Reports

Oor die Kimberley Hotel en lirieke wat nie in –y eindig nie

GELEENTHEID: Poësie van Lirieke (Vrydag, 23 September; Fugard Teater)

KARLIEN VAN DER SCHYFF

Ons ken hul as sangers, maar hul’s eindelik digters: Andries Bezuidenhout, Stef Bos, Toast Coetzer en Valiant Swart lees hul werk voor.

Die blote feit dat Computicket nie deeltekens op die kaartjies vir die Open Book byeenkoms Poësie van Lirieke gedruk het nie, was moontlik die gehoor se eerste aanduiding dat dié geleentheid nie ’n stywe, stemmige poësie voorlesing sou wees nie. Die meniskusvlak van die bottel Jack Daniels op Valiant Swart, Toast Coetzer, Andries Bezuidenhout en Stef Bos se tafel was moontlik die gehoor se tweede aanduiding.

Hierdie vier Afrikaanse musiekmakers en liriekskrywers het Vrydagaand die Fugard Teater se verhoog sonder hul gebruiklike bands betree om op ’n baie eerlike en openhartige wyse te praat oor die waarde en aard van die liriek as ’n digkuns-genre. Valiant Swart het met ’n effe nostalgiese staaltjie oor sy tyd in Kaapstad in 1988 begin – toe hy teen die einde van sy militêre diensplig in die Kasteel gestasioneer was. In hierdie tyd het hy die verhoognaam Valiant Swart begin gebruik en “Die mystic boer”, stellig sy mees bekende treffer, geskryf. Daar was ’n klein tog duidelike sweempie heimwee in sy stem toe hy vertel het hoe hy “Die mystic boer” vir die heel eerste keer in die Kimberley Hotel, enkele straatblokke verder, gespeel het. Sy mede-liriekskrywers het sy nostalgiese gedagtegang hier onderbreek en daarop aangedring dat hy “Die mystic boer” voorlees, omdat, soos Stef Bos gesê het, ’n mens beter kan “hoor hoe fyn dit is” wanneer ’n mens dit lees, eerder as om dit te sing. Na hierdie onderbreking het die gehoor ook versoeke vir hul gunsteling lirieke begin uitroep, onder andere “Waar die dromers dwaal”.

Valiant Swart

Volgens Swart kan ’n mens nie ’n liriek met die bedoeling om ’n gedig te skryf begin nie, alhoewel hy dié twee vorme op dieselfde manier benader. Hy glo dat ’n goeie liriek twee belangrike elemente moet bevat: Dit moet eerstens die moontlikheid van ’n narratief skep wat in die verbeelding kan ontvou; volgens hom is elke liriekskrywer ’n “gefrustreerde filmmaker” en dus is “elke liedjie soos ’n movie”. Tweedens sien hy lirieke as ’n “spieël vir die samelewing”. In dieselfde asem het hy uitgevaar teen sogenaamde Afrikaanse lirieke “wat op –y eindig”, soos in sy spottende voorbeeld:

bly by my
en dan kan ons vry
kom ons braai
en dan kan ons… [skalkse glimlag] try

Toast Coetzer

Min Afrikaanse liriekskrywers se werk weerspieël sosiale kwessies op só ’n intelligente wyse as dié van Toast Coetzer van Buckfever Underground, wie se lirieke vir seker nie in –y eindig nie. Coetzer het begin deur te verduidelik dat hy homself nie as ’n musikant sien nie, omdat “hy nie kan sing nie” en “niks kan speel nie”. Andries Bezuidenhout het hom wel dadelik herinner dat ’n mens dieselfde van Mick Jagger sou kon sê. Omdat hy op universiteit kon skryf, kon tik en toegang tot sy department se kopieermasjien gehad het, en omdat bands liedjies en veral posters nodig het, het Coetzer tóg besluit om ’n band te begin. Sy lirieke vir Buckfever Underground meng gereeld Afrikaans en Engels, soos in die verbysterende skerp liriek wat hy voorgelees het, “Die Here is my herderspastei/The Lord is my shepherd’s pie”. Hy beskryf sy tegniek om dié twee tale saam te skryf as “so half ’n pret ding” en beskou dit as ’n radikaal ander vorm van skryf as om bloot ’n mens “se tale te mix”.

