Reviews

Baanbrekerswerk wortel Afrikaans in bodem van Afrika

The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915 deur Achmat Davids, Protea Book House, 2011.

Alhoewel Davids se proefskrif vir die Meestersgraad van die destydse Universiteit van Natal alreeds in 1991 voltooi en deur die Universiteit aanvaar is, word dit nou eers en beduidenderwys deur die Universiteit van Pretoria, uitgegee. ’n Tweede interessante brokkie in hierdie verband is die feit dat die versoek van Davids se jong en, soos hy self sê, onervare, promoter, Dr Theo du Plessis, wat vandag in Afrikaans en Nederlandse taalwetenskaplike kringe alombekend is, om hierdie deeglike studie na ’n Doktorsgraad op te gradeer, deur die eksamenkomitee van die hand gewys is. Dat een van die belangrikste bydraes tot die geskiedenis van Afrikaans en van die dialektologie op hierdie manier misken kon word, spreek boekdele omtrent die vooroordele van die destydse taalwetenskaplike “grootes”.

Davids se studie is baanbrekend om verskeie redes. As taalhistoriese ondersoek bewys dit in alle duidelikheid, watter groot bydrae tot die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans deur die slawe, veral dié wat uit die Indonesiese en Indiese areas afkomstig was, gelewer is. Vanuit ’n sosiolinguistiese en taalsosiologiese hoek gesien, is dit ’n meesterlike uiteensetting van die wisselwerking tussen die talige en kommunikatiewe behoeftes van die verskeie maatskaplike groepe wat met mekaar in die kolonie in aanraking was en die gevolglike kulturele invloede op die kreolisering van die Nederlandse brontaal. Op die meer tegnies linguistiese vlak is dit ’n oortuigende en deeglik gefundeerde studie van die verskrifteliking van ’n spreekwyse en van die verhouding tussen foneem en grafeem. Daarbenewens kry ons as ’n soort pasella ’n belangrike ontleding van die valstrikke van transliterasie – in hierdie geval van die Arabiese tot die Romeinse skrif.1

Op al hierdie vlakke is die detail waarmee Davids sy bewerings en voorstelle in elke enkele geval staaf hoogs indrukwekkend. Sy bespreking van die maatskaplike sedes en gewoontes van die Kaap se Moesliem bevolking gedurende die tersaaklike periode is een van die mees genuanseerde geskiedkundige beskrywings wat ’n mens in enige studie van die tydperk sal kry. Voorbeelde van die leksikale en morfologiese neerslag van sulke gebruike en interaksies is deur die hele teks versprei. Om maar net een van hierde te noem:

[...] (While) the slaves largely resisted the white master`s culture, though some became Christian and adopted his lifestyle, the white master, through force of cirscumstance, had to accommodate some of the cultural traits of the slaves. This is evident from the fact that atjar, an Eastern salad, was a necessity on the tables of the colonists in 1825 and the creolisation of Dutch was already noticed in the seventeenth century, when slave masters adopted slave words in their spoken Dutch.(pp37-38)

Sy beskrywing van die maatskaplike milieu en van die akkulturasie (acculturation) wat noodgedwonge plaasgevind het, word maar selde in die akademiese geskiedskrywing oor Suid-Afrika weergegee. Hierdie aspek van die studie laat dit bo die meeste taalkundige en taalhistoriese werke oor hierdie periode uittroon. Op grond van moderne antropologiese benaderings sou ’n mens die verwysingsraamwerk van sogenaamde “akkulturasie” wel kan bevraagteken, maar des nieteenstaande werp sy studie ’n helder lig op ’n donker hoek van ons geskiedenis en is dit daarom van die uiterste wetenskaplike belang. Ek meen wel dat die baie besonderhede oor teologiese en sektariese verskille en fynhede nie altyd tersaaklik is nie en dat ’n mens heelwat van hierdie paragrawe as ’t ware later kan lees. Maar, terselfdertyd besef die leser dat hierdie debatte en polemiek ’n belangrike deel van die godsdienstige en algemene kulturele omgewing, waarin die slawe en hul gesinne beweeg het, uitgemaak het.

Vir taalkundiges is die werk vanselfsprekend vanweë sy ontleding en beskrywing van die verskrifteliking van dié gesproke varieteit van Afrikaans van belang. Dit gaan hier oor fonologiese, fonetiese en ortografiese vrae van grondliggende betekenis in enige proses van hierdie soort. En dit is veral in hierdie opsig waar die werk van Davids so indrukwekkend is. Vandag weet ons in Suid-Afrika baie meer oor die kategorie ajami, d.w.s., andertalige manuskripte in die Arabiese alfabet, omdat die studie van hierdie soort tekste ’n belangrike deel van die navorsing rondom die Manuskripte van Timbuktu uitmaak.

