Reviews

Winterbach en die Groot Afrikaanse Roman(wedstryd)

Resensie-essay oor Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach.

Ingrid Winterbach se nuutste roman is aangewys as die wenner van die 2012 Groot Afrikaanse Romanwedstryd en is vanaf Oktober 2012 op die rakke. Die naam van NB-Uitgewers se prys laat my onwillekeurig wonder oor die term “Die Groot Afrikaanse Roman”. Ek weet nie hoe oud die term is nie, maar dit word al lank ironies en selfs ligweg spottend gebruik om te verwys na die prestasie waarna elke Afrikaanse skrywer hunker, naamlik om daardie roman te skryf, die boek wat literêre grense vir altyd gaan versit en waarteen alle voorafgaande en daaropvolgende romans gemeet gaan word. Die term is natuurlik nie besonder oorspronklik nie: in Amerika praat hulle van die “Great American Novel” in die sin van ’n onvervulbare ideaal; almal probéér om die Great American Novel te skryf, maar weens die feilbaarheid van skrywers, en die feit dat dit doodgewoon oneindig moeilik is om die ideale boek in jou kop op papier neer te pen, weet ’n skrywer by voorbaat dat sy nie die GAR gaan skryf nie, al sal haar poging ook hoe goed ontvang word.

’n Paar jaar voordat die tydskrif Insig gesneuwel het, iewers aan die einde van die 1990’s, was daar ’n artikel oor die Groot Afrikaanse Roman wat ’n lys van die beste tien boeke in Afrikaans probeer saamstel het. Die lys was nie in enige spesifieke volgorde nie, maar die artikelskrywer het stilletjies in ’n voetnoot of iets dergliks verklap dat hy/sy Karel Schoeman se Die uur van die engel as die Groot Afrikaanse Roman beskou. Dit was die soort artikel wat algemeen was aan die einde van die millenium, en sover ek onthou was al die romans op die lys waardige hoewel miskien voorspelbare mededingers vir die titel van GAR. Dalk laat my geheue my in die steek (ek kan immers nie die datum of artikelskrywer onthou nie) maar ek weet dat die term GAR met ’n redelike mate van omsigtigheid hanteer is selfs terwyl iemand dit konkreet probeer maak het.

Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd het in 1990 ontstaan as die De Kat en Antenne Groot Romanwedstryd (in samewerking met Tafelberg Uitgewers en Saambou). In die daaropvolgende twee dekades het Sanlam die hoofborg geword; die naam was vanaf 1993 slegs die Sanlam-en ander borg(e) Romanwedstryd, tot en met 2007 toe die “Groot Romanwedstryd” teruggekeer het. Dit is eers onlangs dat die “Afrikaanse” ingevoeg is en die organiseerders op doelbewuste wyse die term “Groot Afrikaanse Roman” geaktiveer het. So slim as wat hierdie spel is, wonder ek tog oor die implikasies daarvan: word gesuggereer dat die wenner van elke wedstrydrondte ’n GAR geskryf het? Die GAR? Waarskynlik nie, maar die gevaar bestaan wel dat die benaming met die onbereikbaarheid van die skryf van die GAR wegdoen en impliseer dat elke roman wat ’n kompetisie wen sondermeer ’n GAR is. Dit kan veral gebeur indien resensente klakkeloos praat van “2012 (of 2015, en verder) se Groot Afrikaanse Roman” in plaas van “Wenner van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd”.

In die eerste dekade of meer van die romanwedstryd het dit bra swaar gegaan met die Afrikaanse letterkunde, en insentiewe soos kompetisies was bitter nodig om nuwe lewe in ’n relatief stagnante bedryf in te blaas. 23 jaar later lyk die prentjie aansienlik anders: die Afrikaanse uitgewersbedryf floreer en ek kan lank nie meer maak asof ek kennis dra van elke Afrikaanse boek wat op die rakke van Exclusive Books pryk nie. ’n Mens sou dus kon redeneer dat die kompetisie se nut nie meer ooglopend is nie, hoewel ek nie kreatiewe skrywers een van die min kanse wil misgun om ’n paar rand te verdien vir wat hulle (gewoonlik deeltyds) doen nie.

