Reports

Dit gaan altyd oor die storie

Bekendstelling van Deon Meyer se 7 Dae, Saterdag 3 Desember 2011 by Protea Boekhuis, Stellenbosch.

JONATHAN AMID

Die gewilde misdaadskrywer, Deon Meyer, het onlangs by Protea Boekhuis op Stellenbosch met sy uitgewer en vriend, Etienne Bloemhof, gesels oor sy nuutste roman, 7 Dae, wat deur NB uitgegee is.

Deon Meyer by Protea Boekhuis

Die roman volg kort op die hakke van Trackers, die Engelse vertaling van Meyer se onlangse Spoor, wat glo soos soetkoek van winkelrakke afvlieg. Alhoewel Meyer gereken word as Suid Afrika se mees suksesvolle misdaadskrywer wat plaaslike en oorsese toekennings en verkope aanbetref, was JB Roux, in ’n onlangse resensie van 7 Dae in Die Burger van mening dat dit ʼn “goeie maar nie grootse” roman is nie, en dat daar “diepte skort” in Meyer se jongste werk. Daarteenoor het Piet Steyn se resensie, ook in Die Burger, 7 Dae as “misdaadfiksie op sy beste” bestempel. Joan Hambidge het vinnig vir Meyer in die bres getree deur in haar brief aan die koerant uit te roep: “Bennie Griessel is back!” Die boekpraatjie met Meyer en Bloemhof het dus die geleentheid gebied vir die skrywer om sy kant van die saak in dié debat te stel, en ook om uit te brei oor sy skryfproses.

Protea Boekhuis was stampvol. Dit was opvallend dat die gehoor van ongeveer 50 mense meestal uit senior burgers bestaan het, met ʼn groepie bekende skrywers soos Karin Brynard en Piet Steyn, Meyer se vrou Anita, en ʼn handjievol jonger lesers tussen 25 en 35.

Louis Esterhuizen, bestuurder van Protea Boekhuis, het 7 Dae as ʼn “geraaslose teks” bestempel, een wat “skoon en sterk” lees. Esterhuizen het die roman as ʼn “logiese lekkerleeservaring” beskryf.

Die gesprek tussen Bloemhof en Meyer het afgeskop met die uitgewer wat sy skrywer uitvra oor Meyer se toevlugsoord, Loxton, in die Karoo. Meyer se antwoord: die wegbreek na ʼn “oord van stilte” en die “afwesigheid van eksterne afleiding” is iets wat hom na aan die hart lê. Sy vriendskap met sy buurman in Loxton, oom Ben, hou hom nederig.

As iemand wat aan die “verkeerde kant van die treinspore van Klerksdorp” grootgeword het, is Meyer steeds versigtig vir die sosiale media en die manier waarop dit skrywers noop om self-promosie te doen. ʼn Mens kom vinnig agter dat Meyer se voete plat op die aarde bly ten spyte van sy sukses, en dat sy verhouding met sy vrou en kinders hom tot groter hoogtes inspireer.

Die daaropvolgende bespreking is gemik op Meyer die skrywer, en Bloemhof hou Meyer besig met vrae in verband met sy jongste werk en die karakter van inspekteur Bennie Griessel, ʼn kultusfiguur onder Meyer se lesers.

Bloemhof pols die skrywer oor die kiem van 7 Dae; die patroon van tydgedrewe storielyne (Dertien Uur en nou 7 Dae); sy kennis van sy karakters terwyl hy met hulle worstel; en wat hy dink gebeur met karakters as hulle van die spreekwoordelike verhoog wegstap.

Die skrywer verklaar sy geloof in die roman-vorm en die kreatiewe keuses wat dit toelaat. Hy noem ook dat hy altyd bedag is op die “show, don’t tell" reël, en dat hy poog om die spanning in sy werk so natuurlik moontlik op te bou sonder te veel foefies. Verskeie bronne van konflik bly sy invalshoek.

Elke boek is vir hom ʼn nuwe uitdaging. 7 Dae is volgens Meyer ʼn noodsaaklike terugkeer na die “veiligheid van meer konvensionele vorm en vertelling”. Dit in teenstelling met die vorige roman, Spoor, wat ’n “eksperiment in konstruksie” is, waar die leser op die intrapslag aan ʼn rits verskillende karakters bekendgestel word.

