Reviews

Twee debutante: Jasper van Zyl en Andries Samuel


Die lewe tussen pikkewyne (Tafelberg)

“Pyn is ’n toubrug” (16) is ’n klinkende beeld wat die digter Jasper van Zyl in sy debuutbundel Die lewe tussen pikkewyne gebruik. Jasper van Zyl het al lank terug naam gemaak in Nuwe Stemme as ’n jong digter wat as skoolkind die aandag getrek het. So ‘n bemarking van ’n jong talent kan dikwels die jong digter knou, hoewel dit ’n onmiddellike “celebrity”-status waarborg. Uitgewers bemark die digters, want dit beteken dat die mark vir jong lesers ook aangespreek sal word. Vir die jong digter is dit ’n gevaarlike oomblik: Antjie Krog het dit oorleef, maar twee ander jongelinge, Theunis Engelbrecht en Annesu de Vos, is waarskynlik deur die kalklig ’n onreg bewys. Die belofteryke Engelbrecht het ons aan die musiekwêreld verloor en die groen perske het groen gebly.

Die toets van die tyd is waarskynlik maar al wat tel. Die uitgewers se “hype” klink dikwels by nabaat laf en die jong digter moet dikwels deur meer werk as die digter wat net op sy bundel getakseer word.

Jasper van Zyl se debuut is verrassend. Die temas is jonk, die leefwêreld behels jong liefdes en onderwyseresse en skoolervarings, maar die dwingende digterlike talent is ongetwyfeld daar. Hy praat van “winterryp wat soos geskenkpapier kom lê” (32), oor ’n trein wat soos weerlig word in die verte (33), oor bome wat spook op wind (36). Maar die ware toets van die digterskap kry hy reg: die tegelykertydaspek. Hy skryf oor een saak, maar dit word terselfdertyd ook iets anders soos in die verruklike vers waar Emma haar eerste maandstonde beleef (in die gedig “emma”, 24) en haar pa met die brandblusser besig is om die vuur te blus in die woud. Hierdie gedig het verskeie innuendo’s na beide Rooikappie en die wolf en implisiete of begeerde) bloedskande:

as sy drink, drink sy vir twee
en slaap in die arms van haar vader,
’n land in puin, waar helikopters
stotter bokant die ontbossing

Ek dink ’n jong digter wat ’n vers soos “jy is aan die stuur” (9) kan skryf, is meer as belofteryk. Die geliefde se vingers is groen stingels in hierdie slim liefdesvers:

jou lippe is ’n heldedaad
in ’n droewige dorp,
dit blus die brand in die venster
waardeur ek tuur
oor ’n ewig droërwordende landskap
waar kraaie in die struike vroetel.

in my lieste: dis hier waar ek
jou vingers voel, op die polse
in my binnebene, in die gragte
van my ondergrond. soos ’n siekte

wat jy uitdryf
breek die stingels
uit my vel:

jou vingers is groen en gee lewe
aan al wat roos is. my skat,

jou nag is my nag. ek groet
jou gewigloosheid in die verbygaan.

Soos hulle seg: klein maar getrein. Belofteryk, ’n gawe debuut met verrassende beelde, al is dit nog aan die dun kant.

En so van Krog gepraat: haar telg, Andries Samuel, het onlangs gedebuteer en die kritiek se inlees van ’n gesprek met die moeder, al dan nie, het myns insiens die werklike bydrae van hierdie jong digter skeefgetrek. Dit is kommentare wat waarskynlik meer sê oor die familieskap van die kritiek as die werklike gesprek tussen die digters-op-papier. Hier is Harold Bloom se The anxiety of infleuce (1973) die wegwyser: digters kies die digterlike ouers waarteen hulle skryf of van wie hulle wegdraai.

 

Wanpraktyk (Human en Rousseau)

Die debuut van Andries Samuel by Human & Rousseau heet Wanpraktyk en getuig weer van intellektuele beheer. Die digter is ’n argitek en die leser vind sketse en ontwerpe by die gedigte.

Die gedig as wanpraktyk dus, as iets wat die grensoorskrydende of onnoembare moet voorstel, is die deurlopende motief in hierdie aangrypende bundel. Die digkuns as iets ongerymds of iets wat jou duur te staan kan kom, is ’n bekende tema. Vir ander is dit weer iets positiefs: die baie ryk ure.

Die bundel begin met die wêreld van die oer-Testamentiese en die Hebreeuse digkuns. Die openingsgedig, met sy fyn toespelings op die ou-Testamentiese gegewe van die offer, die weegskaal en die Egiptiese mitologie dat die siel geweeg kan word, eindig so:

ek weeg my daagliks
by die gewig van ’n kind (12)

Die kind word later in ’n klein vers as ’n geitjie beskryf en ons word in Tel Aviv geplaas. Die Olyfwoestyn-vertalings van Ben Gurion en Steyn, soos Olga Kirsch se verse uit daardie landskap, word slim geaktiveer.

