Reviews

Nederlandse vinger in olierige Weskus-pie

Tikkop deur Adriaan van Dis. Vertaal deur Daniel Hugo. Protea, 2011.

ECKHARD CLOETE

’n Roman oor twee wit mans (een Afrikaans, een Nederlands) wat ’n tikverslaafde tiener in ’n vissersdorpie aan die Weskus probeer rehabiliteer? You gotta be kidding. Of jy moet hare op jou tande hê. Want dis die tipe storie wat ’n hele bleddie can of worms kan oopmaak – polities inkorrekte wurms wat jou hande lekker laat stink nadat jy dit aan jou koloniale onderrok afgevee het.

Adriaan van Dis is egter die tipe skrywer wat diepkant in hierdie soort verhaal kan inspring én ’n manier kan vind om die vuisvoos leser aan die ander kant saam met hom uit te trek. Van Dis het al voorheen bewys dat hy nie bang is vir gewigtige onderwerpe nie. In Indische Duinen (1994, ongelukkig nog nie vertaal in Afrikaans nie) word die komplekse familieverhoudinge van ’n Nederlands-Indiese gesin wat deur die Tweede Wêreldoorlog uitmekaar geruk word, op ’n aangrypende wyse ondersoek.

Tikkop is egter, soos Van Dis se ander boek oor Suid-Afrika (Het beloofde land: een reis door de Karoo, 1990), vanuit die perspektief van die buitestander geskryf, en dis miskien juis hierdie gegewe wat Van Dis ’n dompas gee om hier in die opdrifsels van die nuwe Suid-Afrika te kom rondkrap.

’n Wit Suid-Afrikaner sou hierdie taak kwalik kon verrig sonder ’n selfbewustheid oor sy eie bevoorregting en die skaduwee van apartheid. Die feit dat die hoofkarakter en fokalisator Mulder (of Marten, die skuilnaam wat hy as ondergrondse anti-apartheidsaktivis aangeneem het) ’n Nederlander is wat betrokke was by die struggle, en dat hy besig is om te herstel van ’n beroerte wat sy geheue aangetas het, gee hom die gaping om die stand van sake op ’n sober en objektiewe (aldus eurosentriese) afstand te aanskou.

Dis egter opvallend (en verontrustend) hoe maklik dit vir my as wit, middelklas-leser is om met die karakter van Mulder/Marten te identifiseer. Hoe bekend voel die volgende sentiment nie:

Die nuwe Suid-Afrika is ’n byt in sy kuit, kruip agter hoë mure weg, duik verbode skulpe uit, hoereer en snuif en rook hom dom. ’n Lieflike toekoms. (p. 52)

Die toneel aan die begin van die boek waar Mulder niksvermoedend in die “slordige” deel van die dorp verdwaal en deur ’n klomp kinders bekruip en met klippe gegooi word voordat hy deur hul vet worshond aan die kuit gebyt word, is angswekkend en onheilspellend. Dis ’n stuk virtuose prosa en ’n prelude tot die toenemende geweld waarmee Mulder se Suid-Afrikaanse vriend, Donald, gekonfronteer word in sy poging om die korrupsie van die dorpie aan die kaak te stel.

In wese is Tikkop dus ’n bepeinsing oor die stand van Suid-Afrika vandag. Die naamlose vissersdorpie aan die Weskus word die mikrokosmos waarbinne die korrupsie, wanhoop en geweld wat kenmerkend van ons land geword het, ondersoek word. Die bruin, tikverslaafde tienerseun, Hendrik, word die simbool van hoop waarop Mulder en Donald hul aandag vestig. Hierdie skynbaar altruïstiese en brawe daad word egter al hoe meer problematies namate die teenkanting van die gemeenskap en die psigologiese kompleksiteit van die rehabilitasieproses duidelik word.

