Reports

‘Die dood is die groot mistieke’: Ingrid Winterbach in gesprek met Louise Viljoen

Ingrid Winterbach onderteken eksemplare

Bekendstelling van Ingrid Winterbach se Die aanspraak van lewende wesens, 17 Oktober 2012, Protea Boekwinkel, Stellenbosch.

JONATHAN AMID

Die afwagting is verby; die oomblik het aangebreek: Die skrywer en kunstenaar Ingrid Winterbach, wat vroeër vanjaar aangewys is as die wenner van die NB Groot Afrikaanse Roman-wedstryd, is op ’n matige Woensdagaand in Stellenbosch om oor haar nuwe roman, Die aanspraak van lewende wesens, te gesels. Dit is Winterbach se tiende roman (die oorspronklike titel was “Die leegte” gewees) en vorm volgens Christel Stander se resensie in Rapport ’n drieluik met Die boek van toeval en toeverlaat en Die benederyk.

Diegene wat Winterbach se romans al gelees het, sal kan getuig van haar haas ongelooflike vermoë om verskeie lae van karakters, filosofiese onderstrominge, intertekstuele verwysings en intratekstuele verbande so aan te bied dat dit steeds toeganklik vir noukeurige lesers is. Daar is iets wonderbaarliks ryk, iets mensliks en deernisvol en tog immers onthutsend aan haar fyngevoelige prosa wat haar oeuvre myns insiens verhef bo die konvensionele of alledaagse.

Omdat Louise Viljoen, Professor in Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch, vertroud met Winterbach se werk is en ook een van die beoordelaars van 2012 se Groot Roman wedstryd was, is sy die ideale gespreksgenoot vir die skrywer. Viljoen val weg met ’n onderhoudende, prikkelende en insiggewende stel opmerkings en vrae wat die nimlike Winterbach met groot oorgawe en ʼn heerlike sin vir humor beantwoord. Daar is duidelik wedersydse respek en ʼn merkbare kameraderie tussen die twee vroue en die gesprek boei die gehoor van sowat 50 aanhangers enduit.

Viljoen se raakvat-vrae wentel grootliks om die skryfproses en dien as ʼn soort inleiding vir lesers tot die dieper vrae wat die roman ondersoek. Tyd, ruimte, karakter, verteller en intrige, onder andere, word in die soeklig geplaas en die gesprek bied ruim insae van Winterbach oor haar werk sonder om enige oordadige detail of verrassings vir die leser prys te gee.

Die gesprek begin met Viljoen wat die gehoor attent maak op die wyse waarop die roman twee verskillende reistogte en karakters se stories met mekaar vervleg.

Karl Hofmeyr, ’n metalhead van Durban, ontvang ʼn noodoproep oor sy broer, Iggy, en moet onwillig na sy geesteswelstand gaan ondersoek instel. Totdat hy by sy bestemming aankom, moet hy ook sy obsessiewe kompulsie met nommers en sy afgryse aan enige tekens van vuilheid in bedwang hou. Daar is talle tekens dat Karl se wêreld reeds ineen begin stort, en nog verder inmekaar sal tuimel deur die verloop van die roman, en dat sy ontmoeting met ene Josias Brand erg traumaties sal wees.

Die teenvoeter vir Karl is Maria Volschenk, wat haar belet op orde en reëlmatigheid en ʼn kop vir syfers het. Sy reis ook vanaf Durban na die Kaap om te probeer sin maak van haar suster, Sofie, se selfmoord en om die laaste brief aan haar by Sofie se lewensmaat te gaan haal.

Die twee narratiewe van die roman is dig vervleg en Viljoen belig die twee karakters se “quest”, hul pelgrimstog, om sin te maak van hul eie lewens deur nader aan die trauma en menswees van hul geliefdes te kom. Buiten die fisiese aard van die tog, neem die reis ook ʼn oorweldigende psigiese dimensie aan, met beide karakters wat die ontoeganklike en die feilbare moet konfronteer, ten volle bewus van hulle eie magteloosheid om ander of hulself te “red”.

Viljoen pols Winterbach oor die moontlikhede wat die dubbel-vertelling vir haar in die roman bied, en sy antwoord dat dit die belangrike funksie van “afwisseling” en “variasie”, ʼn ryker toon en tekstuur as slegs een bepaalde narratief, teweegbring. Winterbach wys ook tereg op die opofferings wat met die skryf van elke roman gepaardgaan en noem dat sy dalk ʼn addendum met die tweede druk van die roman sal moet bywerk.

Viljoen vra uit na die belang van ruspunte, rituele en besoeke in die roman en Winterbach verduidelik dat reise na beide fisiese en geestelike bestemmings ’n tegniese vertelwaarde het, en dat reise die “gesukkel met plot” makliker maak. Dit kom byna altyd vir Winterbach op ’n reis neer: vanaf, verby, tussen-in, dalk veral tussen-in, dis die woorde wat keer op keer terugkeer as jy Winterbach se ondersoekende togte onder oë neem. Die reis is eenvoudig nooit verby nie, nie eens met die konfrontasie tussen die lewendes en die gestorwenes nie.

