Reports

Lafras Verwey staan sy man op verhoog

Die Rebellie van Lafras Verwey deur Chris Barnard, 6 Maart 2012, US Woordfees, Stellenbosch

JUNETTE GERBER

Lafras Verwey is die verhaal van ʼn onbeholpe, middeljarige man met skisofrenie wat homself verset teen die onderdrukking van burokrasie en kapitalisme. Sy paranoia en sy oortuiging dat hy ʼn slagoffer is van ʼn sisteem wat “ouens soos hy net nie ʼn kans wil gee in die lewe nie” lei hom daartoe om deel te word van ʼn ondergrondse organisasie wat, so is hy oortuig, ʼn rewolusie gaan begin en dan vir elke persoon gelyke geleenthede gaan gee om sukses te behaal.

Dit is uit die staanspoor vir die kyker duidelik dat Verwey eintlik self verantwoordelik is vir sy werkersklas-bestaan. Op 48-jarige ouderdom is hy ongetroud en ongemotiveerd in sy werk en het hy nie enige vooruitsigte vir bevordering nie. Hy lewe in ʼn droomwêreld eerder as die werklikheid. In sy gereelde dagdrome beplan hy sy toekoms as ʼn beroemde komponis en dirigent, want hy is oortuig dat hy baie goeie musiek sal skryf as hy net eers geleer het om klavier te speel. Tot tyd en wyl maak hy verskonings waarom hy nie iets daadwerkliks probeer doen om sy lewe te verbeter nie en blameer hy ander vir sy sukkel-bestaan.

Daar is ’n tweede soort droomwêreld, of eerder nagmerrie-wêreld, waarin hy homself bevind, wat die kyker laat besef dat daar ʼn psigiese versteuring is wat bydra tot sy hulpeloosheid en onvermoë om ʼn houvas op sy eie lewe te kry. Hierdie verbeelsdingsvlugte is donkerder as sy gewone dagdrome, en fokus op sy obsessie oor die rewolusie en die toekoms waar hy nie magteloos is nie. Dit bring sy wraaksugtige en bitter kant na vore. Hy gee byvoorbeeld bevel vir denkbeeldige pelotonne soldate om te marsjeer ter voorbereiding vir die geweld wat hy glo nodig is vir die rewolusie om te slaag, en meer as een maal sien hy in sy gedagtes hoe mense wat hom verneder voor ʼn vuurpeleton tereggestel word.

Die storielyn draai om Verwey se ontmoeting met ʼn verwaarloosde swanger vrou en sy pogings om haar by te staan. Hy laat haar in sy huis slaap en bied aan dat hy vir haar sal sorg, en om haar te beskerm van die mense wat sy dink haar ongebore baba van haar wil wegneem. Die hoop op ʼn beter toekoms wat sy hom gee word ongelukkig bederf deur sy vernedering as gevolg van sy onbekwaamheid en ook deur probleme met sy planne vir rewolusie.

Die karakter van Verwey word oortuigend vertolk deur Carel Nel. Sy insig in die psige van Verwey is ʼn gawe aan enige gehoor, wat hulself eenvoudig kan verdiep in die fyn kuns van die toneelspel. Verwey is ʼn ingewikkelde karakter wat terselfdertyd simpatie maar ook teensin by ʼn gehoor wek. Hy is die soort persoon wat jy jammerte voor het, maar vir wie jy eintlik nie persoonlik wil ken nie. Nel het hierdie saad van ongemaklikheid meesterlik geplant en verder gekweek.

Die byspelers se gehalte van toneelspel was meer wispelturig. Die meeste van die byspelers het gemaklik die verhoog met Nel gedeel, maar daar was twee wat eenvoudig nie kon beslag lê op genoeg verhoogspasie om hul karakters te ondersteun nie. Dit was opmerklik selfs al het Nel goedgunstiglik vir hul ruimte gegee om hul stempel op die verhoog en in die gehoor se gemoedere af te druk. Die grootste verlies in hierdie verband is die emosionele afwesigheid van Petra, die swanger vrou wat Verwey probeer bystaan. Sy is die tweede belangrikste karakter en is die katalisator vir Verwey se emosionele beweging tot by die klimaks. Dit is wel moeilik om die interne wêreld van die Petra wat deur Barnard met dialoog geskep is vas te lê, maar die regie in hierdie verband kon sterker gewees het.

Die klankeffekte en veral die agtergrondmusiek is noodwendig ʼn belangrike komponent, aangesien die verhoogproduksie van ʼn hoorspel verwerk is, maar ook omdat Barnard musiek gebruik het om Verwey se gemoedstoestand uit te beeld. Die musiek wat in Verwey se kop draai is veral verteenwoordigend van die rewolusie en sy ywer na militêre aksie. Dit is ook die musiek wat hy die heeltyd in sy kop hoor en hom oortuig dat hy ʼn briljante komponis sou wees as hy net kon note skryf.

Die klankeffekte en ander spesiale effekte is deur die byspelers op die verhoog en gewoonlik in die gehoor se gesigsveld gedoen. Dit was op tye innoverend en ondersteunend aan die toneelspel of vir die uitbeelding van die gemoedstoestand van die hoofkarakter. Ongelukkig het dit op tye die aandag van die belangrike aksie op die verhoog afgetrek, deurdat dit soms te hard of oorbodig was.

Die verhoog-uitbeelding van die tye wanneer die skisofrenie Verwey in ʼn nagmerrie-wêreld opsweep teenoor die tye wat Verwey die werklikheid beleef het meestal gesteun op beligting. Dit is ietwat teleurstellend dat die verskil tussen die droom en die werklikheid so eksplisiet vir die gehoor uiteengesit is. Indien die gehoor toegelaat is om die verwarring en die oorvleueling van die werklikheid en die droomwêreld wat die psigiese versteuring veroorsaak saam met die hoofkarakter te beleef, sou Verwey dalk makliker na die tyd by ʼn mens kom spook het. In hierdie produksie word elke vraag vir ons beantwoord en elke los draadjie word vir ons geknoop. Jy keer terug na jou bestaan in die wêreld van burokrasie sonder om terug te dink aan Verwey en sy passie vir die ondergang van daardie wêreld.

Alles in ag genome, is dit ʼn hoogs geslaagde vertolking van Die Rebellie van Lafras Verwey. Dit is ʼn goeie keuse indien jy lus is vir ʼn eggo van vroeër jare se Afrikaanse kuns, waar ʼn groot inspanning van breinkrag nie nodig is nie maar waar die hoofkarakter as emosionele wese die storielyn dra. Maar uiteindelik is die hoofrede om hierdie produksie te kyk werklikwaar om die hoofakteur se uitstekende vertolking self te ervaar.

Comments