Reviews

Fourie Botha se pragdebuut

Donkerkamer deur Fourie Botha.  Kaapstad: Queillerie, 2011.

Fourie Botha het in 2010 vyf gedigte in Nuwe stemme 4 gepubliseer, maar dit is veral nou in sy eerste vollengte bundel, Donkerkamer, dat sy talent as digter tot sy reg kom. Dit is nie moeilik om oor hierdie nuwe bundel opgewonde te raak nie – Donkerkamer is ’n pragdebuut wat my met die soort entoesiasme vervul wat ek laas met Danie Marais se debuut in 2006 met In die buitenste ruimte ervaar het. Hier is ’n digter wat nadenkend skryf oor ’n wye aantal onderwerpe en bewus is van die uitdagings wat die digmedium aan hom stel.

Die gedigte in Donkerkamer kan rofweg in twee groepe ingedeel word, naamlik verse oor onmiddellike teenaan-die-lyf-ervarings, en besinnings oor gemedieerde weergawes van die werklikheid. Die verse gaan met ander woorde oor die kunstenaar se liggaamlike belewing van die eie geskiedenis en aktualiteit én oor die aktiwiteit binne die donkerkamer, ook gesien as die digterlike verbeelding, waar representasies van die waargenome werklikheid vorm aanneem en begin aanspraak maak op ’n eie bestaan, “beurend / teen die donkerkamers / van die brein” (“Ombalantu ”).

Die ervarings wat die “ek” aan eie lyf gevoel het, verwys meestal na sy jeug, die liefde en die erotiek teenoor die stewige aantal beskouings van bestaande kunswerke en foto’s. Die spanning tussen die onmiddellike toeganklikheid van die persoonlike lewensruimte en die mediasies wat toegang bied tot ’n groter maar meer gedistansieerde werklikheid is in die bundel tekenend van die veelkantigheid van die postmoderne bestaan. In die Afrikaanse digkuns is hierdie soort aanslag uiteraard niks nuuts nie en die tematiek in Donkerkamer bied geen ambisieuse vergesigte op die ontwikkeling van nuwe gedagtegoed nie. Die uitvoering wat Fourie Botha in sy individuele gedigte aan gevestigde temas in die Afrikaanse poësie gee, is egter besonder raak en deurdag, en op ’n stilistiese vlak is sy werk dikwels verrassend en uitdagend.

Die openingsgedig, “Foto van my pa se gesig”, tree op as ’n programgedig waarin die digter se belangstelling in fotografiese representasie en sy gereelde terugkeer na sy kinderjare en die gesinslewe in Donkerkamer byeengebring word. Die spreker tree die vierhoek van die foto binne en beskryf dan sy pa se gesig met beelde uit die vertroude Afrikaanse plaasgeskiedenis:

 

Dan, twee kepe om die mond:

Omgekeerde ploegskaar,

Doringdraad sonder vinkies.

 

Met skynbare argeloosheid roep die beeldspraak egter ook ’n ander wêreld op, moontlik die kultuur van die San en hul gebruik om krale van volstruiseierdop te maak, wat eweneens in die gesig van die vader herken word:

 

Twee skerfies volstruisdop, dié oë,

elk met ’n gaatjie in die wit

soos vir ’n stringetjie krale.

 

Die leser moet dus daarop bedag wees dat hierdie bundel nie gemaklike nostalgiese uitwydings oor die Afrikanerboer op sy plaas sal wees nie. Die Afrika-konteks praat deeglik saam soos in “Ludzidzini” en daar is ook uitvlugte na Europese bestemmings soos Berlyn, Londen en Griekeland. Bowendien word nagenoeg elke plek en elke individu deur die filter van reeds bestaande estetiese artefakte en representasies beskou – in ’n dubbele besoek aan estetiese vormgewing word selfs die skrefiesoë van die vader, soos alreeds weergegee op ’n foto, byvoorbeeld verder vergelyk met ’n stringetjie krale van volstruiseierdop.

“Bedgebied”, die eerste afdeling in Donkerkamer, bestaan uit homoërotiese gedigte. Ook in die tweede afdeling, “Skoot”, is die erotiek nie afwesig nie, maar die meeste gedigte gaan hier oor foto’s en die visuele kunste. Die slotafdeling, die sterkste afdeling in die bundel, dra die titel “Roberts Birds” en bestaan uit jeugherinneringe met voëls as deurlopende motief.  Die temas in die onderskeie afdelings word egter nie streng van mekaar afgegrens nie sodat daar ’n deurlopende gesprek oor erotiek en kuns ontwikkel. “Bedgebied” begin byvoorbeeld met “Caravaggio se Bacchus ”, en alhoewel die erotiek in dié knap gedig deeglik ter sprake kom, laat die digter nie na om, heel ligvoets, die vervlietende aard van liggaamlike skoonheid teenoor die ewigheidswaarde van die kuns na aanleiding van Caravaggio se bekende skildery in oënskou te neem nie.

In ’n onderhoud het Fourie Botha oor vorm in sy poësie opgemerk:  “ek voel aangetrokke tot ’n meer gestileerde vorm. Ek gee nie veel om as ’n foto woes ge-Photoshop is nie; ook nie as ’n gedig se vorm sy asem so ’n bietjie uitdruk soos ’n korset nie”. Baie van die gedigte in Donkerkamer, waaronder die werklik goeie “Vir spys en drank” en “My eerste Bybel”, bestaan uit die saamdig van ’n aantal kwatryne. In “By die skoolhoof se begrafnis”, wat bestaan uit vier kwatryne, maak Botha met groot sukses van die dralende pantoen met sy tipies hipnotiese herhalings gebruik:

 

By die skoolhoof se begrafnis

staan die rugbyspan ’n erewag.

