Reports

Geen nostalgie oor dié grysheid

GELEENTHEID: Wysheid met Grysheid (Wednesday 21 September; District 6 Museum)

KARLIEN VAN DER SCHYFF

Hennie Aucamp, Peter Snyders en MM Walters: Digters van oud vertel 'n staaltjie uit die verlede en lees van hul werk voor.

Toe digter Peter Snyders sy hande vroom saamvoeg en aankondig dat hy die Open Book fees se eerste Afrikaanse poësie byeenkoms met ’n gebed wil open, het die gehoor ewe gedwee die hoof gebuig. Elkeen in die stampvol Distrik 6 Museum saal het egter enkele oomblikke later hul koppe verleë gelig in die wete dat hul so pas Snyders se skerp, humoristiese satire vir soetkoek opgeëet het:

Oe Here, ek hoor dis soe wonnerlik innie hiemel,
die hiemel issie my soort liewe,
ek hou van sing en harpmusiek maa ek sal lugsiek kry as ek moet vlieg.

Snyders se omstrede “Versagtende omstandighede” was die perfekte stemmingsgedig om die Open Book geleentheid Wysheid met Grysheid mee af te skop. Aangesien die bewoording van die feesprogram klem daarop geplaas het dat “digters van oud” ’n “staaltjie uit die verlede” sou vertel, was dit nie verregaande om ’n sekere mate van nostalgie in die aand se verrigtinge te verwag nie. Peter Snyders, Hennie Aucamp en MM Walters se werk het egter alle verwagtinge omtrent die sogenaamde “grysheid” van hierdie “digters van oud” omvêrgewerp. Die staaltjies en gedigte wat tydens die verloop van die aand oorvertel en voorgelees is, het van fyn humor, bytende satire en ’n diepgaande liriese kwaliteit getuig, eerder as ’n heimwee of ’n teruggryp na die verlede.

Peter Snyders in aksie

Na die onverwagse humor van Snyders se skyn-preutse “openingsgebed”, het hy begin deur ’n staaltjie te vertel oor sy ontevredenheid met die powere publieke vervoerdienste in die 1970’s en die briewe wat hy tevergeefs na koerantredakteurs gestuur het om daaroor te kla. Hy het ’n aantal gedigte voorgelees wat sy frustrasie met die gebrekkige busdienste in Athlone verwoord het, onder andere die sosiale satires “Die agteros” en “Die vooros”, asook sy bekende “Strandfontein toe”. Ten spyte van die ooglopende sosiale ongelykheid wat in dié gedigte saamgevat word, word Snyders se satire gekenmerk deur ’n speelse humor, eerder as bitterheid of woede.

In 1976 het Snyders die gedig “Strandfontein toe” vir die My Poem skryfkompetisie ingestuur. Die kompetisie het drie kategorieë gehad: Afrikaans, Engels en Vreemde Tale. Aangesien Snyders in “Kaaps” skryf – “die taal”, soos hy dit beskryf, “wat in die krake val” – het hy besluit om “Strandfontein toe” in die kategorie Vreemde Tale in te skryf. By die My Poem prysuitdeling het Adam Small hom gevra om die gedig voor te lees, en só het Snyders sy eerste publieke poësie voorlesing aangebied. Die uiteinde van hierdie kompetisie het nie alleen Snyders se naam in die Afrikaanse letterkunde gevestig nie, maar die publikasie van die gedig het ook, soos Snyders sê, “baie goeters aangevang” om daadwerklike verbeterings in die sosiale omstandighede op Strandfontein aan te bring.

In plaas daarvan om ’n staaltjie oor te vertel, het Hennie Aucamp gekies om sy kortverhaal “Tant Toek en die Adders” voor te lees. Die kortverhaal is gebaseer op ’n werklike ervaring wat sy “Ouma Aucamp”, wat na haarself as Tant Toek verwys het (al het niemand anders haar glo só genoem nie), een oggend in 1940 meegemaak het. ’n Mens sou dalk verwag dat ’n jeugherinnering aan ’n geliefde ouma aanleiding sou gee tot ’n nostalgiese kortverhaal, maar die toonaard van dié voorlees-staaltjie was humoristies eerder as verlangend. Ook die gedig wat Aucamp volgende voorgelees het, “Ouma se dagboek: ’n sonnet”, het van ’n emosionele lirisme getuig sonder om soetsappig of weemoedig te wees.