By die aankondiging van die wenners van die romanwedstryd is die publiek telkens nuuskierig: gaan ’n relatief onbekende skrywer met die groot eerste prys wegloop, of gaan dit ’n gepubliseerde skrywer wees wat die beoordelaars tot ’n eenstemmige besluit gedwing het? Daar is ’n paar voorbeelde van albei uiterstes in die geskiedenis van die wedstryd, maar ek was eintlik nog altyd ongemaklik daarmee dat gevestigde skrywers met ’n goeie verhouding met hul uitgewers met minder ervare, hoopvolle skrywers meeding – ook omdat dit die sogenaamde anonimiteit van inskrywings tot ’n klug verklaar. In die geval van 2012 se wenner is Winterbach se styl en tematiek onmiskenbaar, en elke beoordelaar op die paneel sou reeds ná die eerste bladsy geweet het wie die anonieme skrywer van die manuskrip is. Die geweldige aansien wat Winterbach in die Afrikaanse literêre wêreld geniet, kan myns insiens nie anders as om ’n mate van bevooroordeeldheid te skep nie. Ek weet die beoordelaars het gestreef na volkome objektiwiteit, maar kan die moontlikheid uitgesluit word dat hulle te verleë sou gevoel het om aan te kondig dat hulle die tweede prys aan Winterbach toegeken het?

Behalwe vir die politiek van die Groot Afrikaans Romanwedstryd wat my fassineer, interesseer die kritiese ontvangs van Die aanspraak van lewende wesens my (kritiek in die sin van literêre kritiek, wat beskrywing, interpretasie en evaluasie van ’n literêre werk behels). Wat my opval, is die gebrek aan enige kritiese (oftewel negatiewe) opmerkings oor die roman. Dit wil voorkom asof elke resensent volledig, 100%, sonder enige voorbehoude die roman waardeer het én vir andere aanbeveel. Ek weet uit eie ervaring dat ’n resensent soms só beïndruk is deur ’n nuwe boek dat hy/sy geen van sy 800 tot 1000 woorde wil afstaan aan wat miskien op kleinlike kritiek sal neerkom nie, maar dit lyk vir my statisties gesproke onwaarskynlik dat waar daar meerdere resensies oor ’n roman verskyn, nie één resensie ’n enkele negatiewe woord sal rep nie. Of miskien onderskat ek die onwilligheid van resensente om ’n bekroonde skrywer soos Winterbach te kritiseer – dieselfde onwilligheid as dié van die beoordelaars wat ek hierbo genoem het.

Ek wil geen ander resensent weerspreek, óf die belangrikheid van Winterbach se bydrae in twyfel trek nie. Die aanspraak van lewende wesens beklee beslis ’n belangrike plek in haar oeuvre aangesien sy opnuut met vertroude temas en motiewe besig is: soos reeds deur resensente uitgewys is, skryf Winterbach by herhaling oor die dood en die houvas wat die dooies (en lewendes) op ons het; die plot van haar romans neem dikwels die vorm van ’n reis of reise aan, en Die aanspraak van lewende wesens is weer eens ’n roman met ’n digte web van intertekstuele verwysings. ’n Vinnige literatuursoektog na akademiese studies oor Winterbach se oeuvre maak dit duidelik dat al hierdie verskynsels en nog meer, byvoorbeeld die hawelose karakters in die begraafplaas, of die rol van die mistiek, bekende Winterbach-terrein is.

Winterbach word veral dikwels aangeprys om haar fyn spel met taal. Sy het ongetwyfeld ’n unieke styl en toon, en my gunsteling aanhaling uit Die aanspraak van lewende wesens (waaruit die titel van die roman ten minste gedeeltelik afkomstig is) verteenwoordig Winterbach op haar beste:

