Open Book Fest

Mal oor misdaadfiksie

IMG_6918

Honger vir Misdaadfiksie?, 9 September 2013, Fugard Theatre. Ettienne Bloemhof in gesprek met Deon Meyer, Ilza Roggeband, Karin Brynard en Kerneels Breytenbach.

JONATHAN AMID

Afrikaners is honger vir misdaadfiksie, dis nie te betwyfel nie. Maar waarom juis misdaadfiksie, nou, in hierdie land? Wat doen ons plaaslike skryftalent (nuut en ervare) om in hierdie behoefte te voorsien? Hierdie leidende vrae het aan kern van die bespreking gestaan.

Bloemhof open die gesprek met die opmerking dat Meyer nie meer die “eensame stem in die woestyn is nie”, voor hy insae verlang oor die honger vir misdaadfiksie. Eenvoudig gestel dink Meyer dis net die “normalisering” van beide die land se samelewing en kunste wat vir die opbloei verantwoordelik is. Soos ’n samelewing demokratiseer sal genre (die misdaadgenre) sy regmatige plek begin inneem, soos wat hier die geval is. Meyer is baie bang om enigsins die skryf van fiksie aan werklike misdaad te koppel: Hy glo die twee het “niks met mekaar te doen nie”.

Breytenbach gaan terug na die jare 50 om Leipoldt as vroeë spanningskrywer uit te sonder. Hy noem Brink se Kennis van die Aand as ’n tipe misdaad- of spanningsroman onder apartheid, en dat die betrokke roman die misdaadroman se plek warm gehou het voor Meyer en Brynard se werk. Hy voel hierdie outeurs kan nou in post-apartheid meer nugter en eerlik oor die politieke bestel skryf.

Brynard reken dat Meyer se “internasionale” styl die weg gebaan het vir ander skrywers, dat ons nou eenmaal dit mag waag om iets te skryf wat nie “hoëghere letterkunde” is nie. Sy let daarop dat werklike misdaad “niks” met die misdaadroman te make het nie; mense sal boeke as “ongeloofwaardig” uitkryt as hulle werklike misdaad as spilpunt sou gebruik, weens die uiterste aard daarvan. Sy noem dat die “soektog na vergelding” wat uiteindelik vervul word in misdaadfiksie beslis gewildheid verhoog, dat dit lekker is as die “skelm bliksems” uiteindelik “op hulle moer kry”.

Roggeband noem dat sy grootgeword het op ’n dieët van Agatha Christie en Reader’s Digest misdaadstories. Bowenal voel sy dat misdaadskrywers vir lesers ’n goeie storie moet bied wat hulle deurgaans nuuskierig sal hou. Brynard beaam hierdie punt. Sy noem dat ons nuuskierigheid as misdaadlesers binne ons DNA “gehardwire” is, en let ook daarop dat skrywers deesdae moet optree vir lesers by verskeie feeste. Hulle populariteit word dan deur hierdie “vertonings” herbevestig en lesers raak van vooraf weer op hulle verlief.

Meyer praat oor die wisselwerking van mediums wat hy as outeur en nou regisseur geniet, terwyl Breytenbach heerlik gesels oor die verwerking van Deon Opperman se Hartland en Donkerland van die televisie-skerm na die vorm van die roman, waar die skrywer besonder omsigtig met die storie en karakters moet omgaan, veral wat dialoog en beskrywings betref.

Meyer bied ’n verskeidenheid insigte oor sy karakters soos Mat Joubert en Zatopek van Heerden – veral hoe die trajek of persoonlike reis vir hom op die voorgroond staan – en hoe die struktuur van die misdaadroman beide beperkend en bevrydend vir hom was met die skryf van die eksperimentele Spoor en daarna die meer tradisionele Sewe Dae. Hy bied ook die klein “teaser” dat die geliefde Bennie Griessel eers net die komiese verligting as newe-karakter sou wees in die heelal van Deon Meyer, maar dat hy deur diep waters gaan in sy jongste speurverhaal, Kobra.

Roggeband noem in haar bespreking van haar misdaad-debuut, Noot vir Dood, dat daar nie ’n speurfiguur is nie, slegs ’n moord met ’n ontknoping aan die einde. Breytenbach skerts tot die luidrugtige applous van die gehoor dat sy vir Ray Dylan en Nicholis Louw moes doodgemaak het, en die roman "Skouspel" moes genoem het. Ek het self geskater van die lag.

Op die teenpool staan Breytenbach met sy “speurverhaal sonder ’n speurder,” met sy Henry Fielding in Afrikaans verteller-stel en verwerking van die gegewe van die perfekte moord. Anders as die “volg die bloed, volg die geld” aksioom wat hy by meeste misdaad-fiksie bespeur, is daar hier dus beslis ’n dekonstruksie of anti-misdaadroman te bespeur. Breytenbach noem dat hy die idee van mans wat glo elke vrou is “kroonwild” wou ondersoek, maar dat die gegewe net te dun was op sy eie. Toe word die speelse (in elke sin van die woord) Piekniek by Hangklip gebore.

Naby die einde van die gesprek vra Breytenbach wat die volgende variant in die mark is, en noem die Ierse skrywer John Connoly, wat die demoniese aan goed en kwaad verbind. Dit kom by my op dat dit dalk die punt is wat tans aandag moet geniet, eerder as debatte oor die popularitiet van die genre, indien die genre nie soos die Afrikaanse musiekbedryf ’n monster sal word wat homself stadig opvreet nie.

Comments