Reports

Die perverse lekker waarnemings van Loftus Marais

Bekendstelling van Loftus Marais se Kry my by die gewone plek aguur, 15 Augustus 2012, The Book Lounge, Kaapstad.

MELT MYBURGH

Kaapstad is ʼn moedswillige ou slet. Sy haal deur haar ribbes asem wanneer Loftus Marais se tweede digbundel by The Book Lounge in Roelandstraat bekendgestel word. Pure moedswilligheid, want sy hou nie daarvan om die kollig te deel nie. Sy stoot die volume van die huiswaartse verkeer op en laat reën in vlae teen die vensters fluit terwyl poësie-entoesiaste nader staan vir Kry my by die gewone plek aguur.

Die bundel volg op een van die suksesvolste debute in die Afrikaanse poësie. Marais se Staan in die algemeen nader aan vensters het nie minder nie as vyf gesogte toekennings ingepalm: die Eugène Marais-prys, Universiteit van Johannesburg Debuutprys, die Ingrid Jonker-prys, Protea Poësieprys en die South African Literary Award for Poetry. Geen wonder uitgewer Riana Barnard roep die wen-allure van die pas afgelope Olimpiese Spele op wanneer sy vir Loftus Marais en Michiel Heyns aan die woord stel nie.

The Book Lounge se arsenaal stoele is nie genoeg nie. Eenkant, langs die winkeldeur, kaap ek ʼn groen gemakstoel – die gehoor ʼn galery voor my, die sprekers skuins aan my regterkant. Die afwagting vir Kry my by die gewone plek sien jy in die gesigte van grootkoppe in die literêre bedryf, Brink heel voor; jy sien dit in manier waarop die jonger garde se monde trek.

Michiel Heyns, afgevaardig met ʼn notaboek vol vrae aan die digter, lyk vorstelik met die winterjas oor sy stoel se rugleuning gedrapeer. ʼn Nat rooi sambreel breek die dekorum van rojaliteit. Loftus, bril en stoppelbaard, lees voor uit sy bundel “Kaapstadse gedigte”: “Ontologie-les”, “Die Heerengrachtfontein in die reën”, “Op ’n sypaadjie”, “ ’n Obese paartjie in die see by Clifton”.

Die gesprek val weg met ʼn fokus op die digterlike gewaarwordinge van dié moederstad wat haar nie sommer so laat karteer nie. “ ʼn Gewel is nie ʼn gewel nie,” verklaar Loftus met sy Paarlse tongval.

“Van waar die idee om iets te sien in terme van iets anders?” wil Heyns weet.

“Dis daardie paradoksale ding,” sê Loftus, “ ʼn Gewel voel meer werklik wanneer jy dit as iets anders sien.”

Dit verklaar ten dele die teenwoordigheid van die drag-persona Fabulisha de la Queillerie in die bundel. “Fabulisha is opgeterte werklikheid en dien as teenargument vir die historiese, tradisionele manier van na die Kaap kyk. Dit was pret om die drag queen te skep. Sy is aspris en lewer kommentaar op Kaapstad (en Suid-Afrika) se obsessie met identiteit. Fabulisha se vloeibaarheid van identiteit maak háár ook geskiedenis.”

Heyns verskuif die fokus na “’n Obese paartjie in die see by Clifton” en wil weet of die digter Van Wyk Louw in gedagte gehad het toe hy dié gedig neergepen het.

Loftus Marais  en Michiel Heyns

Loftus Marais en Michiel Heyns in gesprek

“Clifton is bekend as die poet’s beach met al die skrywers wat daar gebly het oor die jare, maar dié gedig was nie op hulle bereken nie,” antwoord Loftus. “Dit is gegrond op ʼn foto. Body worship is ʼn Kaapstatterige ding, en die obese paartjie terroriseer daardie gegewe.”

Dis egter nie net die obsessie met die lyf wat ondergrawe word in Kry my by die gewone plek aguur nie. Die digter huiwer nie om homself op te stuur nie. Oor die vers wat ingegee is deur Johann de Lange se uitstekende Takahashi-vertaling, waar ʼn seun waargeneem word wat afbuk om ʼn skoenveter vas te maak, sê Loftus: “Ek het gedink ek kan oor jong seuns begin skryf vandat ek 30 is. Ek is mos nou al ʼn dirty old man.

