Reviews

Die tirannie van die simulakrum

Sirkusboere deur Sonja Loots, Tafelberg, 2011

In J.M. Coetzee se Diary of a Bad Year merk die bejaarde hoofkarakter (en vermoeide romansier), J.C., in ’n stadium op: “To write a novel you have to be like Atlas, holding up a whole world on your shoulders and supporting it there for months and years while its affairs work themselves out.” Wanneer ’n mens ’n historiese periode in ’n roman wil herskep, geld so ’n beskouing des te meer. En as ’n mens ambisies het om op die breedste doek te werk, en moeilik herkonstrueerbare aspekte van historiese figure se werklikheidservaring en sosiale opvattinge wil ondersoek, kan die taak verlammend wees.

Terselfdertyd is die prestasie – en die leesplesier – groot as só ’n monumentale integrasie- en verbeeldingsprojek slaag. Die komplekse en unieke sosiale rol wat die roman kan speel, is dalk mees aanvoelbaar in hierdie soort boek. Dit is veral die geval waar dit handel oor gebeure wat aan die kern lê van meesternarratiewe binne ’n kultuur. Die Anglo Boere-oorlog en alles wat dit omring vorm natuurlik by uitstek so ’n soort narratief binne ’n (Suid-) Afrikaanse konteks. As die skrywer daarby fokus op ’n betreklik onbekende (“verlore”) aspek van daardie geskiedenis, en sodoende die oorbekende mites vanuit ’n nuwe hoek belig, is die hoekstene reeds gelê vir ’n potensieel belangrike roman.

Sonja Loots se roman Sirkusboere is seker nie epies in die sin dat dit ’n epog behels nie – dit speel oor ’n korterige tydperk af – maar dit is ’n historiografiese tafereel op groot skaal. Teen die agtergrond van die pas afgelope Anglo Boere-oorlog, fokus die boek op ’n paar figure: die Brits-gebore sirkuseienaar en skepper van spektakels, Frank Fillis, die Boere-Generaals Ben Viljoen en Piet Cronjé, asook laasgenoemde se agterryer, Jan/Fenyang. Die roman volg hierdie figure vanaf Suid-Afrika na die 1904 Wêreldskou in St Louis, waar hulle ’n Boere-sirkus of historiese spektakel aanbied vir massa-gehore. Die slag van Paardeberg word opgevoer met meedoënlose herhaling. Male sonder tal moet Piet Cronjé sy vernederende oorgawe aan Roberts weer opvoer.

Cronjé word hierna betrek by ’n opvolgsirkus in Coney Island in New York, nou meer showy en tacky – en meer aanneemlik vir hul Amerikaanse gehoor – as ooit. Ná Fenyang in St Louis moes ly onder witmense se wreedheid, keer hy terug na Cronjé se plaas waar hy vroeër deelsaaier was. Viljoen soek verdere avontuur en geleentheid in die pionierslandskap van Nieu-Meksiko, waar hy betrokke raak by die guerilla-gevegte van rebelle. Cronjé keer eindelik self terug na Suid-Afrika, na ’n ambivalente ontvangs. Die oorlog is reeds verby wanneer die boek begin, maar dit bly op verskillende maniere in elkeen van die karakters se lewens eggo. Gesprekke tussen karakters, briewe en herinneringe gee ’n indringende beeld van die verliese, bitterheid en verslaenheid van die Boere.

Vandat Fillis se sirkusdeelnemers op die boot klim na die VSA, vorm hulle ’n soort iesegrimmige dog karnavaleske mikro-kosmos van die Suid-Afrikaanse demografie en oorlogsgeskiedenis. Die skip vol rekwisiete (bloedbevlekte draagbare, vlae, kanonne, assegaaie) en Britte, sowel as spesimens van gehawende Boere en swartmense, word beskryf as “’n drywende Wunderkammer”. Dit is reeds duidelik dat ’n mens te make sal hê met ’n Victoriaanse antropologiese freak show eweseer as ’n historiese voorstelling.

Die akteurs en ekstras word van buite gechoreografeer terwyl hulle die geskiedenis oor-en-oor uitspeel. Cronjé, in sy herhaalde oorgawes, “wag steeds dat iemand ingryp en die geskiedenis verander”. Hy hoop dat sy deelname die geskiedenis kan transformeer, maar hy is nou omskep tot bron van vermaak. Selfs sy Bybellesende erns is maar net ’n aspek van die simulakrum. Die Boere (en ander deelnemers) word gereduseer tot narre vasgevang in iemand anders se sirkus. Hulle beeld karikature van hulself uit in ’n proto-weergawe van die korporatief gesteriliseerde theme park. Hulle word bloot ’n enkele historiese tablo en niks meer nie as hul mees kenmerkende etnologiese eienskappe, soos opgesom in brosjures vir hul gehoor. Op magtelose wyse moet hulle aan die self-nabootsing deelneem ooreenkomstig Fillis se instruksies en sy 19de-eeuse antropologiese wysheid. Hulle raak figure in ’n diorama.

