Reviews

Die skrywer as voëlwiggelaar

Alfabet van die voëls, deur S.J. Naudé, Umuzi, 2011.

In een van die kortverhale uit S.J. Naudé se indrukwekkende debuutwerk Alfabet van die voëls, wat onlangs deur Umuzi uitgegee is, ervaar die hooffiguur ’n surrealistiese dog monumentale oomblik. Vir dié jong man, steeds vasgevang in die nadraai van sy hedonistiese avonture saam met sy misterieuse Duitse vriend deur Berlyn se polsende naglewe, is dit ’n onheilspellende verskynsel toe ’n duif op die vensterbank kom sit en met hom begin praat:

“‘Hoe donker steier hy oomhoog, hoe bedwelmend, jou drakeprins,’ sê die duif. ‘Jy kan ’n verskriklike mooi dood verwag.’ Hy is verstom dat hy dit ineens kan verstaan, die taal van voëls. Te verstom om met die duif in gesprek te tree.”

Vir die leser is dit ’n ewe belangrike oomblik in die teks omdat dié geveerde profeet se voorspelling uiteindelik realiseer wanneer die hooffiguur die waarhede van siekte en sterflikheid in die gesig moet staar.

Alfabet van die voëls bestaan uit sewe langerige kortverhale wat losweg, deur sekere herhalende temas of karakters, met mekaar verband hou. Dié idee van ’n geheime taal van die voëls, geïnspireer deur die mitologie, word ’n komplekse metafoor wat Naudé gebruik om die leser aan te spoor om die verbande en temas tussen die verhale te ontsyfer.

Die bundel se verhale spruit gedeeltelik uit Naudé se meestersgraadstudie in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Stellenbosch, onder die mentorskap van Marlene van Niekerk en Willem Anker. Naudé se skeppings spreek van ’n subtiele skryfkuns, daarom dat André P. Brink op die buiteblad die verhale prys, en in twee aparte resensies swaai Cilliers van der Berg en Louise Viljoen albei die bundel met lof toe.

“’n Meester uit Duitsland” (die titel geleen uit Paul Celan se “Todesfuge”) is een van drie verhale wat ooglopend oor verlies, aftakeling en sterflikheid handel. Die hooffiguur is ’n jong geleerde wat homself eers in London se korporatiewe klieks vestig, maar wie se lewe omvergegooi word deur ’n verhouding met Joschka, ’n charismatiese Duitser. Joschka se “witwarm entoesiasme” en “onsetelende onvoorspelbaarheid” is ’n teengif vir die hooffiguur se ennui. Later vind hy uit dat hy moontlik Vigs het — ’n oorsaak van sy noue interaksie met Joschka, en kort hierna volg die nuus dat sy ma terminaal gediagoniseer is met kanker. Die verhaal begin dus met die hooffiguur wat gekonfronteer word met sy siek ma as ontblote en weerbare en deur terugflitse word verdere gegewens vertel.

Teen die agtergrond van die verlede en die kontemporêre, die bekende en die vreemde, die sublieme en die ellendige, word universele temas afgeëts. Sy verhouding met Joschka, die kasteel met sy gerestoreerde kamer tussen die ruïnes, sy sterwende ma en haar suurappelboom is alles gegewens wat saamhang en waarteen die hoofkarkater se uiteindelike aanvaarding van sy ma se dood, sy eie sterflikheid en uiteindelik ook Joschka se lyding geskied. Dit is dan ook hier waar Naudé uitlig dat daar ’n ander taal “as dié van die voëls” is. Dit word duidelik wanneer die hoofkarakter teen die einde van die verhaal besef dat pyn “’n geluidlose taal” is.

“Die Mobile” en “Oorlog, bloeisels” sluit aan by “’n Meester uit Duitsland” en verken verder die speling tussen aftakeling en groei, lewe en dood, en die sêbare teenoor die onsêbare.

“Die Mobile” vertel die verhaal van Sandrien Gouws, ’n plaasvrou wat eers ’n wewery as gemeenskapsprojek vir plaaslike vrouens bedryf het maar toe met borskanker gediagnoseer is. In reaksie tot hierdie nuus hervat Sandrien haar beroep as verpleegster en word iets tussen ’n donker Florence Nightingale en ’n WGO werker. Sy is opsoek na die “teksture van verlies” en behandel met onblusbare empatie, dalk blind vir die teenstrydighede van haar eie motiewe, die siek armes en vigslyers van die streek. Sandrien vul haar dae met “die seer, skerp hoeke van lywe”. Haar uitmergelende missie veroorsaak egter dat sy haar gesin afskeep en later loop Sandrien haar ook vas in die korrupsie en magstrukture van ’n nuwe Suid-Afrika waar roofdiere nie nét die jakkelse en hiëna’s op die omliggende plase is nie. Haar verhaal bereik uiteindelik ’n fatale einde.

In “Oorlog, bloeisels” word die hoofkarakter se sorg van sy kanker-lydende ma met ’n oorlogstryd vergelyk; ’n veldtog van ’n kind wat die instinkte en trots van sy terminaal siek ouer moet teenstaan.

