Reports

Hambidge kyk terug op pynlike ervarings

Bekendstelling van Lot se Vrou deur Joan Hambidge, 1 Maart 2012, The Book Lounge, Kaapstad

Deur Sonja Loots

Joan HambidgeDit het al tradisie geraak dat daar elke jaar, min of meer hierdie tyd van die jaar, ’n nuwe bundel van Joan Hambidge verskyn. Só het Marga Collings verlede week by die Book Lounge-bekendstelling van Hambidge se jongste bundel, Lot se Vrou, gesê.

Collings, publisiteitsbestuurder van NB-uitgewers, het Hambidge aan die gehoor voorgestel as produktiewe skrywer en digter, ’n passievolle polemikus en lewensgenieter, asook ’n onderhoudende en oproerige gespreksgenoot.

Die woord “oproerig” was skaars koud, toe wil Hambidge by Etienne Bloemhof, haar uitgewer, weet: “Wie gaan die vrae vra: ek of jy?”

“Soos jy wil,” het Bloemhof behoedsaam geantwoord.

“Goed. Eerste vraag. Is ek ’n moeilike skrywer?” het Hambidge afgeslaan.

En so het sy in haar Asics-tekkies aan die draf gebly met kwinkslae, staaltjies, Shakesperiaanse asides, aanhalings en literêre verwysings wat weer gewys het dat sy, behalwe die digkuns, ook die kuns van

Hambidge en Etienne Bloemhof (foto: Pieter Malan)

gevatte repartee deeglik bemeester het. Toe ’n sypaadjie-struikelaar buite ’n bottel aan skerwe laat spat, het sy spitsvondig and without missing a beat uitgelê: “The breaking of the vessels. Harold Bloom.”

Laatkommers moes elk op ’n eiesoortige manier aan die pen ry en toe Bloemhof later verklaar “it’s time to wrap things up”, het Hambidge handevrywend geterg: “O nee, ons het pas begin.”

Maar daar was nie net grappies nie. Hambidge het vertel die bundeltitel dui op die proses waardeur die bundel tot stand gekom het. Dit het behels dat sy moes terugkyk na pynlike ervarings sonder om daardeur verlam te word.

Die bundel het ontstaan toe sy uitgenodig is na haar matriekgroep se 30-jaar-reünie. Omdat sy ongelukkige herinnerings aan haar skooljare het, het sy besluit om nie te gaan nie. Sy sou eerder stede waar sy vroeër was herbesoek. Op die datum van die skoolreünie was sy byvoorbeeld in Tokio. Dié reis het deel gevorm van “’n alternatiewe reünie” wat haar teruggeneem het na wat sy herken as ’n Lacaniaanse knoop in die psige: haar gemoeidheid met die stilgemaakte kind.

“Lot se vrou mág nie teruggekyk het nie en toe sy dit wel doen, het sy in klip verander. Die kuns is om die ervarings en dinge wat jou gemerk en bepaal het, te bekyk sonder dat dit verlammend is. Aan die ander kant moet dit ook nie in woede oorgaan nie.”

Sy vind dat baie van die gedigte in Lot se Vrou inspeel op dinge waaroor sy reeds in haar debuutbundel Hartskrif gedig het. Hoewel sy nie bewustelik aan ’n oeuvre skryf nie, vind sy tog dat temas soos reis, familie, geliefdes, gesprekke met die self en ander kunstenaars in haar werk terugkeer.

Volgens haar is dit boeiend om te sien hoe ook ander digters hul tema telkens vanuit ’n ander hoek benader: “So vind ek dit ongelooflik hoe Johann de Lange se vadergedigte soms van verwyt, soms van vergifnis en soms van mededoë spreek.”

Skryf, het Hambidge vertel, is vir haar ’n vorm van mediteer. “Deur iets eerlik te verwoord, kan jy sélf beter verstaan en ander help om dit te verstaan”.

“Ek is op die punt van my lewe waar die skryfproses vir my belangriker is as die publikasieproses,” het sy bygevoeg.

Sy het enkele van haar gedigte voorgelees. Die titelgedig was eerste aan die beurt:

O ek is Lot se vrou,
Lot se vrou,
wat terugkyk na die hart wat brand.

Daarná het ’n paar verse oor beroemde rolprentikone gevolg. Van die gedig oor Liz Taylor, wat met ’n uitgesponne tennismetafoor werk, het sy vertel dat dit geskryf is tydens ’n besoek aan haar ma terwyl

Hambidge lees voor (foto: Pieter Malan)

dié besig was om tennis te kyk. Die laaste gedig wat Hambidge gelees het, is die laaste gedig uit die bundel, wat ook inspeel op die eerste. En so het die aand, ondanks haar goedige dreigemente, op ’n stigtelike uur tot ’n einde gekom terwyl van haar voormalige Kreatiewe Skryfwerk-magisterstudente al

Joan Hambidge

Joan Hambidge (foto: Pieter Malan)

geselsend in die hoek van die winkel reünie gehou het.

Comments