Vir die Boere-sirkus se gehoor is oppervlak – en performance – die enigste realiteit. Vir die deelnemers handel die skouspel oor hul lewens en ondraaglike verliese, die werklikheid van hul bestaan. Intern en in private gesprekke worstel hul met die nuanses van hul eie herinneringe, hul eie interpretasies van wat gebeur het. Dit is juis hierdie gesprekke en interpretasies, die privaat- en binneruimtes van die verlede, wat vir die tradisionele geskiedskrywer moeilik toeganklik is en wat die romanskrywer met die rykheid van die verbeelding moet ontgin. Op ’n stadium dink Frank Fillis: “Hy weet hoe lyk narre se vratte, spatare en dagoud snorstekels wanneer hulle die wit masker van sinksalf, vet en bensoïenhars afgewas het.” Die romanskrywer se rol is juis om die vratte agter die formele (of gesimuleerde) geskiedenis se masker uit te wys.

Die skrywer is self ook ’n soort skoumeester. Soos die sirkusbaas Brady teenoor Cronjé opmerk: “Dis showbiz…nie ’n geskiedenisles nie.” Die romanskrywer moet vorm skep uit ’n miasma van historiese gegewens. Die tirannie van simulakrum geld vir haar ook; sy moet die gehoor se aandag behou met hiperbolie en die groteske – die skares roep immers altyd om panem et circensis, brood en spele. Daar is egter ook ’n spanning tussen die rol van historiese romansier as skoumeester enersyds, en as ontginner van die komplekser interne teksture van karakters andersyds – met ander woorde: dít wat iewers tussen die hiperboliese aanskoulikheid en droë, vasstelbare feite lê.

Daar is aandoenlike oomblikke in die roman wanneer die persoonlike verliese wat uit die oorlog voortspruit, aanskuur teen die parodie. Veral die teer briewe wat Maans Lemmer vanaf St Helena aan sy sterwende seuntjie in ’n konsentrasiekamp gestuur het, roer. Lemmer se fiksasie met die wiskunde van roller coasters is ook mooi en kon dalk nog verder ontwikkel gewees het. Daar is ’n opsetlike ongemak in die naasmekaarstelling van hierdie delikate elemente en die skouspel wat Fillis so sonder mededoë skep.

Dit was vir hierdie resensent makliker om met die newe-karakters Maans en Fenyang empatie te ontwikkel as met die karakters van Cronjé, Fillis of Viljoen – die karakters waaroor die meeste historiese inligting beskikbaar was. Die karakters wat skynbaar die meeste vrye verbeelding van die skrywer geverg het, was vir hierdie resensent die lewendigste.

Daar is verskeie maniere waarop die eietydse sosiale werklikhede in spel gebring word in die roman. Die kontras van Cronjé en Viljoen se benaderings tot die “vaderland” en die “eie” mense dra daarin eggos van die diverse houdings van emigrante wat deel uitmaak van die hedendaagse Afrikaner-diaspora. Cronjé neig aldeur terug in die geografiese en kulturele hartland (of wat daarvan oorbly) in; Viljoen wil daarenteen al verder uitwyk, immer op soek na nuwe avonture.

In die Boere se blywende bitterheid teenoor Cronjé sou ’n mens dalk iets kon eien van die durende manier waarop sekere Afrikaners ná 1994 blaam toeken aan die politieke onderhandelaars van die vorige bewind. Die manier waarop die Boere en swartmense in die boek ’n antropologiese kuriositeit word vir Westerse gehore deur die permanente bevriesing van hul identiteit in ’n klein opsomming, is ook herleibaar na ’n hedendaagse werklikheid – vra maar vir enige Suid-Afrikaanse emigrant (of lees die beskrywing van Afrikaners in huidige uitgawes van sekere Britse of Australiese toeriste-handleidings). En vergelyk ook die skoumeester Lascelles se sterilisasie, ter wille van politieke diplomasie, van die geskiedenis in sy Uniewording-skouspel. Die Anglo Boere-oorlog word onder andere weggelaat as perifere gebeurtenis, een van die “morsige affêres uit die kolonies se wordingsgeskiedenisse”. Eggos hiervan is duidelik herkenbaar in die hedendaagse fokusverskuiwings in geskiedskrywing en die onderrig van geskiedenis in Suid-Afrika.

’n Mens kan Sirkusboere lees as ’n roman oor narre vasgevang in ’n eindelose sirkus, oor die gevare van die onderhewigstelling van die self (deur die self of andere) aan ’n enkele kulturele meesternarratief. Dit vermaan lesers dalk om te bly waak hierteen, om altyd identiteitsmoontlikhede oop te hou, om bevrore kategorieë, vasgelegde mites en holruggeryde modusse van performance te weier.

Sirkusboere is nie net ’n besonder boeiende leeservaring nie, maar ook ’n belangrike roman – fyn nagevors en baldadig verbeel.

Tagged

Comments