Reviews

Stander se Wildvreemd wêreldvreemd?

Wildvreemd deur Carina Stander, Kaapstad: Tafelberg, 2011.

Wildvreemd, Carina Stander

Na twee digbundels, Die vloedbos sal weer vlieg (2006) en Woud van nege en negentig vlerke (2009), verskyn Wildvreemd (2011) as Carina Stander se eerste roman. Die roman vertel die verhaal van ’n vrou wat alleen in die oerbos in die Waterberg woon. Sy boer met bye en gaan net op vaste tye dorp toe om haar heuning en die kerse wat sy self maak te verkoop. Hierdie vrou is stom, sy het ’n erge letsel aan haar nek en sy beskryf haarself soos volg: "Ek is stilte. Stilte is ek." In ’n onderhoud met Bibi Slippers (op Litnet) vertel Carina Stander dan ook dat die roman gegroei het uit die volgende sin: "Stilte is ’n oergeluid."

Hierdie eerste hoofstuk van die roman stel die toonaard van die hele teks vas. Die skrywer werk met die basiese dinge soos stilte, water en vuur en met teenstellings soos lewe en dood, lig en donker, stilstand en vloei, oerbos en menslike gemeenskap. Die leser sal agterkom dat die verhaal werk met die elemente in die natuur en met argetipiese dinge. Dit is ook duidelik dat die skrywer tot hierdie onderlaag van die menslike psige aangetrokke is en in terme daarvan dink. Hierdie waarneming word versterk deur die motto wat kom uit Clarissa Pinkola Estes se "Women who run with the wolves" (1992) en die meer gekompliseerde Jungiaanse assosiasies (in die vorm van duidelike vroulike argetipes soos die wilde vrou, die wyse ou vrou, die jaloerse vrou, die oermoeder). Die hoofkarakter leef dan ook deurentyd na aan die natuur, in die bos en langs die rivier; sy werk met plante, met groente en kruie; maar sy is ook altyd bewus van diere en insekte, die hiëna (die wolf), die bye en die insekversameling.

Stander is duidelik bewus van die implikasies daarvan as iemand wat ook poësie skryf ’n roman aanpak as sy in die Litnet-onderhoud sê: "Ek raai digters is in die algemeen meer gerig op die gevoelens en waarnemings van die self – hulle skryf na binne. Romanskrywers is minder doenig met die self, omdat hulle ander mense se stories skryf. Hulle skryf meer na buite." Die roman het dan ook wel ’n duidelike poëtiese inslag en daar is baie mooi en sensitiewe beskrywings van mense en van die ruimtes waarteen die verhaal afspeel. Daar is egter ook die bewuste wegskryf van ’n enkele subjekposisie af deur die verhaal vanuit verskillende perspektiewe aan te bied. In opeenvolgende hoofstukke word telkens van verskillende fokalisators en vertellers gebruik gemaak sodat eerstepersoonsvertellers telkens ’n ander perspektief op die gebeure verskaf. Binne die vyf afdelings van die roman, "Daar was ’n brand", "Vier maande ná die vuur", "Heuning ná die reën", "Ou bloed, jong bloed" en "Vlees teen vlees", is daar dus ’n sekondêre strukturering wat deur die gebruik van verskillende vertellers en fokalisators tot stand kom.

Die verhaal ontwikkel stuksgewys deurdat dele uit die verskillende vertellers se verhale bymekaar gevoeg moet word om die uiteindelik verhaalverloop vas te stel. Dit is dan ook so dat lesers gewoonlik soek na die verhaalverloop, na opeenvolgende gebeurtenisse, na die oorsaak en gevolg van die gebeurtenisse – dit is wat hulle aan die lees hou. Hier gaan dit oor die byeboervrou wat alleen woon. Sy is ’n geheimsinnige figuur wat nie (kan of wil) praat nie. Mense skinder oor haar en wonder oor haar. Die boer wat haar help en oplaai as sy dorp toe wil gaan, Braam Botha, is die een wat min vrae vra en haar aanvaar soos wat sy is, maar sy vrou is erg jaloers op haar en verdink haar van alles wat boos is. Met verdrag word dit duidelik hoeveel trauma hierdie byeboervrou al ervaar het, van haar kinderdae af deur haar ongelukkige huwelik tot by die geweld wat teen haar gepleeg word hier in die bos. Daar is ook ander verhaallyne in die roman, dié van die bruin familie wat naby haar woon, dié van Braam se seun, die verhale van die kinders in die dorp en die onwettige jagonderneming wat die natuur verniel en vernietig. Al die verhale van al die karakters is uiteindelik heeltemal vervleg en vorm een groter geskiedenis van ’n klein afgeleë gemeenskap met al die verbintenisse wat daarvandaan uitgaan en daarop inwerk.

