Reviews

Nie Chekhov se kersieboord nie

kersieboord10

Die Kersieboord. Soos opgevoer by die 15de Woordfees op Stellenbosch, 2014, deur die produksiehuis: The Mechanicals.

Oorspronklike teks deur Anton Chekhov, vertaal deur Alewyn Lee en verwerk deur Sandra Temmingh. Regie deur Sandra Temmingh. Met: Oscar Petersen, Tinarie van Wyk Loots, Carel Nel, Wilhelm van der Walt, Nandi Horak, Roxanne Blaise, Sjaka Septembir, Marvin-Lee Beukes en Bianca Flanders.

Die Kersieboord handel oor ’n Russiese vrou en haar familie wat terugkeer na hul familie-landgoed, waar hulle groot en beroemde kersieboord staan, net voor hulle dit moet opveil as gevolg van finansiële druk. Deurentyd is daar ’n partytjie aan die gang in die familie se groot huis waar verskeie rolspelers saamkom, insluitende ’n voormalige slaaf. Laasgenoemde is dan die een wat die boord by die veiling koop, en so word die eiendom oorgeneem deur eertydse slawe. Van al die familielede, word Madame Ranevskaya die meeste geraak. Sy het tussen die bome van die pragtige kersieboord grootgeword en koester haar gunsteling herinneringe hier. In die pynlike proses word temas soos die gevolge van sosiale verandering, status en verlies aangeraak.

Sandra Temmingh het die oorspronklike Chekhov teks van vier bedrywe na ’n 90-minute stuk verkort. Dit op sigself is reeds ’n uitdaging vir enige regisseur en akteurs, maar dit was dalk nie die grootste uitdaging nie. Die tema van sosiale verandering wat hier aangeraak word, resoneer sterk binne ’n Suid-Afrikaanse konteks. Die karakters van die bediendes en die gewese slaaf in Temmingh se verwerking word almal deur bruin akteurs gespeel. Aan die einde van die produksie vind ’n ommekeer in die status verskille plaas en die slawe neem die kersieboord oor. Hier lê baie potensiaal om sterk kommentaar te lewer, maar die emosionele betrokkenheid van die gehoor by die onderdrukking van die slawe is nie sterk genoeg nie, wat die omkeer aan die einde minder effektief maak.

Ten opsigte van ontwerp, is die teater dof belig deur klein lanterns wat in die dak hang. Aan die begin sit die akteurs reeds op die klein verhogie, waarop daar ’n klavier, stoele, wiegstoel en tafel vir kaartspeel staan. Hierdie verhogie lyk soos ’n klein eilandjie wat ’n paar groot treë van die gehoor af dryf. Aan weerskante van die verhoog is daar twee buitedeure en aan die een kant ’n deur na ’n kunsklaskamer.

Soos elke toneel verbygly, dryf die eiland verder en verder van die gehoor af weg. Hier en daar hoor ek iemand gaap of rusteloos rondskuif. Die spanningslyn bly eentoing. Die intensies en energie van elke karakter, met uitsondering van Tinarie van Wyk Loots, Oscar Peterson en by tye Wilhelm van der Walt en Nadia Horak, is net so eentonig. Tinarie en Oscar se spel is egter uitsonderlik. Met beide is daar interessante groei en geloofwaardige interpretasie te bespeur. Dit het vir my by tye gevoel asof Tinarie werklik die vrou van die storie is wat oor die verlies van haar kersieboord treur. Daarteenoor wil dit voorkom asof die res van die akteurs haar net spot en terg deur die verhaal voor haar uit te speel. Oscar was ook voortdurend oortuigend en het ook my aandag behou. By die res van die akteurs was duidelike artikulasie en geloofwaardigeheid ’n deurlopende probleem. Ek voel ek het baie gemis, omdat die artikulasie nie op ’n goeie standaard was nie. Wilhelm van der Walt, wat die rol van Liefie se broer, Leonid, vertolk het, se karakter het by tye geforseerd oorgekom. Die rede hiervoor mag dalk wees dat hy deurgeloop het onder die verkorting van die teks en belangrike oomblikke in sy emosionele reis ontbreek het.

Die karakters is eensydig vertolk en die gebrek aan variasie en diepte het veroorsaak dat ek emosioneel onttrek en belangstelling verloor het. Die grootste karakter van almal in die toneelstuk – die huis – het ontbreek. In Chekhov se teks is die groot kasarm van ’n huis vol familie-geskiedenis wat nostalgiese herinneringe by die karakters ontlok. In hierdie verwerking is daar van die saal se agterdeure gebruik gemaak, asook die deur na die kunsklas, maar dit was nie effektief nie. So ook nie die verhogie wat soos ’n eiland uit die houtplanke rys met die traliehekke aan weerskante nie. Voordat die akteurs dus ’n enkele woord kan uiter, sit hulle reeds met ’n uitdaging: die lokaal. Elke keer wat die akteurs van die buitedeure of die binnedeur gebruik gemaak het, moes hulle eers ’n paar trappies by die verhogie afklim wat dan dadelik die illusie breek dat hulle nog in die groot huis is en eerder lyk asof hulle die speelruimte verlaat.

Dit kon dalk beter gewerk het as die lokaal geswaai was, met die gehoor aan die verhoog se kant en die akteurs wat in die kunssentrum speel asof dit die huis is. Die kunssentrum het ’n wonderlike hoë plafon wat moontlik fantasties kon werk indien dit beter benut is. Dan word die speelruimte dadelik meer geloofwaardig. Ongelukkig was die lokaal reeds ingerig vir ander Woordfees produksies, en die akteurs moes in die ruimte aanpas.

Die element van die kersieboord self het ook ontbreek. Die kersieboord moet deur die akteurs geskep word, in ons verbeeldings “geplant” word. Elke akteur se verhouding met die kersieboord was nie duidelik nie. Ek het ook nie die hartseer en pyn gevoel wat daarmee gepaardgaan nie. ’n Baie bekende oomblik in die oorspronklike teks is hier in die laaste toneel afwesig, naamlik die geluid van byle wat die boord uitkap, en ’n snaar wat breek. Hierdie is twee belangrike geluide wat bydra tot die emosionele betrokkenheid van die gehoor en die spanningslyn van die produksie. Wanneer Oscar Petersen se karakter die kersieboord koop, en die voormalige slaaf die eienaar word, het ek geen drastiese verandering in energie gevoel nie. Die verandering wat daar wel was het onnatuurlik gevoel, juis as gevolg van die gebrek aan opbou.

Met alle uitdagings dus in ag genome, sou ek sê Temmingh se Kersieboord was ’n gemiddelde interpretasie. Daar is wel uitstekende toneelspel gewees, wat dit die moeite werd gemaak het om te kyk. Hierdie is ’n produksie wat potensiaal het en veel beter tot sy reg sal kom in ’n ander teater waar die gehoor nader kan sit, die akteurs nie so geïsoleerd geplaas word nie en die lokaal meer geskik is.

@dinie_basson

YouTube: Dinie het nie brieke nie (Coming Soon)

Tagged , , ,

Comments