Reports

Misdaadfiksie ’n ontlading vir daaglikse spanning?

Waarom Misdaad? Karin Brynard gesels met Afrikaanse misdaadskrywers, 6 Maart 2012, US Woordfees, Stellenbosch

JOAN-MARI BARENDSE

Dit was ʼn vrolike groepie misdaadskrywers wat op 6 Maart as deel van die Woordfees 2012 se Skrywersfees in die Boektent vergader het. Die gesprek is gelei deur Karin Brynard, die bekroonde skrywer van die misdaadroman, Plaasmoord (2009). Haar gespreksgenote was François Bloemhof, Chanette Paul en Deborah Steinmar. Op die vraag waarom sy besluit het om misdaadfiksie te begin skryf, het Paul, wat aanvanklik bekendheid verwerf het as ʼn skrywer van liefdesverhale, spottenderwys geantwoord dat ʼn egskeiding haar die nodige inspirasie gegee het om oor te slaan na moordverhale. Paul se werklike fassinasie met die genre lê egter in die psige van die moordenaar: wat dryf iemand tot by daardie oomblik waarin hulle moord pleeg. Steinmar skryf weer misdaadromans omdat sy wil hê dat haar werk gelees moet word. Volgens haar “betaal misdaad” en verkoop haar misdaadfiksie veel beter as wat haar gedigte ooit het. Steinmar se jongste spanningsroman, Poppekas, het pas verskyn. Bloemhof “skryf vir homself”. Hy weet egter dat as hy van die misdaad- of spanningsverhaal hou wat hy geskryf het, die kans groot is dat lesers ook daarvan sal hou.

Bloemhof het daarop gewys dat daar binne die Afrikaanse letterkunde, soos ook die geval is met wetenskapsfiksie en fantasie, gediskrimineer word teen misdaad- en spanningsverhale. Dit hou verband met die persepsie wat daar bestaan oor misdaadfiksie as blote ontspanningsliteratuur wat nie veel literêre waarde het nie. Tog is dit ʼn genre wat, anders as wetenskapsfiksie en fantasie, toenemend geskryf en gelees word in Afrikaans. Deon Meyer baan die weg vir Afrikaanse misdaadfiksie. Skrywers soos Brynard, Bloemhof, Paul en Steinmar bewys dat dit ʼn genre is wat al hoe meer populêr word in Afrikaans.

Waarom dan misdaad? Die gespreksdeelnemers was dit eens dat daar iets katarties vir die skrywer en die leser is in die ontknoping wat plaasvind in ʼn misdaadroman: die motief vir die misdaad word ontbloot en die skurk word gevang en gestraf. Volgens Brynard bevredig misdaadfiksie op hierdie wyse die leser en skrywer se behoefte om orde en herstel in hulle gemeenskap te sien. Bloemhof het dit vergelyk met die versekering wat ʼn bekende sprokie bied: die leser weet dat die misdaad in die roman, anders as die misdaad waarvan hulle in die koerant lees, opgelos gaan word en is daarom bereid om die spanning te verdra. Volgens Paul het die mens ʼn “makabere fassinasie” met moord. Misdaadfiksie bied aan jou die geleentheid om, volgens haar, “veilig in jou woonkamer” die gevaar te trotseer. Alhoewel Brynard as gespreksleier op ʼn stadium gesê het dat hulle nou “ernstig gaan raak”, kon niks die skerp humorsin van die deelnemers, insluitende Brynard self, onderdruk nie. Steinmar het gespot dat daar meer moorde sou wees as misdaadskrywers nie die kans gekry het om die moord uit hulleself uit te skryf nie.

Die gesprek het gedraai na die reëls van die genre, byvoorbeeld die reël dat die verskynsel van ʼn deus ex machina nooit in misdaadfiksie gebruik mag word nie. Beide Bloemhof en Steinmar beskou reëls as iets om te verbreek. Volgens Paul mag die reëls slegs verbreek word as dit gemotiveerd is. Sy self hou egter nie streng by die generiese riglyne nie, deurdat sy die genres van romanse en misdaadfiksie meng en as’t ware “twee stories in een boek” sit.

Konvensies binne die genre wat al clichés geword het, soos byvoorbeeld die speurder met wat Brynard “serious issues” noem, is ook bespreek. Volgens Bloemhof is hierdie konvensie ʼn manier waarop die skrywer probeer om die held, die speurder, net so interessant soos die booswig te maak. Hy sal graag eendag ʼn saai, voorspelbare speurder wil sien. ʼn Verdere cliché, volgens Bloemhof, is om parallelle te skep tussen die speurder en die boef se lewens. Volgens Paul en Steinmar is dit egter nie geloofwaardig om ʼn gelukkige, gebalanseerde speurder uit te beeld nie, want dit is nie die tipe mens wat sy lewe daaraan sal wy om moorde op te los nie. ʼn Mens kan jou afvra of dit ook geld vir misdaadskrywers?

Die skrywers het nog baie gehad om oor te gesels toe die tyd vir die gesprek verstreke was. Die entoesiasme van die groep het gewys dat die skryf van misdaadfiksie definitief vir hulle die nodige ontlading bied vir die lewe se daaglikse spanning.

 

Comments