Reviews

De Villiers en Slabbert se biografie onoortreflik

David Kramer: ’n Biografie deur Mathilda Slabbert en Dawid de Villiers, Tafelberg, 2011.

KYK WEER RESENSIE

Hierdie waardeskatting van David Kramer: ’n Biografie volg op Mario Maccani se resensie waarin hy die vraag stel of Slabbert en De Villiers se boek nie dalk ’n ‘David Kramer produk is’, ’n werk wat te veel steun op inligting wat deur die musikant self verskaf is. Veteraan-skrywer Kerneels Breytenbach gee ’n altenatiewe mening. Dit is geskryf sonder toegang tot Maccani se resensie.

 

Die loopbane van Suid-Afrikaanse pop helde het ’n kenmerkende gang. In die begin is daar groot reklame en vir die media vryelike toegang tot die persoonlike binnekring. Sodra die kunstenaar se statuur toeneem, bly die reklamemasjien aan die woel – maar die lede van die media vind dat hul toegang tot die binnekring verminder en gereguleer word. Die intieme mededelinge verminder, inligting word al hoe meer alledaags. Op die kruin van die ster se loopbaan is die reklame dermate gefokus dat verskillende soorte stories vir die media aangebied word, sodat die wyds moontlike spektrum van onderwerpe en toeligting al manipulerend versprei word. Daar is egter geen toegang tot die man met die talent nie. Later, wanneer die held se ster verskiet, gaan die reklamemasjien freneties tekere, en die deure na die gesogte binnekring staan weer wyd oop, waar die media heerlik deel in die diepste insigte van die groot gees. Teen hierdie tyd ken almal egter sy storie asook die waarheid agter die waarheid. Lesers stel nie meer in die ou nuus belang nie. Dit is nie noodwendig die kunstenaar se skuld nie. Dit is die moderne bestel en die hele celebrity-bedryf (reklame, handelsfoefies, persoonlike optredes, die ge- en misbruik van die kunstenaar se gesag om politieke en ander redes) daaromheen wat die kunstenaar dwing om die bekende oplossings te beproef. As dit vir Trevor Rabin gewerk het, hoekom nie ook vir Snotkop nie?

David Kramer is die uitsondering op hierdie reël.

Dit voel soos gister dat Paddy Lee-Thorpe van Mountain Records my genooi het om namens Die Burger en Huisgenoot die pers-bekendstelling van Bakgat! by te woon. Ek het Lee-Thorpe met sy kenmerkende weglê-snor goed geken – soos ook sy voormalige venoot, Paul Zamek.

Albei het dikwels by my en Vic Holloway ’n draai gemaak by Die Burger se kunsredaksie – Vic was ’n jazz-fanatikus en ek moes oor plaaslike kunstenaars verslag doen. Ons het baie ruimte aan hul kunstenaars afgestaan. David Kramer was heeltemal in ’n ander, vreemde register vir Lee-Thorpe, het ons gedink. Dit was dan ook so. Lee-Thorpe het soos net hy dit kon doen volgens die gebruiklike patroon die media se toegang tot die kunstenaar beheer met ’n geweldige laid-back verwelkoming en daarna pogings om elke joernalis om die beurt kans te gee om met ’n kleinerige glasie wyn in die hand met David te gesels. Dit is net dat David toe al die private kern beskerm het. Hy het oor Bakgat! gepraat, oor die liedjies en die dinge wat deur die liedjies aangespreek word. Vir my was dit soos manna uit die hemel: ’n kunstenaar wat vir homself dink, wat politiek betrokke is, wat ’n ongelooflike oog het vir sosiale knellings, en wat homself wil uitdruk deur stories in sy liedjies te vertel.

Toe ek die eerste keer verneem dat Tilla Slabbert en Dawid de Villiers ’n boek oor Kramer skryf, het ek onwillekeurig teruggedink aan daardie dag by Mountain Records. Aan die feit dat iemand met die nous van Paddy Lee-Thorpe dit nie kon regkry om die skanse waarmee David Kramer sy privaatheid beskerm het, af te takel nie. In ’n sin was dit seker een van die redes hoekom Kramer en Lee-Thorpe se padjies geskei het. Onafwendbaar, gesien die mate waarin Kramer selfs in sy medewerking vir die skryf van hierdie boek steeds in die ouderdom van 60 sy privaatheid beskerm, en waarin hy dit dwarsdeur sy loopbaan gedoen het. Alle joernaliste wat met Kramer onderhoude voer, sal weet dat mens met hom gesels oor dít waaroor hy wil gesels. Dis sy goeie reg. Om presies hierdie rede het ek gedink Slabbert en De Villiers takel ’n onderwerp wat hulle nie gaan baasraak nie. Die meester van skuheid sou ook vir hulle fnuik.

