Open Book Fest

Die storie bly belangrik

Bekendstelling van Etienne van Heerden se Haai Karoo, 21 September 2012, Fugard Teater

MELT MYBURGH

Wanneer feesgangers die Fugard Teater binnestap, sit die sprekers klaar op die verhoog op hoë stoeltjies by ʼn ewe hoë ronde glastafeltjie. Agter hulle ʼn enorme wit skerm waarop die tafel se buitelyne in ʼn strak skaduwee val. Die gevierde Etienne van Heerden word deur oudkollega Tim Huisamen van Rhodes-Universiteit se School of Languages uitgevra oor Haai Karoo, ʼn keur van die skrywer se beste kortverhale. Met sy helderkleurige das lyk Huisamen soos ʼn kolporteur van die gode.

Van Heerden het sy stem die afgelope tyd gevoeg by die proteskoor teen hidrouliese breking vir skaliegas in die Karoo. Sy lesers het dié landskap as ʼn mitiese ruimte leer ken binne ʼn indrukwekkende oeuvre. Hieroor skop die gesprek af. Ten spyte van die onlangse opheffing van die moratorium op “fracking”, klink Van Heerden optimisties: “Ás fracking gebeur, sal dit eers oor ʼn jaar of 10 begin, daarom is dit belangrik dat alle klein groepies steeds mobiliseer en van hulle laat hoor.”

Hoewel hy nie “ ʼn vlagloper en banierswaaier van nature” is nie, is ʼn beswaarpublikasie, Gifkaroo, in die pyplyn. Die boekie, soortgelyk aan Van Heerden se Die gas in Rondawel Wilhelmina, jare gelede eksklusief in Nederland gepubliseer, is ʼn verwerking van ʼn hoofstuk uit sy nuwe roman wat in 2012 die lig sien. Gifkaroo se beperkte oplaag sal gratis as appèl uitgestuur word aan grootkoppe in die fracking-bedryf. Dit word uitgegee deur ʼn klein uitgewery in Houtstraat, en sal bietjie later verskyn as beplan, want “die uitgewer het gaan surf in Bali.” Tot groot vermaak van die gehoor, grap hy: “Mens kan dus van Gifkaroo praat as post-surf literatuur.”

Opinies kan gevaarlik vir kunstenaars en skrywers wees, maan die skrywer. Daarom problematiseer hy ʼn kwessie soos protes in sy karakters. “Ek kyk na die psigologiese aspek. Fracking is ook ʼn saak van die gees,” sê hy. “Die karakter se eie fracking word verken en ʼn privaatmitologie ontwikkel in die verhaal wat dit verder as die politiek van die dag dra.”

Fiksie wat die heersende politieke orde aanspreek, is niks nuuts vir Van Heerden nie. Van die verhale wat in Haai Karoo opgeneem is, dateer so ver terug as 1975. “‘Die wit aap’ het ek destyds geskryf toe Hennie Aucamp stories gesoek het vir Blommetjie gedenk aan my. Kan jy glo dis destyds in Sarie gepubliseer? ‘Treine’ is deur Huisgenoot geplaas onder die skuilnaam Lucas Meintjies.”

Van Heerden, wat sy skrywersloopbaan as digter begin het, roep die dae voor e-pos en die internet in herinnering. Met humor onthou hy wyle prof. Elize Botha, toenmalige redakteur van Tydskrif vir Letterkunde, se ontvangserkenning nege maande nadat hy gedigte vir dié vaktydskrif ingestuur het: “Baie dankie vir die toesending van verse vir publikasie...” Nóg nege maande later is die verse uiteindelik gepubliseer – “As jongmens is jy dan baie ouer teen die tyd wat jou gedigte verskyn.”

“Óf die verhale in Haai Karoo sedert dié tydperk gedateer het, is vir die leser om te besluit,” voeg die skrywer by.