Die ouer seun speel blokfluit,

die jongste klem sy rugbybal.

 

“Staan die rugbyspan ’n erewag

na die graf?” “Is daar middagete?”

Die jongste klem sy rugbybal,

biddende hande teen sy pa se kis.

 

Ná die graf is daar middagete.

Toebroodjies lê in rye soos

biddende hande. Teen sy pa se kis

druk vingers in die hout se oë.

 

Toebroodjies lê in rye soos

hul pa. Die seun speel blokfluit:

druk vingers in die hout se oë

by die skoolhoof se begrafnis.

 

Die erewag van ’n rugbyspan en selfs die toebroodjies in rye skep die indruk van streng dissipline en presisie soos dit deur sommige skoolhoofde in Afrikaanse skole gehandhaaf word, maar die herhalende reëls sorg daarvoor dat die skaarse gegewens wat in die gedig genoem word algaande met ’n sterk elegiese gehalte gelaai word.

Dit was ’n goeie ingewing van Botha om sommige van die foto’s waarna hy verwys in die bundel af te druk, al is dit jammer dat die foto’s nie altyd langs die relevante gedig verskyn nie en die leser dus heen en weer moet rondblaai. Een van die beste ekphrastiese gedigte na aanleiding van foto’s in Donkerkamer is “Lunch II”. Die foto is geneem tydens die skiet van die erotiese Les Dieux du Stade-kalender (2004). Twee Franse rugbyspelers, “kaal soos Adam of die dieux van hul kalender, / boude en rûe na die kamera” kyk na die foto wat hul fotograaf vir hulle wys terwyl eenkant ’n vrou nonchalant staan en toekyk. Hierdie foto spoor Fourie Botha aan om te vra wat alles verander het sedert Manet se opspraakwekkende skildery Noenmaal op die gras. In plaas van die naakte vrou in die geselskap van twee geklede mans in Manet se skildery is daar op die foto immers nou twee naakte mans wat aan die blik en begeerte van die kyker uitgelewer word. Die twee geklede mans by Manet wat van die kaal vrou ’n “lunch” kon maak, het nou in die eietydse erotiese foto self die feesmaal geword.

Uiteindelik besluit die digter dat sedert Manet se skildery slegs die nuwe medium van representasie, naamlik die foto (’n “klein, blink vierkantjie”), op ’n betekenisvolle verandering dui. Die libidinale ekonomie bly ongeskonde voortbestaan ook al is dit nou twee mans, en nie meer ’n vrou nie, wat naak afgebeeld word. “Lunch II”, ’n nadenkende gedig wat oor ’n skynbaar toevallige erotiese foto geskryf is, bevestig klaarblyklik Botha se opmerking oor die ontstaan van baie van sy verse: “Ek kom agter dat die prikkels vir gedigte baie keer sarkasties of eroties is, maar hoe meer jy na iets kyk wat veronderstel is om ’n cheap thrill te wees, hoe meer goed sien jy raak”. Die cheap thrill is die vertrekpunt, maar die poëtiese resultaat is meestal diepsinnig en oorwoë.

Met sy belangstelling in die ekphrastiese en homoërotiese poësie sluit Fourie Botha aan by die werk van sy mentor, Joan Hambidge, en die invloedryke gaypoësie van Johann de Lange. Aan De Lange dra hy die vernuftige kwatryn “Nagsweet” op:

 

Nagsweet

vir JdL

 

Ek vind my kopie in ’n cubicle

tussen die boekstutte van jou balle.

Ek blaai dit oop, lees die reguit reël

met my bysiende tong; proe die titel.

 

Hierdie gedig is ’n gepaste klein huldeblyk aan De Lange se baanbrekende bundel Nagsweet en roep ook Hennie Aucamp se gedig “Snuffelgids” uit Hittegolf by die leser op. Boek en liggaam word een in Botha se kwatryn wat boonop geskoei is op die soort tematiek en tegniek wat De Lange se meer spulse poësie kenmerk. Die invloed van Johann de Lange is ook sigbaar in die poësie van Loftus Marais , wat net soos Fourie Botha met sy homoërotiese gedigte die aandag getrek het in sy debuut Staan in die algemeen nader aan vensters (2008). En net soos Marais skryf Botha in Donkerkamer interessant oor die tergende kwessie van seks en ouderdom binne die gaykonteks (“Lunch”, “Vir spys en drank” en “Don’t feed the lions”).

Daar is ’n groot aantal uiters geslaagde gedigte in Donkerkamer. Naas die verse wat ek alreeds genoem het, eis ook die volgende gedigte dat die leser keer op keer na hulle moet terugkeer vir ’n tweede of derde lees: “In die nanag is jou lyf verbode”, “Ek en jy trek noustrop”, “Hiëna-ode”, “Die slang steek sy kop”, “Ná kerk, Sondag”, “Iemand het ’n lappop op ’n ashoop opgetel”, “Ek was toe mos net ’n kind”, “Die maan is ’n ou matras waarop vele digters lê” en “Ná die diens”. Fourie Botha dig sonder woede maar wel met vuur. Hy is geseën met ’n skerp oog vir die juiste digterlike woord wat lank natril in feitlik elke versreël, styf gespan soos ’n snaar om suiwer woordakkoorde voort te bring.

Comments