Dominique Botha

vanoggend se najaarsgedagte

die wolke is blomme
op lang deursigtige stele
wat uit die aarde se drome groei

hoekom sien ek nou eers die oggendskadus
as poele staande water in die diep groef van die pad?

(’n potlood duif skrop tussen die blaaie van my notaboek)

soms laat vaar ek ’n papier bootjie
langs die geskrewe kus
stuur blare rivier af
waar sal my apostel vandaan kom?

maer mans met verf kwaste
na gelang die bloeiwyse van pronkgras
kom algemeen voor in versteurde plekke
soos die wenakkers van my soeke

ek is hier
my huisie in die skaamhare van ’n vrou se dy
tussen melkhout en duine
’n glasmeer teen vlamblom heuwels
swaeltjies kolk in geknipte vlug

’n bok kreupeltrap na water
wag met nat snoet en luister
die gestolde maling van sy horingsier omhoog
na die visarend se maning
wat tyd en tydvak skeur
soos wind 'n vallei
maar waar is jy?

spat wintertrane oor jou verlange
om op te staan en te rys
in die sonopkoms van 'n ander se blik
te reis en herrys
in die geurige verbleikbos van liefde?

metafoor is miskien die plofstof van skrywe
maar die lendene is die lont

Posted in Dominique Botha | Tagged ,

Comments