Blogs

In gesprek met Bittereinder

Ek en Adrian Different ontmoet vir Jaco van der Merwe, die voorman van die Pretoriase rapgroep Bittereinder, by ’n tafel onder in die Neelsie-studentesentrum op Stellenbosch. Pierre van Pletzen en Louis Minnaar, die ander lede van die driemanskap, sit op die agtergrond. Jaco gesels tussen die burger-middagete deur wat hy om vieruur op ’n Vrydagmiddag fynkou. Hy vertel van sy dayjob as ’n Engels-onderwyser by ’n hoërskool in Brits in die Noordwes en oor hoe vreemd dit is om English Home Language vir Tswana kinders te gee, terwyl dit die meeste kinders se derde of vierde taal is. “Hulle Tswana is ook sleg,” sê hy. Ek wonder oor die maatstaf wat hy gebruik, maar luister nietemin na sy storie oor ’n graad 8-kamp waar hy vir een van die kinders na afloop van ’n sokkergame gevra het hoe ’n mens “maan” in Tswana sê. “We just call it the moon,” het die outjie geantwoord. Hy kon nie die woord “maan” in sy eie taal sê nie. “Jis,” sê Jaco, “ek het groot geskrik.”

Ek vra hom hoe hy met die hele rap-storie begin het. Hy vertel hoe hy op hoërskool na Rage Against the Machine, Pearl Jam, Talib Kweli, Mos Def en Black Star geluister het. Hy was vir lank in verskeie metal bands gewees, maar die aand na hy die fliek Slam gesien het (wat die groot slam meester, Saul Williams, feature), het hy sy pen opgetel en sy eerste vers geskryf. Soos die jare voortgetik het, het hy mettertyd twee Engelse rap-albums onder die naam Ajax vrygestel. Mense wat hom ken het hom toenemend begin vra hoekom hy nie in Afrikaans skryf nie. Hy’t aanvanklik oor die idee van Afrikaanse rap gelag, maar het later al hoe meer daaroor begin wonder.

Hy het geweet dat hy ’n socially conscious rapper wou wees, dat hip-hop daaroor gaan om te represent en om op te staan vir wie jy is en waar jou wortels lê, maar daar was soveel goed wat hy vir jare onderdruk het. Die feit dat hy Afrikaans is, dat sy volle name Barend Jacobus van der Merwe is, dat hy nie homself sommerso uit die web van Afrikaansheid kon lossny nie. Hy het weer oor sy kinderjare in ’n Engelse skool en die naamnoemery gedink: boertjie, dutchboy, oppressor. Sy rooi wange, sy aksent, die sukkel-sukkel om wortel te skiet, om iewers tuis te voel.

Op ’n dag het hy die HAT tentatief nadergetrek; geweet ’n woordeboek bevat al die gedigte wat ooit geskryf is en ooit geskryf sal word. Hy’t weer vriendskappe met werkwoorde, selfstandige naamwoorde en adjektiewe aangeknoop. Soos die verse meer geraak en hy al hoe dieper terug begin grawe het, het hy weer in Afrikaans begin dink, in Afrikaans begin droom.

“So die skuif van Ajax na Bittereinder was ’n bewustelike besluit om jou Afrikaner-herkoms te heroorweeg?” vra ek. “Ja,” sê hy, sonder om te aarsel. “Dit is ’n poging om my met my Afrikanerskap te versoen.” Hy het vir lank sy kultuur verwerp, die stories van sy voorvaders wat deur sy bloed bruis, hoe mooi of lelik hulle ook al mag wees. Hy het saam gelag vir die omies met die kamme in hul kouse en die boepe rondom braaivleisvure. Hy wou nie homself daarmee assosieer nie, want dis ook waar hy die meeste seergekry het, waar hy homself die akuutste as ’n outsider ervaar het.

