Blogs

Klaaglied vir César Vallejo

I.
Eers spartel ek
in die moeras
van hierdie grys lakenweb
waarin swae vlermense vaswoel,
motte teen die plafon
van die towenaar se kasarm,
dan hoeg ek
tot ek mug terugsyg
my moddersweet swarter
as Donker van die Nag -
'n skurwe akkedis wat haar tuismaak
op hierdie riffel in die son: 43 jaar:
'n miniskule eelt op die tyd se duim,
'n teel mikrolos in die growwe dak van Amerika,
'n kluit brokkelende tussen haar vingers -
die matras 'n koorsspons vir my geel kas,
maywiy kausay van die andes,
beredde medisynemens los
in die astrale krans
om wens vir wens te wens:
César! César!

II.
Uit die skedel
kerf ek
'n refleksiewe versugting
om 'n vrou
aan haar sagte boude
vas te vat,
'n hefboom
vir 'n fruktale skuif
van hierdie planeet,
maar ek voel dit nie, soos hulle sê,
en as ek vanaand
'n oormaat bloed voel opstul
terwyl ek vryf en streel
sal ek sê: dit het my onverhoeds betrap.
My glibberige slakgeboorte
sak tydsaam terug
in die skrotum.
Onder die skedelvel
'n moeras weefsel
waardeur bloedpype
hulle ontbindingsvog dra,
stadig en terugwaarts,
César,
César.

III.
(in memoriam johann schutte)
my vriend se koue lyk
op 'n vloer in taiwan.
wag. sak.
sy oogballe glisserien.
my vriend se lyk
koue vrag
in die buik
van 'n vlug
oor die oseaan.
sy kopvries 7 kg
amper alles water,
hy kadawer-kadawer
in sy metaalbuis
nes 'n ontstollende gelatien
in 'n fles.
kyk hoe het die tyd jou geliefkoos,
ou vriend! voosgevat.
kyk wat het sy met jou gemaak jy
wat so lief was om haar te besnuffel
vir elke geur en elke reuk
wat sy vir jou
ingehou het
om met jou tong - o koue slak -
los te lek. altyd onmóóntlik!
hoe diep het jy nie jou stywe vleis
- o kil leë aar -
in haar ingedring
toe sy meegee nie,
en gegeegeegee nie
tot sy jou smeek
om te kom,
kom nou man!
maak nou klaar!
César! César!

IV.

Soos alles het verwording sy roetines, en hierdie
verrotting in die bulte van die hospitaalmatras
opgewonde krag wat taal ontrafel
sodat drie vier vyf die lyf van woorde
uitgeryg
lê hyg
sygnat velle gestrek oor die beenkas
van hierdie sinstrument wat eens
Mens was
César          César

V.
César Vallejo is dood, en 'n Donderdag
vou om sy bene, naamlose osse
wat in die turf omgeploeg word.
Daaroor kon jy snare span,
'n geskiedenis van senings.
'n Vrydag kan nêrens vat kry nie.
'n Eeu eeue honderde eeue vind niks
wat anderkant vir diekant kan wees nie -
'n woordding waardeur een
ontwrig word, uit die potjie gepluk
om nul en nog te maak.
Saterdag. Sondag. Maandag. Dinsdag.
Selfs Woensdag is César Vallejo dood.
César, César.

VI.
loop dertig veertig al
met ondergang rond, 'n sool onder my voet

Winkels op die straathoeke van buurte
waar ek intrek
sluit deure
bome hou op
opwaarts beur
op erwe waar ek onderdak vind
word diere maer, raak weg
geute roes
en in die duisend spore
van die tyd maak 'n fyn afbreekfiet
hom tuis
en van beton puin
Die Afwesige stal ornamente uit
op vensterbanke waaroor ek
die buitekant se vergang
aanskou -
elke dag is 'n verdwynsel
elke uur verduur vir sy kwaliteit
van afmeting
minute en sekondes
die geklingel van munte in die ryk dode
se kis
o
César, César

VII.
Dat jy deur hierdie roes waarsêers
dolosgooiers en wiggelaars
by die dood kan kom
is 'n merkwaardige prestasie, soveel meer
omdat verpleërs en dokters, agente van die vlees
by die deur gestuit word, en soos ons weet
is vlees met sy spiere organe geraamtes
die enigste poort na die dood: kyk net,
hierdie trop met hulle inkantasies
premonisies en bevallinge (swánger,
die hele lot!) spin tot in
die verste uithoeke van dié bestaan
hulle konstellasies sekerheid asof séker
en sekúúr en elke uur wat tot asem
gevoeg word 'n verlossing is, maar ons weet
verspinsels bind,
maak jou blind vir wat aan die binnekant
van die buitekantlose
geopenbaar word, ontaalde onlyde
onstaan waardeur net dié
met eindelose durf bedeel
gaan -
César! César.

VIII.
'n gedag op stelte kom swym
oor my amperlyk (43 jaar oud)
my uitgetoorde lyf
in die wemel
van 'n oranje middag
wys sy my
haar binnevlesige
dáár wáár
sy wankel dat die rook opskuif
om haar slinke enkels
sodat my verskrompelde gelid
in my gedigtes roer
dáár wáár
haar wye, sugte wye so wyd
so oopgesply dáár!
dáár wáár
tag! slyk die bed my gereemte
sag ek dieper dieper, wag
daar waar
César César

IX.
Aanwas en subtraksie is die poëtiese matema,
verrot en koel geswolle rigor tegelykertyd:
hierdie lyf wat die hand huisves wat skryf
om samehange, gelykstellings, verenigings van die taal,
verfókkelende taal, sigbaar te maak vir die oog
van die taal, ontsetel uit die skedelnul
waarin dit bevlees die multipupille vermoed het
waarin lig verdwyn soos gewig - gegryp
deur gewig - en 'n holte gemaak het in die bedding
van millennia nog onsigbaar, onontdek deur esoteriese tegniek
byvoorbeeld die afskilfering van atome
of die letsels waaraan molekules ontken word
deur hulle vorige familie: ons eie millenium
en sy susters onbeweet deur die eerste planete,
onsigbaar vir 'n futuurgeskiedenis, 'n algeborg
opgemaak uit die splitsing van die eier
waaruit jy kom,
César, César.

 

X.
in borges se groen pupille is daar mos 'n papirusbos
neruda vir 'n glas pyn en raak sy hoed
berryman stuimel oor die brug
'n sug terwyl toelopers snak hy het dan
geglimlag (en die daad verwar)
die wilde americano's walt en allen prewel blyk
terwyl met grys kloue die warm
se mikromandibels reeds
in die verbeeldans knibbel aan die glans:
ou man yeats driftig aan 't aandryf
die brand ook in blake se lyf:
lê hier hortasemd
die dae (getel) vol vet kaapse aasvoëls
vol jakkalse wat met hulle blodde snutte
vrittel in die kadamper net om met die eerste gewaar
weg te hink tot teen die rand
van hierdie boswees
daar spoegerig hulle sê'e te sêê -
maar waddefok! en buitendien: erstaatniet.
César. César.

 

XI.

Die man
wie se dag aangbreek het
dra vir ons
'n skottel dood
by die hospitaaldeur uit
sodat ons
'n nuwe vrag
op die rug
kan lig,
César!
César!

This entry was posted in Blogs

Comments