Reviews

Die Kantate van Woede: ’n Reaksie op Die Kortstondige raklewe van Anastasia W

Athol Fugard het enkele jare gelede, toe hy die Drama Departement hier in Stellenbosch besoek het, met die student gepraat en van sy herinneringe “uit die ou dae” met ons gedeel. In hierdie gesprek in die HB Thomteater, het hy onder andere gepraat oor die probleme wat hy met destydse protesteater gehad het. Hy het hier vertel hoe hy gedink het die tekste was normaalweg nie die papier werd waarop dit geskryf was nie. Toiletpapierdun, het hy dit genoem. Nou, soveel jare later, in dieselfde teater, word daar ’n protesteaterstuk gespeel: Die Kortstondige raklewe van Anastasia W. Die probleme wat Fugard met soveel protesteaterstukke van Apartheid gehad het, is egter nie hiér teenwoordig nie. Die kreatiewe span wat vir hierdie stuk verantwoordelik is, hou hulle nie met toiletpapier besig nie.

Marlene van Niekerk was verantwoordelik vir die teks/libretto en Marthinus Basson vir die regie.  Saam is hulle ’n gevaarlike span. Terroriste, die twee. Hulle laat jou nie met rus nie. Op amper gewelddadige wyse word die gehoor gebombardeer met masjiengeweerdialoog. Geen kans om te rus, te verteer of te verslap nie.  As gehoorlid, is die produksie van Anastasia W nie ’n lekker teaterervaring nie. Dit was die opwindendste belewenis wat ek in jare gehad het!

Die teks is lank en dig. Ek sou niks minder van Marlene van Niekerk verwag nie. Net omdat sy nou met teater omgaan, beteken dit nie sy hoef in te boet op kompleksiteit nie. Die (veral Afrikaanse) teatergehore is gewoond aan spookasem inhoud, 7de Laan-oppervlakkigheid en met die onlangse ABSA KKNK blyk dit dat hulle nie altyd die uitdaging van vlesige teater kan of wil aanvaar nie. Die gesanik in die briewekolomme van die Afrikaanse koerante getuig daarvan. Dit is nie gereeld dat ’n teaterstuk die briewekolomme haal nie. Of die klagtes en komplimente enige gewig dra, is nie hier ter sake nie. Wat die blootstelling in die koerante wel veroorsaak het, is ’n gesprek waar teater weer sentraal staan. En hierdie gesprek is uiters noodsaaklik, net soos hierdie toneelstuk, hierdie teaterervaring, ook uiters noodsaaklik is.

Ons het te doen met ’n teaterervaring waar die teks vining, hard en ongenaakbaar aan die gehoor vertel, gesing, gedeklameer, geskree en gefluister word. Met die regie van Marthinus Basson kan ’n mens nie veel fout vind nie. Hy lei sy span spelers met subtiele en interessante keuses wat die teks lewendig hou. In ’n minder bekwame paar hande sou hierdie teks maklik kon ontaard in ’n preek wat nie veel sê nie, want al is die inhoud hoé goed, as dit nie met sensitiwiteit aangebied word nie, kan dit selfkoesterend voorkom – een van die groot sondes van die teater. Die verhaalgegewe is eenvoudig genoeg om te volg. Die rykheid van die dialoog en liriek maak dit egter nie vir die gehoor maklik om altyd te volg wat gesê word nie, maar elke nou en dan is daar iets wat jy herken. Iets waaroor jy ook kwaad is. Iets wat jou tot in jou siel skok. Iets wat grensloos snaaks is – selfs al wil jy nie hardop daarvoor lag nie. Dit is satire op sy beste. Van Niekerk, die slinkse Vos, vertoon skaamteloos haar ware en die samelewing se weekdele.

Die aard van die produksie maak dit nie nodig om elke woord te volg wat gesê word nie. Dit is dalk een van die elemente van Anastasia wat die gehoor kan afskrik of vervreem van die vertoning. Jy word nie die geleentheid gegun om terug te sit en net te geniet nie. Jy moet aktief besig bly, betrokke wees by wat op die verhoog gebeur. En soos ek alreeds genoem het, is hiérdie show nié spookasemvermaak nie. Die interteks, soms besonders vreemd en verwikkeld, gee elke nou en dan verligting waar die gehoor die geleentheid gegun word om ’n sleutel tot die teks en musiek te kry, om weer op die wa te kan kom as hulle voel hulle is êrens afgegooi. Miskien is hierdie ook een van daardie teaterervarings waar ’n gehoorlid dalk nie moet probeer om te “verstaan” nie. Beleef dit net vir wat dit is en dan kan jy daarvan maak wat jy wil. Musiek word tog nie altyd “verstaan” nie, maar dit kan jou op ’n reis vat en dit is presies wat met hierdie produksie gebeur. Dit vat jou op ’n reis na soveel plekke en ruimtes, teen ’n spoed wat jou asem wegslaan.

Dit is nie net die teks en regie wat hierdie reis moontlik maak nie. Die akteurs en musici is net so ’n integrale deel van hierdie wenspan. Nicole Holm (as Sus) sit nie sommer ’n voet op die verhoog verkeerd nie. Haar sangstem en vertolking is foutloos. Haar komiese elemente is vlymskerp, haar dramatiese dele is roerend. Eben Genis (Daan) glip meesterlik tussen dialekte/uitsprake. Hy is die hanswors met sy hart op sy een mou en sy dood op sy ander mou. Hy is die nar waarvoor jy bang én jammer is. Die idioot wat die waarheid op sy eie verwronge manier uiter. Dean Balie en Marlo Minnaar, die twee jong kalante in die rolverdeling, doen wat hulle moet doen met oorgawe en ’n fyn gevoel vir hul funksie en materiaal. Hulle steel jou hart en maak jou bloeddorstiglik kwaad. Ek hoop dat dié twee die geleenthede gegun word om hul vaardighede op die professionele verhoog nog verder te slyp!

