Reports

‘I am the master of my fate’: om die geskiedenis anders te verbeel

Bekendstelling van Die laaste Afrikanerleiers deur Hermann Giliomee, 10 November 2012, Protea Boekwinkel, Stellenbosch.

ANNEL PIETERSE

Met die bekendstelling van Hermann Giliomee se nuutste boek, Die laaste Afrikanerleiers, het Professor Albert Grundlingh, hoof van die Departement Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch, met die skrywer in gesprek getree oor sy boek wat oor die verval van die apartheidsregering in Suid-Afrika handel. In die boek beklemtoon Giliomee die rol van individuele nasionale leiers en hul kritici, sowel as historiese toevallighede, eerder as die magte van instansies en strukture.

Grundlingh het afgeskop deur te vra hoekom Giliomee dink dat die onderwerp waaroor hy skryf, naamlik Afrikaners, belangrik is.

Vir Giliomee is daar baie onbeantwoorde vrae rondom die magsverlies van wittes in Suid-Afrika sedert 1992. Volgens hom is dit vir talle mense nog ’n raaisel hoe dit so skielik kon gebeur het. Hy het die stelling gemaak dat diegene wat ’n aanvoeling vir die geskiedenis het dit nuttig ag om na die groot politieke ryke van die verlede te kyk. Veral in die twintigste eeu was daardie ryke geneig gewees om vinnig te verval. Vir Giliomee is een van die belangrikste kwessies hoe die heersende groep se verlies aan mag met die verlies van selfvertroue gepaard gegaan.

Grundlingh het toe uitgevra na die wending wat in Giliomee se werk sigbaar is: van ’n klem op strukturele kwessies in sy vroeëre werke, na ’n fokus op individue, die sogenaamde “groot manne”, inDie laaste Afrikanerleiers.

Giliomee het geantwoord dat hy as eertydse dosent in die politieke wetenskap meer geneig was om die geskiedenis in strukturele terme te beskou. Met die verloop van tyd het hy wel besef dat daar ander maniere is waarop hy ’n bydrae kon lewer tot die manier waarop ons die Suid-Afrikaanse geskiedenis verstaan, en dit het na die einde van die jare negentig vir hom in twee fokuspunte gekristalliseer. Eerstens het hy opgelet dat die Liberale en Marxistiese uitbeeldings van Afrikaners tekort geskiet het en nie die kompleksiteit van die Afrikaner se posisie in Suid Afrika volledig in ag neem nie. Hy wou dus die stand van die Afrikaner herinterpreteer. Tweedens wou hy die geskiedenis soos ’n verhaal of narratief, eerder as ’n struktuur, benader.

In hierdie verband het Giliomee Henry Kissinger se idee van die great man aangehaal. Kissinger was van mening dat die rol van die individu nie gereduseer kan word tot die idee van die staatsman as bloot ’n hefboom in die “masjien” van “geskiedenis” nie. Trouens, dit is juis die individu wat met die verloop van die geskiedenis kan worstel en ’n mate van tydelike orde kan bewerkstellig.

Vir Giliomee is H.F. Verwoerd so ’n figuur – ’n individu wat ten regte of onregte ’n wesenlike verskil aan die verloop van die geskiedenis probeer meebring het – en Giliomee wou met die skryf van die boek poog om onder andere Verwoerd op ’n nuwe manier te interpreteer. Giliomee het erken dat hy self tot ander insigte oor Verwoerd gekom het, naamlik dat Verwoerd geneë was tot verandering en skikking, en dat dit reeds in 1952 geblyk het dat hy gereed was om ’n laterale verandering tydens die onderhandelinge met die Natives Representative Council mee te bring. Giliomee het ook genoem dat mense geneig is om Verwoerd te blameer vir die manier waarop die tuislandbeleid na die jare sestig deur B.J. Vorster toegepas is, maar dat Verwoerd reeds voor sy dood besef het dat die beleid nie volhoubaar was nie.

Grundlingh het toe uitgevra oor die gebruik van onderhoude in die boek, veral met leiers van die oorgangstydperk. Hierop het Giliomee geantwoord dat, wat geskiedskrywing betref, onderhoude vir hom ’n heel ander, nuwe rigting laat inslaan het. Hy het na Patti Waldmeir en Alistair Sparks se boeke oor die oorgangstydperk verwys en skertsend opgemerk dat Waldmeir mans aan die praat kon kry omdat sy nie bedreigend was nie, en dat die Afrikanerleiers wat so openlik met haar gesels het baie meer geslote teenoor hom was.

