Reports

Oor wit wees in Afrika

Boekbekendstelling van Roelof Petrus van Wyk se Jong Afrikaner: A Self-Portrait, 26 Julie 2012, Commune 1, Kaapstad.

ANNEKE RAUTENBACH

Roelof Petrus van Wyk

Die laaste ding wat hy wil hê, is dat sy Jong Afrikaner-portrette net deur die subjekte van sy foto’s gesien moet word: jong, stedelike, kreatiewe, wit Afrikaners. Só het fotograaf Roelof Petrus van Wyk by die bekendstelling van sy boek, Jong Afrikaner, wat op sy fotografie-tentoonstelling met dieselfde titel gegrond is, gesê. Die soort mense wat in ’n kunsgalery – die verlepte gebou waar die über-trendy Commune 1 op Waalstraat gehuisves word – uithang, is nie vir wie die kunswerk of boek eintlik bedoel is nie. Hy wil eerder hê dat dit by ’n wyer gehoor uitkom – die konserwatiewe Afrikaners wat juis nié kunsgalerye besoek nie, mense van ander rasse, agtergronde en stede.

Dit is uit die staanspoor duidelik dat die uitstalling vir ’n wyer gehoor bedoel is, aangesien die inligtingsblaadjie wat ’n mens saam met jou glas wyn by die ingang kry – die enigste inligting by die tentoonstelling self – in Engels geskryf is. Die dubbelblad-artikels wat in die Sunday Times Lifestyle en Rapport se My Tyd-tydskrif verskyn het, is gelamineer en word op ’n ou kas uitgestal – die Sunday Times-artikel met die gewaagde titel, “Shoot the Boer”. Van Wyk het seker gemaak dat sy omstrede reeks oor wit Afrikaner-identiteit soveel publisiteit as moontlik kry – sy doel is dat dit uiteindelik in die Apartheidsmuseum in Soweto opeindig.

Jong Afrikaner: A Self-Portrait is ’n reeks fotografiese portrette van jong, dinamiese en kreatiewe Afrikaners, elkeen persoonlik bekend aan die kunstenaar; hy het dit so bedoel, sê hy. Die foto’s word in ’n weelderige hardeband-koffietafelboekformaat aangebied, gedruk deur Fourthwall Books, met ’n epiese gedig (of eerder ’n pantomime) deur musikologie-professor Stephanus Muller, getiteld Betoog oor die epiese soektog na die beminde van die siel in die vernielde wingerd, as proloog.

Roelof Petrus van Wyk

Dié teks, op fyn Bybelpapier gedruk, word as ’n insetsel aangebied, en verskyn op kleiner blaaie voor die foto’s. Die kop-en-skouer foto’s van die semi-naakte subjekte teen ’n swart agtergrond, herinner aan ’n kruis tussen die “mugshot”, die antropologiese portret, en wat van Wyk “Ouma en Oupa se portrette” noem – ou familiefoto’s wat gewoonlik ook teen ’n swart agtergrond geneem is.

Die bekendstelling begin met ’n verwelkoming deur Van Wyk se agent, Bronwyn Law-Viljoen. Muller lees sy pantomime in ’n effense monotoon voor. Volgens hom is dit bedoel om as ’n tekstuele reaksie op die foto’s en die boek te dien, in Engels en Nederlands deur die bekroonde skrywer Michiel Heyns en Riet de Jong onderskeidelik vertaal.

Die handeling geskied by ’n begrafnisdiens vir die skrywer van ’n boek met die titel Jong Afrikaner, terwyl ’n luide demonstrasie buite die kerk gehou word. Die omgewing en verskeidenheid van stemme en karakters suggereer iets van wat in die agterkop van die “jong Afrikaner” vandag aangaan – die kulterele agtergrond, die skerp kontras tussen die geskiedenis en die hede, en die botsende beginsels van Afrikaner-wees. Kortom, die oorgeërfde identiteitskrisis van liberale jong Afrikaners wat aan die einde van apartheid grootgeword het.