Die roman bevat dus baie elemente en aspekte wat interessant is, wat boeiend kan wees en wat die roman dra: daar is ’n taamlike sterk verhaal, daar is aandag gegee aan die strukturering van die verhaalgegewens en stilisties is daar goeie gedeeltes. En tog is daar dinge in die roman wat afbreuk doen aan die geheel. Ek dink daar kort ’n grondige begrip en aanvoeling vir die volgehoue fokus wat, afgesien van die omvattender aard en lengte van die roman, van hierdie spesifieke genre vereis word. Dit gaan ook om die balans tussen die representasie van aanvoeling en invoeling met die karakters en die intellektuele dissipline wat die prosakuns vereis. Hierdie roman bly te "sag" en te vaag, terwyl dit tegelykertyd myns insiens te veel temas en verhaallyne aansny en ook te veel perspektiewe gebruik. Daar ontbreek ’n bepaalde vaartbelyning en fokus wat die prosakuns nodig het, en dit het nie te make met ’n konsentrasie op handeling ten koste van besinnende en stemmingryke passasies nie. Die perspektiefwisseling verbeek die verhaalontwikkeling te veel, miskien omdat dit in sulke kort hoofstukkies aangebied word. Hierdie vertelstyl veroorsaak ook ’n gebrekkige karakteruitbeelding, die karakters bly te vaag en verbrokkel en die gevolg is ’n bepaalde stereotipering van die karakters. Die verskillende verhaallyne kan ook nie tot hulle reg kom nie en bepaalde gebeurereekse bly onontwikkeld en onoortuigend. Die onderskeid tussen boos en goed, tussen liefdevol en haatlik, tussen diegene met insig en diegene daarsonder is te skerp. Nou hét die roman ’n soort sprokie-agtige aard en miskien moet die karakterisering in dié lig gesien word, maar selfs binne so ’n beskouing is dit asof die roman nie boeiend raak en bly nie.

Die feit is dat die hele roman geskryf is vanuit ’n bepaalde idealisering van die natuur en van natuurmense, daardie geestelik-suiweres wat deur geweld en ontbering aangetas word, maar nie verander, beskadig of vernietig word nie. Hulle suiwerheid wat uit die aarde aards is en uit die aarde self gevoed word, wat uit die oerbronne van die psige opwel en daardeur lewend gehou word, is sterker as enige vorm van boosheid of verdorwenheid. Hierdie lewensbeskouing lei tot ’n soort wêreldvreemdheid wat baie moeilik volhoubaar oortuigend is en die representasie daarvan in ’n roman is maklik te swewend om boeiend te bly. Dit kan dan net ’n bietjie te veel word vir die ervare romanleser, hoewel ek glo dat baie ander lesers die roman sal waardeer.

Ek besef dat ’n debuutroman en veral ’n debuut in ’n nuwe genre ’n groot uitdaging is vir ’n skrywer en in dié opsig moet die roman aangeprys word. ’n Roman wat onthou word, beskik egter gewoonlik, in watter vorm ook al, oor ’n soort kern, ’n sentrale kragbron, wat, as ek nou moet bespiegel, meer intellektueel as emosioneel is, wat die balans tussen afstand en betrokkenheid kan beheer, wat die verhouding tussen kern en onderdele bepaal en wat die leser deur ’n uitvoerige teks dra. Wat hierdie "kern" of swaartepunt is en of die roman middelpuntsoekend of juis middelpuntvliedend is, is nie iets wat maklik vasgepen of omskryf kan word nie. Dit wil egter vir my voorkom dat daar wel so ’n swaartepunt of dieptepunt is wat die roman oor sy tekortkominge heen dra. Virginia Woolf het daarna verwys dat meesterwerke nie sonder foute is nie, "indeed, we tolerate the grossest errors in them all" maar daar is iets in daardie romans wat sterker is as die foute. Henry James was van mening dat Tolstoi en Dostojewski se romans soos groot drillerige bakke jelly is omdat hulle geen struktuur het nie. Maar, het hy egter wel bygevoeg "sheer genius pulls them through". Om ’n roman met ’n sterk handelingslyn en die natuurlike stukrag van so ’n verhaal bymekaar te hou, vereis groot vaardigheid en hoeveel moeiliker is dit nie om samehang en dryfkrag te skep en te behou in ’n roman met ’n "sagter" verhaalverloop en ’n verteltrant wat wegbeweeg van handeling na besinning en invoeling. Daar is inderdaad ’n groot verskil tussen ’n roman wat handelingesgedrewe en temporeel bepaal is en ’n roman wat meer ruimtelik bepaal is en van ’n uitdyende ontwikkelingswyse gebruik maak. Dit is waarskynlik ’n lang pad vir ’n skrywer om suksesvol te kan wees met hierdie tweede soort roman, wat soms beskryf word as ’n "poëtiese roman" omdat dit so kompleks is om binne hierdie uiters subtiele vorm al die onderdele in balans te hou. As ek lees hoe Carina Stander haar pad as skrywer tot hiertoe sien en beoordeel, wil dit vir my voorkom asof sy oor die stamina beskik om inderdaad ’n lang pad te loop.

Comments