Coetzer se skyn-speelse, skyn-ernstige refreine illustreer duidelik hoe die liriek-vorm ’n belangrike tema of beeld kan uitlig en dus verstrek op ’n manier wat ’n meer konvensionele gedig-vorm nie noodwendig kan nie. Ter illustrasie het hy die liriek “Emoticon Breakdown” gelees, wat die volgende refrein herhaal:

I’m having an emoticon breakdown
right here at the Wimpy in Klawer
because there is no icon for my emotion
oh woe
oh woe
oh woe

Andries Bezuidenhout van Brixton Moord en Roof Orkes het ook oor die waarde van die refrein in lirieke gepraat. Hy het begin deur te sê dat hy tans minder aandag aan lirieke bestee, maar die werk wat hy voorgelees het, het telkens ’n enkele sin soos ’n refrein herhaal. Bezuidenhout se skertsende dog ernstige refrein-sinne is egter uniek deurdat die sin met elke herhaling effens verander word. Sodoende word die betekenis van die refrein-sin na elke herhaling verdiep. Ter illustrasie het hy “Die jaar toe pa die skottelgoedwasser gewen het” voorgelees.  Die refrein-sin vorm ook die openingsin en begin doodluiters: “Onthou jy nog die jaar toe pa die skottelgoedwasser gewen het” en “hoe bly ma was”. Die betekenis van hierdie sin kry egter meer diepte en nuanse na elke herhaling, soos dit verander na “die jaar toe pa die skottelgoedwasser by die bierfees gewen het”, “die jaar toe pa soveel bier gedrink het dat hy ’n skottelgoedwasser gewen het” en “die jaar toe pa ’n skottelgoedwasser gewen het – ’n Bosch, dink ek, toepaslik vir ’n Duitse fees”. Die finale wending in die refrein-sin vind plaas “die jaar toe pa die skottelgoedwasser gewen het” en “ma uitgevind het dat hy eintlik die kaartjies vir die enkelreis oorsee wou wen”.

Stef Bos

Stef Bos het met ’n soortgelyke refrein-sin begin deur die lirieke van “Ek wil” voor te lees, waar elke versreël met die refrein “ek wil” begin:

Ek wil leef van die lug, loop langs die strand
Ek wil lees wat die lyne vertel in jou hand
Ek wil jou nie besit nie
Ek wil jou nie hê
Ek wil saam met jou loop
Ek wil langs jou lê

Ek wil dat al die mense, heel die wêreld van my hou
Ek wil na Parys en
Ek wil met jou trou

Bos het die beeld van ’n huwelik gebruik om die skryfproses waardeur ’n liriek ontstaan te verduidelik. Volgens hom ontstaan ’n liriek uit ’n vermenging van Apolliniese en Dionysiese drange, naamlik die rasionele, kognitiewe strukture van taal en die chaos, passie en misterie van musiek. Hy het verder verduidelik dat ’n goeie liriek die tweestryd tussen hierdie verskillende drange in ’n hegte eenheid, “’n huwelik”, moet kan versoen.

Die liriek-digters het dit klaarblyklik soveel geniet om hulle werk vir ’n verandering voor te lees, eerder as om musiek te maak, dat hulle kwalik die verhoog wou verlaat. Terwyl die gehoor in die Fugard Teater se ingangsportaal rondgeslenter het, het hulle eenvoudig vêrder op die verhoog gesels en gekuier. Dit mag dalk weereens met die teenwoordigheid van die bottel Jack Daniels op die verhoog te doen gehad het. Dit was darem nie heeltemal veertig dae en veertig nagte later nie, maar na ’n wyle het almal hulself in die Kimberley Hotel bevind om die simboliese kringloop van die aand te voltooi. Selfs al hét die gesprek na mate die aand al hoe later geword het en die einste bottel Jack Daniels al hoe leer geraak het, minder en minder diepsinnig geraak, het niemand in –y rym gepraat nie.

Comments