Die eerste Afrikaanse vers wat hy geskryf het, het uiteindelik ook die titelsnit van Bittereinder se eerste CD geword:

’n Ware verhaal

[...]
so spoeg ek my hartjie uit in netjiese rytjies
rympies wat seer en heel maak soos ’n chirurg se snytjies
jy kies wat jy lief is voor so tussen die lyntjies
ek lê al lank genoeg in my Matrix-pypies
miskien te ongeduldig om te begin met die basics
maar nou neem ek te veel te vinnig in soos roomys en breinvries
stilletjies bekruip ek hierdie onbekende grond
met my woordeskat en ritme soos ’n geweer en ’n waghond
julle almal donner rond in julle veilige kastele
terwyl ek buite in die skadu’s in die strate van jul stede
die verlede en die toekoms in die straatligte soek
ek luister na die fluister van geheime in elke hoek
dit is nie so donker as wat dit van ver af lyk nie
daar is harte wat verstaan as jy nie woorde gebruik nie
die leemte roep nou hard, en ek kan sweer die tyd is hier
ek is ’n kind van die warrelwind se middelpunt van vuur
[...]

“What attracted you to hip-hop in the first place?” vra Adrian. “Daar’s iets in die flow van hip-hop wat aansteeklik is,” antwoord Jaco, “iets wat jou optel uit jou lyf en jou wegvoer. En rappers speel so lekker met woorde, met hulle klanke en ritmes. Op die ou end is rap maar net rhythm and poetry.” By die skool leer hy sy kinders dat Shakespeare een van die beste rappers in die geskiedenis is. Daai dude het flow gehad, dink ek.

Ek dink ook oor die hekwagte van Die Afrikaanse Poësie en die ongeskrewe antagonisme wat dikwels tussen papier- en podiumdigters bestaan, veral papierdigters wat daarvan hou om klippe te vergaar en te gooi, om hul kleim af te steek, hul gebied te merk en te bewaar teen daardie ongewenste elemente wat durf dink dat die estetiese en die sosiaal-bewuste kop in een mus is. Ek reverse terug in die gesprek in.

“So jy sien jouself as ’n digter?” vis ek. “Wel, seker nie in die klassieke sin van die woord nie, maar ek wil nog die Afrikaanse classics bestudeer en die vorms verstaan voor ek die reëls probeer breek. Met die dat ek Afrikaans Tweede Taal op skool gehad het, het ek nie rêrig die geleentheid gekry om my in die Afrikaanse poësie te verdiep nie.” Ek wil vir hom sê dat hy nie veel gemis het nie, dat die potensiaal van poësie jaarliks in kinders se koppe sterf omdat onderwysers nie ordentlik opgelei word om die wêreld van woorde vir hulle oop te sluit nie. Maar Jaco stoom voort met sy storie en ons hang aan sy lippe. ’n Mens kan hoor hoekom hy ’n goeie rapper is.

Hy vertel ons van sy papierdigter-invloede: Die Senior Verseboek van DJ Opperman, T.T. Cloete se gids en hoe hy homself opvoed, sy voorliefde vir ouer stemme soos Jan F.E. Cilliers en ouwêreldse tydgenote soos Tom Gouws en T.T. Cloete. Toast Coetzer en Andries Bezuidenhout kielie egter ook sy klankreseptors. “Maar eintlik moet jy hierdie oor ’n email vir my vra,” spot hy, “dan kan ek mense google en slim klink.” Hy lag en sy bokbaardjie spring op en af.

Nou’s dit weer Adrian se beurt: “What do you think is the role of socially conscious rap in South Africa, what can rap do?” Jaco antwoord deur weer na die kinders by sy skool te verwys. “Hulle is ’n goeie maatstaf as mens wil weet wat in ons samelewing op die oomblik aangaan,” sê hy. Hulle selfone is hulle harte, en house, R&B en veral hip-hop laat hulle harte klop. “In elke sektor van ons society gaan jy hip-hop vind: onder die rykes, die armes, die wittes, die swartes.” Maar ongelukkig luister amper almal in sy klas en in die land na kommersiële rap oor bitches, ho’s, niggers en karre. Adrian mompel iets oor Drake en Jaco giggel. “Ja-nee, toe ek jonk was, het ek ouens soos Drake gehaat en elkeen van my lirieke het daaroor gegaan om hulle te dis, maar ek het stelselmatig besef dat dit niks gaan help nie. Vir sulke ouens is musiek ’n besigheid. En hulle is bleddie goeie sakemanne.”

