Reports

Die begin en die einde van die roman

GELEENTHEID: Andre P. Brink, Etienne van Heerden en Ingrid Winterbach: Die begin en einde van die roman (Friday, 23 September, The Fugard Studio)

BARBARA BURGER

Drie formidabele skrywers in gesprek met Louise Viljoen, insluitende voorlesings uit hul werke.

Op 23 September het drie van die grootste Afrikaanse romanskrywers bymekaar gekom om die begin en die einde van die roman te bespreek. Etienne van Heerden, André P. Brink en Ingrid Winterbach het, soos die gesprekleier Louise Viljoen, uitgewys het, al “onbehoorlike hoeveelhede” literêre pryse gewen. André Brink het al soveel romans geskryf dat hy nie eers almal se name kan onthou nie, soos wat duidelik geword het toe hy na Louise Viljoen moes kyk vir die titel van Sandkastele.

Die toeskouer wat verwag het dat hierdie ’n gesprek sou wees oor die bedreiging wat tegnologie vir skrywers se loopbane is, sal vergewe word. Daar is egter ook heelwat aandag gegee aan die begin van die roman as genre. Brink beskou Don Quixote deur Cervantes, wat hy ook vertaal het, as die eerste moderne roman. Die kompleksiteit (van onder andere die vertelinstansie) van hierdie “eerste” roman is volgens hom nooit weer geëwenaar nie, nie eers in ’n meesterstuk soos Nabokov se Pale Fire nie.

Die saad vir ’n gesprek oor die einde van die romangenre is egter ook alreeds aan die begin van die bespreking geplant, toe Brink gespekuleer het oor hoekom die roman al vir so lank die “koning” van die literêre genres is (was?). Hy is van mening dit is omdat die roman, as gevolg van die moderne drukkuns, ’n massamedia is wat beskikbaar is vir almal en geskryf word vir en oor mense se alledaagse lewens.

Is dit wat die meerderheid mense vandag wil hê, ’n tydrowende deurstop van ’n roman om hulle in te verdiep? Etienne van Heerden argumenteer ja, hy dink dat die roman “skaamteloos” vir die leser se tyd vra, en dat dit soos ’n “kalm poel in ons tyd van kollektiewe aandag-afleibaarheid is”.

Ingrid Winterbach het hierop geantwoord dat dit miskien die skrywer se wens is dat lesers baie tyd aan haar romans bestee, maar dat die waarheid is dat lesers vinnig van een roman na die volgende aanbeweeg. In hierdie “weggooibaarheid” van romans, sowel as in die ontsnapping wat hulle bied, lê romans se voortdurende relevansie. Die deel van die gesprek wat gehandel het oor die moontlike einde van die roman is afgesluit met Winterbach wat bevestig dat sy glo dat daar nog baie energie in die roman lê, en dat romans nog lank geskep gaan word, want “daar is vandag amper meer skrywers as lesers”.

Hierna het die gesprek aanbeweeg na die skryf van die beginne en die eindes van romans. Al die skrywers het saamgestem dat die skryf aan ’n roman nie noodwendig begin met die fisiese skryf van die eerste sin nie. Van Heerden het vertel van Olive Schneider wat blykbaar op die plaas rondgeloop het en tonele uit die boeke vir haarself opgevoer het, voordat sy begin skryf het. Van Heerden is ook van die opinie dat ’n oordrewe fokus (in onder andere kreatiewe skryfwerk klasse die wêreld oor) op die eerste sin van ’n roman wat die leser moet intrek “kras en kommersieel” kan wees. Hy sou liewers verkies het om die slot van ’n roman eerste te skryf, omdat dit die skrywer deur die skryf van die res van ’n roman dan soos ’n magneet aantrek.

Hy het later hierdie stelling verfyn deur te sê dat dit soms liewers die roman self is wat die skrywer voortstoot na ’n onbekende einde toe, maar ook dat die einde van die roman net so arbitrêr soos die begin is, en dat die skryf daarvan ’n intellektuele oefening is. Van Heerden beskou ’n roman as ’n argument, en die slot daarvan moet die leser finaal oorreed. Die tweede laaste hoofstuk van 30 Nagte in Amsterdam sou eers die laaste een gewees het, maar Van Heerden het besluit dat dit nie ’n sterk genoeg slot is nie. Hy het daarna die laaste hoofstuk geskryf, waarin (om nie te veel van die storielyn weg te gee nie), Tante Xan en Henk om die askol van ’n verbrande lyk op allerlei verskillende maniere dans, omdat hy dink dat dit meer sê oor wat dit beteken om in Afrika te lewe.

André P. Brink het vervolgens verduidelik dat sy romans begin wanneer hy in die bad lê, dat die verhale klaarblyklik uit die vrugwater gebore word. Waar Van Heerden klem lê op die intellektuele werk wat ingaan in die skryf van ’n slot, beweer Brink dat dit vir hom meer ’n kwessie van inspirasie is, dat hy self partykeer verbaas word deur sy romans se eindes.

Ingrid Winterbach het gesê dat om te begin werk aan ’n roman vir haar laat voel soos ’n hoender wat op ’n werf skrop, dat sy nooit weet wat later gaan uitwerk en wat nie. Dit is ’n kwessie van toeval en lukrake goed kan tot ’n roman lei – soos wat haar liefde vir skulpe aanleiding gegee het tot Die Boek van Toeval en Toeverlaat en haar belangstelling in ou woorde tot Niggie. Die begin van ’n roman behels ook die beantwoording van praktiese vrae, soos of haar protagonis manlik of vroulike gaan wees en waar die roman gaan afspeel.

Oor die eindes van haar romans het Winterbach gesê dat haar romans “multi-orgasmies” is omdat hulle nooit net een klimaks het nie, waarop Brink geantwoord het dat hy “nou lus is om te skryf”.

Die gesprek is afgesluit met ’n blik op die toekoms van een spesifieke roman, naamlik die een waaraan Brink tans werk. Die roman is gebaseer op die werklike lewe van ’n slawemeisie op ’n plaas tussen Stellenbosch en Franschoek wat aan een van Brink se voorvaders behoort het. Brink het ’n uittreksel voorgelees waarin die baas van die plaas, Cornelis Brink, se liggaam en die inhoud van sy plaashuis in groteske detail beskryf word, “met elke sonde en skande uitgestal”.

Comments