Notices

Versindaba roer vanjaar die hartsnare

US Woordfees: Persverklaring
Versindaba 2011
23 en 24 September, Stellenbosch
Uitgereik op 30 Augustus 2011

Navrae: Melt Myburgh, Woordkunsprojekbestuurder, U.S. Woordfeeskantoor
Tel: 021-808 2901, Sel: 082 812 1234, www.woordfees.co.za


Die US Woordfees se Versindaba word vanjaar op 23 en 24 September op Stellenbosch aangebied. Van Suid-Afrika se voorste digterstemme klink op saam met dié van vars, jong talent.

Die tema van vanjaar se Versindaba is “Roer die snare”. Hiermee word die musikale en liriese sy van Afrikaanse poësie uitgelig en poësieliefhebbers se harte aangeraak met ʼn opwindende programaanbod.

Hulde word gebring aan drie belangrike digterfigure: D.J. Opperman, Adam Small en Floris Brown.

Op Vrydag 23 September word die dertiende D.J. Opperman-gedenklesing deur die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands aangebied. Lina Spies, wie se digterskap onder die leiding van Opperman gedy het, lewer die lesing getiteld “God, die magtige magneet: die religieuse motief in die poësie van D.J. Opperman” om 19:00 in die J.S. Gericke-biblioteek se ouditorium. Die geleentheid is gratis en mense wat dit bywoon, is welkom om agterna by Spies en lede van die Departement aan te sluit vir ’n glasie wyn en ’n ligte versnapering.

Op Saterdag 24 September volg ʼn interessante program in die Ou Hoofgebou op die Matie-kampus. Ongeveer twintig digters het verse spesiaal vir die geleentheid geskryf ter huldiging van een van Afrikaans se grootste woordkunstenaars, Adam Small. Gevestigde en jong digters lees hul verse voor by dié geleentheid wat in samewerking met RSG aangebied word. Iris Bester sal vir Lina Spies, Zandra Bezuidenhout, Johann Lodewyk Marais, Floris Brown, Martjie Bosman, Willem Fransman Jnr., Toast Coetzer, Andre Trantraal, Bibi Slippers, Marius Absalom, Pieter Odendaal, Izak de Vries, Elsibe Loubser, Anneleigh Jacobsen en Cas Vos by die geleentheid verwelkom. Ander digters wat self nie teenwoordig kan wees nie, se verse word voorgelees.

Nog ʼn digter wat by Versindaba vereer word vir sy bydrae tot die letterkunde, is die gewilde “troebadoer van Worcester”, Floris Brown. Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans bied ʼn profiel aan oor Brown, wat ʼn besondere groot aanhang in Nederland geniet. Charles Beukes en Michael le Cordeur gesels oor die woordkunstenaar se lewe en loopbaan, waarna die digter geleentheid kry om repliek te lewer.

Chris Chameleon is die gas van Rapport se ROF-fonds by vanjaar se Versindaba. Hy word om 14:00 in die Ou Hoofgebou deur prof. Louise Viljoen ondervra oor sy toonsetting van Ingrid Jonker-gedigte. Chameleon se tweede CD met Jonker-toonsettings, As jy weer skryf, is onlangs met groot entoesiasme deur die Suid-Afrikaanse publiek begroet.

Die literêre historikus, J.C. Kannemeyer, praat saam met medewerkers oor ʼn tweede versameling briewe gewissel tussen die digter-broers, W.E.G. en N.P. van Wyk Louw. Dié publikasie, wat briewe tussen bevat wat na 1940 verskyn het, werp lig op sensitiewe sake uit die Louws se persoonlike en literêre geskiedenis. Briewe van die Louw-broers word by Versindaba bekend gestel deur Hemel en see-Uitgewers.

Prof. Ronel Foster, digter en dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, lewer vanjaar die Dana Mouton-gedenklesing. Sy verskaf ’n boeiende blik op ouer en jonger literatore en digters in Suid-Afrika en Nederland, soos T.T. Cloete, Merwe Scholtz, K. Michel en Alfred Schaffer, se uiteenlopende reaksies op Marthinus Nijhoff se bekende gedig “Impasse”.

Digters wat die afgelope jaar in Afrikaans gedebuteer het, maak hul buiging by die Versindaba. Media24 se nasionale boekeredakteur, Elmari Rautenbach, stel vir Fourie Botha, Jasper van Zyl, Anne-Ghrett Erasmus, Andries Samuel en Nini Bennett voor aan poësie-liefhebbers.

ʼn Opwindende veeltalige, genre-oorskrydende sessie, aangebied deur die Stellenbosch Literêre Projek (SLiP) beloof om groot byval te vind by poësieliefhebbers. Jong podiumdigters uit die Kaapse townships en Stellenbosch-omgewing span kragte saam om die Versindaba-verhoog aan die brand te steek met hul verse. Adrian Different, Khanyisile Mbongwa, Pieter Odendaal en Mambesi Goje tree op.

