Reports

Open Book pryk met Afrikaanse poësie

KARLIEN VAN DER SCHYFF

Die Open Book fees het tussen 21 en 25 September drie merkwaardige Afrikaanse poësie byeenkomste opgelewer. Hierdie byeenkomste was die geesteskind van Verushka Louw van die Book Lounge in Kaapstad. Volgens Louw was Open Book ’n “literêre stadsfees” en dus was dit vir haar van uiterste belang dat Afrikaanse poësie “deel van daai prentjie” moes wees. “Dit is ’n mooi taal waarin mens presies kan sê wat jy wil hê ander moet voel”, het sy verduidelik. Die drie verskillende byeenkomste was dus saam daarop gemik om uiteenlopende fasette van die Afrikaanse poësie uit te lig, te vier en veral ook te geniet.

Die eerste byeenkoms, Wysheid met Grysheid, het op 21 September die bekende digters Peter Snyders, Hennie Aucamp en MM Walters vir hulle bydraes tot Afrikaanse literatuur vereer. Op 22 September het Eerste Versamelinge drie nuwe, ontluikende Afrikaanse digterstemme die geleentheid gebied om hul werk aan ’n leserspubliek voor te hou. Poësie van Lirieke het weer op 23 September die poëtiese talent van Afrikaanse liriekskrywers ten toon gestel.

Aangesien die eerste byeenkoms, Wysheid met Grysheid, verreweg die grootste gehoor gelok het, en aangesien Eerste Versamelinge se gehoor die kleinste van dié drie byeenkomste s’n was, sou iemand wat slegs die gehoorgetalle in ag neem moontlik ’n paar kwelvrae oor die toekoms van Afrikaanse poësie kon stel. Dit sou egter ’n ongegronde en verkeerde aanname wees om vanweë die gehoorgetalle af te lei dat die bestaansreg van die Afrikaanse literêr-historiese kanon uitsluitlik verseker is. Inteendeel, gegewe die rykdom en verskeidenheid van die nuwe digbundels waarmee elkeen van die drie byeenkomste gepryk het, lyk die toekoms van Afrikaanse poësie eerder besonder rooskleurig.

Professor Bernard Odendaal van die Universiteit van die Vrystaat skat dat daar tans elke jaar “ongeveer 20 behoorlik gekeurde en geredigeerde digbundels” verskyn, “waaronder telkens ’n paar debute.” 1 Hierdie tendens is duidelik tydens Open Book se Afrikaanse poësie byeenkomste weerspieël, aangesien dié byeenkomste die leserspubliek aan vyf nuwe digbundels, wat almal in 2011 verskyn het, blootgestel het. Eerste Versamelinge bied natuurlik die mees ooglopende voorbeeld hiervan, omdat hierdie geleentheid juis debuut-digters se werk ten toon wou stel, soos in die geval van Andries Samuel se Wanpraktyk (Human & Russouw, 2011) en Jasper van Zyl se Die lewe tussen pikkewyne (Tafelberg, 2011). Tafelberg se Nuwe stemme 4 het ook ’n deurslaggewende rol in die bekendmaking van debuutdigters tydens die fees gespeel, soos dié van Bibi Slippers wat van haar werk tydens Eerste Versamelinge voorgelees het. Selfs Wysheid van Grysheid, die byeenkoms wat as die sogenaamde “digters van oud” bemark is, het met twee splinternuwe bundels gespog, naamlik Hennie Aucamp se Ghoera (Protea Boekhuis, 2011) en MM Walters se Braille-briewe (Protea Boekhuis, 2011). Poësie van Lirieke het weer met Valiant Swart se Toorwoorde roep my (Lapa, 2011) gespog, wat al sy lirieke in een bundel saamvat. Aangesien André P. Brink se 2000- en 2008-samestellings van die Groot verseboek al hoe meer lirieke opneem, speel Afrikaanse liedtekste duidelik ’n al groter en meer erkende rol in die literêre tradisie van Afrikaanse poësie.

Van die Groot verseboek gepraat – ’n mens kan Wysheid van Grysheid se groter gehoor-getalle moontlik verder verklaar deurdat die oorgrote meerderheid van die Afrikaanse leserspubliek se primêre kennis van Afrikaanse digters en digkuns meermale tot DJ Opperman se samestelling van die Groot verseboek beperk is. Opperman se samestelling het byvoorbeeld glad nie lirieke, vertalings of niestandaardvorme van Afrikaans ingesluit nie, wat lesers gevolglik met die wanindruk gelaat het dat “ware” Afrikaanse poësie slegs uit die gevestigde kanon kan bestaan. In hierdie geval is Afrikaanse poësie byeenkomste, soos byvoorbeeld dié drie Open Book geleenthede, die Woordfees en die Versindaba (wat dieselfde naweek as Open Book op Stellenbosch plaasgevind het), van onmeetbare waarde om die leserspubliek van nuwe bundels, van gevestigde asook debuutdigters, bewus te maak.

Nietemin, die aantal nuwe Afrikaanse digbundels wat tydens die Open Book fees bemark is en die verskeidenheid digterstemme wat voor die leserspubliek verskyn het, is ’n duidelike aanwysing dat die toekoms van Afrikaanse poësie geensins kommerwekkend behoort te wees nie. Tydens elkeen van die drie geleenthede het die onderskeie digters Verushka Louw se opmerking oor Afrikaans as taal beaam deur ’n duidelike liefde en ’n waardering vir Afrikaans in hul werk te laat blyk. Die ongelooflike kreatiwiteit en talent wat tydens die fees ten toon gestel is getuig van ’n sterk, gevestigde poëtiese en literêre tradisie met ’n blink en opwindende toekoms.

 

Bronne geraadpleeg

Odendaal, Bernard. “Ontwikkelinge in die Afrikaanse poësie die afgelope dekade” [aanlyn]. 13 Maart 2010. http://humanities.ufs.ac.za/dl/userfiles/Documents/00000/86_eng.pdf. Webwerf op 25 September 2011 geraadpleeg.

 

Comments