Huisamen wys daarop dat heelwat van die verhale in Haai Karoo handel oor kinders, met “Die gas in Rondawel Wilhelmina” wat uitstaan as ʼn tipe “portrait of the artist as a young man.” In reaksie wys Van Heerden op Aucamp se tipering van dié soort narratief as “inisiasieverhaal”. Hy sê: “Vir ʼn gedronge teks soos ʼn kortverhaal moet daar bewéég word in terme van gebeure; en dié tipe inisiasieverhaal is dus eintlik ʼn onnatuurlike ding, tensy die verhaal essayisties is.” Deesdae sien hy dié tema dikwels by sy studente in Kreatiewe Skryf. “Ek was jonk toe ek die verhale geskryf het, en onthou, ek was ʼn kind in die Karoo. In verhale soos ‘Slap grensdrade’, ‘Treine’ en ‘Gemeenplase’ kyk ek met ʼn kind se oë.”

Dis tog interessant dat die karakters in die inisiasieverhale dikwels die tradisie afwys en in opstand kom teen hul vaders, meen Huisamen.

“My geslag – die kinders van Verwoerd – het swaar gedra aan die verlede. Ek kom uit ʼn boerdery-patriargie, en ek was die eerste geslag wat nie gaan boer het nie.”

Vir die Tagtigers, waarvan Van Heerden “lid” was, was die opstand teen tradisie ʼn gemene deler. “Ons was nie ʼn literêre beweging soos die Sestigers nie; Tagtigers was eintlik ʼn bemarkingsterm. Ons was minder radikaal as die Sestigers, maar ons het baie geleer by skrywers soos Brink, Joubert en Braam de Vries. Elsa Joubert het die term Tagtigers eerste gebruik; sy het ook eerste van grensliteratuur gepraat.”

Grensliteratuur het die Tagtigers se bewustheid van tekstualisering aangewakker. Vir Van Heerden was die onbetroubaarheid van die tradisionele teks, met ander woorde die geskiedenis soos dit aan die bevolking voorgehou is, op sy duidelikste toe Magnus Malan, apartheidsminister van verdediging, sonder blik of bloos ontken het dat die Suid-Afrikaanse Weermag in Angola bedrywig was. Op daardie stadium het Van Heerden mense geken wat reeds seuns in Angola aan die dood afgestaan het. Dis in dié tyd dat hy Om te awol begin skryf het.

Die New Journalism of I-Journalism was die ideale meganisme vir Van Heerden en sy tydgenote om deur middel van fiksie ʼn korrektief op die amptelike geskiedenis te plaas. “Skrywers soos ek, Strachan en Prinsloo het geworstel met die kwessie van skuld. Die Sestigers het egter die grond vir ons gebreek.”

Die “loss of innocence” wat die Tagtigers se verlies aan vertroue in die taal gekenmerk het, het gelei tot ʼn opgang in die postmodernisme – by Van Heerden baie prominent in sy Liegfabriek-verhale. Die angs waarmee besef is dat Die Burger en Radio Suid-Afrika nie agente van die waarheid was nie, moes besweer word deur ʼn selfbewuste omgang met die teks.

Maar die dae van die postmodernisme is verby. Vir Van Heerden is ʼn “literature of replenishment” nou nodig. “Ons wil nou weer verhale hê, stories!”

Haai Karoo bied ʼn keur uit die kortverhale van ʼn skrywer wat hom laat geld het in ʼn verskeidenheid genres, maar veral as romansier ʼn reputasie opgebou het as een van Afrikaans se grootste uitvoerprodukte. Of Etienne van Heerden weer kortverhale gaan skryf, is egter ʼn ope vraag. “Ek is maar ʼn langafstandatleet. ʼn Kortverhaal is vir my altyd ʼn eerste hoofstuk van ʼn roman. Om kortverhaalskrywer te wees, het jy die ingesteldheid nodig van ʼn 100 meter atleet. Soos Hennie Aucamp. Hy het juis sulke fris bene.”

Op hierdie moment verwissel die skrywer van bril; die blinde regteroog lyk geïrriteerd in die skel teaterligte. Dan gaan hy voort om sy voorkeur vir die romanvorm te verklaar: “ ʼn Roman is ʼn bourgeois handeling. Jy het ʼn groot lessenaar nodig, baie papier...”

En hoe voel dit as jy ʼn roman voltooi het? wil Huisamen weet, gedagtig daaraan dat Van Heerden pas ʼn manuskrip oor ʼn kampioen jo-jo-speler afgegee het.

