Literary Translation

David Manisi sings the praises of Madiba

 

Translation into Afrikaans by Antjie Krog


unkosi Rholihlahla Nelson Mandela
(aa! wees gegroet! jy, Aardbewing!)

die aarde skud vir die wittes
die valleie brul groen
al die berge sidder
magtige nasies staan verbyster
want ’n klein landjie is in beroering
voorwaar die landjie wriemel om los te breek
die aarde bewe werklik
die aarde bewe beslis

heil! o land wat sidder
Aarde-wat-bewe, hy, die vaalbruin seun van voorvader Mandela
lewendige vaalbruinvel by Sokhawulela se huis
by die gewapende Dlomo, by Ngqolomsila
die sekretarisvoël by Hala wat so lank is dat hy met sy knieë loop
ystervretende yster by die plek van Ndaba
die balk begin skreeu, want die steunpilaar is sy ondergang
die taai voorslag is uit riem gesny

die Kapper-wat-stokke-tussen-die-dorings-uitkap
kap die donker plekke van dwaasheid uit
hy besoek alle uithoeke, al die ribbes van die aarde
hy roer en die wêreld kom in beroering
hy wat die wêreld omkrúl soos ’n waterslang
die een wat swem in die Oranjerivier
die een wat drink uit die Zambezi
hy dien die volke van Afrika

hy dien Mbo en Nguni
Sotho en Tswana
hy dien die Zulu van Senzangakhona
Swazi en Ndebele
Tsonga, en Die-wat-nog-swarter-is
hy sny kruis en dwars oor groot en klein lande
hy skep eenheid onder Afrikane
almal is gevangene in die barensnood van die geboorte van eenheid

hy priem soos ’n naald
die mooi man, hierdie pragtige man van Mthikrakra se huis
die man vir wie alle togas pas
die hoofman-halssnoer en die duikervel lendedoek
dit alles pas hom
rooi oker pas hom, hoewel hy dit nie dra nie
hy leef hom nie uit in die tradisionele lewe nie
daarom kan hy die armlastige Boere so skud dat hulle bekommerd is
dat hulle handeviervoet loop van angstigheid
hy saai wild onder hulle hy stowe hulle
hy verrinneweer en woel hulle

heil, Aardbewing
heil, Mandela wat die pad wit ooptrap
andere volke noem hom Aard-skudder
selfs die imbongi noem hom: Glinsterende-skoon-oop-pad
want hy laat Afrika straal
die opkomende son skroei die gemenes
dit brand genadeloos op hulle kaal koppe neer
hoor hoe ratel dit hulle sien die oproer onder die mense
en hulle is bang, handeviervoet, slingerend
en sonder ’n enkele druppel water
alle water het verdamp
die gemenes skud hulle koppe want die aarde skud
          vanweë die uitdorring van die land
die erdvarke vlug weg – weg uit die dorrewordenede land

praat, seun van Mandela! praat, my hoofman!
praat sonder om bang te wees
want baie sit nog steeds hier in Afrika op hulle agterstewes
          en niks doen
moenie bang wees nie!
ook nie vir hulle met die rooi mae nie
hulle wie se sameswerings nou onwelvoeglik in die openbaar sit
hulle is van die soort wat dink dat die vleis iets makeer
          dan sny hulle die kliere uit
maar al die tyd is dit die waarheid wat so bitter is
wat so steek soos aalwyn
hulle straal arrogansie uit en is onbeskofte ondermyners

praat vreesloos, Huis van die Thembu, want daar is nog manne oor
moenie bang wees nie, daar is nog manne in Afrika
selfs hulle beendere roer en maak geluide
elke been keer na sy oorspronklike plek terug
want God regeer
Hy bespoedig die tye
Hy werp groot koninkryke om
Hy hef ongeagte nasietjies op

praat, seun van Zondwa, Plek-waar-gehaat-word-sonder-vrees
moenie vir die rooikatte bang wees nie
die dood wag steeds op jou
          maar die lewe pas so paslik by jou
          dat jy die offer word vir ons mense
jy wat adel is in jou bloed
jy het te voorskyn gekom om lyding en moeilikheid te dra
          – die een stapel op die ander gestapel
mag God jou seën en jou laat slaag
dat ons alles kan oorwin – alles wat so verskriklik is
mag dit so wees vir altyd en altyd

laat dit so wees, my koning.

(trans. Antjie Krog)

Source: Krog, Antjie. Met Woorde Soos Met Kerse. Kaapstad: Kwela Boeke, 2002. Print.

Comments