 jaar oud en as ek nou
leegmaak spoil ek alles al my regop hou
dis beter om die storie in jou woorde oortevertel want ek wil graag
hou wat ek het dis al wat ek het (18).

Soos Sara Slimmeisie sê:

hulle kan my santekraam vat
maar my trane gaan
hulle nie kry nie (20)

En trane gee Kamfer nie, haar skryfwerk is kurkdroog, nooit melodramaties nie, soos Fred de Vries in sy resensie oplet, selfs fatalisties. Sy skryf die stories van Skipskoppers om tot gedigte – vir Willemien Brümmer sê sy die gedigte is eerder haar mense se storie as hare; vir Andries Bezuidenhout sê sy: “Jy volg jou ‘onthou’ en jy haal daaruit die gedig” – gedigte waarop sy egter duidelik haar eie stempel druk. Die verskriklike ergmooi gedig, “Martha”, oor haar ma, die gedig oor haar oupa Thomas Daniel Granfield se dood, gedigte oor mense in haar lewe, byvoorbeeld “Shaun” en “Jeppe”, is almal van die sterkste gedigte in die bundel, miskien juis oor die nabyheid van die mense waaroor sy skryf. En wanneer meerminne begin Fokofpolisiekar sing en Herrie die Strandloper Eliot aanhaal, dan weet jy, dit is háár onthou, dit alles is ook háár storie.

grond/Santekraam getuig van ’n digterskap gesetel binne in die wêreld. ’n Leser kom gou agter hierdie digter het al gelééf: selfs waar sy die stories van andere oorvertel, is daar ’n sterk aanvoeling en invoeling vir die emosionaliteit en pyn en verlies, sonder om ooit stroperig te word. Die derms is daar, maar sy vertroetel hulle nie. Sy het die woorde, maar raak nie precious oor hulle nie. Sy erf duidelik haar middelvinger vir selfkoesterende literariteit by haar helde Charles Bukowski en Dylan Thomas.

Ronelda Kamfer het ’n eerlikhed, gestrooptheid en ingeboude bullshit detector wat deesdae nogal skaars is tussen sogenaamde Digters. Die bundel is soms hartverskeurend, soms skreeusnaaks, soms melancholies, as ’n geheel kompleks en beduidend van ’n digter met die wysheid en mensekennis van ’n veel ouer siel as wat haar ID-boekie voorhou.

Willem Anker doseer skeppende skryfkunde en Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy is die skrywer die roman Siegfried en dramatekste soos Skroothonde, Slaghuis, Sakrament en Skrapnel.

Comments

H.P. says:

Bravo! Willem, jou resensie lees soos The Beats comes to Cape Town in kaaps. Nice one. Raak beskrywing, met ‘n styl wat plesier gee …