Dominique Botha

Om met die oog te steel

“Belgium is a joke. I like to live in a joke.” So sê die Waalse skrywer wat vroeër die aand voorgelees het uit sy lewenswerk; ’n onvoltooide epiese vers oor mossels. Sy gedig het my laat honger voel. Mens kry nie kos in Holland nie. Net brekfis. Blykbaar geniet Hollanders ontbyt omdat hulle nog nie wakker genoeg is om skuldig te voel oor lewendig wees nie. Die aand se poësie word oor bitterballen met mosterd herkou in ’n hotelkroeg duskant ’n hoofweg in die buitewyke van Maastricht. Die hotel swembad is met plastiek oorgetrek in oorgawe aan die boreale winter se lae verweerde luglyn. Buite ruk die wind aan droewige palms.

Ek is te moeg om verder te luister na woorde wat ek nie eintlik verstaan nie. Ek het ver gereis; oor woestyne en seisoene met wynrooi leer balletskoene en ’n warm Spaanse jas. Toe verder in ’n trein deur die mistige noorde van Frankryk, uitgelê in landerye en gespitste kerktorings. Teen die Belgiese grens het wolke soos skilderye aan die nok van skemer gehang. My medereisiger, Billy, het klapperkoekies toegedraai in kalligrafie vir ons uit sy bladsak gehaal. Die opgestopte pappegaaie in Billy se ateljee word daagliks deurweek in die geure van mandarynse gebak wat by sy blink poleerde trapkuil opwel. Sy staalbril omraam ’n kompromislose intelligensie. Hy skryf en skilder soos hy kla; liries en nootvas.

By Gare du Nord het ons soetwyn gedrink terwyl Billy a capella ’n artikel oor woestyngeeste uit ’n Franse filosofie-tydskrif vertaal het. Djin is onsigbare wesens, laer in die rangorde as engele, met bonatuurlike kragte wat mense, meestal vrouens, invaar en dan gepaai moet word met allerlei toegewings en geskenke.

’n Vloeibare variant van djin is zar,’n Amhariese stamwoord veranker binne die begrip van vreemdeling of besoeker, wat besete vrouens toelaat om aanspraak te maak op beter behandeling; ’n onderhandeling wat klaarblyklik nie in die normale loop van die meestal konserwatiewe Muslim samelewing vir ’n vrou moontlik is nie. Hierdie diafane maaksels skuil in woestyne, verlate bouvalle, rommelhope asook toilette. Dus mag kookwater nie in afvoerpype gegooi word nie. Djin en zar word algemeen aangetref langs die oostelike kusstrook van Afrika, dwarsdeur die Arabiese skiereiland, en het selfs bestaansreg op die heilige bladsye van die Koran.

In plaas van om soos ’n dankbare Moses die wyse insae op tablette te griffel word my aandag afgelei deur stoute fotos van Simone de Beauvoir (Jean Paul Sartre se girlfriend) in ’n tydskrif wat op die tafel langs my lê. Frankryk se ikoniese feminis op polvye sans brassiere voor ’n spieël in haar skelmpie se badkamer in Chicago. Nelson Algren was die paramour met die kamera en ’n voorliefde om haar op die Franse filosofie god se lessenaar te kattemaai met haar boude bo-op Sartre se manuskripte.

Die wyn in die hotelkroeg in Maastricht begin naby middernag na sout proe. Blykbaar beteken ek sien jou graag in Vlaams “ek het jou lief”. Ek groet die Waal terwyl hy oor die vervlakking van die samelewing begin uitvaar en Harold Bloom aanhaal, wat moderne lesers uitkryt as “lemmings wat uitbundig by kranse afjaag na intellektuele selfmoord in die grys oseaan van die internet”.

Ek raak vinnig aan die slaap, haastig om tot verhaal te kom met die nag.