“Ek hou nog daaraan vas. Ek is bang om hom te laat gaan, want dan is die oopte weer daar.” Nadat hy 30 Nagte in Amsterdam (2008) voltooi het, was tante Zan se ontstemmende, priemende stem nog vir lank met hom. En sy het nog in die skrywer se ore weerklink toe hy begin het met die manuskrip wat hy pas voltooi het.

Tante Zan het juis aangemeld toe Van Heerden in Amsterdam gewerk het aan Asbesmiddag se bladsyproewe. Op daardie stadium was hy só moeg vir die Asbesmiddag-hoofkarakter se stem, dat Zan haar gemaklik aan hom kon opdring.

“ ʼn Roman bind jou. Dit raak ʼn lens waardeur jy leef. Enigiets om jou val daarby in; dit raak deel van die uniform wat jy dra omdat jy so vatbaar vir indrukke is. As die roman af is, is dit in werklikheid bietjie ‘Haai Karoo’ (droog) om jou. Tot die volgende een verbykom.”

Anders as die angs wat gepaard gaan met die bekendstelling van ʼn nuwe roman, voel Van Heerden ontspanne oor Haai Karoo; dis immers ʼn keur van sy beste kortverhale.

Die gesprek loop terug na die skrywer se kinderjare toe die gesin na sy pa se dood die Karoo vir Stellenbosch verruil het. Vir baie jare het hy die Karoo geassosieer met swaarkry en verlies. Eers toe hy ouer was, kon hy met gemak en vreugde terugkeer en homself terugskryf in dié landskap.

Huisamen wys op iets bedreigends in Van Heerden se Karoo, iets wat slaan op die sarkofaag in “Die wederopstanding van Olive”. Is daar ʼn visioen van die bose wat sy Karoo-verhale onderlê?

“Die Karoo is ʼn harde landskap. As kind het ek baie bloed gesien. En die isolasie: as dit donker word en jy sien die bure se flou liggie myle ver...”

Vir dié Karoo-klong het die dae van afsondering intussen radikaal verander. Die isolasie van die haai vlaktes het plek gemaak vir skryweroptredes regoor die aardbol. Die enorme afstande is verplaas deur die internet as medium van oombliklikheid – spesifiek LitNet, een van Van Heerden se grootste geskenke aan Afrikaans.

Oor die kuberruimte praat hy opgewonde: “Dié internet verander voortdurend. Dit is besig om wég te beweeg van ʼn bestemmingsweb; alles gaan in die rigting van sosiale webwerwe.” Wat in die proses met die boek gebeur, is fassinerend. “Het die e-boek byvoorbeeld ʼn tweedehandse waarde? Ek weet nie. Wat ek wel weet, is dat die STORIE vir die mens met sy behoefte om dinge te selekteer en met vuur te laai, belangrik sal bly. Stories gaan verder as Facebook-updates. Ek glo nog in my genre. Die roman is nog nie so oud nie, maar hy sal voortbestaan, in watter vorm ook al.”

Wat inspireer die kortverhaalskrywer en romansier? Het Etienne van Heerden ʼn muse?

Skryf is vir hom ʼn “animale ding”. Die onderbewuste is ʼn ordeningsmeganisme wat soos ʼn magneet ystervysels uit alle rigtings aantrek. “Dol hond” in Haai Karoo het byvoorbeeld ontstaan nadat Van Heerden met karretjiemense by ʼn Karoo-padstal aan die gesels geraak het. Na die ontmoeting het die verhaal in verskillende lae beslag gekry soos wat die onderbewussyn dikteer het.

Oor die stand van die hedendaagse letterkunde dink Van Heerden vanuit die posisie van ʼn Tagtiger: “Daar verskyn te veel boeke, maar ek mag verkeerd wees. Sterk stemme kom wel deur in die poësie en die prosa, maar mens wag nog op ʼn new wave met ʼn boeiende sterk groep jonger skrywers. Maar miskien klink ek onregverdig.”

In vraetyd verneem ʼn knaap in die gehoor of die romansier wat sy loopbaan as digter begin het, weer na dié genre sal terugkeer. Van Heerden antwoord infaam: “Digkuns is die genre van die gode. En ek is nie deur die gode op die voorkop gesoen nie.”

Comments