David Kramer – ’n Biografie is die beste skryfwerk wat ek nog oor David Kramer te lese gekry het. Dit is ’n monument vir die skrywers se deursettingsvermoë en hul takt. Die grootste nagmerrie wat enige biograaf kan hê, is ’n onderwerp wat nie wil saamwerk nie. Slabbert en De Villiers het die samewerking van sowel David Kramer as sy vrou, Renaye gekry en behou. Hul boek is ’n les en ’n voorbeeld vir alle joernaliste, die uwe inkluis, wat deur die jare probeer en gefaal het.

Die sleutel vir hul benadering is presies dít wat David Kramer nog altyddeur aan joernaliste beskikbaar gestel het: Benader die musiek en lirieke met erns – dit is waar julle David Kramer sal vind, ingebed in die houding, in die menslike siening, in die empatie en die woede. Wat Slabbert en De Villiers bygevoeg het, is die hardegatgeit van navorsers wat só ernstig oor hul onderwerp voel dat hulle bly vasbyt het totdat hulle die inligting gekry het waarna hulle soek. Uiteraard is hierdie benadering een wat diegene wat op soek is na ’n celebrity-hagiografie, sal frustreer, hulle sal laat protesteer dat Slabbert en De Villiers té klinies en ernstig is oor hul onderwerp, dat die biografie te veel konsentrasie en intellektuele harde werk van die leser verg. Gelukkig vir diegene wat Kramer deur die jare as meer as net ’n koddigheid beskou het, het die outeurs besluit om so ver moontlik van ’n celebirty-hagiografie te stuur as moontlik, en die resultaat is die eerste geslaagde poging om David Kramer te ondersoek en te evalueer. Vir die nuuskieriges is daar ’n behoorlike en vir my skitterend geskrewe geskiedkundige aanloop, volgepak met die soort inligting oor Kramer se voorsate en sy jeug wat ten minste ’n deel van die nuuskierigheid van die celebrity-soekers sal bevredig. Vir baie mense het David Kramer eers met Bakgat! (1981) begin bestaan – die inligting in hierdie boek oor die tyd voor Bakgat! is van kardinale belang vir die verstaan van David Kramer. Ná hierdie gedeelte hou die biograwe die chronologiese benadering vol en kry die leser ’n deurtastende verslag van die ontwikkeling van David Kramer se loopbaan en kunstenaarskap.

Die probleem met ’n suiwer chronologiese benadering tot ’n biografie is dat dit nie altyd moontlik is om die onderwerp van die bespreking sinchronies én diachronies te kontekstualiseer nie. Jy weet gewoon nie van die kunstenaars wat Kramer voorafgegaan het, of in sy eie tyd aktief was, tensy hulle deel word van die enumerasie van Kramer se lewensgang nie. Die leser kry wel die intiemste moontlike blik wat hulle nog op die lewe van David Kramer gehad het, maar omdat die groter konteks nie altyd pertinent beskryf word nie, is dit moeiliker vir die leser om te bepaal hoe die kunstenaar op spesifieke historiese dinge gereageer het.

Tussen Kwaai en die baanbrekende Baboondogs het byvoorbeeld die Noodtoestand van 1985 gelê – maar dit word slegs in die verbygaan bygehaal. Die bekende insident waartydens Kramer met sy Kombi in ’n swart township in verdwaal het, sou meer betekenis gedra het as meer sinchroniese inligting reeds vooraf verskaf was. Ek aanvaar dat Slabbert en De Villiers spesifiek die sinchroniese aspekte van hul geskiedskrywing onderbeklemtoon het omdat die chronologiese inhoud reeds so omvangryk is. Dit strek gelukkig tot hul voordeel dat ’n mens soveel dinge uit Kramer se musiek self kan aflei, en dat daar vanuit die liedjies self ’n sinchroniese blik ontstaan.

Bakgat! (1981) het luisteraars dadelik laat besef dat David Kramer homself in uiteenlopende personasies kan giet om mense se stories te vertel. As mens daardie album vergelyk met 1981 se Die verhaal van Blokkies Joubert (of, argumentshalwe “Botteltjie Blou” met “Blokkies Joubert”), dan kry jy nie alleen ’n skildering van twee uiteenlopende dele van die Suid-Afrikaanse beskawing nie, maar ook ’n idee van wat in David Kramer se kop aangaan. Jy weet wát dit is wat sy verbeelding kielie. Die biograwe verduidelik ook hoe sensitief Kramer was vir etiketering en die boomerang van verkeerde persepsies weens die verband wat gelê kon word tussen Kramer se rugbyliedjies en die Springbokke se betogertoer van 1981.