Vir Suid-Afrika is Davids se studie baanbrekerswerk en ander skrywers gee dit sonder meer toe. Alhoewel sy kritiek op van Selms en ander wetenskaplikes wat vroeër op hierdie gebied gewerk het, interessant en altyd baie simpatiek is, is die feit dat hy deur sy lektuur van veral van Selms tot hierdie studie oorgegaan het van meer belang. Hy het, om sy ontevredenheid met van Selms se vertolking van die Arabies-Afrikaanse tekste te staaf, ’n deeglike studie van tajwid, die Arabiese fonetiese wetenskap gemaak en die proses van wat hy “innowatiewe ortografiese manipulasie” van die Arabiese alfabet noem, nagegaan. Uiteindelik kon hy bewys dat hierdie tekste, as hulle op die gepaste manier gelees word, ’n presiese fonetiese weergawe van die oorspronlike spreektaal is. Dit is asof ’n mens na ’n klankopname van die oorspronklike lesing of gesprek luister. Hierdie bespreking van die bestaande Arabies-Afrikaanse tekste, asook die hoofstuk oor die transliterasie van Arabiese tekste tot die Latynse alfabet is deeglik nagevors en sal oor die dekades heen relevant bly. Hy ag hierdie aspekte van sy tesis as sy kernbydrae:

[...] (Probably) the most exciting aspect of this study is the discovery of the manipulation of the harakat by the Arabic-Afrikaans writers to create Arabic vocalic symbols for the sounds of Afrikaans vowels and diphthongs that do not exist in Arabic and therefore are not represented as lettering symbols in the Arabic phonetic alphabet. [...]. This study is [...] the first to look at the processes involved in the creation of lettering and vocalic symbols to represent distinctive Afrikaans sounds with the use of the orthography of a foreign alphabet. (p. 25)

Davids se proefskrif raak aan al die belangrike historiese en taalkundige brooshede wat die wording van Afrikaans en die gepaardgaande identiteit(e) van Afrikaanssprekende mense betref. Hy bespreek of verwys na, onder andere, die vraag of ons met ’n dialek van Nederlands of met ’n kreool te make het; die invloed van Malayu; van Khoi en San-tale; van Maleis-Portugees en ander destydse verkeerstale, edm. Hy stel self voor dat meer navorsing oor die leksikon van Kaaps en oor die invloed wat Malayo-polynesiese tale en Arabies op die sintaks van Kaaps gehad het, gedoen moet word. Bo alles neem hy dit as vanselfsprekend aan dat hierdie Afrikaans in die Kaap de Goede Hoop ontstaan het en dus in die bodem van Afrika gewortel is.

Davids se skrif kan deur almal wat in Afrikaans en veral in die ontstaan en wording van die taal belangstel, gelees en geniet word. Moesliems en onderwyskundiges sal veral sy bespreking van die sentrale betekenis van die madressas interessant vind, antropoloë en historici sy ryk vertelling van die sosio-ekonomiese interaksies tussen die verskillende groepe wat destyds in die Kaap met mekaar verkeer het, linguiste weer, sy deeglike tegniese besprekings van die tajwid en van die probleme van transliterasie. Diegene wat by die eietydse debat oor die herstandaardisering van Afrikaans betrokke is, sal hier ’n belangrike bron van inspirasie en praktiese wenke vind. Dit is in hierdie gees dat ek hulde aan wyle Achmat Davids wil bring deur te sê: Baie tramakassie ou vriend!

1 Hoe gesaghebbend hierdie studie is, blyk duidelik uit die vele verwysings na die oorspronklike proefskrif in die wetenskaplike literatuur wat met die aanleer van Arabies of met die geskiedenis van Kaaps te make het. Kyk bv. Mohamed, Yasien (red.). 1997. The Teaching of Arabic in South Africa. History and Methodology. Kaapstad: University of the Western Cape, Department of Arabic Studies.

Until 31 December 2011, Director of the Project for the Study of Alternative Education in South Africa (PRAESA), which is a Research Unit in the Faculty of Humanities at the University of Cape Town. Since 1994, PRAESA has focused on language policy in education with special reference to multilingual education and first-language (conventionally, mother-tongue) medium. In this capacity, Alexander has played a key role as advisor on language policy to various government departments. This culminated in him being asked in November 1995 by the then Minister of Arts, Culture, Science and Technology to chair a Language Plan Task Group (LANGTAG) which had to draw up the outline for a national language plan. This plan has served as guideline for legislation pertaining to language issues. Until March 1998, he was also Vice-Chairperson of the Pan South African Language Board. In the period November 1999-December 2003, he was Convenor of a Special Advisory Panel on Language Policy to the Minister of Arts and Culture. Until December 2005, he was a member the Western Cape Language Committee since its inception. He is a member of the Interim Governing Board of the African Academy of Languages (ACALAN).

He has written many books and articles and writes regularly on issues of ethnic and racial prejudice and on the politics of identity.

Comments