Blogs

Vyf-en-veertig skemeraandsange: “die misterie van woordverval”

Ingrid Woudstra in gesprek met Breyten Breytenbach by Spier se onlangse Dansende Digtersfees.

DIOW-657

foto: Retha Ferguson

Breyten, hartlik geluk met die publikasie van jou nuwe bundel, vyf-en-veertig skemeraandsange. Dit is beslis ʼn merkwaardige toevoeging tot jou eie werk en tot die Afrikaanse letterkunde.

Dui die “skemeraand” in die bundeltitel op afskeid en/of finaliteit en kan dit as ʼn soort klaaglied geïmpliseer word? In verse soos “die zar partituut”, “12.3” en “19.1” kom woorde soos “rou”, “treur” en “treurige lied” voor wat aanleiding gee tot hierdie vermoede van die klaaglied. Wil jy dalk help om die titel beter te begryp?

Klaagsange is dit seker merendeels – soos “skemeraand” reeds suggereer (dis dalk die langskadu tyd van die dag wanneer die voël die lig se kwyning besing). Die lamentoso moet egter nie te letterlik of somber opgeneem word nie. In Griekse tragedies is die klaagsang dikwels ʼn refrein, ʼn stylfiguur. Wanneer die hond vir die maan huil, treur hy regtig?

As leser kon ek uit die gedeelte “uit die eenbeendanser se werkruimte” aflei dat die bundel waarskynlik deels gaan om die alleenproses van die skryfhandeling. Waarom juis die “danser”? Is daar dalk ʼn verband tussen die “danser” en hierdie digtersfees? In die bundel is daar byvoorbeeld verwysings na “die dans van ons liefde” (p.15), “breytenbreytenbach / Stotterstok tot en met die tok-tok eenbeendanser” (p.22), “die dansende spieël” (p.28), “die afskeidsdans” (p.57), “die donker dans” (p.62) en “gedanste tyd” (p.65).

Daar is ʼn ou en nou verwikkeldheid tussen “dans” en skrywe. Dans kan ʼn beswering wees, of passies uitspel met die onvermydelike, of om die vyand uit te daag (gija), of om die Anderling te betrek, of om in ʼn staat van verhoogde bewussyn te beweeg. Dink Soefiet. Dink ook sommer “ruimte” en “ritme” en “breuk” en “siklus” – dan is jy reeds by die motiewe van dans wat deur alle tye en gebruike gevleg is.

Het jy as digter ʼn ideale werkruimte?

Nee, daar is net te veel uiteenlopende wyses waarop ʼn gedig gebeur, waar jy gestimuleer word deur die impuls van ʼn ontmoeting, ʼn plek, ʼn slak, ʼn boeket woorde. Eintlik is dit maar baie soos asemhaal: jy kan dit seker op enige plek doen, maar dit hang ook af van die fase. Die herskrywe en die uitsorteer gebeur gewoonlik waar dit stil is en waar jy veilig voel.

Reeds met die eerste oogopslag val die pragtige omslag die leser op. Jou eie kunswerke vergesel dikwels jou bundels. Wil jy dalk vir ons ʼn bietjie meer vertel oor die wisselwerking tussen die dig- en skilderkuns as skeppingsvorme? Verkies jy moontlik die een kunsvorm bo die ander?

Ek (en ander) het al tot vervelens toe hieroor besin en geskrywe, en eintlik maar net die vanselfsprekende gesê. Ons baat egter daarby wanneer ons attribute wat die een vorm van uiting kenmerk (soos “narratief” en “perspektief” en “vertellersinvalshoek” by die skrywe, of “tekstuur” en “kleur” en “patrone” soos by skilder) oordra na die ander een. Ek hou daarvan dat die produk ʼn eenheid toon. Verkieslik sou dit beter wees as iemand anders daardie hegting tussen skyn en inhoud kan bewerkstellig, maar ek soek nog na daardie persoon. Ek hou ook daarvan dat die produk ʼn estetiese stelling maak en dat dit duidelik met die hand vervaardig is. En ja, ek verkies beslis visuele vormgewing bo die dans met woorde en begrippe.

In die vers “(16 September 2012)” word daar verwys na die oggend-mantra en ʼn afbeelding kan ook voor in die bundel gesien word. Sal jy asseblief ʼn bietjie meer hieroor uitbrei? Hoe vorm dit ʼn deel van jou werk?

Die tantra kom al vanaf Lotus saam in elke bundel. Ek is baie bygelowig. My verstand is eintlik donker. Gaan tel gerus die aantal letters in die titel. En die tantra vergestalt vir my ook ʼn labirint.

Hoe benader jy die digproses as “woordsifter”? Wys of bespreek jy soms verse met iemand tydens die vormingsproses?

“Sif” in die sin dat jy water uit die vywer skep met die hoop dat die maan dan in die sif sal lê en spartel. Ek stuur soms van die werk, wat later blyk nog nie afgewerk was nie, aan enkele vriende. Seker om hulle te straf. Maar dinge gaan dood aan te veel blootstelling; in werklikheid is dit nooit afgewerk nie en dis ook maar beter so.