Mr Cat & the Jackal het al ’n paar teaterstukke se klankbane op hul kerfstok. Die rykheid van hul musiek, die sensitiwiteit aan die een kant en harder rock-klank aan die ander kant, bombardeer en streel die gehoor en kleur die produksie op maniere wat min ander groepe hulle sou kon nadoen. Braam du Toit, ook al ’n bekende komponis in Suid-Afrika wat gereeld vir die teater skryf, se komposisies is verfrissend, uitdagend en in die konteks van die toneelstuk, sluip dit soomloos in die handeling in. Sy sensitiwiteit met die orkestrasie vir die houtblasers het my wel opgeval. Hulle klank word ’n geween, ’n polisiesirene, ’n doodse sug. En die stemme van die akteurs maak die musiek lewendig. Die kanon van "Ek had ’n kleine kantikleer" dryf die stuk tot  ’n emosionele hoogtepunt.

Dit is so min dat daar hierdie kwaliteit satire in Afrikaans en op ons verhoë gesien en gehoor word. Dit is so min dat daar werk geskep kan word waar daar grense verskuif kan word, waar daar ge-eksperimenteer kan word. Nou wil mense (selfs sommige kortsigtige en jaloerse teatermakers) wonder hoekom dit nodig is dat daar geld en tyd op kunstefeeste aan hierdie tipe produksies afgestaan word. As teatermakers kan ons blykbaar nie bekostig om ons gehore te vervreem nie. As gehoorlid is ek egter siek en sat vir spookasemteater, vir tweedehandse, gevaarlike nostalgie wat opgedis word om “bums in seats” te kry. Vir daardie mense sê ek as gehoorlid: “Ek soek meer en jy kan dit nie vir my gee nie.”

Anastasia W se raklewe is dalk kort in Suid-Afrika. Hierdie stuk is dalk ’n kritiese sukses, gehore draai miskien hulle rûe op die produksie. Tog voel ek dat dit ’n ongelooflike belangrike werk in Afrikaans vir Suid-Afrika is. Die stuk is duidelik uit woede gebore. Die stuk maak ’n mens kwaad, om verskeie redes. En daarin lê die krag van die teater en van hierdie toneelstuk. Dit ruk iets los. Dit val alles en almal aan – met goeie rede. Dit protesteer, dit gil en dit raas, dit laat jou giggel en hardop lag, maar dit is nooit so dom om te probeer voorskryf nie. Die teks is in die program gedruk sodat jy later daarna kan terugkeer en dalk stuk vir stuk verteer. Hierdie teks verdien egter ’n volledige publikasie, want dit is ’n dokument van die skandalige posisie waarin ons land haarself tans bevind. Dit is ’n dokument van komplekse en verfynde teater in Afrikaans – ’n teater waar toiletpapier alte maklik die Hertzogprys gekry het. ’n Mens kan van spookasem immers nie alleen lewe nie.

 

Comments

J.D. says:

@Jason. You’re welcome to your taste and if you think the Afrikaans in the text is “uiters goed”, then that’s brilliant. I’m not at all trying to detract from your enjoyment of a form of Afrikaans (your taste). But your initial comment was that Afrikaans should/ought/must be like this afrikaans. My problem with that is that in claiming that something is the standard to which other things should be compared, you’re reifying Afrikaans, thereby excluding others who would disagree with your assessment. Now, while I don’t think this is what you intended, I think it’s a dangerous way to use your words as you’re essentially reinforcing a hegemonic view of the Afrikaans language. Hence my suggestion that you focus on what Afrikaans can be rather than on what it ought to be. Because in that formulation, you still keep your opinion, but you don’t claim for it (your opinion) some kind of special right. When we do that, we oppress. Cheerio!

Jason says:

@ J.D: Dink jy nie dit het meer te doen met smaak nie? Ja ek stem 50 % saam met jou, maar kyk: Die manier hoe Afrikaans in die teks gebruik word, is uiters goed! EN BY THE WAY: Vandag het ‘Nicola’ en haar span ses Kannas losgeslaan.. Praat van taal 🙂

Lovemore says:

“Not plainchant as dit is waarvoor jy bang is, bra, net mooi algemeen beskaafde Afrikaans, jy kan nie jou produk hier verkoop as jy koeterwaals uitslaan uit die riool nie.”

J.D. Warner says:

@Jason: I think you should be less concerned with what Afrikaans ought to be, and more with what it can be. I’m sure, in your understanding of Afrikaans, this text is the epitome, however, you wouldn’t want to alienate other ideas of what Afrikaans should be, surely? I’d hate for you to fall down the essentialism black hole. With kind regards, JD.

Jason Jacobs says:

Ek het onlangs my hande aan die teks gekry, en dit OOR en OOR gelees. Dit IS hoe Afrikaans MOET wees.. Ek het gedink Nicola Hanekom is die enigste persoon wat nog my hart kan steel met ons taal, maar ek was verkeerd..