Reviews

Om die liggaam uit te skryf – Leon de Kock se Bodyhood

Leon de Kock het reeds as digter Bloodsong en gone to edges gepubliseer. Vir die meeste lesers is hy veral bekend as bekroonde vertaler, onder andere van Marlene van Niekerk se Triomf en nou onlangs van Cas Vos se gedigte. Sy jongste bundel – pragtig uitgegee deur Umuzi in 2010 – heet Bodyhood. Die titel speel in op J.M. Coetzee se Boyhood, maar aktiveer die komplekse gender/seks-debat oor liggaamlikheid. Humberto Maturana is die motto: oor die menslike gedrag as taal of taligheid en hoé alles binne die domein van taal manifesteer. En hierom bestaan of eksisteer ons as sistemiese entiteite binne die dinamiese modulasie van ’n spesifieke liggaamlikheid.

Ek is weer veral geïnteresseerd in Lacan se siening van liggaamlikheid: hoe die lyf iets kan registreer, vertaal of verraai wat betekenis skep. Siekte wat ’n domein word van betekenis.  Die woord het vlees geword.

My eerste kennismaking met hierdie sterk, bykans aggressiewe bundel was kort na die publikasie daarvan.

Die bundel het my mateloos geïmponeer en die groei vanaf die vorige bundels was merkwaardig. ’n Mens beleef ’n joernaal van die digter en in “journal 1” word ons in “This scent of corruption” ingelei. ’n Joernaal intimeer iets privaats en jy as leser word dus voyeur of afloerder van die private dimensie. In die openingsgedig, met die slim toespelings op William Blake, word die aftakeling van die liggaamlike aan bod gebring, maar deur ’n gedig daaroor te skryf, word die proses (tydelik) opgehef of uitgestel. Freud se Fort/Da-proses word ook geaktiveer, want die gedigte speel voortdurend in op die aanwesige/afwesige wat sowel die lewe as die digkuns struktureer.

“It’s this sadness” (10) eindig dan met “Absence and shape / Shape and absence” en vra intense vrae oor “karma, fate and circumstance” of dit wat buite liggaamlikheid bestaan. “Scholars in a Johannesburg garden” (12) voer die digotomie vérder: die kwessie van plesier en hoe liggaamlike plesier (en pyn) buite intellektuele besprekings gehou word. Juis hierom is dit gepas om Roland Barthes se Le plaisir du texte (1973/5) weer te betrek vir die tersaaklike betrekking van lees as ’n liggaamlike proses, vir die vreeslose besegging van die orgasme in die leesaksie, die jouissance.

Hierdie teks word ’n spel van verglyding wat in die volgende gedig “You are in danger, she said” (13) Barthes se scriptible-konsep aktiveer: die digter as herskrywer van homself en die tradisie van die letterkunde en die leser wat saam-speel en saam-lees. Die digter is eweneens bewus van die “already said” wat soos ’n swaard oor sy kop hang en die sy is nie ’n donna angelicata nie, maar ’n “bitter bitch”. Die lesende figuur is sarkasties en verminderend oor die digproses en hy bedank haar sarkasties vir die waarskuwing dat hy in gevaar staan om niks te word…

In “Sorry for what, she asked” (15) word Harold Bloom se misreading afgestof:

For a reading of a misreading
A parchment roll of selves, self

Still unscrolling, still rolling
Rolling like a rollercoaster ride…

In hierdie knap vers word die woordverwerker, die verskillende lae van die self as ’n ondeurdringbare of ingewikkelde teks, saamgeplaas. Ook die gedigte het komplekse onderlinge verhoudings met mekaar soos “The email queue calls” (16, 17) uitwys. Nie alleen speel die gedig terug op die voorafgaande verse nie, maar daar word ’n onrustige siening van e-pos-kommunikasie gegee as ’n troebel rivier. Ook hier is alles nie helder of duidelik nie en is die verskillende dimensies of konstruksies wat die “ek” kan aanneem in e-pos-kommunikasie die onderwerp van die gedig. Op ’n aweregse manier word seksuele innuendo’s en ontmoetings via e-posse geaktiveer waar liefde in die moderne wêreld dikwels werkliker in die kuberruim word as in die Werklikheid daarbuite. “He’s come undone” (18, 19) kan gewoon gesien word as ’n satire van Derrideaanse denke. Hier word fallogosentrisme opgestuur: die double entendre, die aporia (De Man), die hele boksemdaais. Alles word ’n intellektuele slagyster en die spreker bely:

I thank this Phallus King
The God at the outer
Outer edge of words
The place where you can
Where, at last, you can
You can just take it….