Viljoen let op die alomteenwoordigheid van die verlede in karakters se huidige lewens, hul begeerte om ’n mate van orde en duidelikheid aan die ontoeganklike en ondeurdringbare muur van die dood te probeer gee. Die vraag van die “mistieke” steek sy kop uit, en Winterbach dui daarop dat sy beslis ʼn aanvoeling teenoor die mistieke geniet.

Sy praat van die mistieke as deel van ’n groter belewenis, en dat die idee van “altered consciousness” vir haar as skrywer baie waarde inhou, dat sy self aangetrokke voel tot die mistieke as ’n ervaring wat die “oplos in ’n groter niks” bied. Sy noem ook dat die roman via Iggy die Bybel as interteks benader, en dat dit konneksies tussen die Kabala en Sophie bied.

Na aanleiding van Viljoen se opmerkings teenoor Winterbach oor die sosiale kommentaar wat sy oor die land se “krisispunt” lewer, blyk dit dat die teks vernuftig omgaan met die politieke bestel, die politieke onbewuste, van Suid-Afrika as ’n jong demokrasie, gekenmerk deur ’n oorweldigende diversiteit en talle vrae oor subjektiwiteit, psigiese verwonding en sterflikheid.

Tiperend van die aweregse Winterbach se vernuf om karakters uit verskeie lewensoorde saam te snoer, bied Die aanspraak van lewende wesens ’n reeks karakters wat strek van ’n “heavy-metal fan” tot straatbewoners, van Boeremag-lede tot ʼn kultus-leier, ene Josias Brand, met sy “stadsplaas” – tegelyk ’n utopie en ’n distopie – aan die hange van Tafelberg. Winterbach noem dat die roman vir haar by die plaas begin het, en dat dit ook vir haar ʼn soort eindbestemming is. Viljoen verwys vervolgens na Lauren Beukes se Moxyland en Zoo City, asook Eben Venter se kragtoer Horrelpoot, as ideale vergelykende tekste.

Benewens Josias Brand fokus Winterbach ook op karakters wat dikwels “minder opgewasse” is teen die lewe. In teenstelling met sommige van haar karakters (soos die straatmense), sien Winterbach haarself as iemand wat “bourgeois” is, iemand met “materiale belasting”, anders as haar karakters wat soms eenvoudig “niks het nie”. Hierdie randfigure speel dan ook in op die ideaal van aflegging wat sy deur haar skryfwerk benader en op die bewusmaking van die middelklas oor die ekstreme werklikheid van die armes se lewens.

Keer op keer kom dit by die luisteraar van die gesprek op dat die roman werklik groots is, in die sin dat dit ʼn enorme aantal elemente op ʼn behendige manier saamsnoer tot ʼn betekenisvolle geheel en karakters se stories op so ʼn wyse aanbied dat dit nooit in buiksprekery of geprekery verval nie.

In antwoord op ’n vraag oor die roman se sogenaamde “Rock-klankbaan” vertel Winterbach dat sy en haar “spioene” baie navorsing oor heavy-metal gedoen het, maar sy brei ongelukkig nie verder uit nie. Winterbach sê bloot dat sy nie weet hoe die idee van Karl as metal-aanhanger by haar geland het nie en dat die skrywer en haar karakters nie dieselfde hartstogte hoef te deel nie. Sy hoop ook dat die metal-fokus van die roman nie van haar ouer lesers sal vervreem nie.

Viljoen ontlok ʼn baie interessante gesprekspunt met Winterbach wanneer sy uitvra oor die verhouding tussen die erns en die ligter oomblikke in haar romans. Winterbach dring daarop aan dat haar romans humor en nie komedie bevat nie, en dat humor iets is wat meerduidig is, ʼn tekstuur wat beide die absurde en die verskriklike met die menslike kan verenig; dit is nooit vir die skrywer bloot ’n “toevoeging” tot haar werk nie.

Vir my was die hoogtepunt van die bespreking toe Viljoen en Winterbach saam veel genot geput het uit die verwysing na die vernuftige Coen broers Ethan en Joel, na wie se meesterstuk The Big Lebowski in die roman verwys word. Winterbach is mal oor die Coen broers, en vertel hoe sy haar veral aan’n toneel uit A Serious Man verkneukel het, waar ʼn Joodse seun ietsie meer as net tabak by sy Bar Mitzvah rook. Dit is hierdie soort insigte – oorvertel met ʼn stout glimlag en ʼn glinster in die oog – wat ʼn leser waardering vir Winterbach as mens, en nie net as skrywer en kunstenaar nie, laat voel.

Aan die einde van die gesprek word die gehoor die kans gegee om vrae te vra, maar daar is nie ’n enkele hand wat gelig word nie – heel moontlik omdat Louise Viljoen haar vrae so onberispelik fyn en duidelik geformuleer het, en miskien omdat die gehoor dalk net nie kan wag om hul kopie van Winterbach se roman deur die innemende en innoverende mens-mens skryfkunstenaar te laat onderteken nie. Teen 20:30 stap ek en ʼn groep vriende uit met ons eksemplare, gretig om die hek vir Winterbach se lewende wesens in die gemak van ons eie ruimtes oop te maak.

Comments