-------------

Die dag breek laat en onseker. Wanneer jy jou oë oopmaak is alles in die hotel Oos-Duitsland lelik, tot by die piepklein boksies vol geel botter gespuit. Ek stap deur ’n binnehof oor bevrore herfsblare na waar die ander feesgangers hulle woorde eet. Billy sê ons het die geleentheid verbeur om die wêreld se mooiste boekwinkel te sien, want ek het te laat en met verkeerde voete uit die bed geklim. Ons bestel maar wyn al is dit onbehoorlik vroeg. In die oggendkoerant word swaarlywige Hollanders as moddervet beskryf.

Die liewe ou digter wat die poësiefees met sy kapstok regeer terwyl fyn rooskleurige aartjies oor sy wange vermenigvuldig, sluit by ons aan met sy gevolg van bedeesde, verdwaasde raadslede. Almal waarsku mens teen geld mors. Die koop impuls word nie geheilig nie. As teenwig vir die kroeg vol digters staan Nederland se beste fietsryers die portaal vol in latex.

Terwyl ons vir die bussie wag wat ons na die hartjie van die stad gaan neem vir die aand se voorlesings skryf ek ’n lys versamelname op my servet neer met ’n potlood:’n fluistering kelkiewyn, ’n afvaardiging ganse, ’n knoop paddas.

Die Bonbonnière is’n prentjiemooi barok teatertjie langs die Onze Lieve Vrouwe plein. Die Katolieke en Franse invloed bly opsigtelik in hierdie hoek van Holland wat nog vis nog vlees nog Vlaams is. Die aangewese geboortedorp vir die Europese Unie. Die Maastricht International Poetry nights se eregas is Charl-Piere Naudé , aka Jan Kolonie Hoenderdief, wat plegtig ondervra word op die verhoog deur ’n intense Hollander met ’n mikrofoon.

“Wat is die verskil tussen Afrika en Maastricht?”

“Uhm … Afrika is ’n baie groot plek ... bedoel u miskien die verskil tussen Maastricht en Suid-Afrika?

“Ja, die verskil?”

Charl-Pierre verstel sy bril. “Uhm ... daar is byvoorbeeld opvallend minder swart mense hier.” Hy lag en vryf sy hande teen mekaar.’n Ongemaklike stilte heers terwyl toeskouers op plastiek stoele rondskuif en hoes. Die Hollanders noem Afrikaans Zuid Afrikaans en dit lyk asof wedersydse verstaanbaarheid eerder ’n eenrigting straat is.

Die peppermentgroen saal se kraallys is fraseer met imposante buuste van Afrikane. Kristal kroonkandelare word ’n rokerige oneindeigheid van ligpunte op ingelyste spieëls. Buite skimmel die strate in vlae motreën.

Na Charl-Pierre se gedigte vol duiwe verniel ’n kaalkop tjellis sy bloedrooi instrument op pad verhoog toe in ’n onderonsie met ’n palm. Abdullah Ibrahim se Homecoming word oopgespalk en gebloedlaat op die vyf snare van sy byderwetse tjello. Tydens pouse se gretige wyndrinkery gryp ’n belese Pool Billy om die hals, oënskynlik meegevoer deur pure digterlike solidaritiet, “I love this soul. I love him,” herhaal hy in sy slepende Poolse aksent, wat my Engelse skoonfamilie beskryf as “the lazy end of the alphabet”. Die Pool vertel dat Oos-Europa se voortreflikste koerant bankrot gespeel het, en nou sit Szymborska se vertaler, Kapuscinski se biograaf en die eertydse Poolse kulturele attaché in Rome vir tweehonderd euro ’n maand by sy lessenaar en skryf gedigte. “I have never been happier,” huilgroet hy op pad terug Warsaw toe na sy vrou en twee kinders. “Die Absurde was nog altyd ’n vrugbare skeppingsterrein,” sê Billy.