Volgens Meyer het hy 7 Dae baie vinnig aanmekaar gesit na die 18 maande van moeilike skryf met Spoor. Meyer sê hy wil “wegbeweeg van tydgedrewe narratiewe” met sy volgende poging, Koors. Hy wil terugkeer na die sterk polisieprosedure-gedrewe storielyn van sy vorige pogings soos Proteus, Feniks, Infanta en Orion.

Hy het hy die geleentheid verwelkom om tyd in die veld deur te bring saam met die Valke. Meyer bied die gehoor ʼn waardevolle blik op die werksetiek van die polisie se spesiale taakmagte soos die Valke wanneer hy praat oor die “ongelooflike werk” wat die land se speurders verrig. Hy noem dat hy al wêreldwyd polisie-taaksentrums besoek het, en tot die vermaak van die gehoor bieg hy dat televisie-programme soos CSI die werk van die polisie soveel moeiliker maak deur forensiese toerusting en navorsings-gevolgtrekkings op ʼn uiters onrealistiese manier voor te stel.

Hy gesels oor Etienne Le Roux se 7 Dae met die Silbersteins as interteks, en die gehoor lag toe Meyer noem dat hy dit geniet om met karakters en name te speel; hy is nie besig is met een of ander “postmodernistiese projek” nie. Oor die verhouding en kwinkslae tussen Bennie Griessel en Vaughan Cupido, erken hy dat die polisie werklik in hulle gekruide taal praat, en dat hy “altyd die storie sy karakters laat bepaal”, en nie andersom nie.

Meyer is uitdruklik gekant teen die nuwe media-wetsontwerpe, en benadruk dat dit 'n katastrofiese uitwerking kan hê op die inhoud en manier van skryf vir misdaadskrywers. Die hedendaagse skrywer, meen hy, moet hom met publieke vertonings en praatjies as ʼn vermaaklikheidster vestig. Skrywers kan nie sommer wegkruip van die publiek nie (ʼn mens dink hier onmiddellik aan die media-sku J.M. Coetzee).

Meyer beskou die oplewing van misdaadfiksie as ʼn “proses van normalisering” in ons letterkunde na jare van nougesette polisiëring. Dit was verblydend om te hoor hoe Meyer krediet gee aan mede-misdaadskrywers soos Karin Brynard en veral Chris Karsten, wie Meyer as ʼn uitsonderlike talent noem.

Dit was ook vir my uiters nuttig as iemand wat belangstel in misdaadfiksie om te hoor dat iemand soos Meshack Masondo in Zulu al oor ʼn honderdduisend eksemplare van sy boeke plaaslik verkoop het, en dat daar oor die kontinent heen skrywers is wat groot hoeveelhede van hul eie werk by vlooimarkte en stalletjies verkoop. Dit spreek van ʼn genre wat uiters gesond is op voetsoolvlak, en daar is min twyfel oor die populariteit van ander plaaslike skrywers soos Margie Orford, Andrew Brown, Mike Nicol, Sifiso Mzobe en Chris Marnewick.

Die vermaaklike uur saam met Bloemhof en Meyer word afgesluit met ʼn kort vraesessie. Op ʼn vraag oor die rol wat misdaadskrywers moet speel is Meyer baie huiwerig, en erken dat hy eenvoudig “nie weet nie”. Hy beklemtoon weer sy siening dat skrywers in die eerste plek goeie storievertellers moet wees, en dat hy nog nooit meer of minder as dit wil wees nie. Meyer hou vol dat stories en karakters ʼn “internasionale taal” praat.

Nadat Meyer so gaaf was om twee van my boeke te teken, verlaat ek en ʼn vriendin die Protea Boekhuis – so tussendeur ʼn klein skare wat ieder en elkeen met ʼn kopie van 7 Dae in die hand staan – met die wete dat ons vernaamste misdaadskrywer sy reputasie as intelligente, nederige stem in ʼn ontluikende mark gestand gedoen het.

Comments