“Alhoewel behoorlike rap altyd underground sal bly, is die street poets ons social commentary, ons spieëlbeeld. As mense oor ’n duisend jaar ons samelewing wil verstaan, sal ek net vir hulle Die Antwoord se CD in die hand stop.” Ek en Adrian kyk vir mekaar. Dis ’n interessante keuse. Hoekom nie Tumi Molekane of Jitsvinger nie? Ons het hoeka nou die dag oor die Die Antwoord se problematiese appropriasie van coloured-kultuur gesels. Ons stem al drie egter kopknikkend saam dat conscious rap die stereostem is wat ons vertel wie en hoe ons is.

“Watter emcees in Suid-Afrika rate jy?” vra ek. My gunsteling rapper is die eerste naam wat oor Jaco se lippe klink: Tumi Molekane. “Hy’s nie net die beste in die land nie, maar ook in Afrika,” reken hy. Hulle twee is goeie vriende en het op Bittereinder se eerste album saamgewerk aan die snit “A tale of three cities”, waar Jaco, Tumi en Jack Parow onderskeidelik oor Pretoria, Johannesburg en Kaapstad rap. Jaco raak saam met my en Adrian liries oor Tumi se flow, sy inhoud, sy konsepte, die soomlose integrasie van musiek en woorde. En dan spring sy kop na ander woordkunstenaars: Hemelbesem, Zubs, Brasse van die Kaap en ProVerb se vroeëre werk, “ten spyte van die feit dat hy later ’n Idols-aanbieder geword het”.

Adrian vra vir Jaco oor die snit “Penwor(s)tel” op die album: “You’re addressing issues on that track that a lot of people don’t deal with. What sparked the verse? Did the track get any opposition, were some people unhappy about it? Because you’re saying a lot of real shit on that thing.”

“Penwor(s)tel” is glo baie mense se gunstelingsnit op die CD. Aanhangers sê glo gereeld vir hom goed soos Ek’s so bly dat jy eerlik is en Jy sê dinge wat ons almal wil sê oor die snit. Jaco verduidelik die titel: “Die gedig gaan oor hoe ek met my pen oor my penwortel, my Afrikaner-roots, worstel. Dis my poging om te sê dat ek ’n heritage het van Afrikaans-wees, al hou ek nie noodwendig van wie en wat die Afrikaner geword het nie.”

Penwor(s)tel

[...]
ek het my oupa se name, hy was ’n dominee
sy kerk gelos, nie met apartheid saamgestem nie
en in my hart is hy ’n held, op sy eie manier
’n pad gekies van weerstand sonder geweld
en ek het rede om trots te wees, verstaan my nou mooi
maar as ek partykeer na my mense kyk wil ek dit alles net weggooi
wat het ons geword? ’n horde verneukers|
wat kla en alles blameer behalwe onsself
miskien is die skuld regtig al te diep ingedelf,
en ek weet ek is dieselfde
’n skynheilige stem wat saamswem in die modder
maar goeie donner ek sien nie meer een positiewe gedagte hier onder nie
[...]

as jy haat tussen die lyne hoor dan luister jy nie reg nie
dis ’n stryd vir identiteit, nie ’n letterlike geveg nie
ek praat van harte wat foute en mislukkings kan insluk
en selfs as die einde bitter lyk, gaan ek omdraai of deurdruk?

“Hoeveel tyd het ons?” vra hy vir Peach. “So vyf minute,” kom die antwoord. Jaco draai terug na ons toe: “My lewenspad is hier,” sê hy en haal vir Antjie Krog aan: “nêrens kan ons so stil slaap / as in die oop hand van hierdie land” (uit die bundel Beminde Antarktika, 1975). “Ek het al baie rondgereis en baie mense ontmoet, maar ek voel nêrens anders tuis nie. Selfs met al die tsotsi’s, die rassiste en die polisie, weet ek steeds ek is by die huis as ek deur die strate van hierdie land se stede ry.”

Posted in Blogs | Tagged , , ,

Comments

Henré says:

Definitief my gunsteling groep in SA.