Soos Joschka in “’n Meester uit Duitsland” is daar weer ’n uitlander as vriend, hierdie keer ’n Japanees, Hisashi, saam met wie die hoofkarakter ’n reis deur Viëtnam en Japan gedeel het. Hisashi kom kuier in Suid-Afrika en betree as ongenooide buitestaander die oorlogsveld. Eers vermaak Hisashi die hoofkarakter se sterwende ma met eksotiese kossoorte en maniere, maar uiteindelik word Hisashi ’n figuur wat ’n verstandigheid oor die dood by die hoofkarakter kataliseer. Wanneer sy ma uiteindelik sterf, wag hy vir Hisashi soos iemand wat op Charon wag om oor die rivier Styx geneem te word. Die voëls maak ook weer hul onthutsende verskyning in die slot van die verhaal wanneer die hoofkarakter hom verbeel hoe “die tuinvoëls sal invlieg en oor hul koppe kom woer, ’n einde op hulle kom skryf”.

Die ander verhale in die bundel dra by tot ’n verbysterende verskeidenheid temas. “Los” en “Die Lawaaimasjien” handel oor verhoudings tussen mans, maar nie ten koste van ’n verkenning van die hoofkarakters se gewaarwording en/of losmaking van universele insigte nie. Soms is die verhale maklik verstaanbaar vir die leser maar soms lê begrip juis buite die “taal van die voëls”. Die verhale het verskeie homoërotiese oomblikke en die amper queer hantering van seksualiteit is opmerklik. Dit hang saam met die feit dat Naudé eerder die fyn skakerings van menseverhoudings en intimiteit verken.

Die twee oorblywende verhale, “VNLS” en “Moederskwartet”, sentreer om die karakter genaamd Ondien. “VNLS” vertel van haar mislukte poging, “nadat sy die akademiese musiekwêreld in Londen die rug toegekeer het”, om saam met twee Zulu meisies, Nungi en Beauty, ’n soort ironiese, amper satiriese musiekgroep (die “Victorian Native Ladies’ Society”) te laat werk. In “Moederskwartet” word Ondien se verhaal hervat wanneer haar broer haar uit die bloute kontak en ’n soort donker verkenningsreis moontlik maak. Ondien reis na Phoenix, Londen en Dubai, die uithoeke van ’n Afrikaner-diaspora, om die ontwortelde lewens van haar twee susters en broer te ervaar. Haar reis eindig terug in Suid-Afrika waar sy uiteindelik haarself oorgee aan ’n brutale swanesang.

Naudé se verhale word gekenmerk aan genuanseerde karakterisering, verrykende intertekstualiteit, goed nagevorsde — moontlik weens die skrywer se eie ervarings — kultureleverwysings en, by tye poëtiese beskrywings wat inderdaad die verhale se bydrae tot die Afrikaanse literatuur merkwaardig maak.

Tog werp die bundel ook ’n blik op die teenstellings, verliese en self-vervreemding wat deel vorm van die 21ste-eeuse Afrikaner/Afrikaanse psige. Eben Venter, in ’n resensie op die webwerf Boeke24, wys met reg uit dat Naudé deur sy “vars, berekende Afrikaans” al skrywende “tekstuur gee aan ons vreemder wordende planeet”. Die hoofkarakters, dikwels naamloos, vertel van individue wat as ontheemdes gevorm en getemper word deur die teenstrydighede van ’n post-modernistiese wêreld (met ’n “post-apokaliptiese toonaard” soos Brink sou byvoeg). As Afrikaanses spreek hulle van die teenstrydighede van herkoms en ontworteling in ’n kontemporêre Suid-Afrika en geglobaliseerde aarde. Maar die bundel se verkenning van die spesifieke kwessies ontlont terselfdertyd universele tema’s.

Die karakters in Naudé se verhale moet elkeen ’n gewaarwording of ’n soort losmaking ondergaan. Dié proses spreek op een vlak spesifieke sosio-politiese kwessies aan, maar op ’n ander vlak kommunikeer dit ook sekere universele temas. Naudé se bundel herinner ons opnuut dat die speling tussen die spesifieke en die universele sekerlik die hoeksteen van goeie literatuur is. Uiteindelik vra Alfabet van die voëls ook interessante vrae oor genre en vorm. Cilliers van der Berg vra of die waarde van die verhale nie juis in die effek van die bundel se eenheid as versameling lê nie. Die leser word gevra om saam te skryf aan die betekenis wat tussen die verhale na vore tree. Elke verhaal vra om weer gelees te word en dit blyk dat Naudé se “taal van die voëls” vir interpretasie oop is.

Tagged

Comments

Jono87 says:

Samehangend en baie netjies gepoleer, Francois. Uit alle oorde blyk die ontvangs besonder positief te wees, en ek het al ‘n hele paar vergelykings met Marlene Van Niekerk en Ingrid Winterbach teegekom. Het jy ook die versameling as iets besonders ervaar?