Reports

Die toonaard tussen teks en beeld in Fourie Botha se Donkerkamer

Bekendstelling van Fourie Botha se debuutbundel Donkerkamer, Donderdag 30 Julie, The Book Lounge, Kaapstad

KARLIEN VAN DER SCHYFF

Daar bestaan ’n alombekende, geykte truïsme dat ’n beeld meer as ’n duisend woorde werd is, alhoewel digters kwalik sou saamstem. Fourie Botha se debuutbundel, Donkerkamer, werp egter die magsverhouding tussen teks en beeld omvêr deur gedigte en foto’s op só ’n wyse te kontrasteer dat beide tot eie reg kom en boekdele spreek.

Tydens die onlangse bekendstelling van Donkerkamer op 30 Julie by The Book Lounge het die gesprek tussen Botha en Marius Swart, mede digter en lektor aan die Universiteit van Stellenbosch, op die magsverhouding tussen teks en beeld gefokus.

Volgens Botha is daar altyd ’n magspel aanwesig, hetsy in verskillende inter-menslike verhoudings, in die verhouding tussen teks en beeld, of selfs in die verhouding tussen poësie en ander literêre genres. Die grootste meerderheid van die gedigte en foto’s in Donkerkamer ondersoek dus die binêre pare wat in enige magsverhouding te vind is.

Botha se bundel keer egter die leser se verwagtings van algemeen aanvaarde magsverhoudings omvêr deur die fisiese plasing van teks en beeld; ’n gedig en ’n teenoorstaande beeld, byvoorbeeld, deel selde ’n oogeenlopende gemeenskaplike tema en is selde gekies om ’n gegewe betekenis uit te lig. Botha het die bundel as ’n ego in ’n donker vertrek beskryf, waar die plasing van gedigte en foto’s nie volgens binêre magstrukture bepaal is nie, maar eerder volgens ’n “toonaard” tussen teks en beeld.

Fourie Botha

Botha, self ’n uitgewer, het dus die uitleg noukeurig bepaal sodat teks en beeld op teenoorgestelde bladsye “vir mekaar kyk”. Dit is juis binne dié kyk-aksie waar die bundel se speelse dekonstruksie van magsverhoudings die mees duidelik opgesluit is: wie is besig om te kyk en na wie word daar gekyk, wie is in beheer en wie word blootgelê?

Ter illustrasie het Botha tydens die bekendstelling ’n afdruk van Caravaggio se skildery “Bacchus” op ’n skerm geprojekteer, terwyl hy sy gedig “Caravaggio se Bacchus” voorgelees het. Volgens Botha was Caravaggio “bietjie verlief” op die jong model in die skildery, terwyl die model se suggestiewe liggaamshouding impliseer dat hy deeglik van die kunstenaar se gevoelens bewus is. Die teks en beeld vra dus saam die vraag na wie werklik die magsposisie in hierdie spesifieke kyk-aksie beklee. Botha het die interessante punt geopper dat dit nie alleenlik die plasing van teks en beeld in die bundel is wat “vir mekaar kyk” nie, maar dat die leser ook in dié kyk-aksie ingesluit en verwikkel word.

In ander gevalle is die magsverhouding tussen teks en beeld meer subtiel, soos in Botha se gedig oor Robert Capa se bekende, dog gefabriseerde, foto van die Spaanse Burgeroorlog, “The Falling Soldier”. Alhoewel die kyker wel na ’n vervalsde beeld van oorlog kyk, is die realiteit van oorlog immers nooit ’n blote voorwendsel nie. Botha het beklemtoon dat die dood van die soldaat in die foto wel vervals is, maar dat dit nie realiteit van dood tydens oorlog verminder nie. Die magsverhouding tussen die onbetroubare beeld en die grusame werklikheid dwing die leser dus om oor die etiese implikasies van meer algemene magsverhoudings wat in enige kyk-aksie opgesluit is na te dink.

The falling soldier

Die etiese implikasies van die kyk-aksie word verder gekompliseer deur die gedig “Ombalantu”. Tydens Botha se voorlesing is daar ’n foto ten toon gestel waarin twee jong troepe tydens die Suid-Afrikaanse Grensoorlog, pas gestort en slegs in klein handdoekies geklee, in die verbygang omkyk na ‘n ontbinde lyk, “’n hoop verkoolde film op ’n draagbaar/ beurend teen die donker kamers van die brein”. Die foto maak dit duidelik dat die twee jong soldate met min deernis na die dooie man kyk. Botha se gedig rig egter die vraagstuk: na watter een van die twee manifestasies van oorlog kies die kyker om te kyk? Die gedig bevraagteken ook die (on)moontlikheid van ’n etiese reaksie wanneer mens met só ’n beeld gekonfronteer word.

Ombalantu

Die bundel open wel met ’n meer speelse voorbeeld van die subtiele magsverhouding tussen teks en beeld. Die eerste gedig in die bundel beskryf ’n foto van Botha se pa se gesig, terwyl die foto in werklikheid nie bestaan nie.

In slotsom het Botha die betekenis van die bundel as “’n ego, ’n  donker vertrek” beskryf, waar die “donkerkamer” van die titel die emosionele, skeppende ruimte “waar taal ’n mens in die steek laat” suggereer.  Dit is binne hierdie ruimte waar die digter moet voel, moet soek en, uiteindelik, moet skep. Volgens Botha is beide teks en beeld ’n kortpad om die rou emosie van die “donkerkamer” aan die leser oor te dra. En Donkerkamer doen juis dit.

Dood van ’n tipograaf

Jy lewer ’n skoon stel proewe af,
netjies toegedraai in bruinpapier
soos ’n pakkie koedoebiltong
deur ’n ma koshuis toe gestuur.
Die teks lê in bladsye opgekap
marges en ontwerp bepaal
soos ’n handvol growwe sout.
Jy verskaf proefblaaie al vir jare,
maar vanmôre bokspring ’n woord
halsstarrig in jou borskas,
wreek jou slagding hom finaal.

© Fourie Botha, 2011. Donkerkamer.

Comments