Hoekom het hy empatie met sowel die afgeleefde bergie as die vergete rugbyster met sy diepgesetelde nostalgiese verbittering? Sekerlik kan mens daaruit iets aflei oor die mense wat tot Kramer spreek, nes jy met “Krisjan Swart” op Bakgat! en “Piet Bedien” op Die verhaal van Blokkies Joubert kan doen. Of “Montagu” op laasgenoemde en “Country and Western Town” op Delicious Monster (1982). Só kan mens aangaan. Slabbert en De Villiers skets die onstaan en omgewing waarbinne liedjies geskep is (met soms ’n welkome sinchroniese uitstulping, soos die een oor die betogertoer), maar tegelykertyd bied hulle ook vir jou ’n insig in die binneruimte waar daardie liedjies gebore is. Dis vir my, nou na al die jare, besonder interessant om te sien hoe die troebel verhouding tussen Kramer en Lee-Thorpe ’n besliste uitwerking gehad het op Kramer se musiek, en in watter mate hy ná Kwaai (1984) op ’n manier kon terugkeer na die jeugdige kritiese gees wat hom destyds Bakgat! laat maak het, om Baboondogs (1986) te skep uit ’n land en mense in die dieptes van ellende. Baboondogs bly vir my ’n epogmakende album – veral omdat Kramer daarmee finaal die beeld van die joviale “almal se pêl” afgeskud het. David Kramer was nie meer die uitsluitende besit van Afrikaanse luisteraars nie – dit is van Slabbert en De Villiers se beste werk waarin hulle beskryf hoe die aanloop na District Six – The Musical uitgespeel het ná die verskyning van Baboondogs.

Oorlogsfotograwe word dikwels daarvoor verkwalik dat hulle foto’s neem terwyl hulle eerder hul medemens uit sy verknorsing kan help. As ek terugdink aan die diepe depressie waarin P.W. Botha en sy regering die land in 1985 en 1986 gedompel het, en die manier waarop Baboondogs mens laat voel het daar is darem nog een persoon in die land wat sy gesonde verstand gebruik, is dit interessant om te sien in watter skedelspasie Kramer destyds was en hoe Baboondogs tot stand gekom het. Vandaar was dit vir hom sekerlik makliker om ’n vennootskap met Taliep Petersen te vorm en District Six – The Musical te skep – Kramer het reeds in sy gemoed die ruimte daarvoor geskep, soos die biograwe ook aantoon. Hoe dit ontwikkel het, is een van die dele van die Kramer-verhaal wat meer algemeen bekend is; wat nie so bekend is nie, is wat Kramer alles geabsorbeer het by wyse van leeswerk en agtergrondskennis voordat hy met die formele skeppingswerk begin het. Een van die dinge wat hierdie biografie mens gou laat besef, is dat hoewel David Kramer, nes ons ander sterflinge, nooit kon weet hoe sy lewenspad presies sou verloop nie, hy nietemin ’n baie duidelike idee gehad het van die dinge wat hy wou hê moes gebeur.

Nadat Renaye Kramer by Paddy Lee-Thorpe oorgeneem het as David se bestuurder, het Kramer sy grootste bloeityd as skeppende kunstenaar beleef. Die dele in David Kramer – ’n Biografie wat handel oor District Six – The Musical, Kat and the Kings en Ghoema is besonder interessant, omdat dit bewys dat Kramer sy eie persona kan onderdruk om deel te word van ’n groter, meer kreatiewe span. Hy het dikwels rusteloos geraak, gedink aan allerlei nuwe rigtings waarin hy kon beweeg, maar dit is duidelik dat Renaye die een was met die nugtere afstand op Kramer se probleme, en hom gerem het waar nodig, of aangemoedig het om vet te gee.

Slabbert en De Villiers se onderhoude met die egpaar Kramer het ongelooflike materiaal opgelewer – die soort dinge waaroor enige joernalis sy oogtande sal gee. Die openhartigheid waarmee Kramer praat oor sy een groot musiekprul (die album Kliphard van 1999) is ’n goeie voorbeeld. Hy erken dat hy ná die musiekspele as liedjieskrywer dermate ontwikkel het dat hy oor enigiets sou kon skryf – gee hom net ’n tema. Kliphard is gebore uit die platemaatskappy wat druk op hom uitgeoefen het omdat hy in 1989 (Eina) laas ’n album had, en hy die land se rugbymalheid moes benut en nog ’n rugby-album skep. “My grootste verleentheid” – aldus Kramer.

