jy is die aarde in op dalende toue
’n mank engel in die newel
van die seringblomvuur verlore
jy is weg
saggies gevou soos linne ’n kas in
soos as die grond in
soos ’n maagd as offerande
in die gieting van die smeltende klok
jou broer het vroegdag die pad geskraap
sy hart het bloed gemors
op die langmoue van sy beste hemp
’n jongmens se begrafnis is mos altyd groot
soos pa vertel het
onthou jy nog?
daar was verslete aronskelke
gestyselde tafeldoeke
kalkwater vir bedroefdes
uit die skoon vergaarbak getap
versuipte vlermuise uitgevis
hulle wat op wolwefontein
die skemering verbuig
waarhede is gepraat
oor die kanteling van jou glimlag
in die skaduboom van kennis
ek het vergruisde kroonblare van jou graf gevee
met ’n kussing teen die sand gelê
onder ouma se mottegif kombers
ek wou daar slaap
die meisie in jou briewe
het my hand vasgehou
(vingers as snare oor ’n vioolkam
vir die sneeulied van swane
soos jy liefde verprent het
op los papiere
in die boedel oorgawe
van jou selfmoord)
sy het regte engels gepraat
nes eileen van aandson destyds
met jou seëlversameling as minnebrief
onthou jy nog?
toe prewelende reën as slotgebed
uit die verwarde seisoen
ek moes weg sonder bewys of kleinode
die dalende nat nag in
grond moet versak
ons mag nie
na ’n jaar het ’n man uit kroonstad
’n blok graniet gebring
op die aangewese dag
is die gras gesny
hekskarniere het olie gekry
die ganghorlosie het ophou slaan
die melkkudde is verkoop
pa bou paaie sonder rigting
christiaan sluit sy kamerdeur
ouma sit by ’n venster
in ’n ouetehuis langs die see
sy sê sy gaan môre rivier op
daar is glo min plek op die boot
naas ’n windverwaaide skiereiland
agter torings witter as vars kryt
was ’n heks met ’n sielsinventaris
’n man met ’n kapbeitel
het my oopgevlek
gelem soos ’n lewendige vis
die heks het my littekens gestreel en gefluister
laat hom nou gaan
(ek het jou op die verkeerde plekke gesoek)
hier is ’n padkaart
volg die laatmiddag watervoëls oor schoemansdrif
soms is daar blomkranse teen kragpale
as jy nou sou kom
verbleik ’n mooi pers onkruid
padlangs in yl grond en klokkiesang
versilwer die populiermoeras
verby vredefort mantel ’n perskeboord
die draai in die pad en sagte bedrieglike dorinkies
bewaar die turksvy
duskant makvoël se eikelaning
tussen grashalms van verpande veld
is ’n esel
’n trekkerpalm
’n skuur vol implemente
wat stadig sterf
’n grou soutpan
met flaminkkraag as lafenis
sanglyne wat futloos lê
tussen pale sonder wind
teen skemer sal die aandster
’n gedienstige nefie in haar omvang trek
as bakenvuur vir jou
draai links op pa se nuwe pad
afgeskuins teen die reën
die rooioogduif sal spoorsny
met asbevlekte pootjies
deur die komende brandwolk
jy sal sien
sani bou ’n baksteenhuis
daar is poue in sy hoenderhok
en ’n kode tien op sy rybewys
hy het trots by die agterdeur gekom
om vir pa te wys
ek roep jou
boomkore reën psalms
op die verloopte grasperk neer
die nag klop teen die mure van nawete
ma dra ’n romp van sy met netjiese nate
in die oorstroomde gange
van my wederkerende droom
nylgroen kombuiskaste staan volgepak
van jou gunsteling lekkers
verf dop af en bloei vloer toe
dan teen die mure op
en deurdrenk die voue van ma se denkbeeldige rok
daar stamel sy
die hakkelpas van die lewende dood
(so mooi met haar smal middel)
spinnerakke haal diep asem
stof dans ’n statige dans
in die afwesigheid van verswaring
cardow wag hoed in hand by die kraal
hy treur oor die verkoopte vee
nes chopi en willem en petrus
hulle het almal gesterf
met pensioen in sig
nou wil pa niemand meer laat gaan nie
om te dink hulle hele lewens
vir dié bietjie rus gewerk
en dit ook onteien
sy gesig verdonker dan sê hy ag wat
oestye kom en gaan
’n skepper plant rooi appeliefie en klapperbos
in die uitspansel se nagtuin
wat beurtelings blom en vrot
die vlammende wind suiker jou woorde weg
ek roep jou
ek wag onder die peperboom
ek sal jou stem ken
moet jou houvas nie verloor nie
