JC Blyk

‘n Geheime taal

Voordat ek geweet het ek gaan hierdie blog in Afrikaans skryf, wou ek sê:

Although I write these lines in English, they are translations from an unwritten, secretive tongue.

Ek het gedink die geheimsinnige taal is Afrikaans, maar noudat ek hierdie woorde neerskryf besef ek dat ek eweneens besig is met die vertaling van 'n esoteriese ongeskrif wat 'n tong roer in die mond van die groot Rivier Vergeet.

'n Paar maande gelede het ek 'n vrou op die lyf geloop vir 'n weeklange woordelose avontuur (nou verwyder Google Translate die mistiek van onbegrip en die oseaan tussen ons demp die kreune wat lyflik betekenis gegee het aan die bewegings van my hande).

Byna Romantiek, sou ek van daardie week kon sê, maar omdat sy onder die teken van die Kreef gebore is, het ek, 'n ou verwonde, met my linkeroog die hemel dopgehou en die patrone probeer ontrafel waarin ons klein lewens geweef is in die materiaal van die nag.

Wanneer ek blyk die taal te ken, is daar goeie rede om my doof te hou. Volledig Romantiek, sal ek dan sê, 'n sentimentle herinnering alleen. 'n As-dit-maar-ooit-so-was van 'n taal. Die skraal taal van die geheue waarmee ons dieselfde verhaal oor en oor skryf op watter plasenta ook al daarvoor ontvanklik is.

Aan die einde van daardie week: 'n hotel en 'n lughawe. Hoeveel dit ook al sê, so min! Hier en daar 'n spoor van die posture en gebare waarmee ons 'n soort joga beoefen het van aangryp en losmaak:

water in die water
('n kersfeesliefdeslied)

in 'n beswyming

gaan voel ek rond
in die katedraal
van haar mond

ontdek ek daar
'n skat
haar tong, 'n altaar
so glad, so glad gevat

daaroor dwarrel die dansende insens
van haar Brasiliera-kadens

daarmee vleg sy helder woudvoëlroepe
vol hoepelintonasies

die swiep van 'n woudluipe r d se ste r t
maak sy daarmee aan die en d van die woo r d

*

maar ai as sy aai, aai aaai sê
dan sterf ek 'n bietjie

dan sterf ek 'n hele spul!

*

o keelkelk so onverwelk
waarin asem tot stem vernektar

o buis van die borskas
so vol groot geruis

o gewig van die heup
so vol gewrig

o voete so lig, so lig

*

vier dae verken ek
hierdie kontinent van verlange

vier dae loop eros
los in die oerbos

vier dae deur sleurstrome
vol donker en weerligstrale

(dat lig so kan skiet!)

vier dae vol son op die water
geberg deur die Berg

*

een nag
in die Donker van die Nag
in die donkerste uur
vol donkerste hunkering

slaan sy haar kloue
in die taaiste vleise
van my rug

skeur sy my binnegoed,
my goeie binnegoed uit

verslind sy my ingewande

glinster die bloed
van 'n mens se kind
aan haar tande

*

o vrugte van lippe
waardeur ek glip glip glip

om in die katakombe
van haar mond, heilige swart grond van haar mond
my geil vloed geheime te saai

woorde van my taal
onverteer
op haar tong
haar taalaltaar

*

as sy não, não, não sing
dryf sy in my
drif om in te dryf

in die water tussen ons

deur die water in ons
in die water
tussen ons in te laat vloei

om ons in die vloed te vat
wat jou met spoed
Anderkant
uitspat

*

hmn as sy kreun kreun kreun
wek sy in my
die Mens se Seun

This entry was posted in JC Blyk

Comments