Die US Woordfees se Woorde Open Wêrelde (WOW)-projek bied weer twee werkswinkels aan vir jong leerders van skole in die Wes-Kaap, naamlik die WOW Woelige werkswinkels en die WOW Verf- en Vers-werkswinkel. By dié sessies, moontlik gemaak deur die ATKV, word jongmense geleer hoe om prettig met poësie om te gaan.

Jong, ongepubliseerde digters wat hul slag met die woord wil wys, kry die kans om verse voor te lees by Verras! wat op 24 September om 21:00 in die Lanzerac Hotel se Kelder-konferensiesentrum plaasvind. Voornemende deelnemers is welkom om voor 20 September ʼn e-pos te stuur aan woord@sun.ac.za om plek te bespreek.

ʼn Hoogtepunt by die jaarlikse Versindaba is die Digtersgala wat om 18:30 by die Lanzerac Hotel aangebied word. Digters wat optree by dié spoggeleentheid is Lina Spies, Martjie Bosman, Marlise Joubert, Cas Vos, Bernard Odendaal, Johann Lodewyk Marais en Alfred Schaffer. Valiant Swart, wie se Toorwoorde roep my vroeër vanjaar verskyn het, sorg vir die musiek. Akteurs Joanie Combrinck en Marlo Minnaar lees verse van gevestigde digters voor. By dié geleentheid, moontlik gemaak deur Politika-Uitgewers en mev. Caro Wiese, word die Ingrid Jonker- en Protea Poësiepryse oorhandig.

Kaartjies kan gekoop word by Protea Boekwinkel op Stellenbosch of by die Woordfeeskantoor (kamer 615, Lettere-gebou). Telefoniese besprekings kan gedoen word by 021-808 3513. Kaartjies is ook by die deur beskikbaar.

bied aan

Versindaba

Roer die snare!

23 en 24 September 2011

Ouditorium, J.S. Gericke-biblioteek | Ou Hoofgebou | De Kelder, Lanzerac

Toegang: R30 per sessie, tensy anders aangedui.
Spesiale dagkaart (alle sessies): R120.
Kaartjies: Woordfeeskantoor (kamer 615, Lettere-gebou, US-kampus), Protea Boekwinkel, Stellenbosch, of by deur. Telefoniese besprekings: 021-808 3513.


Vrydag 23 September

D.J. Opperman-gedenklesing

God, die magtige magneet: die religieuse motief in die poësie van D.J. Opperman – Lina Spies
Aangebied deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch
In die 13de D.J. Opperman-gedenklesing verken prof. Lina Spies die godsdienstige inslag in die poësie van haar mentor en leermeester, met ’n interessante visie gegrond op haar eie geloofsbeskouing. Die lesing word aangevul met boeiende digitale beelde verskaf deur die US se Dokumentesentrum. Geniet ’n glasie wyn en ligte verversings agterna saam met die spreker.
19:00 vir 19:30 ● Ouditorium, J.S. Gericke-biblioteek ● Gratis


Saterdag 24 September 2011

ʼn Laaste gedagte tussen ons ... Briewe van die Louw-broers
Met John Kannemeyer, Suzanne Bezuidenhout, Shané Kleyn, Catrina Aldrich en Marelize Ferreira.
In hierdie interessante gesprek lig J.C. Kannemeyer en van sy medewerkers die sluier oor die fassinerende gegewens in die korrespondensie tussen die digter-broers W.E.G. en N.P. van Wyk Louw in die periode na 1940, tot en met Van Wyk Louw se dood in 1970. Sensitiewe snare word geroer wanneer die broers in konfrontasie tree oor Van Wyk se veelbesproke verhouding met Sheila Cussons en onderlinge gevegte in die destydse literêre gemeenskap.
09:00 – 09:45 ● Ou Hoofgebou ● R30

Dana Mouton-gedenklesing: Marthinus Nijhoff se “Impasse”
Ronel Foster
Ideaal vir die ernstige poësie-liefhebber: prof. Ronel Foster werp ’n boeiende blik op ouer en jonger literatore en digters in Suid-Afrika en Nederland, soos T.T. Cloete, Merwe Scholtz, K. Michel en Alfred Schaffer, se uiteenlopende reaksies op Nijhoff se bekende gedig “Impasse”.
10:00 – 10:45 ● Ou Hoofgebou ● R30

WOW Woelige werkswinkels
Ondersteun deur die ATKV
Die toekoms van die poësie lê klinkend in die mond van die jeug. Die Woordfees se Woorde Open Wêrelde (WOW)-projek bied ʼn opwindende werkswinkel aan waar laerskoolleerders van omliggende skole leer om verse te skryf, dit voor te dra en in lirieke om te sit.
10:00 – 13:00 ● Ou Hoofgebou ● Gratis vir genooide leerders

WOW Verf- en Vers-werkswinkel
Ondersteun deur die ATKV
By die prettige Verf- en Vers-werkswinkel word graad 1 tot 5-leerders se sluise van kreatiwiteit oopgetrek wanneer hulle gedigte en verfwerk kombineer om woordkunswerke te skep. Geheime word gedeel oor hoe om jou eie verf te maak waarin jy jou vingers kan doop om aan jou woorde vlerke te gee op papier. Wenners van die WOW-projek se Verf- en Vers-kompetisie word in 2012 by die Woordfees se WOORDtroFEES bekend gemaak.
10:00 – 13:00 ● Ou Hoofgebou ● Gratis vir genooide leerders