“nieu-bethesda” (15) word jammerlik genoeg ontsier deur die woord “sadness”, terwyl kragwoorde, natuurlik vir effek, vir my gevoel soms onnodig opdoen. Waarom tog “omen” en “declaration”? Ek het dit nie teen Engelse woorde per se nie, maar dan moet ek wel as leser oortuig word dit is funksioneel.

Nietemin het elke digter sy eie idiolek. Dieselfde geld vir die gedig “berigte van herkoms / psalms vir die verste kind” (16, 17). “all god’s children took their toll” (18) word weer ’n mosaïek en kan gelees word as ‘n meerstemmige vers, terwyl “blues in yk” (25) gesels met Antjie Krog se “bokkie” en “struktuur van haar koorsange” keer terug na Januarie-suite veral.

“styf” (52), ’n draadtrek-vers, lewer sydelingse kommentaar op die skryfproses. ’n Mens kan hierdie gedig met Roland Barthes se Le plaisir du texte (Die plesier van die teks) saamlees en presies sien wat die grote Barthes bedoel het met plesier en dit wat buite woorde lê.

styf

met my hande vryf ek my piel
op en af pluk ek dit aanhoudend
ek trek my draad –
ek trek dit uit en volg dit ín
ek pak my piel beet
soos ’n probleem
al skommelend
probeer dit uitkom

ek dink ek tos net lekker
maar angs groei uit my
soos ’n pielstyf –
ek gryp dit soos ’n dwaas
rem dit in plesier
al pols dit van verdriet
tap ek myself leeg
die bietjie ek wat nog oor is
spuit ek weg oor onvrugbare lappe

my handlangerende hande
my onpaar minnaars

Die gedigte beweeg dus tussen die konstruksies van die argitektoniese ontwerpe en die gedig as on-afheid of gesprek met ánder gedigte.  En dis hierdie beweging tussen twee media wat die gedigte interessant maak. Ons lees immers gedigte ook vir die stiltes, nie net die woorde nie, het Harold Bloom al gekonstateer. Die gedig as “wanpraktyk” speel terug op Baudelaire se “blomme van boosheid”. Hier word die gedig ’n besegging van leed en verlies. In “losklim” (36) is die rotsmaniak se tog iets wat die noodlot tart: “onversadigbaar wulp die grond haar dye”. Die gedig word dus méér as net ’n vers oor ’n rotsklimmer.

Soms is die verse te emosioneel, ’n bietjie “meningbesete” (37), maar wanneer die gedig oortuig is dit uiters behendig vir so ’n jong digter. “Enkele tegniese besonderhede oor water” (32) maak ‘n gedig van die digter se bedryf:

ek is ’n troebadoer
van die wellustige en ingewikkelde geheime
van roes en verrotting

Die digter slaag die toets van die ware digterskap, naamlik om onthoubare, konkrete beelde te skep, wat die leser nooit sal vergeet nie:

teen die hitte wat bak soos 'n pofadder (68)

my dogtertjie
is 'n geitjie

sy bak in liefde
soos in son (13)

Daar is knap taalontginnings (“hoekom reik jy jou hand”, 57) en gesprekke met onder andere Michael Ondaatje en Anne Michaels.

Ek het in Februarie hierdie bundel vir die eerste keer gelees en ek voel dat ofskoon die skoonheid opgesluit is in die oordadigheid en geilheid van die gedigte, sal ’n skerper afwerking die bundel sterker gemaak het – maar dis my gevoel.

Dit gaan goed met ’n digkuns wat soveel uiteenlopende debute kan akkommodeer soos Van Zyl, Samuel, Louis van Vuuren se Tempermes en Martina Klopper se Nadoodse ondersoek. Ook pas op die rak is Fourie Botha se Donkerkamer (H&R) wat ek weens my mentorskap nie sal kan resenseer nie.

Hopelik sal beide hierdie debutante die kleed wat oor hul skouers hang (Van Zyl se jonkheid en Samuel as die kind van ’n bekende digter) kan afgooi en ontwikkel tot digters in eie reg.

Joan Helene Hambidge is op 11 September 1956 op Aliwal-Noord gebore. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Standerton. In 1979 verwerf sy haar BA Honneursgraad aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy voltooi haar MA-graad aan die Universiteit van Pretoria onder leiding van prof. Elize Botha en verwerf ’n PhD aan die Universiteit van Rhodes onder prof. André P. Brink se leiding. Sy is dosent en later ook hoogleraar aan die Universiteit van die Noorde, en sedert 1992 is sy verbonde aan die Universiteit van Kaapstad. In 2001 behaal Joan haar tweede doktorsgraad, dié keer in kultuurstudies, aan die Universiteit van Kaapstad. Sy is tans ’n professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad.
Joan debuteer in 1985 met die bundel, Hartskrif , en ontvang die Eugène Marais-prys in 1986 vir haar tweede bundel Bitterlemoene. Haar 23ste digbundel, Visums by verstek, het in 2011 verskyn.

Comments