Reviews

Vrou soek boer… en ’n teks

20140328_DVD_VrouSoekBoer_940_300

Vrou Soek Boer, regie deur Maynard Kraak, Maart 2014.

The following reviews were written by the final-year undergraduate students in the Theatre Studies 314 Film and Media Theory component at the University of Stellenbosch as an exercise in film criticism. Students were instructed to review any South African film or short film released in the past two years, and to consider the film's artistic merit and appeal to the public in light of its context and production values. By publishing these reviews on SLiPnet, we hope to extend the quality of critical interaction with South African film.

Met uitreikings soos Die Wonderwerker en Faan se Trein, het die Afrikaanse filmbedryf sedert 2010 ’n groot bloeitydperk beleef. Nie net was daar talle Afrikaanse lokettreffers nie, maar ook plaaslike uitreikings van wêreldgehalte. Daarom sal menige fliekganger nie twee keer dink om Maynard Kraak se Vrou Soek Boer te gaan kyk nie. Terwyl romantiese komedies soos Semi-Soet en Pad na Jou Hart romkom-clichés op hul kop kon draai, neem Kraak se film ’n tree agtertoe. Sommer `n hele paar treë tot by…

Wakkerstroom – die plattelandse dorpie waar stadsjapie Mareike Viljoen (Lika Berning) ’n bakkery erf en haar skootrekenaar vir ’n voorskoot verruil. Hier ontmoet sy die sjarmante boer, Niel (Nico Panagio). Gooi die opportunistiese Stander (Bok van Blerk) in die mengbak en wat jy kry ’n harde fliek om aan te kou.

Ten spyte van die talentvolle Berning en Panagio, sowel as die pragtige Mpumalanga-landskap, word Vrou Soek Boer deur stereotipiese karakters, blatante produkplasing en ’n ongebalanseerde teks gekniehalter. Dit is ’n jammerte om veteraan-akteurs soos Henk Hugo en Magda Beukes as sepie-weergawes van ’n plattelandse egpaar te sien. Dit kom ook voor of Van Blerk eerder vir sy sterstatus as toneelspeltalent aangestel is. Gelukkig bring Marga van Rooy en Hennie Smit ’n bietjie kleur as Tannie Bettie en Oom Frik.

Een of twee skote van ’n film se borgprodukte is nog toelaatbaar, maar wanneer tien plus produkte blatant bemark word, grens dit aan belaglikheid. Wanneer Mareike en haar ekskêrel deur ’n winkelsentrum loop, word hulle deur ’n verkoopsman voorgekeer en aan ’n voordelige gesigroom voorgestel. Daar word ook spesiaal op die juweliersboksie van ’n sekere verloofring (oeps!) ingezoem – met die juwelier se naam in prag en praal. Die produkte kon op ’n minder geforseerde manier voorgestel word, sonder om die verloop van die intrige te vertraag. ’n Handige produkte-wenk wat wel geleer kan word, is dat Glad-swartsakke beslis sterker as die “gewone sakke” is.

Ongelukkig is die romkom-genre een van die meer voorspelbares op die silwerdoek. Man en vrou raak verlief, sit vas en kom weer bymekaar. ’n Film soos Pad na Jou Hart kon hierdie konvensionele slaggate met ’n volwasse teks en onverwagse plotwendings vryspring. Nie net doen Vrou Soek Boer homself as ’n Afrikaanse weergawe van Sweet Home Alabama voor nie, maar sloer ook vir langer as twee ure om tot ’n einde te kom. Daar word te veel op onnodige storielyne gefokus wat nie verder in die teks ontwikkel word nie. Baie van die dialoog is ook onrealisties, met die dubbelsinnigheid van sekere frases wat skaars deurdink word. Byvoorbeeld, wanneer een van die boere vir Mareike vra om vir hom te “stoot”. Net om vure dood te slaan, verwys die boer na sy gebreekte kar wat …uhm… gestoot moet word. Die teks bevat wel opregte oomblikke en die klankbaan sal menige fliekganger se voete laat jeuk.

Weens die verhoogde standaard van Afrikaanse films, is dit teleurstellend dat Vrou Soek Boer niks oorspronklik tot die plaaslike filmtoneel bied nie. Bekende sepie-akteurs en sangers is nie meer genoeg om ’n film se sukses te waarborg nie. Met ’n verkorte teks en geloofwaardige karakters, sou Vrou Soek Boer reeds draagliker kykgenot wees.

 

Die volgende bronne is vir die resensie geraadpleeg:

Vrou Soek Boer. 2014. [Online]. Available: http://www.sterkinekor.mobi/movie/5717/vrou-soek-boer?nocache=1394228066531a3b6262387 [2014, March 20].

Pienaar, Loren. 2014. Hollywood in ons agterplaas. Huisgenoot, 27 Maart: 134-137.

Smith, Theresa. 2014. Movie Review: Vrou Soek Boer. [Online]. Available: http://www.iol.co.za/tonight/movies/movie-review-vrou-soek-boer-1.1657771 [2014, March 20].

Van Nierop, Leon. 2014. Movie Review: Vrou Soek Boer. [Online]. Available: http://citizen.co.za/139455/rendered-without-risk/ [2014, March 20].

Van Nierop, Leon. 2014. Pad Na Jou Hart Movie Review. [Online]. Available: http://citizen.co.za/127359/en-route-to-greatness/ [2014, March 20].

 

 

Tagged , , , , ,

Comments