Krog se voorlesing betower

Mankepank en ander Verse: ’n gesprek met Antjie Krog en Diek Grobler, 10 Maart 2012, US Woordfees, Stellenbosch

BIBI BURGER

Dit was baie winderig op 10 Maart, en die rondrukkende Boeketent was die gepaste venue vir die bespreking van Mankepank en ander verse, Antjie Krog se boek oor monsters, feetjies, kinders en ander kreature.

Krog het die bespreking begin deur die geskiedenis van Mankepank te beskryf. Sy het die meeste verse op dieselfde tyd geskryf as Lady Anne (1989). Omdat haar vorige bundels suksesvol was, kon sy bekostig om ’n kantoor te huur en elke dag daar te gaan sit en skryf. Sy het skuldig gevoel oor haar nuwe “werkende vrou” roetine wat behels het dat sy haar kinders elke dag moes agterlaat, en het vir hulle ook begin gedigte skryf.

Krog se eerste paar bundels is gepubliseer deur Human & Rousseau, maar nadat hulle oorgeneem is deur die Apartheid bewind se Nasionale Pers, het sy besluit om Lady Anne te laat publiseer deur die onafhanklike uitgewery Taurus, wat die meeste belangrike Afrikaanse “alternatiewe” en kritiese literatuur in die 1980s gepubliseer het. Die gemiddelde Taurus publikasie is vreemd en interessant en skokkend, en alhoewel Mankepank ook deur hierdie terme beskryf kan word, is dit steeds ’n kinderboek, en was Krog verbaas toe hulle instem om dit te publiseer. Taurus het nie ’n groot begroting gehad nie, en Mankepank is (ook in 1989) gepubliseer met swart en wit tekeninge. Toe Taurus bankkrot gegaan het, is al hulle titels deur NB uitgewers oorgekoop en hulle het Krog verlede jaar genader oor die moontlikheid van ’n herpublikasie, wat ook nuwe gedigte sou insluit. Krog beskryf die produk hiervan, ’n hardeband boek met kleurvolle illustrasies deur Diek Grobler, as ’n onverdiende beloning.

Die projek was klaarblyklik vir Grobler ook belonend, alhoewel hy sê dat hy baie senuweeagtig was om met so ’n groot figuur soos Krog te werk. Hy beskryf dit selfs as die moeilikste boek wat hy nog geïllustreer het. Die moeilikheidsgraad is nie net as gevolg van perfeksionistiese druk nie, maar ook as gevolg van die ingewikkelde metode wat hy gebruik het om die kunswerke in die boek te skep.

Grobler werk veral met die krapbord (“scraper board”) tegniek. Dit behels lae wit werf met ’n laag swart verf bo-oor, waaruit beelde dan gekrap word. Grobler het foto’s van sy vorige krapbord werke geneem en hulle dan digitaal gemanipuleer om die Mankepank illustrasies te vorm.

Grobler vertel dat hy aanvanklik opgewonde was toe hy gehoor het van “Mankepank die mensvreter” (wat die tentatiewe titel van die boek was), omdat hy hou van monsters. Hy het egter bekommerd geraak toe hy hoor ’n groot hoeveelheid van die gedigte gaan oor feëtjies, want hy hou nie van “cute” prentjies nie. Hy was verniet bekommerd, want Krog se feëtjies is natuurlik nie cute nie. Daar is die vlieëbosfeëtjie wat vlieë eet, en die gemene feëtjie vlieg-instruktruse wat die arme Sewejaarfeëtjie leer vlieg bo ystervarkpenne, met die dreigement dat sy dalk ’n feëtjie sosatie kan word.

Grobler het in ieder geval, ook na aanleiding van die gedig “Die verdwyn tower drankie” besluit om so min as moontlik van die feëtjies te wys, sodat die kinders hulle self kan verbeel. Dit is ook waar van baie van die monsters, van Mankepank self word net die gesig geïllustreer. Dit word dan aan die kinderlesers oorgelaat om die res van sy lyf in al sy groteske glorie te verbeel.

’n Ander manier waarop hy probeer het om verbeelding deur sy illustrasies aan te wakker is deur die gebeure in die gedigte nie direk te illustreer nie, maar sy eie interpretasie daarvan in te voeg – en so ’n verdere narratiewe moontlikheid vir die leser te bied. Die gedig “Spoke” het byvoorbeeld wel prentjies van spoke rondom dit, maar ook ’n kind en hond wat spook speel om so hulle vrees vir spoke te probeer hanteer. “Krokodilkind”, ’n amper erotiese gedig oor ’n Mabalêl-agtige meisie wat saam met ’n krokodil woon, en vir wie hy bokkies vang, illustreer Grobler met ’n dogtertjie binne ’n krokodilvel – ’n beeld wat vir die vindingryke leser in allerhande rigtings kan stuur.

Die gesprek is afgesluit met voorlesings deur Krog. Enigiemand wat al ’n Krog voorlesing gehoor het sal weet dat sy ’n meesterlike opvoerder is – en dit was ook hier die geval, miskien selfs nog meer omdat sy kans kry om al die stemme van die karakters te doen. Daar is net effens minder vloekwoorde as in haar “volwasse” voorlesings, maar niks minder passie nie.

Krog het tussendeur wenke gegee oor hoe om vir kinders te lees: bespreek eers die illustrasies, verduidelik dan die inhoud en moeilike woorde, en lees dan die gedig, sodat die kind ingetrek kan word deur die ritme en nie verwar word deur goed wat hulle nie verstaan nie. Dit is goeie raad, maar die feit is dat almal nie so gelukkig is om ’n voorleser soos Krog as ma of ouma te hê nie. Die boek is wel ’n goeie troosprys.

Comments