Wanneer dit oordag betrokke is, is die naaste berg sag, en die kleure daarvan gedemp. Geen dramatiese vorms of skaduwees nie: die berg is dan tegelykertyd sag en solied, asof jy met die hand daaroor kan streel. ’n Jong berg. Jonger as die ander, so lyk dit. Wanneer dit weer opgeklaar het, is hierdie berg vaster in sy voorneme, meer stellig van kleur en vorm. So hou sy haar oog voortdurend op die berge gerig. Sy is bewus van die veranderende wolkespel bo hulle, van die uurlikse wisseling van hulle kleur, vastigheid en tekstuur. Daar styg reuke uit die grond op. Duiwe koer. Die aanspraak wat dit alles op haar maak! Haar hart voel soos ’n mossel wat aan ’n rots vasklou, en nou asof met ’n klein, skerp messie oopgeforseer word (266)

So verleidelik soos wat Winterbach duidelik kan skryf, wil ek aanvoer die taalgebruik in Die aanspraak van lewende wesens nie foutloos is nie. Hoewel ek geen beswaar het teen die gebruik van Engelse woorde in ’n poging om eietydse taalgebruik weer te gee nie, voel dit by Winterbach vir my soms geforseerd en minder as geslaagd, veral miskien eerder haar gebruik van direkte vertalings uit Engels. Die term wat herhaaldelik by Karl gebruik word, “hy doen nie olie (of troeteldiere, of muise, ensovoorts) nie” is werklik steurend. ’n Ander irriterende verskynsel is die feit dat Winterbach daarop aandring om dwarsdeur die roman van iemand se “metgesel” te praat wanneer sy na hul lewensmaat verwys (interessant dat resensente die fout namens haar korrigeer deur “geliefde” of “lewensmaat” te gebruik). Ek besef dat my frustrasie hier eerder by die redakteur(s) lê as by Winterbach self. Dit begin nou al vervelig raak om in feitlik elke nuwe Afrikaanse publikasie meer foute raak te sien as wat jy op die vingers van een hand kan tel, terwyl taal- of sogenaamde “drukfoute” tog die absolute uitsondering in ’n professionele publikasie behoort te wees.

Ek was ietwat onverskillig oor die gebruik van heavy metal in die roman totdat ek Chris van der Merwe (2012) se verhelderende ondersoek na die lirieke van enkele bands gelees het. Nou sal ek toegee dat Winterbach daarin slaag om selfs deur die gebruik van obskure (vir die oningeligtes) musiekverwysings veelseggende dinge uit te druk. Terselfdertyd wil ek versigtig beweer dat Winterbach miskien ’n bietjie te veel ekstratekstuele inligting in hierdie roman ingeprop het, en dat hierdie inligting soms op geforseerde wyse deel van die verhaal gemaak word: feite word eenvoudig gelys, of op ensiklopediese manier weergegee. Is dit een van Winterbach se vele vervreemdingstegnieke, of bloot navorsing ter wille van navorsing om die yl verhaallyn aan te vul?

Miskien moes ek my, as iemand wat alles behalwe ’n Winterbach-kenner is, eerder by my lees gehou het. Miskien is die punte van kritiek wat ek noem die kleinlikste van alle kleinlike kritiek en het ek die bos misgekyk omdat ek in enkele krom bome vasgekyk het. Maar: Die term “Groot Afrikaanse Roman” is vanselfsprekend ’n kanoniserende uitspraak, en vele kenners sal beweer dat ons genadiglik die tyd agtergelaat het toe die Afrikaanse letterkunde beheer is deur ’n groep hekwagters wat besluit wat “groot letterkunde” is en wat nie. Aangesien die grens tussen “hoë” en “lae” letterkunde toenemend vervaag, is daar nie meer werklik iets soos ’n kanon nie, sê hulle, en nuwe publikasies ding in ’n vrye mark mee om populêre én kritiese waardering. Ek bly egter agterdogtig; wedstryde of te not wil dit voorkom of die tradisionele kanon springlewendig is en selfs ons mees demokratiese pogings tot vernuwing dwarsboom.

 

Bron:

Van der Merwe, Chris. 2012. Litnet Akademies-resensie-essay: Die aanspraak van lewende wesens deur Ingrid Winterbach – 'n Postmoderne quest-verhaal. Litnet. http://www.litnet.co.za/Article/die-aanspraak-van-lewende-wesens-deur-ingrid-winterbach-n-postmoderne-quest-verhaal.

Tagged , , , , ,

Comments