Buiten die “bevryding van die woord” en “die onbeperking van lettergrepe” (p.27), voel jy soms dat daar tydens die digproses wel beperkinge of grense is wat die weergee van ʼn bepaalde boodskap aan die leser moeilik maak? Ek dink byvoorbeeld aan die woord “stil” in verse soos “(die hand se oggendbewegings)” (p.36-38), “en jasmyn in die nag” (p.54) en “24.5” (p.64). Hoe hanteer jy hierdie woord sonder om dit met woorde te versteur?

Verkieslik sal die gedig ʼn dans van stilte moes wees. Toe Boeddha die blom vir Mahakasjapa gegee het, is dit met ʼn glimlag ontvang – en niks meer nie. ʼn Mens dra nooit die volheid (of die absolute leegheid) oor nie. In dié sin kan daar geen “vertaling” wees nie. In ruil daarvoor word jy egter opgevreet deur die lewende goggas wat taal is.

Metapoësie is opvallend in vyf-en-veertig skemeraandsange. Die verse word soms ast’ ware die digter self en dit kan ook lei tot ʼn tipe spel met perspektief. Ek dink byvoorbeeld aan die eerste vers, “ek het gedroom”, wat in die bundel voorkom: “ek is die gedig waarvan jy droom / om na die lig te haal / maar ek is ook die donkerte wat jy jou blind teen staar / die lewe leef / net in die opening van die teks / en verbeelding, die verbeelde ding / waarvan jy toemond sing” (p.9). Beskou jy die skryfproses en jou verse as ʼn onlosmaaklike deel van jou of glo jy daaraan dat die digter moet poog om afstand van sy/haar eie werk te doen?

ʼn Mens skryf altyd “om afstand te doen”. En so hou jy waarskynlik aan, totdat daar geen lewe meer is om van afstand te doen nie. Met ander woorde, die skryfproses is ʼn onlosmaaklike deel van die joue en die ekke, van die heinings en die hekke en die horries.

Beskou jy jou onlangse bundel as ʼn “laatwerk”? Dus, as ʼn terugblik op die verlede. Indien wel, hoe ervaar jy as gevestigde digter jou digterlike bestaan wanneer jy terugdink aan jaarlange digterskap?

“Laatwerk” is ʼn baie onnoukeurige konstruk. En ʼn bedenklike en ondeurdagte modeverskynsel. As ek egter terugkyk op wat die swendelaars, fopkunstenaars, glyjakkalse en ander breytenbreytenbachs so sedig voortgebring het, is dit dikwels met ʼn vrank smaak en darem ook verbaas oor die soetkoek wat opgedis is.

Ek wil graag stilstaan by die liefdestema in jou werk. Dit is soms moeilik om liefdesverse te skryf, weens gevoelswaarde wat aan die woord “liefde” gekoppel word. Mense se gevoelens en hul ervarings van hierdie gevoelens verskil. Digters kan ook die gevaar loop dat liefdesverse as clichés en/of mooiskrywery voorkom. Hoe ervaar jy die skryf van ʼn liefdesvers? Is dit vir jou ʼn natuurlike proses?

Die liefdesvers het die voordeel dat dit (byna) altyd aan ʼn spesifieke persoon gerig word. Die werk is gefokus en meer gelaai as die blote verliefdheid op omgang met taal. Dis ook meer onselfsugtig. Afgesien daarvan, glo ek, kan jy alles in ʼn liefdesvers aanraak en sê, behalwe nou die geliefde.

Die spieël is ʼn gesogte beeld en motief in jou vorige werke en ook in hierdie bundel. Hoekom? Is daar dalk woordspel met die “weerspieëling” van iets?

“Spieël kyk na spieëlbeeld in die spieël en sê: Jy ook hier?”

Die Toskaanse ruimte is opvallend in vyf-en-veertig skemeraandsange. Waarom juis Toskane?

Omdat ons vorige jaar daar op besoek was en toe nogal taamlik op Dante se spore geloop het. Ek het daaroor verslag gelewer op Versindaba. Ek hou baie van die begrip stadstate; die onafhanklikheid daarvan. En die sipresse is donker en regop daar en die wyn is goed – net soos in Katalonië.

Ten slotte, wat is die een of dalk twee belangrikste tekste wat jy as interteks(te) gebruik het in hierdie bundel? Hoekom hierdie spesifieke tekste? 

Jy bedoel die aanhalings? Ek maak nie van intertekste gebruik nie, behalwe in ʼn enkele geval soos met die nadig van ʼn Auden Septembervers. Digwerk is nie vir my ʼn intellektuele bedryf nie al is sommige woorde ook blerrie slim. Niks word weggesteek nie en jy het geen sleutel nodig nie. Maar aan die ander kant weet mens al hoe meer dat jy in gesprek is met soveel stemme van vroeër en miskien ook met enkeles van hierna. Hoe ouer jy word hoe meer besef jy dat niks enig en anders is nie – so daar is baie kopknikke na bekende of prikkelende gedagtes van die ander bome in die bos. Wat op papier kom is dikwels ook die neerslag van leeswerk waarmee jy besig is. Iemand wat vir my ʼn belangrike verwysing (alhoewel byna onbruikbaar) is, is Dogen. Hy word algemeen gesien as die stigter van die Soto Zen tradisie.

Posted in Blogs | Tagged , ,

Comments