Na die pouse lees ’n klein, fyn bebrilde Franse mademoiselle voor in Oksitaans. Verwant aan Katalaans, maar aspris doodgesmoor deur die Franse met hulle eentaalbeleid, leef fragmente van Oksitaans, ook bekend as Languedoc, voort in die Middeleeuse gedigte en liedere van troubadoers en minnesangers. En nou ook in Aurelia Lassaque se verse. Billy sê, “Dis goed om na ’n taal te luister wat jy nie verstaan nie, om so die gedig beter te kan hoor.” Haar lippies blink, haar oë glinster, haar borsies pronk. “Ek hou daarvan dat hulle ruimte maak vir ’n dooie taal. Dis Bybels. Uit die karkas kom heuning.”

Billy vertel van die saggeaarde, dowe Russiese reus wat soos ’n beseerde wolf voorlees. Ilya Kaminsky. Ek koop ’n eksemplaar van sy bundel Dowen Republiek, en stamel deur die wonderlike woorde wat hy uit ’n taallose stilte suiwer.“Zeven jaar naar zijn dood zag ik Celan met pantoffels aan alleen in sy slaapkamer dansen, neuriend by iedere pas.”

Na L’Occitaine lees Chirikure Chirikure so gesous soos ’n jammerlappie voor. Meer digters verdrink in ’n glas as in die see. Die alomteenwoordige bitterballen arriveer met mosterd, en wyn vloei en die bleeksiel langs my gesels oor sy liefde vir sy kleinkind terwyl Chiri dobbeltjips bedel wat by die kroeg vergeld mag word as wyn. My tweede aand hier, en ek is haastig om tot verhaal te kom met die nag.

Vroegoggend is ek en Billy vort Amsterdam toe op ’n trein wat fluitend uit ’n lieflike geteëlde stasie wegtrek. ’n Vermeer landskap vou oop in helder sonskyn met ’n ketik-ketik van staalwiele. Koeie loop op ’n ry soos kerkgangers tussen polders en bruin windmeulens.

Amsterdam se gewels en gragte slaan my asem weg. Ek volg Billy in ’n dwaal van estetiese genot na sy uitgewer wat ’n hoekgebou oorkant die Vondelpark besit, vol belangrike literêre werke en groot vensters omraam met pleisterkrulle. Die uitgewer neem ons uit vir ete na ’n art deco restaurant waar ’n baie preutse kelner ons bedien. Billy sê: “’n Geval van: ek is miskien ’n moffie maar ek naai net diakens en ouderlinge.”

Die uitgewer voel koudbloedig teenoor die stad se sjarme. In die winter rys ou motorkarre en klaviere blykbaar uit die gragte op, vasgevries in die ys. Billy lieg breedvoerig oor die vordering met sy nuutste manuskrip en dan is dit weer tyd om stasie toe te swenk. By die Atheneum boekwinkel koop Billy Bohumil Hrabal se Danslessen voor de gevorderde van ouderdom. Billy onthou hoe mense voor die boekwinkel kaalgat hoeskonserte gehou het. Hy tel ’n herhinnering in ’n straat op en weef ’n wêreld daaruit. Billy het herhinneringe in baie stede. Ek moet huistoe. Suidwaarts.

Billy staan op die perron en waai vir my. Hy sê hy kan ons altyd sien kom, ons Afrikaners. Basters. Die manier van loop en praat en aantrek. “Jy kan hulle altyd herken aan hul manier van lag. Uitbundig. Onbevange. Dis darem een ding wat jy van die Boere kan sê. Hulle gaan lag-lag hul gang, of dit nou hemel of hel toe is.”

Hy is lank en elegant met sy groen jas en kompromislose intelligensie. Hy stap na die oop treinvenster en tik op Hrabal se boektitel.

“Ons moet ons eie poësiefees reël. Die kriteria? Almal moet oor sewentig wees, moet kan dans, ’n swakte vir drank hê. ’n Huldeblyk aan gedeelde boemelaarskap. Vir tronkvoëls en brugslapers.”

My trein trek fluit-fluit weg in die laatmiddag se skielike, sagte son.

“Kwalifiseer jy Billy?” roep ek agterna.

Hy lag. Uitbundig. Onbevange.

“Niks verkeerd met my CV nie.”

This entry was posted in Blogs, Dominique Botha

Comments