ek het al die sterre gesoebat
op hulle brandende voetpaadjies
dralend deur rook
van nagte vol onthou
hemele kniel en wieg
oor die dreunsang van gras
rou vleis hang soos verlange
in keldergrotte wat skeeftrek
soos die aarde draai
my kinders sal jou nie ken nie
ek wou jou so graag
tot ons plek van herkoms
bind met woorde
om weer te begin
met ’n skildwag teen toeval
met ’n ompad
met 'n lang potloodstreep
wat vervaag oor blou heuwels
in my vergeelde tekenboek
tyd rol en sloer
soos ’n muntstukkie gegooi
op die kim van die naderende dag
jy het my altyd vooruitgeloop
This elegy grabs you by the balls: It is evocative of a life lived against the colour, relentlessness, hardship of farming in an arid unforgiving land. To this your subject is linked with the most prosaic but simultaneously the most moving of images: The perpetual need to “skraap the pad” on this occcasion for an event that is significant, for the visit of someone of importance, but tomorrow the process will be repeated for no more than a road swept away by rain. The cycle of a life lived against all odds (as was the subject) but with moments of intense beauty, vivid images of the ordinary are turned into the extraordinary, the reader’s imagination is seized by the freshness of seeing the landscape through the eyes of someone who loves it deeply but also with the knowledge that it is all ephemeral like the young life lost in the shade of the treee of knowledge.
I loved that image for the ambiguity of shade as in shelter, and the tree of knowledge as the fatal tree of a lost Eden. Is the farm not also conflated with the lost Eden, the place of your youth?
Strength to your pen.
Aangrypend. Dit ruk ‘n mens aan die keel. En die gedig werk met beelde wat inspeel en terugspeel tot die knap slot.
This is what poetry should do, what this poem does – stick its hand down the reader’s throat and turn the reader inside out, before you can utter “Fuck!” in disbelief of its power.
Al wat ek wil se is, moet asseblief nie ophou om gedigte in Afrikaans te skryf nie, selfs terwyl jy daardie roman in engels klaarmaak …
Ek voel genoop om terug te kom en iets by te voeg: Dit laat my aangedaan.
Ek hou van die manier waarop die vers heeltemal “buite om” die woorde kommunikeer, aan die rand van die grammatika, soos St. Elmsvuur – vir my is DIT ‘n moeilike effek en iets wat ek as leser waardeer.
So hier is ‘n emosionele “relaas” wat ek heeltemal kan volg. En dis interessant dat dit reeds werk, want die woorde self kort nog heelwat fokus, ook gewoon grammatikaal? Ondanks werklik mooi beelde hier en daar. Die einde is vir my baie mooi, en moet net so bly.
(Sjoe, dankie, Dominique.)
Daar is woorde – wat is woorde uiteindelik tog? – wat ‘n wêreld, ‘n verbintenis, ‘n lot, ‘n oorskryding (en oorskreiding) van hiér en dààr probeer weergee. Probeer wéés. En wat is ons pogings tog behalwe die vlammetjie wat bly brand teen die niet?
Jan Rabie het altyd met amper sardoniese plesier waarskynlik die enigste ‘volksliedjie’ wat hy geken het (hy was g’n niks musikaal aangeleë nie) probeer sing:
“dié wal daai wal / daai wal dié wal”.
Jou woorde doen wat gedoen moet word – op treffende en evokatiewe wyse. En in die proses word dit ‘n vlam wat bly brand.
Wat kan mens tog verder durf sê?
Dankie vir die oopmaak, vir die vertroue van die gebaar. Dankie.
Haunting. Best thing I’ve read for a very, very long time.
so raw, and so beautiful. i could understand half but enough to make me cry.
opening your blogs is like waiting for those special magazines as a child. each one to be unwrapped and savoured.. and surprised and enriched every time.
Beautiful, powerful poetry even if you erase every 4th word from comprehension.
Stronger than granite.
At a loss for not getting the nuance of your expression
Ongelooflik besielend, hartverskeurend, vol verborge emosie, werklik pragmooi. Baie dankie hiervoor, Dominique.