Op ’n sypaadjie
vir Gerhard
(gedagtes na Johann de Lange en Mutsuo Takahashi)

’n seun hurk om sy veters te knoop
en dit lyk na ’n belangrike gebaar
(hoekom soek ek woorde
wat sy lyf uit die alledaagse
sal vat?)
die verdunning donserigheid in sy nek
teen sy vel is sy ore rooier
(wat hom jonger laat lyk)
tog, rugkurwe, ingehoue krag
sy flank wat induik onder ribbes
en skielik: ’n seun op homself gefokus
selfbepaald, ’n aksioom
openbaar op ongelyke plaveisel
’n bondel skoonheid, apart
van terloopse stad
en sy knoop is klaar met ’n pluk
wat ’n armspier laat bult
die lusse ’n oneindigheids-
teken tussen vingers

en hy stap verder, vinnig, asof iemand
op hom wag

© 2012 Loftus Marais

Vanuit die agterste gestoeltes knipoog ʼn eks van die digter.

Poësie staan in die teken van oneindigheid, soos wat die simbool op die bundel se voorblad suggereer. En soms moet die digter spring om die vlietende indruk vas te maak in woorde.

Michiel Heyns

Michiel Heyns luister na Loftus Marais se gedigte

“Ek is baie tevrede met Michiel Botha se omslagontwerp,” sê Loftus. “Dit sê iets oor my onwilligheid om die bundel te eindig.” Die slotvers, gesitueer op die dakterras van die eertydse Bronx, speel met die paradoksale spanning tussen vashou en laat gaan. “Die gedig is ʼn manier om die ervaring te verpak en te behou,” sê Loftus. “Binne die doolhof van stedelike poësie sit jy met ʼn nou en beperkende blik. Die gedig probeer iets vasvat, maar terselfdertyd wil jy dit ooplaat sodat die gegewe ontsnap van die gedig.”

Die ironie van die digter se pogings om Kaapstad deur middel van publikasie te “karteer”, is iets wat die vraesteller nie laat verbygaan nie. Wanneer Loftus verleë lag, herinner Heyns hom aan hul dae saam in Marlene van Niekerk se skryfklas, en hoe uitstekend Loftus gevaar het met die dissipline van vaste versvorme.

Marais sê hy wou speel met vorm en patroon; mens sien dit in die manier waarop die woorde van die bladsy peul. Heelwat versreëls moes verkap word om op die bladsye in te pas. Vormvastheid vind wél uitdrukking in die bundel, soos die sonnet “Stadsnag”, ʼn antwoord op Opperman se gelyknamige vers in Heilige beeste. Maar in dié einste vers word die individu juis gerelativeer binne die grens- en vormlose heelal:

jy herken mos die hemelse ou patroon
dís die enigste galaxies waartussen jy woon

“Vorm is belangrik, en die gedig het uiteindelik ʼn sê in wat met hom gebeur,” verklaar die digter. Met “Die trekklavier” het die inhoud spesifiek gedikteer hoe die musiek en instrument in die tipografie beslag kry:

1. sprei jou klank oop, skat / soos ’n hand vol kaarte / om jou zig-zag mate / sit ’n grip. / jy is lug, vasgevat / en jou leerstraps trek om ’n nek / want musiek, julle weet, is ’n sware ding / dis ’n 19de-eeuse masjien. / skoon lug gaan daar in / klank kom daar uit / ’n roosterwerk wat suig en sing. / melodie, julle sien / sit in arms se gewrigte / dis ’n só skarnier met swier. / léés in jou handboek: / “the production of sound / is in proportion / to the motion / of the player”. / daar’s ’n sukkel en ’n sleep in die elmboë se knoppe / daar’s ’n greep en ’n wikkel in die litte van die vingers. / skat, jy hol die trappe so op en af / in die gange dan heen en weer / of jy squeak stadig oop / soos ’n ouhoutdeur

© 2012 Loftus Marais

“In ʼn gedig soos ‘Hawe’ het die verbrokkelende ruimte wat waargeneem is, weer vaste patrone soos rym verhoed.”

Vir Loftus is dit ʼn “perverse lekker ding” om mense waar te neem in ʼn stad en daaroor te skryf. Die insident opgeteken in “Verkeerswaarneming”, waar ʼn “wit mevrou” haar BMW se ruitveërs aanskakel nadat ʼn taxi-bestuurder daarop gespoeg het, het hom getref vanweë die “verskriklike takt” waarmee die vrou haar reaksie gerig het: “In die moment van die gedig lyk die insident na iets verskriklik, maar in die volgende gedig (‘Hysbak’), waar passasiers ‘beleefde klein kuggies in lugversorgde lug’ uiter, geld die teenoorgestelde.”

