Andries Visagie

Andries Visagie

PROFILES

Andries Visagie


Andries Visagie is sedert 2011 professor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is gebore in Kaapstad, word groot in Stellenbosch en studeer later aan die Universiteite van Stellenbosch en Utrecht. In 2004 promoveer hy onder die leiding van Louise Viljoen met ’n studie, Manlike subjektiwiteit in die Afrikaanse prosa vanaf 1980-2000. Hy was vantevore as dosent in Afrikaans en Nederlands verbonde aan die Universiteite van Zululand, KwaZulu-Natal en Unisa. Sy navorsingsbelangstelling is veral gerig op die Afrikaanse en Nederlandse prosa met toespitsing op gender, outobiografiese tekste en globalisering. Artikels van hom verskyn in vaktydskrifte soos Stilet, Tydskrif vir letterkunde, Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans en Tydskrif vir Literatuurwetenskap. Tans is hy die resensieredakteur van Tydskrif vir letterkunde. Sy huidige navorsing is veral gerig op eietydse utopiese en distopiese prosatekste binne die konteks van globalisering, tekste wat gereeld ’n uitdaging stel aan die globale kapitalisme. Een van sy mees resente publikasies verskyn in die boek Criticism, Crisis, and Contemporary Narrative. Textual Horizons in an Age of Global Risk (Routledge, 2011) met Paul Crosthwaite as redakteur. As resensent lewer Andries Visagie gereeld bydraes oor die Afrikaanse prosa en poësie. Verder is hy ondervoorsitter van die Afrikaanse letterkundevereniging en voorsitter van die Noordelike Kennisnetwerk vir Neerlandistiek.