Guest blog

Kannemeyer se groot nalatenskap

J.C. Kannemeyer 31 Maart 1939 - 25 Desember 2011

Die oorlye van John Kannemeyer is vir my persoonlik ’n pynlike slag, want ek het ’n baie noue vriend verloor. Dit is ook ’n swaar slag vir Afrikaans en vir die land. Hy was die mees produktiewe literatuurkritikus wat die Afrikaanse letterkunde (en trouens Suid-Afrika in die geheel) ooit opgelewer het. Hy het ’n groot aantal boeke gepubliseer en oneindig meer vakkundige sowel as joernalistieke artikels. Hy het verskillende terreine van die vak bemeester en meesal oorheers:

1. Dit begin in die goue jare van noukeurige teksanalise – allereers met die publikasie van sy proefskrif Stem in die literêre kunswerk in 1965 en later sy boek Op weg na Welgevonden oor Etienne Leroux se roman Sewe dae by die Silbersteins in 1970.

2. Ten tweede geld dit sy werk as literatuurhistorikus beginnende met die tweedelige, uiters deeglike Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur waarvan die eerste band in 1978 verskyn het en die tweede in 1983. Vir ’n derde deel oor die latere dekades was daar ongelukkig nooit navorsingsgeld beskikbaar nie, maar hy het tog nog – danksy die Nelson Mandela-fonds van die Universiteit van Wes-Kaapland – in 2005 gesorg vir ’n verkorte Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur 1652-2004. Hy het werklik die geheel in sy handpalm gehou.

3. Hy het verder gesorg vir belangrike vergelykende studies op die gebied van die poëtika, dit is die kunsbeginsels van skrywers soos D.J. Opperman (Figuur en fluit, 1992) en Elisabeth Eybers (Die gespitste binneblik, 1995).

4. Hy was ’n deskundige ten opsigte van die edisie-tegniek, die manier waarop ouer tekste by hernude uitgawe hanteer moet word. Daarvoor het die Universiteit van Stellenbosch hom die afgelope jare as buitengewone professor ingespan. Saam met sy studente het hy pas nog gesorg vir die publikasie van die Briewe van W.E.G. Louw en N.P. van Wyk Louw 1941-1970.

5. Sy grootste monument is egter sy skrywersbiografieë oor van die belangrikste en kleurvolste figure in die Afrikaanse letterkunde: D.J. Opperman, C J Langenhoven,  C. Louis Leipoldt, Uys Krige, Jan Rabie en Etienne Leroux. Hy het pas ’n biografie oor die Nobelpryswenner J.M. Coetzee voltooi, ’n internasionale publikasie wat nog moet verskyn.

Hy is in die proses bekroon met die vernaamste pryse op sy terrein in Afrikaans, soos die Helgaard Steyn-prys en die Recht Malan-prys, asook ’n spesiale toekenning van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde.

Hy was trouens ook ’n groot kenner van die Nederlandse Letterkunde. Sy Nederduitse Digkuns, ’n boek oor die 17de eeuse poësie is vandag nog net so bruikbaar as handboek as by die verskyning daarvan in 1973.

Hy het ook ingesien dat in die nuwe tydperk met enersyds die koms van elektroniese media en andersyds die pogings om vanaf 1994 Afrikaans te marginaliseer, daar uitgereik moet word na ’n breër publiek. Daarom het hy as literêre toergids aktief geraak, iets wat inderdaad ’n wyd uitkringende effek gehad het en onder meer gelei het tot die onstaan van die Cederberg-fees. Hy was dus allermins ’n ivoortoring-akademikus.

Hy was met tye ’n energieke en gevreesde polemikus, maar op die duur het hy bo sy opponente uitgetroon. Sy werk gaan nog baie lank deur vakgenote gebruik word, iets wat bitter selde ’n kritikus te beurt val.

Posted in Blogs, Guest blog | Tagged , , ,

Comments