’n Jaar later het die TV-produksieleier Jan Horn hom ontmoet om oor ’n moontlike projek te gesels. Die vonk van Horn en sy vrou, Jeanette, se liefde vir inheemse musiek, en die onbekende kunstenaars wat in alle nederigheid besig was met hul unieke musiek, het na Kramer gespring. Die volgende groot wending in sy loopbaan, een waardeur hy kon help om ou apartheidskade tegelyk oop te vlek en te herstel, het Kramer dus te danke aan Jan en Jeanette Horn – en aan Renaye Kramer, wat besef het dat Horn se TV-programme oor inheemse Suid-Afrikaanse musiek, waarin Kramer een van die aanbieders was (maar nie die skrywer daarvan nie), groot potensiaal het en Kramer aangemoedig het om van die musici wat in sy episodes van Horn se reeks te hore was, via die verhoog aan die breër publiek bekend te stel. Op dié manier het die gevolglike verhoogprogram, Die Ballade van Koos Sas, vir David Kramer, skepper van musiekspele, teruggebring verhoog toe saam met die musiek wat hom werklik interesseer het. David Kramer is al in die openbaar daarvoor verkwalik dat hy nooit genoeg erkenning aan Jan Horn gegee het vir sy vinding van Tokas Lodewyk en ander nie. Ek meen hierdie biografie doen meer as genoeg om te wys presies hoe sake verloop het en presies hoe groot Kramer se skatpligtigheid aan die Horns is.

Eweneens moet niemand Kramer dit verkwalik dat hy na afloop van die maak van die TV-reeks met Horn die initiatief geneem het om te sorg dat die gevonde kunstenaars nie alleen wyer bekend word nie, maar ook iets verdien uit hul kuns. Dié tema is een waarna dikwels in hierdie biografie verwys word. Wat belangrik is daaraan, is om te weet dat dit Kramer van “Botteltjie Blou” se dae af gehinder het en dat hy altyd getrou gebly het aan sy gevoelens daaroor.

Mens kan met veligheid sê dat David Kramer in die eerste dekade van die 21ste eeu uiteindelik die soort dinge begin doen het wat hy nooit in die jare tagtig sou kon doen nie, om welke rede ookal. Dinge soos Karoo Kitaar Blues, The Kramer Petersen Songbook (ná Taliep Petersen se tragiese dood), 10 Stories en David Kramer’s Breyani. Vir die liefhebbers van sy musiek was daar egter ook die welkome terugkeer van Kramer se komposisionele vaardigheid met die gewone lied op Huistoe (2004) en Hemel & Aarde (2007). Hierdie deel van Kramer se geskiedenis word meer oorsigtelik aangebied deur die biograwe. Dit is ’n ou probleem wat biograwe van ’n steeds lewende persoon het, en in hierdie geval beteken dit ongelukkig dat hulle nalaat om te noem dat Hemel & Aarde ’n snit bevat wat een van Kramer se grootste toevoeggings tot die Afrikaanse liedereskat is. Dit heet “Die Verlosser”, en is ’n tipiese eenvoudige Kramer-vertelling, maar met enorme simboliese implikasies. Wat my betref die beste liedjie wat Kramer geskryf het sedert Baboondogs, en naas “So long Skipskop” die beste van sy loopbaan.

David Kramer – ’n Biografie is die eerste biografie van ’n eietydse Suid-Afrikaanse kunstenaar wat uitstyg bo die vlak van populêre joernalistiek. Die gehalte van navorsing moet geloof word. Ofskoon dit ’n besliste gebrek het ten opsigte van tersaaklike sinchroniese inligting oor sosiaal-politieke gebeure, kry die leser ’n gedeelte van daardie inligting via die betrokkenheid van David Kramer by die dinge van sy land – of ten minste deur sy reaksie daarop. Dit is ’n onoortreflike kompendium van inligting oor die lewe en kuns van David Kramer, die mees omvattende skryfwerk, sonder foefies, tot op datum oor ’n persoon wat nie graag sy private lewe en gedagtes met mense buite die binnekring deel nie. In hierdie opsig glo ek nie dat enigiemand nog in Kramer se leeftyd op David Kramer – ’n Biografie sal kan verbeter nie. Mathilda Slabbert en Dawid de Villiers moet nie alleen geprys word vir hul knaendheid en deursettingsvermoë nie, maar ook vir hul smaak.

Comments