Reviews

As jy rolprente maak

The following reviews were written by the final-year undergraduate students in the Theatre Studies 314 Film and Media Theory component at the University of Stellenbosch as an exercise in film criticism. Students were instructed to review any South African film or short film released in the past two years, and to consider the film's artistic merit and appeal to the public in light of its context and production values. By publishing these reviews on SLiPnet, we hope to extend the quality of critical interaction with South African film.

As Jy Sing, regie deur André Odendaal, vrygestel 12 November 2013.

Met Bobby van Jaarsveld, Leah, Bok van Blerk, Karlien van Jaarsveld, Robbie Wessels, Katlego Maboe, Hannah Grobler, Franja du Plessis en Georic Lomas.

Die Suid-Afrikaanse, film weergawe van Glee, toepaslik genaamd, As Jy Sing, is net die nuutste in ʼn ry van Afrikaanse films wat in 2013 opgeduik het. Met Bobby van Jaarsveld in die hoofrol en ʼn rolverdeling hoofsaaklik van befaamde Afrikaanse sangers, het die nuwe aanwins op die Suid-Afrikaanse loket belowe om net so opwindend, beuselagtig en absurd soos sy musiekblyspel voorganger, Liefling, te wees.

Toe nie heeltemal nie.

Dis die storie van ʼn baie oorywerige musiekonderwyser, Mnr. Conradie (Bobby van Jaarsveld), wat probeer ondersteuning van die skool en die skoolhoof werf vir sy “sang-groepie” wat aan ʼn landswye sangkompetisie gaan deelneem. Die skoolhoof (Robbie Wessels) is egter belaglik behep met die sport prestasies van sy leerders en voel eindelik vere vir enige kulturele ondernemings. Sy poging om die sangers se kanse in die kompetisie te dwarsboom word so ver gevoer dat hy hulle op ‘n weermagkamp stuur, Kamp Kanniedood onderleiding van Sersant-Majoor Fourie (Bok van Blerk), op die naweek van hulle kompetisie. Daarmee saam stuur hy ook die eerstespan se jong fisioterapeut, Juffrou De Bruin (Leah), om Mnr. Conradie te verlei, op ’n wyse wat mens laat wonder watter vrou van die een-en-twintigste eeu sal saamwerk met dié tipe seksuele teistering.

Soos te verwagte, was die toneelspel weer ’n haakplek. Nie alle sangers is akteurs nie. Mens wonder of Karlien van Jaarsveld en Franja du Plessis nie slegs hulle onderskeie rolle gekry het oor hulle die regte naam het nie. Die nuweling, net bekend as Leah, het egter nie teleurgestel nie; die vonke het behoorlik tussen haar en Bobby op skerm gespat.

Die jong span akteurs, oftewel, sangers was indrukwekkend genoeg, al het die teks soms min karakterdiepte toegelaat. Daar is meer karakters as waarvoor die storielyn toelaat, en of dit nou die draaiboekskrywers, Sandra Vaughn en Corine du Toit, se skuld is of aan die redigering toe te skryf is, is onbeduidend, want die eindproduk is ’n storielyn wat effens verwarrend en leeg is.

Die mees frustrerende aspek van die film, en ek kan alles anders vergewe behalwe dit, is die versuim om enige kongruente integrasie tussen die intrige en die lirieke van die liedjies te bewerkstellig. Die grootste sondebokke, Timbaktu van Riana Nel en Superhero van Eden, se lirieke het geen relevansie tot enige deel van die verhaal nie.

Die finale waar die kompetisie plaasvind, spog egter met ’n pragtige Afrikaanse lied, oorspronklik opgeneem deur Dewald Wasserfal, Eendag As Ons Groot Is. My oor het egter ’n sterk sopraan of mezzo-sopraan in die solo’s sowel as harmonieë verlang, maar dit moes maar tevrede wees met ’n sleutel-verandering na die brug. Buiten dat die lied te vinnig verby is (na ’n karige 2:46 min), het dit ook iets gróóts gekort, daardie epicness (by gebrek aan ’n beter woord) wat jy van ’n musikale nommer aan die einde van so ’n film verwag.

Die choreografie was nie te versmaai nie, maar sukkel nog om met oorsese kamerawerk te kompeteer. Die 14-jarige High School Musical aanhanger in my soek die bewegende kamera wat die koreografie komplimenteer en die hoë hoeke wat ingewikkelde danspassiepatrone van bo af verfilm. Die algehele effek was tog baie minder staties as wat in Liefling se danssekwense te siene was.

Die mees indrukwekkende faset van As Jy Sing, was beslis die stel. Die meerderheid van die verhaal speel af op die Sun Wa River Lodge net buite Parys, ’n agtergrond wat homself uitgeleen het tot pragtige skote wat kleur en kinematografie aangaan. ’n Klein geskenkie aan die kyker ‒ ’n stadige aksie skoot van Bok van Blerk wat soos ‘n pirahna uit die water spring ‒ het ’n interessante vervreemdingseffek tot gevolg gehad.

Ek moet erken daar is al baie vordering gemaak na Liefling; As Jy Sing was waarlik, tekortkominge uitgesluit, ’n plesier, en ek sien uit na die vooruitgang wat daar toekomstig in hierdie uncharted territory van Afrikaanse rolprente gemaak gaan word.

Comments