Augustus is die wreedste maand – vir die digteres en die gesneuweldes by Marikana
(Why not sneeze Rose Selavy – Marcel Duchamp)
Hoekom nie nies nie, Jacqueline?
versuiker jou marmer, bevroed jou taal,
bewimpel jou kooi met die melodiese lanfer
van selfondervraging, watter kwaad kan dit doen?
Die peerbome bloei in die ouboord,
die grond ruik indringend na dou,
ontboesem die aandrang, Jacqueline, nou!
So ’n klein spasma verdoof, bied verligting,
jy geniet momenteel van jou wese
soos die toneelmakervoël van sy fraai baldakyne
tydens die val van Baghdad
en ander deurlopende wêreldrampe.
In jóú noorde, vlak voor die silwer vliegwiel
van Marikana, lek die AmaMpondo
die lem van sy spies met ’n pienk retoriese tong,
sy kierie gegooi teen paniese spervuur bot in die stof,
’n geskiedenis van uitbuiting, misbruik, rebellie
van dié wat in die aarde moet grou. Dit is lente,
wit, groen, rooi die hemde van lyke onder Wonderkop,
God seën Afrika sing. Die mynbaas lê opgekalfater
met die fantoom van ’n rotsboor in sy murg,
hy verskoon hom die gesig in ’n hospitaal van sielsontwyking.
Alles is soos dit is en die wederkeer ewig,
die mag totem-agtig, die onmag murf.
So, waarom nie dig nie, Jacqueline? Dit is lewe –
in jou allesvermoedende medepligtige water
lig ritmies jou vers haar voetjies en vuisies
in die biomimiek van opstand, aanval, ontlading.
Waenhuiskrans
Ons staar na wolk- en waterprente bo die Agulhasrif,
na bladsy op bladsy visuele meteorologie van winter aan see.
Sferiese speling, spektrumbreking blou na rooi, reënboogbrokke,
haelbuie, springgetye maak ons tot wiggelaars, voorspellers,
harlekyne op toue met stokke, wiele, balle aan duime,
tuimelend na inleg, uitleg, verhaal. A! roep ons, O! kyk daar:
wrakke spruit uit duinerye, skipbreukelinge kruip
katoen in die mond oor die strand om ’n historiese dagboek
met hul lotgevalle te inskribeer, ’n breekspul op see
word dienooreenkomstig ’n kerkdak inlandig,
word ’n kersroos aan die kruismas in Elim,
beiering, sterftes, ’n snode geskiedenis van strewes en rampe
beheer ons gesig, stom dui ons tekens, raadpleeg voorsate,
kodekse, verklarings, volsinne, konkordanse,
woorduitleg, etimologieë, genetiese spore –
hoe lank eer ons ’n voorbeeld neem aan vervlieting
soos van hierdie baai wat haar van sug tot sug aan sand verspil,
wat van haar kleur nie die geringste tussentint weerhou,
’n lug wat sigself geen jota oordadigheid ontsê,
maar dan, sonder hang na sin, sonder die wil
tot ’n chronologie wat meer met mekaar verbind as ruising
aan stilte, as wolke aan wind, as grasie
aan ontroosbaar terugwaaiende sout skuim.