Aucamp lees voor uit sy bundel "Ghoera"

Aucamp lees voor uit sy bundel "Ghoera"

Aucamp het ook gedigte uit sy nuutste digbundel, Ghoera (Protea Boekhuis, 2011), voorgelees. Die bundel is ’n versameling gedigte wat in die Khoesan kosmologie gegrond is en telkens Khoesan mites in digvorm berym en oorvertel. Hierdie eenvoudige dog liriese gedigte skets, onder andere, hoe die “Windvoël” as “vaalflits” verskyn (“Die wind”), hoe die “vere van gevogeltes” in die “Grootvoël” se mantel gewikkel word soos hulle wegwaai (“Die wolke”) en hoe “’n hand vol as” soos “’n [n]ewelstreep lê oor die lug” (“Die Melkweg”). Die vermenging van natuurlike en mitologiese beeldspraak in Ghoera het perfek gepas by Aucamp se ontroerende ongepubliseerde sonnet “oor die bekoring van grotte”, want “alles alles het in grotte begin”.

Die akteur Johann Nel het namens MM Walters van sy gedigte voorgelees. Hy het skalks genoem hoe spyt hy is dat Verushka Louw van die Book Lounge hom voorgestel het, aangesien hy homself graag as MM Walters, die “lang heer van die Afrikaanse satire”, sou wou voordoen. Dit is dalk om hierdie rede dat Nel begin het deur Walters se “Waarom is ek tog ’n gewone man” voor te lees:

Waarom is ek tog ’n gewone man
wat gewoon doen en voel
oor doodgewone dinge…
[…]
ek skryf darem oor myself
miskien help dit

Volgens Nel skryf Walters bitter min oor homself, en dus is dié gedig ’n seldsame voorbeeld waar Walters homself aan sy eie kuns uitlewer.

 

Johann Nel lees MM Walters se gedigte voor

Een staaltjie wat Nel oor Walters vertel het, is dat beide Walters en Breyten Breytenbach aan die Hoër Jongenskool in Wellington skoolgegaan het, en dat albei digters by dieselfde onderwyser Afrikaans gehad het. Volgens die onderwyser, en natuurlik volgens Nel se oorlewering, “was Mattys soeter, maar Breyten het beter opstelle geskryf”. As aanvulling tot hierdie staaltjie het Nel Walters se gedig “Die verlore seun” voorgelees, wat Walters na aanleiding van Breytenbach se eerste terugkeer na Suid-Afrika in 1973 geskryf het. In die gedig moet almal bontstaan om die “verlore seun” van die titel te vereer; tuis skarrel almal om die feesmaal vir sy terugkoms voor te berei, selfs “die ore oor die water was bakseile vir die stem uit die suide”, terwyl die werklike “verlore seun”, steeds vergete en afgeskeep, sy ongehoorde stem vanuit die stalle verset. Dié kragtige satire was selfs meer treffend in die ruimte van die Distrik 6 Museum, terwyl die gehoor omring was deur swart-en-wit fotografiese herinneringe aan soveel simboliese “verlore seuns”.

As slotgedig het Nel sy persoonlike gunsteling uit Walters se oeuvre voorgelees, “Die groot stilte”:

Dood is net om nie te wees nie
en die nie-wees-nie sal dieselfde wees
as wat dit was vóór ons gebore is.
[...]
Ons weet net van die lyding tussenin,
maar weerskante heers die duisternis
en die groot stilte van nie wees nie.

In plaas daarvan om die gehoor ’n finale woordjie oor wysheid of grysheid te probeer bied, het dié slotgedig die aand afgesluit met ’n dieper “instemming op die groot stilte / die enigste stem van God wat hoorbaar is”.

Comments