Floris Brown, die Worcester-troebadoer
Aangebied deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans
As digter pluk Floris Brown se poësie aan die hartsnare van heelwat poësieliefhebbers in Suid-Afrika en in Nederland. Charles Beukes en Michael le Cordeur salueer dié woordkunstenaar se lewe en loopbaan, waarna Brown self repliek lewer.
11:00 – 11:45 ● Ou Hoofgebou ● R30

Adam Small se kitaar en kruis
In samewerking met RSG, met Iris Bester
Byna twintig Afrikaanse digters bring hulde aan Adam Small met verse wat hulle spesiaal geskryf het vir dié geleentheid. Iris Bester verwelkom Lina Spies, Zandra Bezuidenhout, Johann Lodewyk Marais, Floris Brown, Martjie Bosman, Willem Fransman Jnr., Toast Coetzer, Andre Trantraal, Bibi Slippers, Marius Absalom, Pieter Odendaal, Izak de Vries, Elsibe Loubser, Anneleigh Jacobsen en Cas Vos. Gedigte van Joan Hambidge, Johan Myburg, Loit Sôls, Tom Gouws, Marius Swart, Diana Ferrus, Hein Viljoen en Fanie Olivier word ook voorgelees en  ʼn keur uit Small se werk bekend gestel.
12:00 – 13:30 ● Ou Hoofgebou ● R30

Chris Chameleon aan die woord
Ondersteun deur Rapport Onderwysfonds (ROF)
Na die wegholsukses van Ek herhaal jou, spog Chris Chameleon met ’n splinternuwe album, met nog toonsettings van Ingrid Jonker se verse. Louise Viljoen gesels met een van Afrikaans se trotse uitvoerprodukte oor As jy weer skryf. Die CD is ook by Versindaba te koop.
Rapport Onderwysfonds verleen finansiële hulp aan Afrikaanssprekende onderwysstudente deur middel van leningsbeurse. Kontak 073 122 8800 as jy ʼn verskil wil help maak.
14:00 – 14:45 ● Ou Hoofgebou ● R30

Musiek vir die ore!
Nasionale boekeredakteur Elmari Rautenbach stel digters bekend wat pas hul buiging in Afrikaans gemaak het. Sy verwelkom  debutante Fourie Botha (Donkerkamer), Jasper van Zyl (Die lewe tussen pikkewyne), Anne-Ghrett Erasmus (Die lekkerste perske is ʼn vy), Andries Samuel (Wanpraktyk) en Nini Bennett (kodeks). Kom moedig die varsste digterstalent aan op hul opwindende nuwe pad.
15:00 – 15:45 ● Ou Hoofgebou ● R30

SLiP slaan toe!
Aangebied deur die nuwe Stellenbosch Literêre Projek
Die maandelikse InZync-poësiesessies in Kayamandi wys iets broei in die Boland: ’n nuwe drif, ‘n ruwe poëtiese energie. Nou kan jy ook kom luister hoe praat podiumdigters uit die Kaapse townships en Stellenbosch-omgewing jou ore aan die brand. Adrian Different, Khanyisile Mbongwa, Pieter Odendaal en Mambesi Goje deel die verhoog in hierdie veeltalige, genre-oorskrydende vertoning.
16:00 – 16:45 ● Ou Hoofgebou ● R30

Digtersgala
Politika-Uitgewers nooi u uit na ʼn hoogtepunt op die jaarlikse poësie-kalender. ’n Spoggeleentheid waar Lina Spies, Martjie Bosman, Marlise Joubert, Cas Vos, Bernard Odendaal, Johann Lodewyk Marais en Alfred Schaffer hulle gedigte kom lees. Luister ook hoe Joanie Combrinck en Marlo Minnaar verse van T.T. Cloete, Breyten Breytenbach, M.M. Walters, Hennie Aucamp, Joan Hambidge, Mari Grobler, Louis Jansen van Vuuren en Johann de Lange tot klank bring. Valiant Swart, wie se Toorwoorde roep my groot opslae maak, sorg vir die kombinasie van musiek en woord. Kom kyk ook wie ontvang die Ingrid Jonker- en Protea Poësiepryse.
18:30 vir 19:00 – 21:00 ● De Kelder, Lanzerac Hotel ● R50. Heerlike verversings ingesluit.

Verras!
By hierdie gewilde oop mikrofoon-geleentheid stel jong opkomende digters hul talente ten toon, met Pieter Odendaal (self ʼn inspirerende nuwe digter) as sjarmante gasheer. Ongepubliseerde digters wat wil deelneem, kan voor 20 September ʼn e-pos stuur aan woord@sun.ac.za.
21:00 – 22:30 ● De Kelder, Lanzerac Hotel ● Gratis

Comments are closed.