Loftus Marais

Loftus Marais lees uit "Kry my by die gewone plek aguur"

In Kry my by die gewone plek aguur is daar voortdurend ʼn afwisseling tussen die orde en militêre presisie waarmee tyd en aktiwiteite in die stad gereël word (vergelyk “Twaalfuurkanon”), en die losser vorms wat deur kurwes gedefinieer word. Die digter kan nie die “line of beauty” van die kurwe ignoreer nie, al voel hy aangetrokke tot die lineariteit van ʼn ordenende matrys. Dikwels word hy onverhoeds betrap deur die bogte wat kurwes aan hom opdring, soos in “Werk”, waarin die “perfékte gat” van ʼn kollega die strak lyne van die kantoorruimte verbreek:

Werk

’n padkaart van die middestad
kan double as grafiekpapier

en ek hier, in ’n cubicle
luister na die skreeu-arias
van ’n faksmasjien

ek sien: venster-uitsig:
die ene abstrak-oppervlak

selfs die berg is meetkundig, plat, korrek

ek, my lewe uitgeskryf op post-it notes
uitgeloop op sagte matte

als op die mate van die pieng van hysbakke
en windows start-up sounds

my medewerker sit sy liniaal nou neer
op ’n wit A4-papier

hy tik ’n pen teen sy hoekige bril
en sê “dis arkties
die aircon en neonlig”

ek hou hom dop
hy staan nou op, en ingedagte vat
hy aan die kurwe
van sy
perfékte gat

© 2012 Loftus Marais

Soms word die digter se oog ook verras deur die kurwes wat vergestalt word in beton, soos die oorbrûe van die stad. ʼn Stad met ʼn stewige reputasie as cruising-gebied.

Op Heyns se tipering van Kaapstad as die “gay-hoofstad” van Suid-Afrika, reageer Marais versigtig: “Moenie Bloemfontein afskryf nie!” Marais skaar hom by die gay-tradisie in Afrikaans. En hierom moet die digter rekening hou met die liefde as korttermyn kommoditeit van hoë intensiteit (om Hennie Aucamp buite konteks aan te haal). Heyns verwys na ʼn uitspraak van Walter Benjamin oor Baudelaire, waarvolgens die waarnemer liefde in suiwer oorgawe ervaar vir die duur van die moment wat ʼn verbyganger waargeneem word, getrou aan die aard van cruising.

Vir Marais hou Kaapstad met sy geskiedenis van kroeë, matrose en prostitute ʼn bekoring in, terwyl Heyns dit betreur dat cruising sy gay-spesifieke assosiasie verloor het met die koms van die internet. Boonop het die ondermynende rebelsheid wat eie aan cruising is, in die slag gebly. Loftus stem saam: Die kapitalisme het deur middel van die internet die cruiser op Gaydar gereduseer tot “sy stats”.

En ja, soos die stad reeds weet, openbaar die liefde sigself in die klein, terloopse alledaagshede. Wanneer die digter sy geliefde se wasgoed uitsorteer, word die items in die broeksakke artefakte wat die abstrakte verbintenis tussen die geliefdes betekenisvol maak:

’n Liefdesvers

uit net soveel bekommernis oor die wasmasjien
as uit nuuskierigheid én ’n bietjie jaloesie
maak ek jou broeksakke leeg voor ek ingooi.

vergeet die dagboeke, briewe, notas (oor pruime
al dan nie). vergeet die handskrifte uitvoerig
soos frillerige ondergoed, outoritêre partiture

want liefde kom ook in sans serif
op vousels en strokies uit jou sakke.
’n duideliker danigheid dié.

om te weet jy was op 06/05/2011 16:08
lus vir ’n fanta. jou banksaldo is min of meer
wat ek verwag het. om te lees “your waiter on duty:

jo-anne” o, jo-anne! het jy ook gevrek
oor die grys kolle in sy kenstoppels?
hartstog in die detail: vat # 4820853876

jy vuis sommer munte so toe in kwitansies
en a, ek vou dit oop, blomknoppe!
beminde, ek sal duisende origami-duiwe

stryk uit gekreukelde papier, hulle loslaat
à la groot en kitsch troues, jirre, ek gaan tekere asof ek
die dooie see se rolle ontdek.

afsendings en bewyse van jou
in ’n wêreld waar ek nie by jou is nie. jý maak selfs
“credit authorised” betekenisvol.
liefde op dun papier, selfs hier
by die wankelrige ritme van ’n wasmasjien.

© 2012 Loftus Marais

As outoriteit op gebied van oneindigheid, het Kaapstad, ou uitgeslape hoer, die laaste sê oor die aand se verrigtinge. Wanneer die reën opklaar, net voor die finale sarsie applous vir Leopard’s Leap wat die wyn voorsien het, hoor ek vlak buitekant The Book Lounge se houtdeure hoe die aanvangswoorde van die stadsmotto in die keelgat van ʼn bergie vorm: “Jou ma ...”

Foto's: Retha Ferguson

Comments