En lees self die woedende, aggressiewe slot!

Die tweede joernaal heet “The boatman” en ons is nou in die domein van die dood. Hier word verskilende “eindes” geaktiveer: die Boeddha wat in Gauteng aankom en deur die geweld oorrompel word sodat ook hý nie meer verder kan nie; Charon wat moeg gevaar is en huis toe verlang; die einde van ’n liefdesverhouding waar die spreker nadink oor die verskillende verhale of profiele wat oor ’n dooie verhouding huiwer. Elkeen het / is ’n “shard of history”. Uiteindelik die wegbeweeg, die “bodyhood” versplinter, die “body loneliness” en die uiteindelike verlies van oorgawe. In die derde joernaal (“Blood and bone”) word die huwelik van die uiterstes bespreek. Hier word die geliefde weer aangespreek: opnuut met komplekse emosies van versugting na wat was en nooit weer kan wees nie. Sowel Apollo as Dionysus word onder die loep geneem in ’n toestand van ambivalensie oor skryf en die liefde.  Die vierde, en laaste afdeling, heet “In loss” en die gelyknamige gedig lewer skerp kommentaar op die skryfproses as een van verlies en onsekerheid. My gunstelingvers in die bundel is “Anti-Oedipus” – met toespelings op Deleuze en Guattari se beroemde skiso-analise en die verwerping van Freudiaanse psigoanalise – waar hy in woede die komplekse triadiese verhouding tussen minnaar/minnares/digter uitwerk. Die nuwe minnaar is beslis nie haar vader nie, sy is nie sy moeder nie en die ongebreidelde verlange na die geliefde is dus hierom aanvaarbaar!

“Emporium of flesh” (47) snoer al die temas oor liggaamlikheid saam: en hoe ons almal vasgevang is in die voorskrifte van die “bodyhood” en die “supermarket of flesh” waar ons begeertes vir ons bestuur word in ’n kapitalistiese samelewing. In “The Biology of Love” (55) word die mentor, Maturana aangespreek en hoe ons vasgevang is in “cages / of  our selves”.

Bodyhood is ’n goeie bundel. Dit dekonstrueer liefdespoësie en die skryf van gedigte as ’n aangename proses. Daar is ’n woede, ’n energie wat hierdie bundel vir dié leser besonder aantreklik gemaak het. Die slim toespelings en vernuftige gesprekke is boeiend – van ongelooflike woede tot Boeddhistiese berusting; van ’n aanspreek van die geliefde, selfs aanklag oor die ervaring van verlies wat elke vesel in die spreker se liggaam aantas tot aanvaarding dat daar wel iets is, dalk was, soos Die Groot Liefde. Dit is kennelik ’n bundel wat ontstaan het in ’n periode van groot verdriet, maar dit het ’n knap bundel tot gevolg gehad. Ek het hierdie bundel weer saam met Carol Ann Duffy se Rapture gelees en die verskillende prosesse van aflegging (en herbelewenis) in die liefde bly maar iets wat digters inspireer.

Eweneens tersaaklik is hoe die manlike bewussyn van die liggaam ervaar word. Die ou geykte opvatting dat mans in liefdesgedigte kyk en vroue voel (“touch”) word eweneens hier geproblematiseer. Wat is begeerte (“desire”)? Ek het die gedigte saam met Žižek se The pervert’s guide to the cinema gelees. Word begeerte vir ons geskep deur films of gedigte of kan ons soos in “Anti-Oedipus” dit ontvlug?

*

Bronne:

Barthes, Roland.1973/1975.The pleasure of the text. New York: Hill and Wang.

Bloom, Harold. 1975. A map of misreading. New Haven: Yale University Press.

Bloom, Harold. 2000. How to read and why. New York: Scribner.

Bloom, Harold. 1973. The anxiety of influence. New Haven: Yale University Press.

Bloom, Harold. 1982. The breaking of the vessels. Chicago: The University of Chicago Press.

Deleuze, Gilles & Guattari, Félix. 1972/1984. Anti-Oedipus. Capitalism and schizophrenia. Londen:The Athlone Press.

De Man, Paul. 1971/1983. Blindness and insight. Essays in the Rhetoric of Contemporary Criticism. Minneapolis: University of Minnesota Press.

Duffy, Carol Ann. 2005. Rapture. Londen: Picador.

Lacan, Jacques. 1966/1977. Écrits – a selection. Vertaal deur Alan Sheridan.  Londen: Tavistock.

Žižek, Slavoj. 2007. The pervert’s guide to the cinema. Film.

Comments