Roelof Petrus van Wyk

Hoekom Afrikaners? Hoekom identiteit? Hoekom ras? Só begin Law-Viljoen die uiteindelike gesprek. Van Wyk verduidelik dat sy fotografiese onderwerpe gewoonlik landskappe en geboue is. Nadat hy sy graad in argitektuur aan die Universiteit van Pretoria behaal het, het hy besluit dat hy eintlik eerder in mense belangstel, ook as onderwerpe vir sy foto’s – en wie is makliker om af te neem as ’n mens se eie vriende?

Dit is dan ook hoe hy op hierdie “goudmyn” van stof vir sy kuns afgekom het – hy het besef dat die afneem van sy vriende in der waarheid die neem van ’n soort kulturele self-portret is. Hulle almal worstel met dieselfde pitsweer van identitiet: “Wie ons is, wat ons dryf.” Die media se uitbeelding van “Afrikaners” as ’n homogene monokleurgroep (in teenstelling met ander groepe), is iets wat bevraagteken moet word, en die bevraagtekening sê iets van die tydsgees, verduidelik Van Wyk. Dit is juis nou dat Afrikaners begin praat oor Afrikaans-wees en begin rondspeel met hul identiteit.

Law-Viljoen verwys na die feit dat daar geen inligting by die foto’s is nie, nóg in die boek, óf by die kunswerke teen die mure. “Wat is die rede hiervoor?”, wil sy weet. “Dit is nie dokumentêre foto’s nie”, antwoord Van Wyk. Hulle boots eerder die dokumentêre styl, wat so gewild in Suid Afrika is, na. Hy wil nie hê mense se reaksies moet beïnvloed word deur hul eie vooroordele oor wat of wie die subjekte behoort te wees nie. Hy wil eerder hê dat hulle hulself in die suiwer skoonheid van die foto’s moet verloor en aandag moet gee aan die manier hoe hierdie skoonheid húlle affekteer – daar is ’n fassinasie met die idéé van skoonheid en die horror wat agter die skoonheid sit, die verhouding tussen begeerte en afgryse. Die foto’s het nie inligting nodig nie – “Hierdie is nie graad vyf geskiedenis nie,” spot hy. “Ons pas eerder ons eie geskiedenis toe” – en dit is hoekom dit vir hom ’n soort selfportret is.

Wanneer hy uitgevra word oor die skeptisisme waarmee mense deesdae die idee van “skoonheid” bejeën, verduidelik hy eenvoudig dat hy ’n kunstenaar is wat ook in die advertensiebedryf gewerk het. Hy het dus ’n oog vir skoonheid – die estetiese is een van vele maniere om mense se aandag te trek.

Die enigste swart man in die gehoor steek sy hand op. Hy verduidelik dat hy die reeks by ’n groepuitstalling gesien het, saam met die werk van ander fotograwe soos Jo Ratcliffe, Guy Tillim en David Goldblatt. Terwyl die ander se werk vir hom voorspelbaar was, het hierdie foto’s hom verras. Van Wyk het daarna gepraat oor die lang tradisie van Suid Afrikaanse dokumentêre fotografie, wat hy as hoofsaaklik “swart-en-wit foto’s van geweld” beskryf. “Hier is ’n uitstalling wat maak dat mense by ’n kamer vol foto’s van net wit gesigte instap en vra ‘nou wat de fok is dié?’. Dis ’n uitstalling oor wit-wees in Afrika – nie wit in teenstelling met ander kleure nie,” sê hy.

Van Wyk vertel ook hoe ’n Zoeloe-meisie vir hom gesê het dat die uitstalling haar inspireer om net so ’n reeks oor haar eie tribe te maak en oor wat dit beteken om ’n Zoeloe te wees. Dit is juis om hierdie rede dat Van Wyk sê sy foto’s moet in die openbare domein kom. “Kom ons vat hulle Kliptown toe. Kom ons sien wat die mense dáár dink.”

Comments