Notices

Die Dansende Digtersfees

INTERNASIONALE MEESTERS VAN POËSIE KOM SAAM BY SPIER

Die Dansende Digtersfees / Dancing in Other Words, is 'n internasionale fees van digters en digkuns wat op Vrydag 10 en Saterdag 11 Mei 2013 op Spier, buite Stellenbosch, gaan plaasvind.

Antjie Krog, Petra Müller en Marlene van Niekerk sal deel uitmaak van ‘n uitgelese groep digters wat vir een week vooraf saam verkeer, om poësie se eeue-oue funksie as "die droom-aar in die liggaam van die samelewing" te verken. Die week-lange program word saamgestel deur Breyten Breytenbach.

Besoekende digters sluit in Nobelprys voorlopers, politieke andersdenkendes, aktiviste en bekroonde literêre figure, uit die Republiek van Korea, China, die VSA, Duitsland, Holland, Slowenië en Israel.

PROGRAM

Elf digters, elkeen van internasionale aansien, gaan die eerste deel van die week saam op reis deur “landskappe van klip en wind en lig en vertaling”, sê Breytenbach. “Die onderlinge vertroue wat spruit uit die uitwisseling van gedeelde ervarings, sal ‘n hoogtepunt bereik met die aanbied van tekste in openbare voorlesings op 10 en 11 Mei.”

Die twee-dag program sal bestaan uit openbare gesprekke en meestersklasse gedurende die dag; en voorlesings met musiek, saans. Die program sal in en rondom die Ou Wynkelder aangebied word.

‘n Beperkte aantal kaartjies word vir alle vertonings uitgereik. Die gesprekke sal gratis wees en kaartjies vir aandvertonings R150 per persoon (verversings en wyn ingesluit). Die program sal op 1 April aangekondig word, waarna kaartjies beskikbaar sal wees.

Vir meer inligting besoek die Dansende Digtersfees webwerf.

Comments