Giliomee en Grundlingh

Professor Hermann Giliomee en Professor Albert Grundlingh.

Hierna het die gesprek beweeg na die vraag oor hoekom bruinmense, veral in die landelike gebiede van die Wes-Kaap, vir die NP tydens die 1994-verkiesing gestem het. Giliomee het die stelling gemaak dat akademici “’n ding maklik misgryp” en dat die algemene negatiewe opvattings oor die driekamer-parlement misleidend was “aangesien kleurlinge, veral op die platteland, wesenlike verbeteringe in hul omstandighede ervaar het” met die daarstelling van hierdie parlementêre stelsel. Hy het bygevoeg dat die kulture van bruin en wit mense baie soortgelyk op die platteland was. Om hierdie redes behoort dit nie verbasend te wees dat bruinmense die NP in 1994 ondersteun het nie, aangesien hulle voordeel uit die destydse stelsel geput het.

Voorts het Grundlingh na die verhouding tussen die NP en die ANC tydens die onderhandelinge uitgevra: “[Die] NP-onderhandelaars het die ANC onderskat, maar as mens die munt omdraai, was daar geleenthede waar die ANC die NP ook onderskat het?”

Giliomee het hierop geantwoord deur te verwys na F.W. de Klerk se aanstelling van Derek Keys as Minister van Finansies tydens die oorgangstydperk en die rol wat hy in die aanvaarding van ’n vryemarkstelsel gespeel het. Volgens Giliomee het Keys die ANC oortuig dat nasionalisering ’n slegte idee was, maar die ANC het toe nie die redes vir die besluit duidelik genoeg aan hul lede oorgedra nie. Eweneens het die NP nie hulle volgelinge ordentlik ingelig oor die uitkomste van die onderhandelinge nie. Die huidige twis tussen die ANC en Cosatu, sowel as Afrikaners se ontevredenheid en vervreemdingsin, sou straks daardie tyd al deur beter kommunikasie en ’n duidelike grondwet voorkom kon word, aldus Giliomee.

Vroeg in die gesprek het Giliomee die gehoor aangemoedig om nie aan gebeurtenisse in die geskiedenis as onafwendbaar te dink nie en om eerder te spekuleer oor hoe dinge dalk anders kon verloop het. Hy het as voorbeeld na die feit verwys dat wittes verdeeld was voor die 1948-verkiesing en dat die NP eers na hierdie verkiesing hulle posisie gekonsolideer het. Dieselfde ding het met die ANC gebeur – konsolidasie kon eers plaasvind nadat hulle aan bewind gekom het. Mag laat konsolidasie toe: “’n Mens moet vra hoe dit anders kon verloop het en die moontlikheid toelaat dat daar ook ander bewegings kon plaasvind.”

Hierdie uitnodiging om alternatiewe moontlikhede te verbeel het aanklank by die gehoor gevind en baie van die vrae was van ’n spekulatiewe aard. Een gehoorlid het byvoorbeeld gewonder of ’n beter bedeling moontlik sou wees indien die NP vroeër begin onderhandel het.

Hierop het Giliomee geantwoord dat dit die aard van die mensdom is, veral wat staatsregering betref, dat mense hulle eers tot rasionaliteit sal wend as alle ander moontlikhede reeds uitgeput is. Indien die konflik lank en verwoestend is, sal daar geen maklike oplossing te vinde wees nie. Kompeterende partye aan albei kante moet eers genoeg seerkry en swaarkry om die impasse te verbreek. In die 1980s was albei kante nog daarvan oortuig dat hulle die ander party kon oorwin en dus was die tyd nie reg vir onderhandelinge om te slaag nie.

Ek het aanvanklik gesukkel met die idee van ’n spekulatiewe benadering tot die geskiedenis: wat gebeur het, het tog immers gebeur, en om te bespiegel oor hoe dit anders kon gewees het sal niks verander nie. En tog. Dalk is dit so dat, indien ons kan verbeel hoe ’n geskiedkundige oomblik anders kon verloop het, ons ook kan verbeel hoe ons huidige oomblik anders mag verloop. Sodoende hoef die mens nie bloot ’n hefboom in die masjien van die geskiedenis te wees nie, maar eerder ’n stuurman van die noodlot – een wat ’n alternatiewe toekoms kan bewerkstellig.

Comments