Ook die verhouding tussen die twee mans gaan gebuk onder konflik. Hul verhouding is van die begin besoedel deur hul struggle-verlede (daar is ook ’n vrou ook tussenin) en hul teenstrydige benadering tot die rehabilitasie van Hendrik sorg vir ’n interne spanning wat op die spits gedryf word deur die toenemende isolasie van die twee mans wat teen ’n al hoe groter wordende golf probeer staande bly. Die volgehoue diskoers tussen Mulder en Donald oor die houding wat ’n mens teenoor die ellende en onkunde van Afrika moet inneem, en die subtiele sketsing van Mulder se idealisme teenoor Donald se tipiese Afrikaner-hardkoppigheid, maar ook sy weerloosheid, is die sentrale spil waar rondom die res van storie geweef word.

Aan die einde van sy reis keer Mulder, soos Marlow in Heart of Darkness, terug na Europa. Donald besluit om tog agter te bly, ten spyte van sy mislukte ingryping in die vissersdorp se ellende. Maar dis Mulder se indrukke waarmee die leser gelaat word. En dis hier waar die leser bewus word van Mulder se onsekerheid, en miskien ook van Van Dis se intellektuele en morele posisie. Dis asof Mulder begin rondtas na ’n moreel-geregverdigde gevolgtrekking, maar ook een wat nie sy eie integriteit prysgee deur ’n dowe oor na die ontnugtering van die nuwe Suid-Afrika te draai nie.

’n Brief aan ’n onbekende gevange word aan die einde van die boek ingebring om miskien juis vir Mulder die kans te gee om sy gedagtes op ’n meer poëtiese en amper naïewe manier te verwoord en saam te vat. Vir my het hierdie tegniek geforseerd en truukmatig oorgekom, asof die skrywer hier gou vir homself die mikrofoon wou gee om ’n paar gevleuelde woorde te spreek.

Die laaste twee tonele som in elk geval reeds die innerlike worsteling van Mulder goed genoeg op. Eers kom hy tot die gevolgtrekking dat “sinisme ’n luukse is” en “verbied homself om verder moreel verontwaardig te wees. Jy moet mense aanvaar soos hulle is en met verbasing na hulle kyk. Afstand hou, uit liefde. Nie jou waardes op ander afdwing nie […] Om in ’n leunstoel na die gewoel op straat te kyk […] Die wêreld soos wat hy is. Onregverdig. Soms mooi.” (p. 177)

Maar dan, in die slottoneel, ná ’n gesprek met ’n Nederlander wat “werklik bang is dat die swartes nou regtig hier gaan oorneem”, kan Mulder nie anders nie as om tog sy hand in ’n vuis te bal en hom met die wêreld te bemoei nie.

Daniel Hugo se vertaling is knap en laat reg geskied aan Van Dis se sensitiewe prosa. Op p. 63 byvoorbeeld ’n toneel waar twee bobbejane op ’n muur met mekaar se sterte speel:

Die skadu speel met die sterte, die boude verskuif op soek na ’n warme sitplek. Die sterte swiep boontoe. Twee lewende, warm kwaste verf die muur. En ná die betasting die ontlasting. Liefdeskrulle van donker kaneel.
Mulder sien hoe hulle haartjies tril en begin homself te aai.

Tikkop is ’n belangrike roman en ’n mens is dankbaar vir Protea se voortgesette vertalings van Nederlandse werke. Postkolonialiste sal waarskynlik ’n field day met Tikkop hê, want die representasie van die Ander bly maar ’n tameletjie. Juis daarom is dit ’n boek waarby alle Suid-Afrikaners kan baatvind, al is dit dan nou geskryf deur ’n bleeding liberal kaaskop.

Eckhard Cloete is ’n kopieskrywer by Haas Collective in die Bo-Kaap, maar probeer soveel as moontlik tyd op die tennisbaan deurbring. Hy hou van goeie koffie, mosbeskuit, matzo’s en meisies met persoonlikheid. Hy het twee honneursgrade, en van sy skryfsels is opgeneem in Nuwe Stemme 3, Groot Verseboek, Tydskryf vir Letterkunde en New Contrast.

Comments